Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 11/8 bl. 6-10
  • Is daar plek vir mens sowel as dier?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is daar plek vir mens sowel as dier?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorbevolking—Die enigste bedreiging?
  • Wie gaan eerste toeslaan?
  • ’n Nuwe tendens in bewaring
  • Wie beskerm Afrika se wild?
    Ontwaak!—1993
  • Die dier met daardie gesogte horings
    Ontwaak!—1995
  • Kenia se renosterwesies
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 11/8 bl. 6-10

Is daar plek vir mens sowel as dier?

WAAROM neem wildgetalle in soveel dele van Afrika af? (Sien venster, oorkantste bladsy.) Sommige mense gee die kontinent se vinnige bevolkingsgroei die skuld.

Sommige dele van Afrika, veral in die omtrek van die stede, is weliswaar oorbevolk. Daarby word landelike streke deur die vee van baie kleinboere oorbewei. Neem byvoorbeeld die digbevolkte streke van Venda, Gazankulu en KaNgwane wat aan die Nasionale Krugerwildtuin grens. Hierdie swart tuislande is as deel van Suid-Afrika se vroeëre apartheidsbeleid gevorm en het bevolkingsdigthede van 70 tot 100 mense per vierkante kilometer. Dit kan ontstellend wees om op pad na ’n vakansie in die Nasionale Krugerwildtuin deur hierdie streke te ry. “Gemeenskappe wat aan die grense woon . . . is arm, meestal werkloos en uitgehonger”, verduidelik die koerant Sowetan. “Die diere”, sê ’n ander plaaslike koerant, The Natal Witness, “woon aan hulle kant van die draad in welige prag.”

Volgens onlangse berigte beplan die bestuur van die Nasionale Krugerwildtuin om meer te doen om die mense aan die wildtuin se grense te help. Maar wat sal gebeur as al die heinings weggeneem word en jagters, veewagters en nedersetters vrye toegang verleen word? Bewaringsbewustes vrees dat die meeste wild uiteindelik uitgewis sal word, soos in ander lande gebeur het.

Wildreservate wat goed bestuur word, speel ’n sleutelrol in wildbewaring, veral in digbevolkte streke. Reservate is ook ’n bron van broodnodige geld wat deur buitelandse toeriste bestee word. (Sien venster, bladsy 5.) “Hierdie gebiede”, sê die joernalis Musa Zondi ten slotte in die voormelde Sowetan-artikel, “verskaf ook werkgeleenthede aan duisende mense—veral aan diegene wat langs hierdie reservate woon. Daarbenewens is dit ons erfenis. Ons kan geen beter geskenk as hierdie plekke aan ons kinders nalaat nie.”

Oorbevolking—Die enigste bedreiging?

Die bevolkingsontploffing is nie al wat Afrika se wild bedreig nie. Neem byvoorbeeld vier groot Afrikalande wat aan mekaar grens: Namibië, Botswana, Angola en Zambië. Hierdie lande dek ’n gebied groter as Indië, en tog het hulle ’n gesamentlike bevolkingsdigtheid van slegs 6 mense per vierkante kilometer. Dit is min in vergelyking met die bevolkingsdigtheid van lande soos Duitsland, met 222 mense per vierkante kilometer; Brittanje, met 236 mense per vierkante kilometer en Indië, met 275 mense per vierkante kilometer! Trouens, die bevolkingsdigtheid vir die hele Afrika, 22 mense per vierkante kilometer, is ver onder die wêreldgemiddeld van 40.

“Afrika se bevolking neem vinnig toe”, erken die Zambiër Richard Bell in die boek Conservation in Africa, “maar die algehele bevolkingsdigtheid is steeds relatief laag behalwe in sekere bepaalde gebiede.”

Siektes, vernietigende droogtes, internasionale wilddiefstal, burgeroorloë en die verwaarlosing van landelike kleinboere dra alles by tot die afname van Afrika se wild.

Die stryd tussen die supermoondhede, die voormalige Sowjetunie en die Weste, het tot konflikte oral in Afrika gelei en van albei kante af het gesofistikeerde wapens die kontinent binnegestroom. Sommige van die outomatiese wapens is dikwels op die wild gebruik om verhongerde leërs te voed, en deur die verkope van olifanttande, renosterhorings en ander dieretrofees en -produkte is meer wapens gekoop. Die vinnige uitroeiing van wild het nie met die beëindiging van die Koue Oorlog opgehou nie. Die wapens is steeds in Afrika. Die tydskrif Africa South sê aangaande een van Afrika se burgeroorloë in Angola: “Wilddiefstal, wat reeds gedurende die oorlog baie voorgekom het, het sedert die begin van die skietstaking toegeneem omdat daar geen beheer oor gedemobiliseerde vegters is nie.” En daardie oorlog het sedertdien weer begin.

Baie wilddiewe waag hulle lewe omdat daar sulke ontsaglike bedrae geld by betrokke is. “’n Enkele [renoster]horing kan $25 000 [ongeveer R70 000] haal”, berig die Suid-Afrikaanse koerant, The Star. ’n Bewaringsgesinde, dr. Esmond Martin, het in 1988 ’n Asiatiese land besoek en gevind dat die prys van renosterhoring binne drie jaar van R4520 tot R13 750 per kilogram gestyg het.

Wie gaan eerste toeslaan?

Strawwe maatreëls is geneem om die aandag op die bedreiging te vestig wat deur die aanvraag na ivoor en renosterhoring geskep is. In Julie 1989 het miljoene TV-kykers oor die wêreld heen gesien hoe ’n yslike hoop van 12 ton ivoor met ’n beraamde waarde van tussen 9 en 18 miljoen rand deur Kenia se president, Daniel arap Moi, aan die brand gesteek word. Kenia se direkteur van wildbewaring, dr. Richard Leakey, is gevra hoe so ’n skynbare vermorsing geregverdig kon word. “Ons sou nie mense in Amerika, Kanada of Japan kon oorreed dat hulle nie meer ivoor moet koop as ons dit steeds verkoop nie”, het hy geantwoord. Sulke maatreëls het mense inderdaad in so ’n mate geskok dat hulle hulle samewerking aan ’n internasionale verbod op ivoorhandel verleen het. Die vraag na ivoorprodukte het skerp afgeneem.

Met renosters is dit ’n heel ander saak. Hoewel Kenia se president in 1990 renosterhorings ter waarde van miljoene rande aan die brand gesteek het, duur die aanvraag voort. (Sien die venster “Waarom renosterhoring so gewild is” op bladsy 9.) Om dalende renosterbevolkings te beskerm, het party lande hierdie diere se horings begin afsaag. Soms is dit ’n desperate wedloop van wie eerste gaan toeslaan, die bewaarder met ’n verdowingspyl of die wilddief met ’n dodelike outomatiese wapen.

’n Nuwe tendens in bewaring

Westerse jagters en bewaringsgesindes stel plattelandse bewoners se spoorsnyvernuf al lank hoog op prys. Baie Afrikane het inderdaad ’n merkwaardige natuurkennis. “Baie van hierdie kennis”, verduidelik Lloyd Timberlake in sy boek Africa in Crisis, “word mondelings oorgedra en dit word bedreig namate Afrikane die platteland vir die stede verlaat . . . Volgens die antropoloog Leslie Brownrigg staan die wêreld dus die gevaar om . . . ‘baie mens-eeue van menslike wetenskaplike navorsing’ te verloor.”

In die verlede het koloniale regerings nasionale parke tot stand gebring deur die kleinboere uit te dryf wat eeue lank op die wild vir voedsel staatgemaak het. Nou roep party Afrika-regerings die hulp in van hierdie plattelandse boere wat al so lank oor die hoof gesien is. “In verskeie lande van Suider-Afrika”, berig die Worldwatch-instituut, “het die staat afstand gedoen van hulle uitsluitlike beheer oor die wild. Plattelandse gemeenskappe wat in 10 van Zambië se 31 Wildbestuursgebiede woon, het regte op wild verkry; wilddiefstal het drasties afgeneem en dit lyk of wildbevolkings as gevolg hiervan herstel.” Daar is ander berigte van plattelandse kleinboere wat met welslae by hulle eie bewaring betrokke geraak het, soos onder die swartrenoster en woestynolifante van die Kaokoveld in Namibië, in wildreservate van KaNgwane en in ander Afrikalande.

Ten spyte van hierdie belowende tendens is bewaringsgesindes steeds besorg oor die toekoms. Hierdie nuwe benadering is hoogstens net ’n tydelike oplossing. Op die lange duur bly die mens se vinnige bevolkingsgroei ’n bedreiging. U.S.News & World Report verduidelik dat “die wêreldbevolking gedurende die volgende eeu na verwagting met om en by 5 miljard sal toeneem, en dit sal meestal in ontwikkelende lande plaasvind wat, nie toevallig nie, ook die laaste toevlug vir wild op die planeet is”.

Namate die wêreld se bevolking na wildernisgebiede uitbrei, ontstaan daar ’n konflik tussen mens en dier. “Baie van Afrika se groot dierespesies, soos olifante, seekoeie, renosters, buffels, leeus en krokodille, sowel as sekere van die groter boksoorte, ape en varke, kan hulle nie by die meeste soorte landelike ontwikkeling aanpas nie”, verduidelik die boek Conservation in Africa.

Wie het ’n oplossing vir die langtermynoorlewing van Afrika se wild aangesien dit nie lyk of die mens dit het nie?

[Venster/Kaart op bladsy 7]

“Buffels het van 55 000 tot minder as 4000 verminder, waterbokke van 45 000 tot minder as 5000, sebras van 2720 tot ongeveer 1000 en seekoeie het van 1770 tot ongeveer 260 verminder.”—’n Vergelyking tussen twee lugopnames wat in 1979 en 1990 in Mosambiek se Marromeu-delta gedoen is en waaroor daar in die tydskrif African Wildlife vir Maart/April 1992 berig is.

“In 1981 het nagenoeg 45 000 sebras deur die grasvelde en bosse [van noordelike Botswana] gemigreer. Maar teen 1991 het slegs ’n beraamde 7000 dieselfde reis voltooi.”—Uit die tydskrif Getaway in sy resensie van ’n natuurlewevideo, Patterns in the Grass, November 1992.

“Tydens ons besoek [aan Togo, Wes-Afrika] het ons op ’n interessante en onverwagte bevolking bosolifante in die Fosse aux Lions-natuurreservaat afgekom . . . Volgens ’n lugopname wat in Maart 1991 gedoen is, was daar altesaam 130 diere. . . . [Maar in minder as ’n jaar] was daar slegs 25 olifante in die Fosse aux Lions.”—Volgens die tydskrif African Wildlife, Maart/April 1992.

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Wildreservate in Afrika speel ’n sleutelrol in die bewaring van baie spesies

AFRIKA

MAROKKO

WES-SAHARA

MAURITANIË

ALGERIË

MALI

TUNISIË

LIBIË

NIGER

NIGERIË

EGIPTE

TSJAAD

SOEDAN

DJIBOETI

ETHIOPIË

SENTRAALAFRIKAANSE REPUBLIEK

KAMEROEN

KONGO

Cabinda (Angola)

GABOEN

ZAÏRE

UGANDA

KENIA

SOMALIË

TANZANIË

ANGOLA

ZAMBIË

MALAWI

NAMIBIË

ZIMBABWE

MOSAMBIEK

BOTSWANA

MADAGASKAR

SUID-AFRIKA

SENEGAL

GAMBIË

GUINEE-BISSAU

GUINEE

BURKINA FASO

BENIN

SIERRA LEONE

LIBERIË

CÔTE D’IVOIRE

GHANA

TOGO

EKWATORIAALGUINEE

RWANDA

BURUNDI

SWAZILAND

LESOTHO

Fosse aux Lionsnatuurreservaat

Masai Marawildreservaat

Nasionale Serengeti-wildtuin

Marromeudelta

Nasionale Krugerwildtuin

Middellandse See

Rooi See

Indiese Oseaan

Gebiede in die artikel genoem

Vername nasionale parke

[Venster/Prente op bladsy 9]

Waarom renosterhoring so gewild is

“THREE LEGS Brand Rhinoceros Horn Anti-Fever Water.” Volgens die skrywers van die boek Rhino, Daryl en Sharna Balfour, is dit die naam van ’n gewilde medisyne wat in Maleisië verkoop word. Die etiket op hierdie sogenaamde medisyne sê die volgende: “Hierdie medisyne is met sorg berei van die beste renosterhoring en koorsmiddels, onder die direkte toesig van kenners. Hierdie wonderlike medisyne werk perfek om onmiddellike verligting te bring vir diegene wat ly aan: malaria, hewige koors, koors wat die hart en vier ledemate aantas, klimaatsduiseligheid, kranksinnigheid, tandpyn, ens.”—Ons kursiveer.

Dit is wat baie mense in Asiatiese lande glo. Renosterhoring in vloeistof- of poeiervorm is in baie Asiatiese stede maklik bekombaar. In die hoop om die gewildheid daarvan te laat afneem, beweer die Balfours: “Om ’n dosis renosterhoring te neem, het dieselfde medisinale waarde as om jou vingernaels te kou.”

In Jemen is renosterhoring om ’n ander rede gesog—as materiaal vir dolkhandvatsels. Meer as 22 ton is gedurende die sewentigerjare ingevoer, en dit is moeilik om ’n goeie plaasvervanger te vind. “Die Jemeniete”, verduidelik die Balfours, “het gevind dat niks met renosterhoring kan vergelyk wat duursaamheid en voorkoms betref nie. . . . Hoe ouer [die dolkhandvatsels] word, hoe mooier lyk hulle omdat hulle met ouderdom so deurskynend soos amber word.”

[Grafieke/Prente op bladsy 8]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

2720

1000

1979 Sebrabevolking 1990

55 000

3696

1979 Buffelbevolking 1990

1770

260

1979 Seekoeibevolking 1990

45 000

4480

1979 Waterbokbevolking 1990

Vergelykbare tendense in die wildbevolkings van die Marromeu-delta vir 1979 en 1990

[Erkenning]

Bottom left: Safari-Zoo of Ramat-Gan, Tel Aviv

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel