Een stem te midde van stilte
VYFTIG jaar gelede is ’n monster doodgemaak. Toe die wêreld uiteindelik die gordyn oopgetrek het om na die verowerde Derde Ryk te kyk, was die afgryslike gesig te verskriklik om te begryp. Soldate sowel as burgers kon slegs in stille afgryse na die grusame oorblyfsels van ’n monsteragtige moordmasjien kyk.
Vroeër vanjaar het duisende die 50ste gedenkdag van die bevryding van die konsentrasiekampe herdenk deur in stilte deur die verlate terreine te stap. Dit was vir hulle moeilik om die afskuwelikheid van die misdaad te begryp. Sowat 1 500 000 is immers in die doodskamp by Auschwitz alleen doodgemaak! Dit was ’n tyd vir stilte, ’n tyd om na te dink oor die mens se onmenslikheid teenoor die mens. Die koue oonde, die leë barakke en die onversteurde hope geplunderde skoene het verontrustende vrae laat ontstaan.
Vandag is mense met afgryse vervul; hulle is erg verontwaardig. Die Slagting, waartydens etlike miljoene stelselmatig vermoor is, openbaar wat ’n monsteragtige euwel Nazisme was. Maar wat van destyds? Wie het hulle teen Nazisme uitgespreek? Wie het nie?
Baie mense het eers aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog van die massamoorde te wete gekom. Die boek Fifty Years Ago—Revolt Amid the Darkness verduidelik: “Die stilfoto’s en nuusrolprente van die moordsentrums en -kampe wat in 1944 en 1945 deur die Geallieerdes bevry is, het eerste die skokkende werklikheid aan die gewone publiek bekend gemaak, veral in die weste.”
Maar selfs voor die doodskampe opgerig is, het ’n stem die gevare van Nazisme bekend gemaak, deur middel van die Ontwaak!, die tydskrif wat jy in jou hande het. Dit het eers as The Golden Age bekend gestaan, en in 1937 is die naam na Consolation (Vertroosting) verander. Vanaf 1929 het hierdie tydskrifte, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, moedig teen die gevare van Nazisme gewaarsku en die verklaring op die buiteblad gestand gedoen: “’n Blad vir feite, gekenmerk deur hoop en moed.”
“Hoe kan ’n mens stilbly”, het die Vertroosting in 1939 gevra, “oor die gruwels van ’n land, soos Duitsland, waar 40 000 onskuldige mense tegelykertyd in hegtenis geneem word; waar 70 van hulle in ’n enkele aand in een gevangenis tereggestel is; . . . waar alle tehuise, inrigtings en hospitale vir die bejaardes, die armes en die hulpbehoewendes en alle weeshuise vir die kinders vernietig word?”
Hoe kon ’n mens inderdaad stilbly? Terwyl die wêreld oor die algemeen onbewus was van of skepties was oor die afgryslike verslae wat uit Duitsland en besette lande gesypel het, kon Jehovah se Getuies nie stilbly nie. Hulle het self die wreedhede van die Nazi-regime ondervind, en hulle was nie bang om hulle daarteen uit te spreek nie.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
U.S. National Archives photo