Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 8/8 bl. 25-27
  • Die dier met daardie gesogte horings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dier met daardie gesogte horings
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Geliefkoosde tydverdryf
  • Hoe word hulle van mekaar onderskei?
  • Daardie gesogte horings
  • Kenia se renosterwesies
    Ontwaak!—1998
  • Is daar plek vir mens sowel as dier?
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2015
  • Waarom word hulle bedreig?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 8/8 bl. 25-27

Die dier met daardie gesogte horings

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

DIE renoster het skielik in volle vaart op hom afgestorm. Die man het homself eenkant toe gegooi en na ’n kleinerige boom daar naby genael. Maar die renoster het met ongelooflike ratsheid omgedraai en hom nie genoeg tyd gegee om na veiligheid te klouter nie. Hy is etlike kere om die boom gejaag voordat die renoster hom met sy horing geskep en in die lug opgegooi het. Die arme man het eers op die renoster se skof te lande gekom voor hy op die grond geval het. Daar lê hy toe en verwag om doodgetrap of -gegaffel te word. Toe die renoster vorentoe tree, het die man sy voet gelig, maar die renoster het net daaraan geruik en weggedraf!

Dit is Afrika se swartrenoster—nuuskierig, sleggeaard en maklik verontrus. As die renoster se uitstekende reuk- of gehoorsintuig hom op sy hoede stel teen iets wat hy nie kan sien nie (aangesien sy gesigsvermoë swak is), sal hy opgewonde op die gevaar afstorm—wat enigiets van ’n trein tot ’n skoenlapper kan wees! Hoewel die renoster ’n skofhoogte van ongeveer 1,5 meter het en tot 1 000 kilogram kan weeg, kan dit nogtans teen sowat 55 kilometer per uur galop en binne sy eie lengte omdraai!

Partykeer is sy stormloop net bangmakery of niks anders as pure pret nie. Yuilleen Kearney, die voormalige eienaar van ’n jong swartrenoster wat Rufus genoem is, sê “hoe meer stof Rufus kon maak, hoe gelukkiger was hy”. Sy onthou met geneentheid die keer toe Rufus “proesend, hygend en met ’n lawaai” uit die bos gekom en “deur die tuin gestorm het en toe skielik reg voor die stoep gaan staan, rustig met die trap opgeloop en langs [haar] dekstoel gaan lê het”.

Baie wat die swartrenoster bestudeer het, het hierdie geneentheid in gemeen. Hulle almal is dit egter eens dat persoonlikhede onder renosters, net soos onder mense, van mekaar verskil. Wees dus op jou hoede vir die waarlik sleggeaarde renoster! ’n Gewilde veldgids tot diere in Suidelike Afrika waarsku dat die swartrenoster “nooit vertrou moet word nie en dat ’n mens redelik ver van hom af moet wegbly”. Ongelukkig is teistering deur die mens dikwels die oorsaak van sy aggressie. Professor Rudolf Schenkel, wat die renosteraanval oorleef het wat vroeër beskryf is, betreur die feit dat die mens homself die enigste vyand van die renoster gemaak het.

Wat van Afrika se ander renoster, naamlik die witrenoster? Sy kenmerkend vreedsame natuur vorm ’n taamlik skerp kontras met dié van sy driftige neef. Hy is ook byna twee keer so groot soos die swartrenoster en die derde grootste landdier ter wêreld. Sy groot kop is so swaar dat vier mans nodig is om dit op te lig! Maar hy is net so rats soos sy swart neef.

Wanneer ’n witrenoster in die natuur ’n mens sien, hoor of ruik, sal hy gewoonlik paniekbevange vlug. Maar in hulle boek Rhino waarsku Daryl en Sharna Balfour dat ’n mens dit nie as vanselfsprekend moet aanneem nie. “In onlangse jare het witrenosters meer beserings veroorsaak as swartrenosters”, skryf hulle, en hulle voeg by dat dit moontlik aan die mens se “gebrek aan respek” vir hulle toe te skryf is.

’n Geliefkoosde tydverdryf

Afrika se renosters het ’n besondere liefde in gemeen. Dit is die voorliefde vir modder—baie daarvan! Baie sal vinniger loop en opgewonde skreeugeluidjies maak terwyl hulle hulle geliefkoosde moddergat nader. Die Balfours, wat dit dikwels waargeneem het, vertel dat, terwyl die renoster stadig in die modder insink, “’n sug dan gehoor word, en die tevrede dier sal ’n paar minute lank op sy een sy lê . . . voordat hy sy bad voortsit, en dikwels rol hy tot op sy rug terwyl hy met sy pote in die lug skop”.

