Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/8 bl. 16-19
  • ’n Bewys van hulle geloof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Bewys van hulle geloof
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Franse uitstalling
  • Persoonlike ondervindinge
  • Die oopstelling
  • Reaksies
  • Die booshede van Nazisme aan die kaak gestel
    Ontwaak!—1995
  • My haat het in liefde verander
    Ontwaak!—1995
  • Sigbare bewyse van die Slagting
    Ontwaak!—1993
  • ’n Slagtingsgedenkmuseum en Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/8 bl. 16-19

’n Bewys van hulle geloof

GEDURENDE 1995 was dit die 50ste herdenking van die bevryding van die Nazi-konsentrasiekampe. Oor die hele Europa het Nazi-slagoffers hierdie geleentheid herdenk met groot samekomste wat by Auschwitz, Bergen-Belsen, Buchenwald, Dachau, Ravensbrück, Sachsenhausen en ander kampe deur staatshoofde bygewoon is. ’n Gedagte wat telkens na vore gekom het, was: “Ons moet nooit vergeet nie!”

Om hierdie rede het Jehovah se Getuies tydens die herdenkingsjaar uitstallings in Europa gehou. Baie van die Getuies is deur Hitler se regering in kampe opgesluit omdat hulle geweier het om die Hitler-saluut te gee en om die oorlogspoging te steun. Duisende van hulle is van 1933 af gevange geneem, en baie het gesterf as gevolg van die behandeling wat hulle ontvang het.

Maar die publiek weet oor die algemeen nie van hulle ondervindinge nie. Dit het aanleiding gegee tot die uitdrukking “die geskiedenis se vergete slagoffers”. ’n Groep Getuie-oorlewendes het die begeerte uitgespreek om hulle gesinne en metgeselle wat vervolg, gevange geneem, gemartel of vermoor is in die geheue te laat bewaar en om die bewys van geloof en moed bekend te maak wat nagelaat is deur hierdie Bibelforscher, die naam waaronder Jehovah se Getuies in die konsentrasiekampe bekend gestaan het.

Die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum in Washington, DC, het op 29 September 1994 ’n seminaar oor Jehovah se Getuies in die konsentrasiekampe gehou. Die kamp-oorlewendes het twee groot gedenkreünies in Frankryk gehou, op 28 Maart 1995 in Straatsburg en op 30 Maart in Parys. Dit was werklik hartroerend om te hoor hoe hierdie manne en vroue, wat nou bejaard is en God 50 jaar later nog getrou dien, hulle ondervindinge vertel. Op 27 April is ’n soortgelyke vergadering gehou naby Berlyn, in Brandenburg, Duitsland, waar baie Getuies deur onthoofding tereggestel is. Die volgende dag het ’n aantal van die oorlewendes die plegtighede wat deur die staat Brandenburg georganiseer is, bygewoon en verskillende kampe besoek.

Die Franse uitstalling

By hierdie reünies is ’n uitstalling met die tema “Mémoire de Témoins” (Getuie-memoires) gehou. Van Mei 1995 tot April 1996 is dit in 42 stede in Frankryk en verskeie stede in België en Franssprekende Switserland gehou. Die manne en vroue wat aan die uitstalling deelgeneem het, is in die eerste plek Getuies van Jehovah God. Maar hulle is ook getuies van die lyding wat hulle en ander in die konsentrasiekampe verduur het. Hulle is die lewende bewys van ’n ideologie van onverdraagsaamheid wat die lyding en dood van miljoene mense weens hulle ras of godsdiens veroorsaak het. Daarbenewens bring die getuienis van die Getuies aan die lig dat sogenaamde Christene ’n valse messias, Hitler, bo Jesus Christus, haat bo naasteliefde en geweld bo vrede verkies het.

Die uitstalling het uit sowat 70 panele bestaan en die eerste was ’n rooster van gebeurtenisse—die opening van die kampe in Dachau en Oranienburg in Maart 1933; die Neurenberg-wette om “Duitse bloed te beskerm” in September 1935; die Anschluss, of anneksasie van Oostenryk deur Duitsland, in Maart 1938; Kristallnacht (Kristalnag) in November van dieselfde jaar, waartydens duisende Joodse winkels geplunder en meer as 30 000 mense in hegtenis geneem en uit die land verban is; die stelselmatige verbod op Jehovah se Getuies; die inval in die Sowjetunie in Junie 1941 en die genadedood vir sielsiekes van 1939 tot 1941.

Etlike panele het die aandag gevestig op die indoktrinering van jongmense in die Hitlerjeug en die bekoring wat die groot Nazi-samekomste in Neurenberg vir die volksmassa ingehou het. Foto’s het mense daaraan herinner dat Jehovah se Getuies geweier het om aan die Führer trou te sweer en om die Hitler-saluut te gee. Ander panele het getoon hoe Jehovah se Getuies die slagoffers van valse inligting was en hoe hulle sedert 1935 tydskrifte en traktate versprei het wat die Nazi-gruweldade aan die lig gebring het.

