Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Brasilië se vermorste kos
  • Maandagoggend-sindroom
  • “Die grootste dobbelnasie ter wêreld”
  • Kerke word deur die toename in misdaad geraak
  • Veelsydige pous
  • Bloed—’n gevaarlike “geneesmiddel”
  • Beskerm julle babas teen geraas
  • “Emosionele eerstehulp”
  • “Indië se ‘arbeidertjies’”
  • Wat is daarmee verkeerd om te dobbel?
    Ontwaak!—2002
  • Is dobbel werklik so sleg?
    Ontwaak!—1991
  • Bloedoortappings—Hoe veilig?
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Nuwe dobbelaars—Jongmense!
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Brasilië se vermorste kos

Volgens Brasilië se Departement van Landbou “gooi die land jaarliks [R8 530 miljoen] se rys, boontjies, mielies, soja, koring, groente en vrugte weg”, sê O Estado de S. Paulo. “Wanneer die verliese van ander [plaas]produkte en verbruikersafval bereken word, beloop die bedrag [R14 500 miljoen].” Maar waarom word 20 persent van die landbouopbrengs en 30 persent van die vrugteproduksie vermors? Van die redes wat gegee word, is ‘onvoldoende bergruimte op die plase, ontoereikende produksietegnologie, slegte hoofweë en swak bestuur van oeste’. Benedito Rosa van die Departement van Landbou het die gebrek aan maatreëls om die vermorsing onder beheer te bring, betreur en gesê: “Sulke vermorste kos kan mense voed wat dit nodig het.”

Maandagoggend-sindroom

“Die stres wat daarmee gepaardgaan om Maandagoggend terug te keer werk toe verhoog die risiko van ’n hartaanval met 33 persent”, berig die Jornal do Brasil. ’n Duitse studie van 2 636 gevalle “het aan die lig gebring dat die risiko om hartversaking te kry volgens die dag van die week en die tyd van die dag wissel”. Maar daar is bevind dat Maandae veral gevaarlik is en dat die kanse op hartaanvalle drie keer groter in die oggend is as gedurende die res van die dag. Die Maandagoggend-sindroom kom meer onder fabriekswerkers as beroepsmense en kantoorwerkers voor. “Ons vermoed dat die oorgang tot ’n strawwer pas onmiddellik ná die naweek se ontspanning die [hart]aanvalle veroorsaak”, sê professor Stefan Willich, wat die navorsing gelei het. Daar is voorgestel dat mense met hartprobleme hulle week rustig moet begin.

“Die grootste dobbelnasie ter wêreld”

“Japan het die grootste dobbelnasie ter wêreld geword”, sê die Asahi Evening News. Die meeste geld (65 persent) word op patsjinko verwed, wat van spykertafels gebruik maak. Die Japannese spandeer ook meer as enige ander nasie aan plaaslike perdewedrenne. In 1992 was die verkope meer as twee keer dié van die Verenigde State en meer as vier keer dié van Hongkong, Brittanje en Frankryk. Die aandag word nou op jong vroue gevestig om verkope te vermeerder. Een jong vrou van Nagoja het gesê: “My ouers maak ’n ophef daarvan, maar ek sê altyd vir hulle: ‘Dit word deur nasionale regerings en plaaslike besture georganiseer. Hoe kan dit sleg wees?’” Die Japannese wet verbied eintlik dobbelary in beginsel, maar openbare dobbelary bestaan as ’n “agterstraatekonomie”, sê die navorser Hirosji Takeutsji. Hy meen dat dobbelary ’n maatskaplike probleem word wanneer dobbelwinste 4 persent van die land se bruto nasionale produk oorskry. Japan s’n is nou 5,7 persent.

Kerke word deur die toename in misdaad geraak

Tot in onlangse jare is Australiese kerke oor die algemeen nie toegesluit nie, selfs wanneer daar nie dienste gehou is nie. Maar dinge het nou verander, berig die koerant The Weekend Australian, as gevolg van roofaanvalle, inbrake, vandalisme van kerkgeboue en ’n aantal gevalle waartydens priesters aangeval is. “Ek is bevrees dat die meeste van ons gemeentes hulle kerke nou toesluit. Ek dink dis uiters tragies”, het die Katolieke aartsbiskop John Bathersby gesê. “Ek dink dat daar ’n agteruitgang is wat die eerbied vir godsdiens betref. Ek dink dat die hele sekularisasie van die samelewing werklik ’n toestand tot gevolg gehad het waar baie mense nie ’n verskil sien tussen die Kerk en enige ander instelling in die samelewing nie, en gevolglik het daardie spesiale respek daarvoor verdwyn. Party mense sien ’n kerk as net nog ’n gebou.”

Veelsydige pous

Pous Johannes-Paulus II is nie net die geestelike hoof van die Rooms-Katolieke Kerk nie, maar hy is ook ’n dramaturg, skrywer en opnamekunstenaar. Sy boek, Crossing the Threshold of Hope, wat onlangs verskyn het, was baie weke lank op die lys van suksesboeke. Die toneelstuk, ’n musiekdrama wat The Jeweler’s Shop genoem word, het verlede Desember in die stad New York vir ’n kort tyd op die planke gekom. Dit is in 1960 deur die pous geskryf onder die skuilnaam Andrzej Jawien. “Die pous was ’n dramaturg, ’n akteur, ’n spelleier, ’n vertaler en ’n toneelkritikus vir die plaaslike koerant in Krakau”, het die toneelstuk se regisseur verduidelik. Daar is ook ’n baie gewilde dubbel-CD met ’n opname van die pous wat die Rosekrans voordra. En die pous is ’n bekende wêreldreisiger, met planne om vanjaar vyf vastelande te besoek. Sy 63ste reis, in Januarie, is deur The New York Times beskryf as “’n poging deur die 74-jarige pous om die beeld van ’n pousdom wat agteruitgaan af te skud en om die idee oor te dra dat sy gesondheid of sy ouderdom hom nie sal verhinder om sy morele visie in die wêreld se sake in te voer nie”.

Bloed—’n gevaarlike “geneesmiddel”

“Kan dit wees dat Jehovah se Getuies reg is wanneer hulle bloedoortappings weier?” vra Engeland se Sunday Telegraph. Huidige oortappingsvrese behels bloed wat met hepatitis C en die vigs-virus besmet is. “Maar infeksie is slegs een van talle gevare wat al in vakkundige tydskrifte beskryf is”, sê die Telegraph. “Studies soos die een wat geskat het dat die kanse dat ’n mens ’n ongunstige reaksie op ’n oortapping sal hê tot 20 persent is, is feitlik onbekend aan die publiek. Net so onbekend is die studies wat bevind het dat pasiënte wat ’n oortapping kry, kan verwag om nie goed te herstel ná abdominale of kolonoperasies nie.” Studies toon ook dat ’n hoë persentasie van bloedoortappings onnodig gegee word en dat standaarde met betrekking tot oortappings grootliks van mekaar verskil en meer op gewoonte as op wetenskaplike gegewens gegrond is. Tom Lennard, ’n konsulterende chirurg by die Royal Victoria-hospitaal, het bloed “’n kragtige geneesmiddel” genoem waarmee “die meeste chirurge veels te onverskillig is” en het gesê: “As bloed ’n nuwe geneesmiddel was, sou dit nie ’n produklisensie kry nie.”

Beskerm julle babas teen geraas

“Te veel geraas kan skadelik wees vir ongebore en pasgebore babas”, sê ’n persverklaring deur Radio France Internationale. ’n Baba in sy moeder se baarmoeder kan veral maklik aangetas word deur enige harde geluide waaraan sy moeder blootgestel word. Aangesien ’n moeder se buikwand en vrugwater baie min beskerming teen geluide van buite bied, kan ’n kind voor geboorte benadeel word. Die gevaar van hoëfrekwensie-gehoorverlies is byvoorbeeld drie keer groter onder kinders wie se moeders aan geraasvlakke tussen 85 en 95 desibels blootgestel is—vlakke wat taamlik algemeen vir baie rockkonserte en diskoteke is. Behalwe dat dit die gehoor kan beskadig, waarsku party navorsers, kan gereelde blootstelling aan harde geluide, veral gedurende die moeder se laaste maande van swangerskap, ook ’n ongebore baba se harttempo laat toeneem.

“Emosionele eerstehulp”

Eerstehulp op die ongelukstoneel behoort meer as aandag aan fisiese beserings in te sluit. Beseerdes het ook emosionele hulp nodig, berig die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung. Watter soort hulp? Die Professionele Vereniging van Duitse Sielkundiges stel vier eenvoudige stappe voor om “emosionele eerstehulp” te gee. Die voorstelle was die resultaat van onderhoude wat met ongelukslagoffers en deskundiges gevoer is. Hulle aanbevelings is: “Sê dat jy daar is. Skerm die beseerde persoon af van dinge wat sy aandag kan aftrek. Maak liggaamlike kontak. Praat en luister.” Pogings word aangewend om die maatreëls deur middel van dokters en bestuurskole te bevorder en om dit in eerstehulpkursusse in te sluit.

“Indië se ‘arbeidertjies’”

Dit is wat ’n verslag in die Times of India die 17 miljoen tot 44 miljoen kinderarbeiders van Indië genoem het. Ondanks die beskikbaarheid van sowat 23 miljoen gesonde, werklose volwassenes verkies fabriekseienaars dikwels om kinders in diens te neem wat, sonder om beswaar te maak, vir die helfte van die loon werk wat volwassenes kry en selde die gesondheidsgevare van hulle werk bevraagteken. Dit was eers toe party Westerse nasies geweier het om goedere in te voer wat deur kinderarbeiders vervaardig is dat party vervaardigers die kinders met volwassenes vervang het. Die Indiese regering het belowe om strenger wette te maak om sulke mishandeling te voorkom en om ouers te verplig om hulle kinders basiese opleiding te gee. Indië se president, dr. Sjankar Dajal Sjarma, sê: “Nòg tradisie nòg ekonomiese nood kan kinderarbeid regverdig, en vandag is die uitskakeling van sulke uitbuiting een van die groot uitdagings.” Maar baie regverdig die gebruik op grond daarvan dat volslae armoede ’n “harde werklikheid” is en dat die geld wat deur ’n kind verdien word die gesin van onderhoud voorsien wat hulle bitter nodig het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel