Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 8/8 bl. 25-27
  • Die slag van Platea—’n “Beer” word op sy knieë gedwing

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die slag van Platea—’n “Beer” word op sy knieë gedwing
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tekens van konfrontasie
  • Mardonios—’n Onwillige vegter?
  • Die slottoneel
  • ’n Verminkte “beer”
  • ’n Verpletterende nederlaag vir Xerxes
    Ontwaak!—1999
  • Die Slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid
    Ontwaak!—1995
  • Deel 4—Medo-Persië—Die vierde groot wêreldmoondheid in Bybelgeskiedenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wie gaan oor die wêreld heers?
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 8/8 bl. 25-27

Die slag van Platea—’n “Beer” word op sy knieë gedwing

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

’N PAAR stille tempelruïnes. Verlate uitgekapte klippe en gruispaaie. ’n Leë vlakte tussen golwende voetheuwels op die oewers van die Asoposrivier, 50 kilometer noordwes van Atene, Griekeland.

Niks dui daarop dat ons op die einste plek staan waar een van die laaste tonele in die Persies-Griekse stryd sowat 2 500 jaar gelede afgespeel het nie. Dit was die terrein van die grootste veldslag van die Persiese oorloë—die slag van Platea.

Tekens van konfrontasie

Soos ’n goeie draaiboek het Bybelprofesieë die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede eeue vooruit voorspel. Soos die profesieë voorspel het, het die Medo-Persiese wêreldmoondheid, wat deur ’n beer en deur ’n ram voorgestel is, nuwe gebiede verower in wat hoofsaaklik ’n weswaartse uitbreidingsveldtog was (Daniël 7:5; 8:4). Maar die Persiese magte onder koning Darius I het in 490 v.G.J. in hulle krygstog teen Griekeland ’n verpletterende nederlaag by Maraton gely. Vier jaar later het Darius gesterf.

Daniël se profesie het verder gepraat van ‘drie konings wat sal opstaan vir die Perse’ en dan van ’n vierde Persiese koning, wat “alles in beweging [sou] bring teen die koninkryk van Griekeland”. Daardie koning was klaarblyklik Darius se seun Xerxes (Daniël 11:2). In ’n poging om wraak te neem vir die Persiese nederlaag by Maraton het Xerxes in 480 v.G.J. met ontsaglike troepemagte teen die Griekse vasteland opgemars. Ná ’n oorwinning by Termopulai wat hulle duur te staan gekom het, het sy magte egter ’n verpletterende nederlaag by Salamis gely.a

Mardonios—’n Onwillige vegter?

’n Verleë Xerxes het hom na Lidië gehaas en 300 000 van sy manne agtergelaat onder die bevel van die ervare kryger Mardonios, wat moes toesig hou oor die verowerde gebiede van Griekeland. Uit sy winterkamp in Tessalië het Mardonios ’n gesant na Atene gestuur met ’n aanbod om Atene volkome kwyt te skeld, die afgebrande tempels te herbou, sy gebied terug te gee en om ’n verbond as gelykes te sluit met Atene as ’n selfregerende, vrye stad. Maar die Ateners het die aanbod verwerp en hulle tot Sparta gewend vir militêre hulp.

Andersdenkende Grieke wat Mardonios goedgesind was, het hom aangeraai om die wederstrewige Grieke oor te haal deur hulle leiers om te koop. Maar Mardonios het dit as benede hom beskou om sulke metodes te gebruik. Hy het nog steeds probeer om ’n direkte konfrontasie met die Grieke te vermy, en hy het weer aangebied om die Ateners toe te laat om hulle op gunstige voorwaardes oor te gee. Maar hulle het onwrikbaar by hulle besluit gebly.

Die slottoneel

Gevolglik het die laaste episode van die konfrontasie tussen Persië en Griekeland in Augustus 479 v.G.J. by Platea afgespeel. Daar het ongeveer 40 000 Griekse voetsoldate—wat Ateners, Spartane en troepe van ander Griekse stede ingesluit het—onder bevel van generaal Pousanias van Sparta teen die 100 000 troepe van Mardonios te staan gekom.

Die grootste afdelings van die twee leërs, wat albei ’n direkte geveg gevrees het, was drie weke lank by onbesliste skermutselinge oor die Asoposrivier betrokke. Volgens legende het albei leërs se waarsêers voorspel dat hulle sou wen as hulle op die verdediging bly. Maar die Persiese ruiters het die Grieke onophoudelik geteister en het beslag gelê op hulle broodnodige voedselvoorraad voor dit hulle bereik het en het ook die waterputte waarvan die Grieke afhanklik was, vergiftig.

Dit het vir Mardonios gelyk of die einde van die oorlog in sig was. Maar hierdie Persiese bevelvoerder het die vegvermoë van die vyand onderskat. Die vooruitsig op ’n onmiddellike en skouspelagtige oorwinning was baie aantreklik vir die generaal. Gevolglik het hy sy leër vinnig oor die rivier laat trek en aangeval.

Die Perse het agter hulle muur van skilde geskuil en sarsies pyle op hulle vyande laat neerreën. Die Perse se andersdenkende Griekse bondgenote het die 8 000 Ateners bestorm, terwyl die oorgrote meerderheid van Mardonios se magte die 11 500 Spartane aangeval het. Om hulle teen die stortreën van pyle te beskerm, het die Spartane gebukkend onder hulle skilde geskuil. Maar toe het hulle as ’n falanks ’n ordelike teenaanval geloods. Met hulle langer spiese en geklee in hulle swaarder pantserdrag het hulle op die Perse afgestorm.

Die Perse was uit die veld geslaan en het teruggeval. Intussen het die Ateners die Griekse verraaiers oorrompel. Mardonios se leër het—onder die beskerming van hulle ruiters—haastig oor die rivier gevlug. Mardonios is van sy perd afgestamp en doodgemaak. Die Persiese leër, nou sonder ’n leier, het uitmekaargespat en gevlug.

Terselfdertyd het die Griekse vloot, aan die Ioniese kus van Mukale oorkant die see, ’n groot oorwinning behaal oor die Persiese vloot, wat ’n jaar tevore die nederlaag by Salamis net-net oorleef het. Die gekombineerde strydkragte van die magtige Persiese leër is beslissend verslaan.

’n Verminkte “beer”

Die militêre magte van Persië sou nooit weer op Europese bodem veg nie. Die Persiese leër is as ’n strydbare mag heeltemal vernietig. Volgens die boek A Soaring Spirit het “Xerxes [daarna] sy toevlug geneem tot sy hoofstede en die vreugdes van sy harem. Van tyd tot tyd het hy homself daarmee besig gehou om sy vader se bouprojekte te bevorder en paleise en gedenksale in die Persiese seremoniële hoofstad, Persepolis, te bou. Maar hy het maar min ander dinge van belang bereik.”

Beskerm in die veiligheid van die lewe aan die hof, het hierdie eens ambisieuse veroweraar in al hoe minder dinge begin belangstel totdat hy net in onbeduidende politieke manipulasie en skinderpraatjies oor die hoflewe belanggestel het. Maar selfs daarin is hy teleurgestel. In 465 v.G.J. het ’n geheime groep samesweerders hom in sy eie bed laat vermoor.

A Soaring Spirit sê: “In die opeenvolging van Persiese konings daarna—ten minste in die oë van Griekse skrywers wat die vernaamste bron van inligting oor die ryk in hierdie tydperk sou wees—was nie één so kragdadig of briljant soos Kores of Darius nie. Onder Xerxes se seun, Artaxerxes I, het geld, nie troepe nie, die vernaamste werktuig van die Persiese Ryk se beleid geword. Hy het die geldeenheid van die ryk gebruik om in Griekse aangeleenthede in te meng deur eers die een [stadstaat] en dan die ander om te koop om moeilikheid te maak . . . Op die muntstukke, goue darieke, was ’n afbeelding van Darius met ’n boog en koker vol pyle; die Grieke het dit spottend ‘Persiese boogskutters’ genoem.”

Die koningshuis van die Persiese Ryk is tot sy uiteindelike ondergang deur sameswerings en moord met bloed bevlek. Die ryk het al hoe verder agteruitgegaan, en die Persiese vorstehuis het sy mag en sy vermoë om te regeer, begin verloor.

Ten spyte van wanhopige pogings om die ryk te versterk, het die koningshuis op die punt gestaan om ineen te stort toe Aleksander die Grote—’n man wie se imperialistiese beskouing en ambisies net so groot soos dié van Kores was—in die vierde eeu v.G.J. deur die uitgestrektheid van die ryk begin opmars het. Bybelprofesieë is weer eens tot in die kleinste besonderheid vervul.

[Voetnoot]

a Sien “Die slag van Maraton—die vernedering van ’n wêreldmoondheid”, in die Ontwaak! van 8 Mei 1995, en “’n Verpletterende nederlaag vir Xerxes”, in die Ontwaak! van 8 April 1999, vir verdere besonderhede.

[Venster/Prente op bladsy 26]

Medo-Persië en Griekeland Twee eeue van konfrontasie

539 v.G.J. Medo-Persië word die vierde wêreldmoondheid. Hy beset gebiede in drie hoofrigtings: noord (Assirië), wes (Ionië) en suid (Egipte) (Daniël 7:5; 8:1-4, 20)

500 v.G.J. Grieke van Ionië (Klein-Asië) kom in opstand teen Persiese heersers

490 v.G.J. Ateners dryf Perse terug by Maraton

482 v.G.J. Xerxes ‘bring alles in beweging teen Griekeland’ (Daniël 11:2)

480 v.G.J. Dure oorwinning van Perse by Termopulai; Perse word by Salamis verslaan

479 v.G.J. Ateners en Spartane seëvier oor Perse by Platea

336 v.G.J. Aleksander word koning van Masedonië

331 v.G.J. Die Persiese leër word by Gaugamela deur Aleksander die Grote verslaan; Griekeland word die vyfde wêreldmoondheid (Daniël 8:3-8, 20-22)

[Prente]

’n Persiese boogskutter

’n Groep Griekse ruiters

[Erkennings]

Musée du Louvre, Paris

Foto geneem met die vergunning van: British Museum

[Venster op bladsy 26]

Die eindresultaat van alle menslike magstryde

“In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44

[Prent op bladsy 25]

Die slagveld by Platea, waar die Persiese strydmag verslaan is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel