Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/8 bl. 22-24
  • Kaarte wat in jou behoeftes voorsien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kaarte wat in jou behoeftes voorsien
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kaarte—Wanneer het dit in gebruik gekom, en waarom?
  • Hoe om ’n kaart te lees
  • Skaal, hoogte en ligging
  • Kaarte in die rekenaareeu
  • Kartografie—’n sleutel tot kennis van die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2000
  • “Insight on the Scriptures”—’n nuwe Bybelensiklopedie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Trek deur die land”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/8 bl. 22-24

Kaarte wat in jou behoeftes voorsien

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

DIT is ’n uitdaging om jou weg in ’n vreemde land of stad te vind. Eerstens moet jy bepaal waar jy jou bevind. Dan moet jy besluit watter roete die beste is. Hoe kan jy dit vasstel? Wat jy nodig het, is ’n kaart!

Kaarte—Wanneer het dit in gebruik gekom, en waarom?

Die kaarttekenkuns, of kartografie soos dit genoem word, het ’n lang en veelbewoë geskiedenis. Sommige kenners voer die maak van kaarte 4 300 jaar terug tot dié wat in Babilonië op kleitablette gegraveer is. Maar dit was die vroeë Grieke wat die kaarte geteken het wat die voorlopers van moderne kaarte was. Ná die kaarte van die antieke wêreld wat in die tweede eeu G.J. deur Claudius Ptolemeus geteken is, het kartografie gedurende die Donker Eeue agteruitgegaan. Onbekende gebiede het as die domein van monsters en reuse verskyn. Godsdiens het kaarte in so ’n mate beïnvloed dat baie van hulle ’n wêreld afgebeeld het wat deur die tuin van Eden oorheers is. Jerusalem en die Midde-Ooste het bo-aan die kaarte van die destyds bekende wêreld verskyn.

Vroeë kaarte van Brittanje het ook ’n kerklike invloed weerspieël. Een van dié kaarte het die roete aangetoon wat pelgrims na die godsdiensheiligdomme van Engeland gevolg het. Die “Pilgrim’s Great North Road” is uitvoerig op hierdie kaart aangedui deur ’n roete van die noordelike dorp Durham na die suidelike kusdorp Dover.

Die vader van hedendaagse kartografie was Gerard Mercator (1512-94). Hy het ’n metode van kaartprojeksie ontwerp wat weens die akkuraatheid daarvan baie gewild onder seevaarders was, en talle kaarte wat volgens die Mercator-projeksie geteken is, verskyn in hedendaagse atlasse.

Kaarte het grondeienaars tot groot voordeel gestrek. ’n Verwysing na hul duidelik getekende grenslyne het geregtelike geskille help besleg. Regeringsbelangstelling in kaarte het toegeneem, aangesien belastingheffing van die noukeurige aantekening van grondbesit afgehang het.

Deesdae voorsien kaarte in alledaagse behoeftes. Atlasse help skoolkinders om die grondbeginsels van aardrykskunde te begryp. Kaarte stel weervoorspellers in staat om die weerstoestande wat ons kan verwag grafies voor te stel. ’n Kaart kan ons ook help om openbare vervoer ten beste te gebruik. En met ’n gesinsuitstappie kan ’n kaart die roete met die mooiste natuurtonele aandui.

Vakkundiges word nie oor die hoof gesien nie. Daar is bevolkingsdigtheidskaarte vir stadsbeplanners. Kaarte van die seebodem help diegene wat op die uitkyk is na skeepswrakke of wat minerale hulpbronne soek. Argeologiese kaarte is ’n hulpmiddel vir diegene wat die verlede opgrawe. Daar is dan selfs kaarte van die maan en van sekere planete vir ruimtenavorsers! Met so ’n rykdom van inligting wat op kaarte beskikbaar is, is dit tot jou voordeel om jou vaardigheid met die lees van kaarte te ontwikkel en te verbeter.

Hoe om ’n kaart te lees

Om jou kaarte ten beste te benut, is amper soos om ’n vreemde taal te leer. Wanneer jy ’n ander taal bestudeer, kom jy voor ’n nuwe woordeskat en ’n ander grammatika te staan. In kaartskrif kan simbole met woorde vergelyk word, terwyl skaalkontoere en die graadnet as die grammatika dien. Die meeste kaarte word geteken met ’n venster wat die legende vir die kaartsimbole bevat. Dít dien as ’n woordeboek wat die tekens omskryf.

Simbole word sorgvuldig gekies om hulle betekenis oor te dra. As jy byvoorbeeld ’n ligtoring wil opspoor, moet jy ’n simbool soek wat soos een lyk. Kerke en moskees word dalk deur swart vierkante of sirkels met kruise of halfmane daarop aangedui.

Hoe kan jy met die betekenis van hierdie simbole vertroud raak? John Wilson, die skrywer van Follow the Map, beveel “die aangename tydverdryf van ‘kaartkykery’” aan. Hy voeg by: “Laat jou oë sommer net oor die kaart dwaal en vertaal die simbole wanneer jy hulle teëkom.”

Vind jy dat julle buurt taamlik anders lyk as wat jou kaart toon? Waarom is dit die geval? Wel, ons beskou ons omgewing gewoonlik van ons hoogte af, wat 1,5 tot 1,8 meter bokant die grond is. Maar kaarte toon die land vanuit ’n hoër posisie, wat vertikaal en hoog bo elke punt is. Om hierdie gedagte te begryp, is dit belangrik dat jy kaartgrammatika verstaan.

Skaal, hoogte en ligging

Dit is vir die kaartmaker ’n uitdaging om hoogteverskille bo seevlak en enige mensgemaakte kenmerke op die aardoppervlak aan te teken. Dit moet alles op ’n vel papier van hanteerbare grootte gedruk word. Om dit te kan doen, word kaarte volgens skaal geteken. ’n Gewilde Britse kaartreeks toon die land op ’n skaal van 1:50 000—wat beteken dat elke sentimeter op die kaart 50 000 sentimeter van die aardoppervlak weergee.

Maar hoe kan ’n plat kaartvlak hoogteverskille aandui? Een manier om die derde dimensie by te voeg, is deur bergskaduweevlakke aan te bring. Dit lyk asof die son êrens vanoor die boonste linkerhoek van die kaart skyn. Die hellings aan die oostelike en suidoostelike kant, wat in die skaduwee is, word dan met donkerder kleure geteken. Moderne kaarte het dikwels kontoerlyne wat punte van dieselfde hoogte bo die gemiddelde seevlak verbind. Hierdie lyne word in ligter kleure gedruk om te verhinder dat dit die aandag van die ander kenmerke van die kaart aftrek.

Baie kaarte gebruik ’n stelsel van kruis- en dwarslyne wat jou in staat stel om duidelik te bepaal waar jy jou bevind. Hierdie graadnet, soos dit genoem word, maak die liggingsbepaling van enige plek tussen die lyne van die graadnet moontlik deur ’n stel alfabetiese of syferkoördinate. ’n Dorp kan byvoorbeeld by G-13 geleë wees; dit is vertikale lyn-G en horisontale lyn-13. Waar hierdie twee lyne bymekaarkom, sal jy die dorp vind. Maar hoe kan jy daarvan seker wees dat jou kaart jou ’n akkurate beeld sal gee?

Kaarte in die rekenaareeu

Militêre behoeftes het dikwels daartoe gelei dat uiters noukeurige kaarte uitgegee is. Gedurende die laaste 40 jaar het noukeurige kartering met behulp van stereoskopiese vergelyking van lugfoto’s ’n werklikheid geword, met baie lande wat soortgelyke stelsels volg.

Daar is reeds gerekenariseerde bewegende kaartvoorstellings in sommige voertuie sowel as uitvoerige reiskaarte vir tuisrekenaars. “Mikroskyfies staan aan die stuur”, het ’n opskrif in The Observer gesê. Die berig het ’n proefonderneming uiteengesit wat rekenaarskywe met kaartinligting gebruik wat aan spraaksintetiseerders gekoppel is. Die bestuurder sleutel net sy bestemming op die rekenaarskermkaart in. Hy hoef hom geensins oor daardie verwarrende padkruisings te bekommer nie! Waarom nie? Want terwyl die motor elke kruising nader, is daar ’n stem wat vir die bestuurder sê in watter rigting hy moet ry. Kompas- en wielsensors volg die motor se koers. Onlangse ontwikkelinge is selfs betroubaarder en eenvoudiger.

Wat sal dit vir die toekoms van kaarte beteken? Sal papierkaarte versamelstukke word? Die tyd sal leer. Hoe dit ook al sy, die kaart sal steeds ’n veelsydige hulpmiddel wees wanneer jy reis.

[Kaart/Prente op bladsy 23]

Baie kaarte verskaf ’n sleutel, of legende, om die simbole wat gebruik word te verduidelik

Hoogteverskille word deur kontoerlyne aangedui, gewoonlik in ligter kleure

’n Graadnetstelsel maak dit moontlik om ’n plek se ligging op die kaart te vind

Die kaart toon gewoonlik die verhouding tussen een duim of een sentimeter en die ware afstand op die aardoppervlak (nie hier getoon nie)

’n Kaartskaal wat in myle of kilometers aangegee word, stel jou in staat om die afstand tussen plekke te meet

[Erkenning]

Crown Copyright Reserved

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Uit die boek Die Heiligkeit der Gesellschaft Jesu

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel