Van ons lesers
Godsdiens en oorlog Ek wil my waardering uitspreek vir die reeks “Wanneer godsdiens kant kies in oorlog” van 22 Oktober 1994. Hoewel ek die slagting van die Serwiërs in Kroasië deurgemaak het, was ek te klein om dit te onthou. Hierdie ingewikkelde en tragiese situasie lê my dus baie na aan die hart. Ek waardeer die manier waarop julle lig gewerp het op die rol van godsdiens en sy meedoënlose pogings om die verdeeldheid en haat onder hierdie nasies te vererger.
M. K., Verenigde State
Ek is ontroer deur die artikel “Ons het nie Hitler se oorlog gesteun nie”. Dit is so goed vertel dat ek byna gehuil het. Ek is 15 jaar oud, en dit is vir my bemoedigend om te weet dat ek elke klein verdrukking waarvoor ek by die skool of in die predikingswerk te staan kom, sal kan verduur.
A. M., Verenigde State
Ek kon nie anders as om ’n paar trane te stort oor die beproewings wat die Wohlfahrt-gesin deurgemaak het nie. Hulle beproewings laat die dingetjies wat my ontmoedig so onbelangrik lyk. Die artikel het my aangespoor om te volhard met die wete dat ons, as Christene, voor soortgelyke teenstand te staan kan kom namate hierdie stelsel sy einde nader.
M. S., Verenigde State
Noodlenigingswerk Ek was bekommerd oor Jehovah se Getuies in Rwanda. Noudat ek die artikel “Hulp aan die slagoffers van Rwanda se tragedie” (22 Desember 1994) gelees het, het ek ’n idee van wat hulle deurmaak. Die artikel het gesê dat baie daar gesterf het. Wat my gehelp het om ’n bietjie beter hieroor te voel, is die hoop om hulle in die Paradys te sien. Intussen sal ek vir my medegelowiges in Rwanda bid.
J. D., Japan
Die skugter wolf Dankie vir die talle leersame en dikwels amusante artikels wat julle oor Jehovah se skepping publiseer. Die artikel “’n Skugter dier—gehaat en gelief” oor Canis lupus (8 September 1994) was uiters interessant. Maar in die prent op die eerste bladsy van die artikel lyk die dier te klein om ’n wolf te wees.
S. W., Duitsland
Ons waardeer die kommentaar van hierdie oplettende leser. Dit blyk dat die silhoeët eintlik op ’n foto van ’n coyote gebaseer is, nie van ’n wolf nie. Ons vra om verskoning vir die fout.—RED.
Satanisme Ek vind die stereotipes en veralgemenings omtrent heavy metal-musiek wat deur julle hele reeks “Die lokkrag van Satanisme” (22 September 1994) gemaak word ontstellend. Hoewel dit waar is dat daar groepe is op wie hierdie stereotipe van toepassing is, noem julle artikel nie ander positiewe boodskappe in heavy metal-musiek nie.
C. C., Verenigde State
Dit is dalk so dat nie alle “heavy metal”-musiek Satanisme regstreeks bevorder nie. Nietemin is die uitspattige voorkoms en gedrag van selfs die vername “heavy metal”-groepe welbekend. So ook die langdurige verbintenis wat hierdie soort musiek met dwelms en geweld het. In die lig van hierdie feite het ons gevoel dat dit ons plig is om lesers te waarsku om nie by enige vorm van hierdie musiek betrokke te raak nie.—RED.
Alles wat julle geskryf het, was juis. Ons oudste dogter is as ’n Christen grootgemaak. Maar toe het sy al hoe opstandiger geraak. Ons het uitgevind dat sy met kinders geassosieer het wat na heavy metal-musiek luister. Sy het heavy metal-kassette weggesteek en snags met oorfone na die liedjies geluister. Party van die lirieke was sataniese dreunsang! Ons het later sataniese simbole gevind wat in haar kamer weggesteek was. Uiteindelik het sy uit ons huis getrek en is sy steeds geestelik dood. En dit het alles met heavy metal-musiek begin.
D. B., Verenigde State