Persoonlike ondervindinge

Ongeveer 40 panele het die ondervindinge vertel van gewone manne en vroue van regoor Europa wat weens hulle geloof vervolg en selfs doodgemaak is. Oorlewendes het die uitstalling deur hulle teenwoordigheid ondersteun, en besoekers het aandagtig na hulle geluister. Kinders het geboeid geluister terwyl Louis Arzt sy verhaal vertel het. Hy is oorspronklik van Mülhausen in Frankryk en is van sy ouers weggeneem en na Duitsland gestuur omdat hy geweier het om “Heil Hitler!” by die skool te sê. “’n SS-soldaat het my geslaan omdat ek geweier het om Hitler te salueer. Hy het my 30 houe gegee. Twee dae later het hy sy hand op my skouer gelê en op my gevoel probeer speel. ‘Dink aan jou moeder. Sy sal so bly wees om jou te sien. Jy moet net “Heil Hitler!” sê en jy kan op die trein klim.’ Dit was moeilik vir ’n 12-jarige kind”, het hy bygevoeg. Baie is ontroer deur die ondervindinge van Joseph Hisiger wat sy week se rantsoen brood vir die Bybel van sy Protestantse selmaat verruil het.

Onderhoude op videoband met Getuies wat na die konsentrasiekampe gestuur is, was nog ’n glanspunt van die uitstalling. Party onderhoude is by die kampe self gevoer—byvoorbeeld by Ebensee in Oostenryk en by Buchenwald en Sachsenhausen in Duitsland. Ander onderhoude het verskeie aspekte van die kamplewe of die herinneringe van Getuies wat as kinders na die konsentrasiekampe gestuur is op band vasgelê.

Die oopstelling

Elke uitstalling is met ’n kort plegtigheid geopen, waartydens ’n verteenwoordiger van die kamp-oorlewendes die geestelike verset van Jehovah se Getuies teen Nazisme verduidelik het. Kamp-oorlewendes wat nie Getuies is nie sowel as verskeie geskiedkundiges en amptenare, met inbegrip van ’n voormalige minister van die Franse regering, het ook goedgunstiglik uitnodigings aanvaar om te praat.

’n Kamp-oorlewende wat met Jehovah se Getuies in Buchenwald bekend was, het aangaande hulle gesê: “Ek is onbewus van enige ander groep in die kamp, benewens die Jode, wat so smadelik behandel is: geslaan, verneder, beledig, die veragtelikste take gegee. Sonder hulle geloof sou hulle nie staande kon bly nie. Ek het die grootste respek en bewondering vir hulle.”

Reaksies

Meer as 100 000 mense het die uitstalling besoek. Op party plekke het honderde mense, waaronder baie jongmense, tougestaan om in die uitstallingsaal in te kom. Baie besoekers het hulle gevoelens gelug met ’n paar woorde in die besoekersboek. ’n Jeugdige het byvoorbeeld geskryf: “My naam is Sabrina. Ek is tien jaar oud en sal graag so dapper soos Ruth wil wees om Jehovah te behaag.”a

Die media het ook oor die uitstalling gepraat. Oor die algemeen het daar in elke dorp een of twee artikels in die plaaslike pers verskyn. Daarbenewens het plaaslike radiostasies dikwels aan die uitstalling publisiteit gegee en programme uitgesaai waartydens onderhoude met kamp-oorlewendes gevoer is. Streektelevisie het kort verslae aangebied. ’n Televisienuusberig het die uitstalling beskryf as “’n eenvoudige dog verskriklike verhaal wat in die hart van die onuitspreeklike inkyk. ‘Getuie-memoires’ wat eerbied toon vir waardigheid wat nooit weggeneem kan word nie.”

Die 50ste herdenking van die bevryding sal lank in die oorlewendes se geheue gegrif bly. Hoewel dit nie altyd maklik was om pynlike herinneringe voor die gees te roep nie, kon die Getuies die geloof van ander versterk deur hulle daarvan te vertel en deur die herinneringe aan die vergetelheid te ontruk. Hulle het dit as ’n voorreg beskou om aan hierdie uitstalling deel te neem en om van die vooroordeel en die onkunde wat ná 50 jaar nog bestaan, uit die weg te ruim. Hulle het bowenal tevredenheid geput uit die wete dat hulle getuienis hulle God, Jehovah, tot eer strek en verseker dat ander nooit sal vergeet wat hulle as sy Getuies verduur het nie.

[Voetnoot]

a Ruth Danner is op negejarige ouderdom saam met haar ouers na die konsentrasiekampe gestuur en is in ses verskillende kampe opgesluit. Sien die 1980 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsy 105.

[Prent op bladsy 16]

Artikels in “The Golden Age” het die gruweldade van Nazisme veroordeel

[Prent op bladsy 16]

Sowat 70 panele het die verhaal vertel van die Nazi-vervolging van mans, vrouens en kinders wat geweier het om hulle geloof te verloën

[Prent op bladsy 16, 17]

Party van Jehovah se Getuies wat deur Hitler se regering uit die land verban en in kampe opgesluit is, het hulle verhaal vertel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel