Kenia se renosterwesies
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
WAT gebeur in die natuur wanneer ’n jong diertjie van sy ouers geskei word? Hy sal waarskynlik deur roofdiere doodgemaak word. Om dit te verhoed, red wildbewaarders in Kenia sulke diertjies en neem hulle na diererehabilitasiesentrums. Een van die bekendstes word deur Daphne Sheldrick by die Nairobi- Nasionale Park bestuur. Dekades lank word baie diere, waaronder buffels, wildsbokke, sivetkatte, vlakvarke, muishonde, olifante en renosters, deur Sheldrick grootgemaak en weer in die natuur vrygelaat.
Verlede jaar het sy twee swartrenosterkalfies, Magnette en Magnum, in haar sorg gehad. Magnette is die kalf van Nairobi-park se Edith, wat nog lewe. Die kalf is in die middel van Februarie 1997 na die rehabilitasiesentrum gebring nadat sy op die een of ander manier van haar ma geskei is. Toe die wildbewaarders uiteindelik Magnette se ma opgespoor het, het vyf dae al verbygegaan. Teen daardie tyd was die moontlikheid dat die ma die kalf sou terugneem maar gering weens die lang skeiding en die reuk van mense aan die kalf.
Magnum is op 30 Januarie 1997 gebore en is die kalf van ’n renoster met die naam Scud, wat die gebruik van haar regtervoorpoot verloor het, moontlik omdat sy in ’n gat getrap het terwyl sy gehardloop het. Hoewel daar hard probeer is om die besering gesond te maak, het infeksie van die been ontwikkel, en Scud moes van kant gemaak word drie weke nadat Magnum gebore is.
Hoe om ’n renoster groot te maak
Jong renosters kan maklik tevrede gestel en hanteer word, maar hulle kan beslis nie in die huis grootgemaak word nie. Hulle drink elke vier uur gedurende die dag ’n volroommelkformule uit enorme bottels. Hulle eet ook struike en bossies. Hoewel renosterkalfies by geboorte maar net ongeveer 40 sentimeter hoog is en tussen 30 en 40 kilogram weeg, sit hulle verbasend vinnig gewig aan—’n kilogram per dag! ’n Volwasse renoster weeg meer as ’n ton.
Die bewaarders loop elke dag lang ente saam met Magnette en Magnum deur die park. Hierdie uitstappies is nie net ter wille van oefening nie; daar is ’n belangrike rede daarvoor—die inskakeling van die renosters in die natuur. Kom ons kyk hoe dit gedoen word.
Renosters kan nie goed sien nie, maar hulle het ’n skerp reuksin en ’n buitengewone geheue. Aan die begin leer renosters mekaar dus ken deur reuk. Renosters baken die grense van hulle gebied af deur mishope en deur hulle urine op bosse te sproei.
Onder normale omstandighede word ’n kalf deur sy ma beskerm, en sy unieke reukspoor meng met hare totdat die volgende kalf gebore moet word. Teen daardie tyd sal die kalf al ten volle by die gevestigde renostergemeenskap ingeskakel wees en deur hulle aanvaar word. Vir nuwelinge soos Magnette en Magnum is die situasie anders. Hulle moet hulle mis voeg by die gevestigde hope van die renosters wat in die gebied bly voordat daar fisiese kontak met hulle kan wees. Gedurende hulle lang daaglikse wandelings dra die renosterwesies dus self by tot die gevestigde mishope in die bos. Op hierdie manier word hulle reuk ontdek, ondersoek en uiteindelik aanvaar deur die plaaslike renosterbevolking. Om renosters wat hans grootgemaak is in die natuur te hervestig, is dus ’n ingewikkelde proses wat ’n hele paar jaar kan duur.
Wat hou die toekoms vir die wesies in?
Volgens die Wêreld-natuurfonds was daar in 1970 ongeveer 65 000 swartrenosters in Afrika. Vandag is daar minder as 2500. Hierdie drastiese afname is die gevolg van wilddiewe wat renosters vir hulle vel en horings doodgemaak het. Op die swartmark is renosterhoring meer werd as die gewig daarvan in goud. Waarom is dit so gesog?
Om een rede te noem, in sommige lande in die Verre Ooste meen baie dat gemaalde horing koors kan breek. Chemiese toetse het getoon dat daar wel iets in steek, maar net as dit in baie groter hoeveelhede toegedien word as wat op die oomblik in geneesmiddels gebruik word. Daar is natuurlik baie ander medisyne wat koors breek.
Renosterhoring is ook om kulturele redes gesog. In ’n land in die Midde-Ooste is die geboë dolk ’n gesogte simbool van manlikheid. ’n Dolk met ’n hef van renosterhoring is so kosbaar dat kopers gewillig is om R2830 te betaal vir ’n hef van nuwe horing en R5850 vir ’n hef van baie ou horing.
As gevolg van wilddiefstal het Kenia meer as 95 persent van sy renosters in minder as 20 jaar verloor. Teen die vroeë negentigerjare het die getal van 20 000 tot skaars 400 verminder. Weens streng beskermingsmaatreëls het die renosterbevolking sedertdien tot ongeveer 450 toegeneem. Kenia is nou een van net drie Afrikalande waar swartrenosterbevolkings stabiel of aan die toeneem is. Die toekoms lyk dus goed vir Magnette en Magnum, en die bewaarders hoop dat hulle uiteindelik by die plaaslike renostergemeenskap sal aansluit en lank en gelukkig sal lewe.
[Prent op bladsy 12]
Magnum (links) en Magnette toe hulle vier maande oud was