Waak teen skadelike musiek!
“Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.”—EFESIËRS 5:15, 16.
1. Waarom kan musiek “’n Goddelike gawe” genoem word?
“MUSIEK . . . is ’n Goddelike gawe.” Dit was wat Lulu Rumsey Wiley in haar boek Bible Music geskryf het. Van die vroegste tye af het godvresende manne en vroue die waarheid van hierdie stelling besef. Die mens het al deur musiek aan sy diepste emosies uiting gegee—vreugde, droefheid, woede en liefde. Musiek het dus ’n belangrike rol in Bybeltye gespeel, en daar word deur daardie hele heilige boek van musiek gepraat.—Genesis 4:21; Openbaring 18:22.
2. Hoe is musiek in Bybeltye gebruik om Jehovah te loof?
2 Musiek het sy edelste vorm in die aanbidding van Jehovah bereik. Van die mees verhewe woorde van lof wat ooit teenoor Jehovah God geuiter is, is oorspronklik getoonset. “Ek wil die Naam van God prys met ’n lied”, het die psalmis Dawid geskryf (Psalm 69:31). Musiek is in stiltetye as begeleiding by biddende bepeinsing gebruik. “Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors”, het Asaf geskryf (Psalm 77:7). Musiek is op ’n groot skaal in Jehovah se tempel georganiseer (1 Kronieke 23:1-5; 2 Kronieke 29:25, 26). Soms is ontsaglike musiekgroepe georganiseer, soos by die tempeltoewyding toe 120 trompetspelers gebruik is (2 Kronieke 5:12, 13). Ons het geen verslag wat ons ’n idee gee van hoe hierdie verhewe musiek geklink het nie, maar die boek The Music of the Bible sê: “Dit is nie moeilik om ’n idee te vorm van die algemene uitwerking wat Tempelmusiek op plegtige geleenthede gehad het nie . . . As een van ons nou teruggevoer kan word sodat hy hom in die midde van so ’n toneel bevind, sal hy onvermydelik ’n oorweldigende gevoel van ontsag en verhewenheid ervaar.”a
Die misbruik van musiek
3, 4. Hoe is die gawe van musiek deur God se volk en hulle heidense buurnasies misbruik?
3 Maar musiek is nie altyd vir so ’n verhewe doel gebruik nie. By die berg Sinai is musiek gebruik om die afgodsaanbidding van ’n goue kalf aan te moedig (Exodus 32:18). Musiek is ook by geleentheid aan dronk gedrag en selfs prostitusie gekoppel (Psalm 69:13, NAV; Jesaja 23:16). Israel se heidense buurnasies was net so skuldig aan die misbruik van hierdie Goddelike gawe. “In Fenicië en Sirië”, sê The Interpreter’s Dictionary of the Bible, “het amper al die gewilde musiek om die aanbidding van Isjtar, die godin van vrugbaarheid, gedraai. Dus was gewilde liedjies gewoonlik ’n voorspel tot seksorgieë.” Die eertydse Grieke het ook musiek vir gewilde “erotiese danse” gebruik.
4 Ja, musiek het die mag om aan te spoor, te bekoor en te beïnvloed. Dekades gelede het John Stainer in sy boek The Music of the Bible selfs sover gegaan as om te sê: “Geen kuns oefen op die oomblik so ’n sterk invloed op die menseras uit as die Musiekkuns nie.” Musiek oefen vandag steeds ’n sterk invloed op mense uit. Die verkeerde soort musiek kan dus ’n wesenlike gevaar vir godvresende jongmense inhou.
Waarom jy versigtig moet wees
5. (a) Hoe groot is die rol wat musiek in die lewe van baie tieners speel? (b) Hoe beskou God die feit dat jongmense hulle lewe wil geniet?
5 As jy jonk is, weet jy beslis hoe belangrik musiek—veral verskillende vorme van pop- of rockmusiek—vir talle jongmense van jou ouderdom is. Musiek is selfs al ’n “deel van die tiener se metabolisme” genoem. Daar word geraam dat die gemiddelde jongmens in die Verenigde State gedurende sy laaste ses jaar op skool meer as vier uur per dag na rockmusiek luister! Dit is beslis ongebalanseerd. Nie dat dit verkeerd is om iets te geniet wat jou goed of gelukkig laat voel nie. Jehovah, die Skepper van vrolike musiek, verwag beslis nie dat jongmense somber en ongelukkig moet wees nie. Trouens, hy beveel sy volk: “Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11). Aan jongmense sê sy Woord: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid.”—Prediker 11:9.
6. (a) Waarom moet jongmense versigtig wees in hulle keuse van musiek? (b) Waarom is die meeste hedendaagse musiek meer afkeurenswaardig as die musiek van vorige geslagte?
6 Daar is nietemin goeie rede vir jou om versigtig te wees in jou keuse van musiek. Die apostel Paulus het in Efesiërs 5:15, 16 gesê: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Sommige jongmense maak dalk kapsie, soos een jong meisie wat gesê het: “Ons ouers kon na hulle soort musiek luister toe hulle jonk was. Waarom kan ons nie na ons s’n luister nie?” Van die musiek wat jou ouers op jou ouderdom geniet het, was dalk ook in sekere opsigte afkeurenswaardig. By nadere ondersoek blyk dit dat baie van die gewilde liedjies verbasend baie seksuele insinuasies en bedekte verwysings na onsedelikheid bevat. Maar dinge waarop daar eens net gesinspeel is, word nou eksplisiet beskryf. Een skrywer sê: “Kinders word nou met eksplisiete boodskappe gebombardeer op ’n skaal wat nog nooit tevore in ons kultuur gesien is nie.”
Rap-musiek—die musiek van opstandigheid
7, 8. (a) Wat is rap-musiek, en wat dra tot die gewildheid daarvan by? (b) Hoe kan ’n mens iemand uitken wat die rap-lewenstyl volg?
7 Neem byvoorbeeld die huidige gier van rap-musiek. Volgens die tydskrif Time het rap “’n ware, ritme-revolusie op wêreldskaal” geword, en is dit uiters gewild in Brasilië, Europa, Japan, Rusland en die Verenigde State. Dit het gewoonlik geen wysie nie, en die lirieke word op die maat van ’n kragtige ritme gepraat, nie gesing nie. Maar dit is daardie polsende ritme wat blykbaar die geheim van rap se groot kommersiële sukses is. “Wanneer ek na rap-musiek luister”, sê ’n jong Japannese meisie, “voel ek opgewonde, en wanneer ek dans, voel ek vry.”
8 Rap-lirieke—dikwels ’n kru vermenging van vloektaal en straatsleng—is blykbaar ’n ander rede vir rap se gewildheid. Anders as tradisionele rocklirieke, waarvan baie oor die onderwerp van tienerliefde handel, het rap-lirieke dikwels ’n ernstiger boodskap. In party rap spreek die sangers hulle uit teen ongeregtigheid, rassisme en polisiewreedheid. Maar soms word die vuilste, skokkendste taal denkbaar in die rymlirieke gebruik. Dit lyk ook asof rap ’n opstand teen standaarde van kleredrag, persoonsversorging en geslagsedelikheid is. Dit is geen wonder dat rap ’n lewenstyl in eie reg geword het nie. Rap-aanhangers word uitgeken aan hulle oordrewe gebare, straatsleng en kleredrag—denims wat sakkerig sit, enkeltekkies met los veters, goue kettings, bofbalpette en donker brille.
9, 10. (a) Watter faktore moet jongmense in ag neem wanneer hulle wil vasstel of rap-musiek en die gepaardgaande lewenstyl “vir die Here aanneemlik is”? (b) Wat beskou sommige Christene blykbaar nie in ’n ernstige lig nie?
9 In Efesiërs 5:10 word Christene vermaan: “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is” (NAV). Dink jy—met die oog op die slegte reputasie wat rap opgebou het—dat dit “vir die Here aanneemlik is” as jy daarby betrokke raak? Wil ’n jong Christen met ’n lewenstyl vereenselwig word wat selfs deur baie mense in die wêreld as onaanvaarbaar beskou word? Let op hoe een resensent ’n rap-konsert beskryf het: “Die rap-sangers het met vloektaal en eksplisiete sekslirieke gewedywer om die skokkendste te wees. . . . Manlike en vroulike dansers het geslagsdade op die verhoog nagemaak.” Een van die konsertpromoters het die volgende aangaande ’n sekere groep se optrede gesê: “Elke tweede woord uit hulle mond is (vulgêr).”
10 Nogtans was die musiek wat daardie aand gespeel is allesbehalwe buitengewone rap. Die bestuurder van die konsertsaal het gesê: “Wat jy hier hoor is gewone rap—dieselfde as wat die jongmense in die winkels koop.” Hoe jammer tog dat daar onder die meer as 4 000 jongmense wat daardie konsert bygewoon het jongmense was wat sê dat hulle Getuies van Jehovah is! Sommige beskou die feit dat Satan “die owerste van die mag van die lug” is, blykbaar nie in ’n ernstige lig nie. Hy beheer “die gees [of, oorheersende geestesgesindheid] wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Wie se belange sal jy bevorder as jy by rap-musiek of die rap-lewenstyl betrokke raak? Die lirieke van sommige rap is weliswaar miskien nie so afkeurenswaardig nie. Maar maak dit sin om ’n voorliefde aan te kweek vir enige soort musiek wat merendeels teen Christelike standaarde indruis?
Heavy metal—seks, geweld en satanisme
11, 12. Wat is heavy metal-musiek, en watter afkeurenswaardige dinge is kenmerkend van hierdie soort musiek?
11 Heavy metal is ’n ander gewilde vorm van musiek. Heavy metal is meer as net hard rock wat baie hard gespeel word. ’n Berig in The Journal of the American Medical Association sê: “Heavy metal-musiek . . . word gekenmerk deur ’n harde, polsende ritme en dit is vol lirieke wat haat, mishandeling, seksueel afwykende gedrag en soms selfs satanisme verheerlik.” Trouens, net die name van sommige van die gewilder groepe getuig van die verdorwenheid van hierdie soort rockmusiek. Hulle sluit woorde soos “poison”, “guns”, en “death” in. Tog lyk heavy metal amper mak in vergelyking met thrash metal en death metal—ander musieksoorte wat uit heavy metal voortgespruit het. Die name van hierdie groepe gebruik woorde soos “cannibal” en “obituary”. Jongmense in baie lande besef nie hoe walglik hierdie name is nie omdat hulle in Engels of in ’n ander taal is.
12 Heavy metal-musiek is al herhaaldelik aan tienerselfmoord, depressie en dwelmmisbruik gekoppel. Die verband wat tussen hierdie musiek en gewelddadige gedrag bestaan, het daartoe gelei dat een raadgewer oor die radio gesê het dit is “musiek waarop jy jou ouers kan doodmaak”. Dit is die verband wat dit met Satanisme het wat baie ouers—en polisiemanne—verontrus. Een navorser het gesê dat sommige jongmense wat al by satanisme betrokke geraak het se belangstelling in die okkulte deur hierdie musiek aangewakker is. “Hulle weet nie waarby hulle betrokke raak nie”, sê hy.
13. Watter gevaar hou dit in om by heavy metal-musiek betrokke te raak?
13 Maar jong Christene behoort nie ‘onbekend met Satan se planne te wees nie’ (2 Korinthiërs 2:11). Trouens, “ons worstelstryd is . . . teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Hoe dwaas sou dit tog wees as ’n mens deur jou musiekkeuse die weg vir die demone open om jou lewe te beïnvloed! (1 Korinthiërs 10:20, 21). Tog is daar heelwat jong Christene wat blykbaar baie lief vir hierdie musiek is. Party het selfs onderduims opgetree om hulle musieksmaak te bevredig. ’n Jong meisie het erken: “Ek het gereeld na heavy metal geluister, soms amper die hele nag lank. Ek het tydskrifte vir liefhebbers van heavy metal gekoop en het hulle in skoendose vir my ouers weggesteek. Ek het vir my ouers gejok. Ek het geweet dat ek Jehovah nie behaag nie.” ’n Artikel in die Ontwaak! het haar tot besinning gebring. Hoeveel ander jongmense word miskien steeds deur sulke musiek verstrik?
Jy sal maai wat jy saai
14, 15. Waarom kan ons seker wees dat dit ’n negatiewe uitwerking op ons sal hê as ons na skadelike musiek luister? Lig toe.
14 Moenie die gevaar wat sulke musiek inhou, geringag nie. Jý sal miskien nie iemand doodmaak of ’n daad van geslagsonsedelikheid pleeg net omdat jy na ’n liedjie geluister het nie. Nietemin sê Galasiërs 6:8: “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai.” As jy na musiek luister wat aards, dierlik en selfs demonies is, kan dit net ’n negatiewe uitwerking op jou hê. (Vergelyk Jakobus 3:15, NW.) Joseph Stuessy, ’n professor in musiek, het die volgende gesê: “Enige soort musiek beïnvloed ons buie, emosies, gesindhede en ons gevolglike gedrag . . . Enigeen wat sê: ‘Ek kan na heavy metal luister, dit beïnvloed my nie’ het dit eenvoudig mis. Dit beïnvloed verskillende mense in verskillende mate en op verskillende maniere.”
15 ’n Jong Christen erken: “Ek was so diep by thrash metal betrokke dat my hele persoonlikheid verander het.” Hy het kort voor lank probleme met die demone ondervind. “Ek het uiteindelik van my albums ontslae geraak en is van die demone bevry.” ’n Ander jong man erken: “Die musiek waarna ek geluister het, het of oor spiritisme, dwelmmiddels of seks gehandel. Baie jongmense sê dit beïnvloed hulle nie, maar dit beïnvloed ’n mens werklik. Ek was so te sê uit die waarheid.” ’n Spreuk sê: “Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?”—Spreuke 6:27.
Wees op jou hoede
16. Wat kan gesê word oor die skrywers en uitvoerders van baie van die hedendaagse musiek?
16 Paulus het vir die Christene in eertydse Efese geskryf: “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Efesiërs 4:17, 18). Kan dit nie van die skrywers en uitvoerders van baie van die hedendaagse musiek gesê word nie? Alle soorte musiek weerspieël nou meer as ooit die invloed van “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel.—2 Korinthiërs 4:4.
17. Hoe kan jongmense musiek beoordeel, of toets?
17 Die Bybel het aangaande die “laaste dae” voorspel: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger” (2 Timotheüs 3:1, 13). ’n Mens moet dus meer as ooit tevore streng let op die musiek wat jy kies. Dikwels sal die onsmaaklike titel ’n album onvanpas vir ’n Christen maak. Job 12:11 vra: “Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?” Net só kan jy musiek toets deur met ’n kritiese oor na ’n deel daarvan te luister. Watter gevoelens wek die melodie in jou? Moedig dit wilde, dekadente gedrag—die gees van brassery—aan? (Galasiërs 5:19-21). Wat van die lirieke? Moedig hulle geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik of ander verkeerde dinge aan wat ‘selfs te skandelik is om te vertel’? (Efesiërs 5:12, NW). Die Bybel sê sulke dinge moet “selfs nie genoem word” onder God se volk nie, en nog minder moet dit getoonset en oor en oor herhaal word (Efesiërs 5:3). Wat van die albumomslag se ontwerp? Bevat dit spiritistiese temas of geslagsprikkelende prente?
18. (a) Watter veranderinge sal sommige jongmense miskien met betrekking tot musiek moet maak? (b) Hoe kan jongmense ’n voorliefde vir goeie musiek ontwikkel?
18 Miskien moet jy veranderinge in jou keuse van musiek maak. As jy plate, kassette of laserplate het met onsedelike en demonistiese temas, moet jy onmiddellik daarvan ontslae raak. (Vergelyk Handelinge 19:19.) Dit beteken nie dat jy nie musiek kan geniet nie; nie alle gewilde musiek is verkeerd nie. Sommige jongmense het ook geleer om hulle musieksmaak te verruim, en hulle geniet nou sekere soorte klassieke, ‘folk’-, ligte jazz en ander musiek. Die Kingdom Melodies-kassette het talle jongmense al gehelp om van opbouende orkesmusiek te hou.
19. Waarom is dit belangrik om musiek op sy plek te hou?
19 Musiek is ’n Goddelike gawe. Maar baie het ’n ongesonde beheptheid met musiek. Hulle is soos die eertydse Israeliete wat dit geniet het om op die ‘siter en harp, tamboeryn en fluit te speel, maar op die dade van die HERE het hulle geen ag gegee nie’ (Jesaja 5:12). Stel jou dit ten doel om musiek op sy plek te hou en maak die dade van Jehovah jou hoofbelang. Wees selektief en versigtig in jou keuse van musiek. Dan sal jy hierdie Goddelike gawe kan gebruik—en nie misbruik nie.
[Voetnoot]
a Die nasie van Israel het blykbaar in die musiekkuns uitgemunt. ’n Assiriese reliëf toon dat koning Sanherib Israelitiese musiekkunstenaars as skatting van koning Hiskia geëis het. Grove’s Dictionary of Music and Musicians sê: “Om musiekkunstenaars as skatting te eis . . . was beslis buitengewoon.”
Onthou jy?
◻ Waarom kan ons musiek ’n Goddelike gawe noem?
◻ Hoe is musiek in eertydse tye misbruik?
◻ Watter gevare hou rap- en heavy metal-musiek vir jong Christene in?
◻ Hoe kan jong Christene versigtig wees in hulle keuse van musiek?
[Prent op bladsy 23]
In Bybeltye is musiek dikwels gebruik as ’n manier om Jehovah te loof