Albei renostersoorte sal soms dieselfde moddergat deel en sal in hulle liefde vir ’n modderige tydverdryf alle waardigheid oorboord gooi. Jong Rufus, wat vroeër genoem is, het so entoesiasties oor sy modderbad geword dat “hy soms opgespring het voor dit klaar was en in die tuin rondgehardloop en gebokspring het voordat hy na die put teruggekeer het om dit van voor af te geniet”.

Maar buiten plesier dien die modder ook ’n ander doel. Dit is ’n vergaderplek vir sosiale samekomste met mede-renosters en ander diere wat lief is vir modder, dit verlig die renosters effens van die irriterende vliegbyte en koel hulle liggaam af van die son se hitte. Dit is dus nie verbasend dat ’n mens soms renosters sien wat ure aaneen in hulle modderige bed lê nie.

Hoe word hulle van mekaar onderskei?

Hoe onderskei ’n mens die witrenoster van die swartrenoster? Is die een werklik swart en die ander wit? Nee. Hulle is albei grys—maar verskillende skakerings van grys—as jy die grys enigsins kan sien. Wat jy eintlik sal sien, is die kleur van die modder van hulle laaste modderbad wat nou op hulle vel gekoek het.

Maar die vorm van die bek sal jou onmiddellik in staat stel om hulle van mekaar te onderskei. Aangesien die swartrenoster ’n blaareter is, het hy ’n gepunte bolip wat hy gebruik om om blare en takkies te krul en dit van struike af te breek. Sy meer korrekte naam is dus puntliprenoster. Daarenteen is die witrenoster ’n graseter. Gevolglik is sy snoet vierkantig sodat dit gras soos ’n grassnyer afvreet. Dit is geen wonder dat sy meer korrekte naam breëbekrenoster is nie. Maar die wit-swart-onderskeid, wat blykbaar by die vroeë Nederlandse setlaars in Suidelike Afrika ontstaan het, het om die een of ander rede behoue gebly.

Daardie gesogte horings

Die naam renoster is afkomstig van twee Griekse woorde wat “neushoring” beteken. En waaruit bestaan renosterhorings? Party mense beskryf dit as saamgekoekte hare, aangesien dit geneig is om naby die basis uit te rafel. Dit is egter nie ware hare nie, sê dr. Gerrie de Graaff, ’n wetenskaplike raadgewer by Suid-Afrika se Nasionale Parkeraad, maar is “mikroskopies soortgelyk aan die hoewe van hoefdiere”.

Die horing hou aan groei net soos vingernaels. ’n Bekende swartrenoster wat Gertie genoem is, het met een van oor die 1,4 meter gespog, en ’n witrenoster se horing het 2 meter lank geword! En as die horing afbreek, soos dit soms gebeur, sal dit teen ’n tempo van ongeveer agt sentimeter per jaar teruggroei.

Waarom is renosterhorings so gesog? Baie mense gebruik dit as ’n geneesmiddel en ander geniet die aansien wat daarmee gepaardgaan om ’n dolk met ’n handvatsel van renosterhoring te besit. Die aanvraag is so groot en die handel so winsgewend dat duisende renosters doodgemaak is deur diegene wat daarop uit is om wins te maak.

Die witrenoster, wat eens op ’n tyd op die randjie van uitsterwing was, het nou redelik herstel, danksy die onvermoeide pogings van bewaringsgesindes. Maar dit is nie die geval met sy swart neef nie. Die verskeie projekte wat aan die gang is om die toenemende wilddiewery te stuit, sluit die onthoorning van die dier in. Maar hierdie reusetaak het beperkte waarde. Aangesien renosterhorings tot R7 000 per kilogram haal, meen wilddiewe dat dit die moeite werd is om selfs die stompies van onthoornde renosters uit te kap. Maar hopelik sal die mens se selfsug nie die oorhand kry nie, sodat toekomstige geslagte hulle ook daarin sal kan verlustig om hierdie fassinerende dier te leer ken.

[Lokteks op bladsy 27]

Hoe kan jy die swart- en die witrenoster van mekaar onderskei, aangesien hulle albei grys is?

[Prent op bladsy 26]

’n Witrenoster en haar kleintjie

[Erkenning]

National Parks Board of South Africa

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel