Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 5/8 bl. 4-7
  • Leidrade tot die raaisel van die Ysman

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leidrade tot die raaisel van die Ysman
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het hy behoue gebly?
  • “’n Middeleeuse ridder met ’n geweer”
  • Ötzi en sy wêreld
  • Insig in die Ysman se denke en sy wêreld
    Ontwaak!—1995
  • Die mummie wat in die ys gevind is
    Ontwaak!—1995
  • ‘Uit die berge sal jy koper delf’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 5/8 bl. 4-7

Leidrade tot die raaisel van die Ysman

ÖTZI het eeue lank ’n goeie rusplek gehad. Hy het meer as 3200 meter bo seevlak in ’n holte in ’n smal, sneeubedekte ravyn gelê wat hom teen die bewegings van die nabygeleë gletser beskerm het. As sy liggaam in die gletserysmassa vasgevries het, sou dit heeltemal opgebreek en weggevoer gewees het. Dit is heel waarskynlik weens sy beskutte posisie dat hy behoue gebly het.

Binne ’n paar meter van die liggaam af was daar voorwerpe wat blykbaar deel van sy daaglikse lewe uitgemaak het: ’n ongesnaarde boog van taksushout, ’n bokvelkoker met 14 pyle (2 gereed om gebruik te word, die ander moes nog voltooi word), ’n dolk met ’n flintlem, ’n byl, ’n voorwerp wat vermoedelik die raam van ’n primitiewe rugsak was, ’n leersak, ’n houer van berkebas en stukkies klere sowel as ander instrumente en voorwerpe.

Toe hy gevind is, het die Similaun-man (nog een van sy name) nog van sy kledingstukke aangehad asook leerskoene wat met strooi gestop was vir beskerming teen die koue. Naby sy kop het ’n “mat” van geweefde strooi gelê. Dit was asof die Ysman een aand, oorval deur moegheid en die koue, rustig aan die slaap geraak het en die daglig eers duisende jare later “gesien” het. Die vonds was “’n blik op ’n tydperk, op ’n gemeenskap en ’n biologiese bevolking”, sê die argeoloog Francesco Fedele, wat die Similaun-man as “’n tydkapsule” beskryf het.

Hoe het hy behoue gebly?

Nie almal is dit eens oor die manier waarop Ötzi vir so lank onder daardie toestande behoue gebly het nie. “Die feit dat hy behoue gebly het, is byna ’n wonderwerk, selfs as die veronderstelde beskerming van die holte waarin hy gevind is in ag geneem word”, sê die tydskrif Nature. Die teorie wat tans as die geloofwaardigste beskou word, is dat hy behoue gebly het weens ’n kombinasie van “drie onwaarskynlike gebeure”: (1) ’n vinnige proses van natuurlike mummifikasie (dehidrasie), die gevolg van die uitwerking van die koue, die son en die föhn (’n warm, droë wind); (2) vinnige sneeubedekking wat die liggaam vir roofdiere verberg het en (3) die beskerming teen bewegende gletsers wat deur die holte gebied is. Maar party vind selfs hierdie verduideliking nie oortuigend nie en voer aan dat die föhn nie sulke hoogtes in hierdie deel van die Alpe bereik nie.

Sekere dinge omtrent die Ysman is egter seker. Daar kon vasgestel word dat hy tussen 25 en 40 jaar oud was, ongeveer 1,6 meter lank was en ongeveer 50 kilogram geweeg het. Hy was maer en gespierd, en sy bruin hare was goed versorg en is blykbaar gereeld geknip. Volgens onlangse DNS-studies van weefselmonsters het hy aan dieselfde genebank as hedendaagse inwoners van Sentraal- en Noord-Europa behoort. Sy verslyte tande toon dat hy growwe brood geëet het, wat moontlik te kenne gee dat hy aan ’n landbougemeenskap behoort het, soos aangedui word deur die koringkorrels wat in sy klere gevind is. Interessant genoeg, dit was moontlik om vas te stel dat hy teen die einde van die somer of die begin van herfs gesterf het. Hoe? In sy sak is die oorblyfsels van ’n verskeidenheid wilde pruime gevind wat in die nasomer ryp word; dalk was dit nog van sy laaste voorrade.

“’n Middeleeuse ridder met ’n geweer”

Maar wat bring Ötzi aan die lig? Die Italiaanse tydskrif Archeo het ’n aantal vrae wat na aanleiding van die ontdekking geopper is soos volg saamgevat: “Was hy ’n krygsman of ’n jagter? Het hy in afsondering gewoon, was hy op reis saam met sy groep of was hy, aan die ander kant, saam met ’n uitgelese deel van sy groep op pad iewers heen op daardie berge? . . . Was hy alleen, omring deur al daardie ys, of kan ons verwag om ander liggame te vind?” Geleerdes het die antwoorde hoofsaaklik probeer vasstel deur van die voorwerpe te ondersoek wat op die berg Similaun gevind is, asook deur pogings om hulle betekenis te verklaar. Verskeie teorieë is aan die hand gedoen om te verduidelik waarom Ötzi hom op ’n hoogte van meer as 3 200 meter bevind het, maar elkeen van hulle word deur die een of ander besonderheid weerspreek. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Die boog, wat nooit gesnaar is nie, en die pyle sal ’n mens dadelik laat dink dat hy ’n jagter was. Los dit die raaisel op? Moontlik, maar die boog, met ’n lengte van byna 1,8 meter, “was baie groot vir ’n man van sy bou”, sê die argeoloog Christopher Bergman, en “beslis te groot om wild mee te jag wat algemeen in die Alpe voorkom”. Waarom het hy ’n boog gehad wat hy nie kon gebruik nie? Daarbenewens moet daar van alle oortollige gewig ontslae geraak word wanneer ’n mens deur die berge reis, “wat dit veral moeilik maak om te verstaan waarom die man se boog en 12 van sy 14 pyle onvoltooid was, terwyl sy ander wapens (dolk en byl) weens langdurige gebruik verslyt was”, sê die tydskrif Nature.

Wat van die byl wat net ’n paar meter van die liggaam af gevind is? Daar is aanvanklik gedink dat dit van brons gemaak is, maar toetse het aan die lig gebring dat dit eintlik koper is. Dit is waarom baie argeoloë geneig is om te dink dat Ötzi aan die begin van die so genoemde Kopertydperk geleef het, dit wil sê die vierde tot die derde millennium v.G.J. “Koolstof-14-toetse . . . het bevestig dat hy tussen 4 800 en 5 500 jaar gelede geleef het”, het die tydskrif Audubon gesê.a Ander voorwerpe het party deskundiges egter tot die gevolgtrekking laat kom dat die Ysman uit ’n effens later tydperk stam. Dit is blykbaar nie moontlik om die Similaun-man in ’n spesifieke eertydse beskawing te plaas nie. Met verwysing na die koperbyl, meen een argeoloog dat Ötzi “’n wapen besit het wat tegnologies te gevorderd was vir die tydperk waarin hy gelewe het. Dit was asof ons ’n Middeleeuse ridder met ’n geweer gevind het. Trouens, in daardie tydperk was koper slegs in Oosterse kulture bekend.”

Daarbenewens kon die byl, soos ons reeds gesien het, moontlik ’n baie kosbare voorwerp onder die Ysman se tydgenote gewees het. Ander artefakte, soos die skede vir sy dolk, was ook uiters fyn afgewerk en was blykbaar “statussimbole”. Maar as Ötzi ’n hooggeplaaste persoon was, ’n hoofman, waarom was hy alleen toe hy gesterf het?

Volgens die tydskrif Popular Science het Konrad Spindler, van die Universiteit van Innsbruck, gesê: “Wat ons aanvanklik gedink het raaiselagtige tatoeëring is, stem presies ooreen met verslyte knie- en enkelgewrigte en gedegenereerde werwels in sy werwelkolom. Die Ysman se dokter het die toestand waarskynlik behandel deur die vel oor die seer plek te skroei en toe kruieas in die wond te vryf.”

Onlangs, tydens ’n vergadering van forensiese mediese deskundiges in Chicago, is die idee voorgelê dat Ötzi dalk ’n afgeranselde en bebloede voortvlugtige was wat gesterf het terwyl hy vir diegene weggekruip het wat op sy spoor was. Daar is vasgestel dat hy etlike gebreekte ribbes en ’n gekraakte kakebeen gehad het. Daar kan egter nie presies gesê word wanneer hy hierdie beserings opgedoen het nie—voor of ná sy dood. Maar as hy die slagoffer van geweld was, “waarom het hy nog al sy implemente gehad, selfs ‘waardevolle implemente’?” soos die koperbyl, vra die tydskrif Archeo.

Die ondersoekers reken dat die beskikbare feite nie voldoende is om ’n geheelbeeld te skep nie, en baie vrae is steeds onbeantwoord. Maar dit is duidelik dat Ötzi aan ’n hoogs gestruktureerde en komplekse beskawing behoort het.

Ötzi en sy wêreld

Wanneer geleerdes die wêreld beskryf waarin die Similaun-man geleef het, baseer hulle hulle menings op vondste van plekke in die Alpe wat vermoedelik deur sy tydgenote bewoon is. Selfs in daardie tyd, sê argeoloë vir ons, was party gebiede meer ontwikkeld as ander en het die meeste tegniese uitvindings, soos om koper te bewerk, in die Midde-Ooste ontstaan.

Volgens een rekonstruksie het Ötzi moontlik in een van die landboudorpies van die Adige-rivierbekken gewoon. Hierdie rivier was ’n belangrike handelsroete wat die Italiese Skiereiland met Sentraal-Europa verbind het. ’n Aantal nedersettings is op verskillende plekke in daardie deel van die Alpe gevind, selfs op ’n hoogte van 2000 meter. Landboudorpies van hierdie tydperk het gewoonlik uit drie of vier huise bestaan, hoogstens ’n paar dosyn. Watter soort huise was dit? Tydens opgrawings is slegs die vloere gevind, wat byna altyd uit vasgestampte grond bestaan het. Die huise het uit een vertrek bestaan en het gewoonlik ’n vuurherd in die middel en soms ’n oond gehad. Die dak het moontlik gewels gehad, soortgelyk aan huise uit daardie tydperk wat op pale gebou is en naby ’n aantal mere in die Alpe gevind is. Elke enkelvertrekhut het waarskynlik een gesin gehuisves.

Watter soort interaksie was daar tussen hierdie gemeenskappe wat met vee geboer het en die landbougemeenskappe? Hulle het ongetwyfeld met mekaar handel gedryf. Byvoorbeeld, die byl wat op die berg Similaun gevind is, is soortgelyk aan dié wat verder suid op die oewers van die Garda-meer vervaardig is en is moontlik in ’n handelstransaksie gebruik. Daar was ook flinte tussen Ötzi se toerusting, ’n waardevolle handelsartikel langs die Adige-valleiroete. Een van die bedrywighede wat groter verskuiwings genoodsaak het, was die seisoenale migrasie van vee. Soos hulle vandag nog in die Tirol doen, het veewagters hulle kuddes oor Alpynse passe gelei, op soek na groen weivelde. Watter ander gevolgtrekkings is daar oor die Ysman se herkoms gemaak?

[Voetnoot]

a Vir inligting oor die onbetroubaarheid van die koolstof-14-toets sien die Ontwaak! van 22 September 1986, bladsye 21-6, en Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, bladsy 96, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Kaart op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Ysman is net binne die Italiaanse grens op die Similaun-gletser gevind

DUITSLAND

OOSTENRYK

Innsbruck

SWITSERLAND

SLOWENIË

ITALIË

Bolzano

Similaun-gletser

Adriatiese See

[Prente op bladsy 7]

X dui die plek aan waar Ötzi gevind is. Inlasse: 1. Koperbyl, 2. Flintmes, 3. Moontlik ’n amulet, 4. Die punt van ’n horing in ’n houthandvatsel

[Erkennings]

Foto: Prof. Dr. Gernot Patzelt/Innsbruck

Fotos 1-4: Archiv Österreichischer Alpenverein/Innsbruck, S.N.S. Pressebild GmbH

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel