Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 5/8 bl. 22-24
  • Die Slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wêreldmoondheid word uitgedaag
  • Strategiese vraagstukke
  • Generaal Miltiades—’n strateeg
  • Die betekenis van die slag
  • Die slag van Platea—’n “Beer” word op sy knieë gedwing
    Ontwaak!—1999
  • ’n Verpletterende nederlaag vir Xerxes
    Ontwaak!—1999
  • Atene se beroemde verlede en uitdagende toekoms
    Ontwaak!—2000
  • Deel 4—Medo-Persië—Die vierde groot wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 5/8 bl. 22-24

Die Slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

WANNEER die hedendaagse besoeker met die voorheuwels om die Vlakte van Maraton, 40 kilometer noordoos van Atene, Griekeland, afdaal, word hy onmiddellik getref deur die vrede en onversteurde rustigheid van die plek. ’n Mens kan jou skaars voorstel dat hierdie plek die toneel was van een van die beroemdste veldslae in die geskiedenis, ’n slag wat voorkom het dat die Mesopotamiese wêreldmoondheid tot in Europa uitbrei. The World Book Encyclopedia noem dit “een van die belangrikste veldslae in die geskiedenis van die Westerse beskawing”. En die geskiedskrywer Will Durant beskryf dit as “een van die ongelooflikste oorwinnings in die geskiedenis”.

’n Wêreldmoondheid word uitgedaag

Die Bybelprofesieë in die boek Daniël beskryf op ’n baie aanskoulike manier die heerskappy, uitbreiding en opeenvolging van wêreldmoondhede. Daniël het simbolies, maar heel tereg, oor die Medo-Persiese wêreldmoondheid geskryf: “Kyk, ’n ander dier, ’n tweede, het gelyk soos ’n beer . . . en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.”—Daniël 7:5.

Dit is bewaarheid. Gedurende die tydperk toe die Medo-Persiese moondheid op sy magtigste was, ongeveer die tweede helfte van die sesde eeu v.G.J., het sy skynbaar onoorwinlike leërs onder leiding van Cyrus (die Bybel se Kores) en Darius I uit die ooste gekom en Lidië ingeneem. Trasië en Masedonië, in die noorde van Griekeland, is met geweld onderwerp. Dit het beteken dat byna die helfte van die Griekssprekende wêreld al in die hande van die Perse geval het, want met die verowering van Lidië het die Perse ook die Griekse stede aan die Ioniese kus wat onder Lidiese invloed was in besit geneem.

Net die stadstate van Atene en Eretrië het gereageer op die hulproep wat uit die beleërde Grieks-Ioniese stede gekom het. Dit het nie die gedissiplineerde Persiese magte verhinder om teen die opstandige Ioniërs op te ruk en gou met hulle klaar te speel nie. Darius het daarbenewens besluit dat hy die Griekse stadstate moes straf omdat hulle aan die Ioniese opstandelinge hulp verleen het.

Toe Atene, Sparta en Eretrië minagtend geweier het om aan die eise van Persië te voldoen, het ’n sterk mag van Persiese perderuiters en voetsoldate vroeg in die somer van 490 v.G.J. ’n tog na Griekeland onderneem. Teen Augustus was die Perse gereed om met Atene en sy gebied, Attika, af te reken.

Strategiese vraagstukke

Die Perse het by Maraton aan wal gegaan en het toe die moerasagtige vlakte aan die ooskus van Attika oorgesteek, wat slegs 42 kilometer van Atene af was. Sake het sleg gelyk vir die Ateners, wat skaars 9 000 voetsoldate, en nog 1 000 van Platea, bymekaar kon kry, met geen bystand van perderuiters of boogskutters nie.a Hoewel hulle Sparta om hulp gevra het, het die Spartane hulle doof gehou—hulle was besig met godsdienstige seremonies ter verering van Apollo. Die Ateners moes dus, met hulle beperkte militêre middele, alleen teen die Perse veg.

Tien verskillende generaals het as ’n komitee gedien wat, deur meerderheidstem, oor strategiesake besluit het. Hulle moes nou oor twee vrae besluit. Eerstens, moet hulle hulle magte in Atene hou om die stad te verdedig of moet hulle die Perse in die veld ontmoet? Met inagneming van die feit dat die stad Atene geen sterk beskermende mure gehad het om dit te beveilig nie, het die vergadering met ’n oorweldigende meerderheid ten gunste daarvan gestem om dit by Maraton te gaan uitveg.

Tweedens, moet hulle aanval ondanks die feit dat hulle kanse maar swak gelyk het—hoofsaaklik weens die groter getalle van die Perse—of moet hulle staan en wag, terwyl hulle die hele tyd hoop dat die Spartane op die een of ander manier betyds sal opdaag om hulle te help om die gedugte Persiese aanval suksesvol af te weer?

Generaal Miltiades—’n strateeg

Een sleutelfiguur wat te voorskyn gekom het om die rol van leier te speel, was die Griekse generaal Miltiades. Hy was ’n ervare en innoverende bevelvoerder, ’n veteraan wat gedurende vroeëre krygstogte in die noorde aan die kant van die Persiese leër geveg het. Hy het die vyand dus persoonlik geken. Hy het nie net die samestelling van die Persiese leër goed geken nie, maar ook hulle wapens en, nog belangriker, hulle oorlogstrategie. Daarbenewens het hy, gedurende die dae voor die geveg, oordeelkundig opgetree en ’n deeglike studie van die omgewing gemaak.

Miltiades was ook bewus daarvan dat vinnige optrede noodsaaklik was, aangesien daar binne die nuutgestigte Ateense demokrasie Persiesgesinde faksies was wat ’n Ateense nederlaag sou verwelkom. Die aand voor die geveg het ’n Persiese oorloper die Griekse kamp ingesluip met die nuus dat die Persiese ruitery tydelik teruggetrek het. Volgens een teorie het die Persiese ruitery aan boord van hulle skepe gegaan vir ’n moontlike aanval op Atene vanaf die ooskus van Attika, sodat hulle die stad onmiddellik kon inneem ná hulle ’n feitlik sekere oorwinning by Maraton behaal het. Wat die rede ook al was, dit het die grootste gevaar vir die Ateense voetsoldate uit die weg geruim.

Met dagbreek het die Griekse falankse aangeval. (Sien venster, bladsy 24.) Die oorblufte Perse het teruggeval, maar het gou ’n teenaanval geloods en deur die middel van die Griekse slagorde gebreek. Die Perse het sodoende onwetend in Miltiades se goedbeplande strik getrap! Hy het doelbewus die middel van die Griekse linie swak gehou sodat hy sy flanke met meer rye manskappe kon versterk. Die sterk flanke het nou skielik ombeweeg, die Perse aangeval en hulle in groot getalle doodgemaak totdat die oorblyfsel wat daarin geslaag het om die aanval te oorleef na hulle skepe teruggevlug het. Die gevolg was ’n verskriklike slagting. Ongeveer 6 400 Perse het gesneuwel, terwyl die Ateners slegs 192 van hulle manskappe verloor het.

Volgens oorlewering is die nuus van die Griekse oorwinning vinnig deur ’n boodskapper na Atene teruggebring. ’n Onjuiste tradisie sê sy naam was Feidippides, maar in werklikheid het Feidippides voor die veldslag van Atene na Sparta gehardloop om hulp te soek. ’n Ander jong Griek het, volgens oorlewering, die 42 kilometer van Maraton na Atene gehardloop, met sy aankoms uitgeroep: “Juig, ons het oorwin!” en toe dood neergeval. Daar word gesê dat dit die eerste maraton was—vandaar die oorsprong van die woord—wat die patroon gevorm het vir die hedendaagse langafstandwedloop soos ons dit ken.

Hoewel van die Persiese skepe aan die brand gesteek is, het die oorgrote meerderheid van die vloot van 600 skepe daarin geslaag om om Kaap Kolonna, aan die suidelike punt van Attika, te seil en Atene te bereik. Maar die seëvierende Ateense leër was eerste daar en het hulle weer ontmoet. Die Perse is gedwing om terug te trek. Die Ateners het ten spyte van die oormag ’n oorwinning behaal!

Atene was verheug, veral omdat die oorwinning sonder enige hulp van die Spartane behaal is.

Die betekenis van die slag

Marmer- en bronsmonumente by Maraton en Delfi het die Ateense oorwinning verewig. Volgens die geskiedskrywer Pousanias het reisigers 650 jaar later nog geglo dat hulle die spookagtige klanke van vegtende mans kon hoor wanneer hulle die slagveld oorgesteek het.

Waarom was die Slag van Maraton betekenisvol uit ’n Bybelse oogpunt? Dit was ’n baie vroeë aanduiding van die uiteindelike oppergesag van die Griekse “bok” van Daniël se profesie oor die “ram met die twee horings” van Medo-Persië.b—Daniël 8:5-8.

Wanneer ’n mens na die gedenkteken by Maraton kyk, wat nou nog op die oorspronklike slagveld staan, word ’n mens herinner aan die hoë prys wat die mensdom in sterftes en lyding moes betaal in die voortdurende strewe na mag en oorheersing. Die bloedbevlekte blaaie van die geskiedenis, die verlate slagvelde en die eensame grafte is vol van “groot manne”, “helde” en “verloorders”, almal slagoffers van wêreldpolitiek en die stryd om mag. Die tyd is egter op hande wanneer alle politieke magstryde tot die verlede sal behoort, want God het voorspel: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

[Voetnote]

a Die getalle van die Slag van Maraton word blykbaar betwis. Will Durant beweer dat die Grieke “ongeveer twintigduisend manskappe gehad het, die Perse moontlik honderdduisend”.

b Sien “Laat u wil geskied op aarde”, bladsye 190-201, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting oor die vervulling van Daniël se profesieë.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Hopliet en falanks—’n resep vir oorwinning

Wanneer dit kommentaar lewer oor die twee sleutelfaktore by die Ateense oorwinning, sê die boek A Soaring Spirit: “Die hopliete, soos Griekse voetsoldate genoem is, het sterker wapenrustings, stewiger skilde en langer spiese as hulle Persiese eweknieë gehad. Maar meer spesifiek, hulle het met onstuitbare doeltreffendheid in falankse geveg wat tot 12 rye diep was, met die soldate in elke ry wat so styf teen mekaar druk dat hulle skilde ’n byna ongebroke muur gevorm het. Toe die Perse voor hierdie gesig te staan gekom het, het hulle besef waarom die falanks die vreesaanjaendste oorlogsmasjien was wat aan die antieke wêreld bekend was.”

[Erkenning]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

[Prente op bladsy 23]

Die Vlakte van Maraton. Inlas: ’n Monument vir die 192 Ateners wat in die slag gesneuwel het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel