Gevolge van die evolusieteorie
IN DIE vroeë 19de eeu het daar ’n redelik vriendskaplike verhouding tussen godsdiens en die wetenskap bestaan. Net twee jaar voor The Origin of Species uitgegee is, het die bioloog en Harvard-professor Louis Agassiz geskryf dat die lewende wêreld blyk gee van “voorbedagtheid, wysheid, grootheid” en dat die ontleding van “die Skepper van die Heelal se gedagtes” ’n vername doel van natuurstudie is.
Agassiz se sienswyse was niks buitengewoons nie. Baie mense het die wetenskap en godsdiens as versoenbaar beskou. Wetenskaplike ontdekkings is dikwels gesien as bewys van ’n Groot Skepper. Maar ’n subtiele skeuring het tussen godsdiens en die wetenskap begin ontwikkel.
Skeptisisme begin posvat
Charles Lyell se Principles of Geology, waarvan die eerste deel in 1830 verskyn het, het die Bybel se skeppingsverslag in twyfel getrek. Lyell het beweer dat die skepping onmoontlik in ses letterlike dae kon plaasvind. Die natuurkundige Fred Hoyle het geskryf: “Lyell se boeke was grootliks daarvoor verantwoordelik dat die wêreld oor die algemeen oortuig is dat die Bybel verkeerd kan wees, ten minste in party opsigte, ’n gedagte wat tot op daardie tyd ondenkbaar was.”a
Daar is dus ’n grondslag vir skeptisisme gelê. In die gedagtes van baie kon die wetenskap en die Bybel nie meer versoen word nie. Toe hulle voor ’n keuse te staan gekom het, het baie die wetenskap gekies. “Lyell se werk het twyfel oor die vroeë hoofstukke van die Ou Testament laat ontstaan”, het Fred Hoyle geskryf, “en Darwin se boek was daar om dit te vervang.”
The Origin of Species het op ’n geleë tyd gekom vir diegene wat nie die Bybel as die Woord van God wou aanvaar nie. ’n Liefdesverhouding het reeds tussen die mensdom en die wetenskap ontstaan. ’n Dolverliefde publiek is die hof gemaak deur die beloftes en prestasies van die wetenskap. Soos ’n galante minnaar het die wetenskap die mensdom met nuwighede oorlaai—die teleskoop, die mikroskoop en die lokomotief, en later elektrisiteit, die telefoon en die motor. Tegnologie het reeds ’n industriële revolusie bevorder wat Jan Alleman van ongekende materiële voordele voorsien het.
In teenstelling daarmee is godsdiens as ’n struikelblok in die weg van vooruitgang gesien. Party het gevoel dat dit mense in onkunde hou, sodat hulle nie in staat sou wees om met die vinnige vooruitgang van die wetenskap tred te hou nie. Ateïste het hulle opvattings luidkeels en met vrymoedigheid begin verkondig. Trouens, soos Richard Dawkins geskryf het, “het Darwin dit moontlik gemaak om ’n verstandelik vervulde ateïs te wees”. Die wetenskap was besig om die mensdom se nuwe hoop op redding te word.
Godsdiensleiers het eers die evolusieteorie teëgestaan. Maar namate die dekades verbygegaan het, het die geestelikes oor die algemeen voor die gewilde mening geswig en ’n mengsel van evolusie en skepping aanvaar. ’n Opskrif in ’n New York Times van 1938 het aangekondig: “Anglikaanse Kerk-verslag ondersteun evolusionistiese beskouing van die skepping.” Die verslag, deur ’n kommissie onder leiding van die Aartsbiskop van York, het gesê: “Geen beswaar kan op grond van die twee skeppingsverhale in Genesis I en II teen ’n evolusionistiese teorie gemaak word nie, aangesien geleerde Christene oor die algemeen saamstem dat hierdie verhale ’n mitologiese oorsprong het en dat hulle waarde vir ons eerder simbolies as histories is.” Die aartsbiskop se kommissie het die gevolgtrekking gemaak: “Jy kan dink wat jy wil en steeds ’n Christen wees.”
Vir baie het sulke pogings om die Bybel met evolusie te versoen net die Bybel se geloofwaardigheid afgewater. Dit het algemene skeptisisme oor die Bybel tot gevolg gehad, en dit bestaan vandag nog, selfs onder party godsdiensleiers. Die opmerkings van ’n Episkopaalse biskop in Kanada wat aangevoer het dat die Bybel in ’n voorwetenskaplike era geskryf is en gevolglik vooroordele en onkunde weerspieël, is kenmerkend. Hy het gesê dat die Bybel “historiese foute” en “blatante oordrywing” bevat wat Jesus se geboorte en opstanding betref.
Gevolglik het baie, onder andere sekere geestelikes, nie geaarsel om die Bybel in twyfel te trek nie. Maar waartoe het sulke skeptisisme gelei? Watter alternatiewe hoop is gebied? Met verswakte geloof in die Bybel het party hulle tot die filosofie en die politiek gewend.
Uitwerking op die filosofie en die politiek
The Origin of Species het ’n nuwe beskouing van menslike gedrag gebied. Waarom slaag een nasie daarin om ’n ander nasie te verower? Waarom heers een ras oor ’n ander ras? The Origin of Species, met sy klem op natuurlike teeltkeuse en oorlewing van die geskikste, het verklarings gegee wat ’n opskudding onder die toonaangewende filosowe van die 19de eeu veroorsaak het.
Friedrich Nietzsche (1844-1900) en Karl Marx (1818-1883) was filosowe wat ’n diepgaande uitwerking op die politiek gehad het. Evolusie het hulle albei gefassineer. “Darwin se boek is belangrik”, het Marx gesê, “en dit is vir my ’n natuurlike wetenskaplike verklaring van die klassestryd in die geskiedenis.” Die geskiedskrywer Will Durant het Nietzsche ’n “kind van Darwin” genoem. Die boek Philosophy—An Outline-History het een van Nietzsche se opvattings opgesom: “Die sterkes, dapperes, oorheersendes, trotses, pas die beste in by die toekomstige samelewing.”
Darwin het geglo—en het in ’n brief aan ’n vriend geskryf—dat “baie van die laer rasse [in die toekoms] wêreldwyd deur die hoër beskaafde rasse uitgeskakel sal wees”. Hy het die Europese verowering van ander lande as ’n voorbeeld gebruik en het dit aan “die stryd om voortbestaan” toegeskryf.
Die magtiges het sulke uitlatings gou aangegryp. H. G. Wells het in The Outline of History geskryf: “Heersende volke het aan die einde van die negentiende eeu geglo dat hulle geheers het as gevolg van die Stryd om Voortbestaan, waarin die sterkes en slimmes die oorhand kry oor die swakkes en goedgelowiges. En hulle het verder geglo dat hulle sterk, kragdadig, genadeloos, ‘prakties’, egotisties moes wees.”
“Oorlewing van die geskikste” het gevolglik ’n filosofiese, sosiale en politieke betekenis aangeneem, dikwels in ’n belaglike mate. “Vir party het oorlog ‘’n biologiese noodsaaklikheid’ geword”, het die boek Milestones of History gesê. En hierdie boek het opgemerk dat “Darwinistiese idees” gedurende die volgende eeu “’n belangrike deel van Hitler se leer van die meerderwaardigheid van sekere rasse gevorm het”.
Nie Darwin, Marx of Nietzsche het natuurlik bly leef om te sien hoe hulle idees toegepas—of misbruik—sou word nie. Hulle het inderdaad verwag dat die stryd om voortbestaan die mens se lot in die lewe sou verbeter. Darwin het in The Origin of Species geskryf dat “alle liggaamlike en verstandelike begaafdhede sal neig om tot volmaaktheid te vorder”. Die twintigste-eeuse priester en bioloog Pierre Teilhard de Chardin het hiermee saamgestem en het geteoretiseer dat daar uiteindelik ’n ‘evolusie van die verstande van die ganse menseras sou plaasvind; almal sou in harmonie saamwerk om een doel te bereik’.
Agteruitgang, nie vooruitgang nie
Sien jy dat sulke vooruitgang plaasvind? Die boek Clinging to a Myth het kommentaar gelewer op De Chardin se optimisme: “De Chardin moes heeltemal onbewus gewees het van die geskiedenis van bloedvergieting en van rassestelsels soos apartheid in Suid-Afrika. Hy klink soos ’n man wat in ’n ander wêreld leef.” Pleks van tot eenheid te vorder, het die mensdom in hierdie eeu rasse- en nasionale verdeeldheid op ’n ongeëwenaarde skaal ondervind.
Die hoop wat The Origin of Species gebied het, dat die mens tot volmaaktheid sou vorder, of ten minste in daardie rigting vooruitgang sou maak, is beslis nie vervul nie. En daardie hoop hou met die verloop van tyd aan om te verflou, want die mensdom het sedert die algemene aanvaarding van evolusie alte dikwels tot barbaarsheid gedaal. Dink net: Meer as 100 miljoen mense het in die oorloë van hierdie eeu gesterf, sowat 50 miljoen in die Tweede Wêreldoorlog alleen. Dink ook aan die onlangse etniese slagting in plekke soos Rwanda en die voormalige Joego-Slawië.
Beteken dit dat daar in vorige eeue geen oorloë en wreedaardighede was nie? Nee, daar was beslis. Maar die aanvaarding van die evolusieteorie, hierdie wrede stryd-om-voortbestaan-denkwyse, hierdie oorlewing-van-die-geskikste-idee, het nie tot die verbetering van die mens se lot bygedra nie. Hoewel ons evolusie dus nie vir die mens se probleme kan blameer nie, het dit gehelp om die mensdom in immer toenemende haat, misdaad, geweld, onsedelikheid en agteruitgang te dompel. Aangesien dit algemeen aanvaar word dat die mens van diere afstam, is dit nie verbasend dat al hoe meer mense soos diere optree nie.
[Voetnoot]
a In werklikheid leer die Bybel nie dat die aarde in ses letterlike dae (144 uur) geskep is nie. Sien Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, bladsye 25-37, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting oor hierdie misvatting.
[Lokteks op bladsy 6]
‘Darwin se boek is vir my ’n wetenskaplike verklaring van die klassestryd in die geskiedenis.’—Karl Marx
[Lokteks op bladsy 6]
‘Laer rasse sal deur hoër beskaafde rasse uitgeskakel wees.’—Charles Darwin
[Foto-erkenning op bladsy 6]
U.S. National Archives photo
[Foto-erkenning op bladsy 6]
Copyright British Museum