Kartografie—’n sleutel tot kennis van die wêreld
DEUR ONTWAAK!- MEDEWERKER IN KANADA
“Paradys is iewers in die Verre-Ooste. Jerusalem is die middelpunt van alle nasies en lande, en die wêreld self is ’n plat skyf wat deur oseane water omring word. Dít was die monnike, kartograwe van die Middeleeue, se beskouing van die wêreld waarin hulle gelewe het.”
HIERDIE woorde is deur die redakteurs van The Reader’s Digest Great World Atlas in die inleiding daarvan gebruik. Hierdie godsdiensopvatting, wat glad nie deur die Bybel gesteun word nie, verduidelik in ’n mate waarom kartografie, of die kaarttekenkuns, gedurende die Middeleeue baie min vordering gemaak het.
Kaarte is onontbeerlik vir ’n kennis van aardrykskunde, wat op sigself noodsaaklik is om die wêreld om ons te verstaan. En tog het baie mense se kennis van aardrykskunde nie veel uitgebrei sedert die Middeleeue nie. Ongeveer honderd jaar gelede het die skrywer Mark Twain sy denkbeeldige karakter Huck Finn gebruik om te toon watter probleem mense in sy dag gehad het. Terwyl hulle hoog in ’n lugballon gevlieg het, het Huck sy vriend Tom Sawyer verseker dat hulle nog nie die staat Indiana bereik het nie omdat die landskap nog groen was. Huck het op ’n kaart gesien dat Indiana pienk was.
In onlangser tye het ’n Amerikaanse hoërskoolonderwyser sy aardrykskundeklas begin deur ’n leerling te vra om op ’n wêreldkaart te wys waar die Verenigde State lê. Hy het tien jaar lank sy klas so begin. Hy het gesê dat dit in daardie tyd nie een keer gebeur het dat die eerste leerling wat hy gevra het—of die tweede een—kon wys waar die Verenigde State lê nie! Wat dalk verbasender is, is dat “3 uit 10 Amerikaners nie tussen noord en suid op ’n kaart kan onderskei nie”, aldus die tydskrif Time.
Die verhaal van die kaarttekenkuns
Die kaarttekenkuns is een van die oudste en buitengewoonste vorme van kommunikasie. Kaarte is op klip en hout gegraveer; in sand en op papier en perkament geteken; op leer en lap geverf en selfs met die hand in sneeu geteken.
The World Book Encyclopedia sê dat die oudste bekende kaart uit ongeveer 2300 v.G.J. dateer en beskryf dit as “’n klein kleitablet uit Babilon wat waarskynlik ’n landgoed aandui in ’n vallei wat deur berge omring is”. Die Babiloniërs het soortgelyke kleitekeninge van stadsmure gebruik in ’n vroeë poging om die gemeenskap te ontwikkel.
Die Griekse aardrykskundige Ptolemeus van Aleksandrië van die tweede eeu het geweet dat die aarde rond is, net soos die Bybel in die agtste eeu v.G.J. geopenbaar het toe dit van God gesê het: “Hy sit bo die kring van die aarde.” (Jesaja 40:22, ons kursiveer.) Volgens die tydskrif Equinox is Ptolemeus se tekeninge “onder die eerste opgetekende pogings wat kosmografie betref—die kartering van die vorm van die bekende wêreld”.
Min mense het van Ptolemeus se kaarte geweet voordat dit laat in die 15de eeu in ’n atlas gepubliseer is. Daarna het dit die bron van aardrykskundige gegewens geword vir seevaarders soos Columbus, Cabot, Magellaan, Drake en Vespucci. Selfs vandag lyk Ptolemeus se aardbolvormige wêreldkaart soos moderne kaarte, hoewel die Eurasiese grondgebied op sy kaart groter voorgestel word. Die Reader’s Digest Atlas of the World sê dat hierdie oordrywing “daartoe gelei het dat Columbus die afstand na Asië onderskat het toe hy oor die Atlantiese Oseaan gevaar het, en hy het dus nie besef dat hy die Nuwe Wêreld ontdek het wat tussenin geleë was nie”. Hierdie so genoemde Nuwe Wêreld, Amerika, wat na Amerigo Vespucci vernoem is, is eers in 1507 op ’n wêreldkaart aangebring.
Seereise wat gevolg het gedurende die eeu van ontdekking, tussen ongeveer 1500 en 1700, het kartograwe van akkurater inligting voorsien. Hulle kaarte het strategiese dokumente geword en is beskou as “instrumente van staatsmag” en “oorlogswapens”. Kartograwe moes plegtig belowe om hulle werk geheim te hou, hulle het in afsondering gewerk en hulle kaarte met hulle lewe beskerm. As ’n vyand aan boord van ’n skip gekom het, is die kaarte, wat in ’n sak gehou is met gewigte aan, in die see gegooi. Nasies het lank hulle amptelike kaarte versigtig bewaar, en in oorlogstyd kon net ’n paar mense dit besigtig.
Namate nuwe lande ontdek is, moes ou grense weer opnuut bepaal word. Die Vlaamse aardrykskundige Gerardus Mercator (1512-1594) het in hierdie behoefte voorsien deur die eerste wetenskaplike kaartboek te teken. In sy boek het Mercator die tekening van die mitiese reus Atlas die Titan gebruik, en sedertdien verwys die woord “atlas” na ’n versameling kaarte.
Moderne kartografie
Namate aardrykskundige kennis toegeneem het, het die gehalte van kaarte verbeter. Nuwe karteringstegnieke het ’n belangrike rol in hierdie ontwikkeling gespeel. Canadian Geographic beskryf die ontsaglike taak van die landmeters gedurende die laaste deel van die 19de eeu en die vroeë deel van die 20ste eeu: “Deur hitte en koue, te perd, in kano’s, op vlotte en te voet . . . het hulle opmetings gedoen van stede en opstalle, woude en velde, modderige paaie en moerasse wat van goggas gewemel het. Hulle het kettings gebruik om afstand te meet en teodoliete vir die hoeke. Hulle het beginpunte vasgestel deur die sterre te gebruik . . . en het die dieptes van kuswaters gepeil.”
In die 20ste eeu het kartografie goed op dreef gekom. Vliegtuie waarin kameras gemonteer is, het lugfoto’s begin neem. Toe het die wentelende satelliete van die vyftigerjare kartografie die ruimte-eeu in gestuur. Teen die einde van die tagtigerjare kon landmeters met globale-radio-satelliet-ontvangers binne ’n uur aardrykskundige liggings op enige plek op die aarde bepaal, iets wat ’n paar jaar tevore maande geneem het.
Vandag teken kartograwe met behulp van elektroniese apparaat. Hulle werk hulle kaarte by deur instrumente te gebruik wat in die ruimte geplaas is, tesame met gesofistikeerde instrumente op die aarde. Rekenaarhardeware met gespesialiseerde programmatuur stel kartograwe in staat om biljoene brokkies kartografiese inligting sowel as ander inligting te stoor. ’n Kaart wat na bestelling gemaak word, kan dus binne minute gereed wees, sonder tydrowende handgravering.
Met ’n geografiese inligtingstelsel (GIS) kan byna enige inligting op ’n kaart aangebring word. ’n GIS kan ’n stadskaart met die jongste inligting daarop maak om gedurende spitsuur met die verkeersvloei te help. Dit kan ook vragmotors opspoor wat op ’n land se hoofweë reis en vir hulle die pad aandui, en dit kan selfs hooiproduksie vir suiwelboere bestuur.
Kaarte—’n Getroue weergawe van die werklikheid?
“’n Kaart vertel dalk leuens, maar dit is nooit snaaks nie”, het die digter Howard McCordin geskryf. Wanneer ’n kaart wat met die hand op ’n stuk papier geteken is byvoorbeeld nie die regte afrit na jou voorgenome bestemming aandui nie, is dit nie snaaks nie. Ons verwag dat alle kaarte betroubaar moet wees en die werklikheid getrou moet weergee. Maar feit is dat nie alle kaarte betroubaar is nie, en hulle is ook nie almal ’n getroue weergawe van die werklikheid nie.
’n Argivaris het ’n kleurvolle muurkaart van Quebec, Kanada, bekom en later iets ontdek wat soos ’n ooglopende fout gelyk het. “Die hele Labrador is as deel van Quebec ingesluit”, het hy verduidelik. “Toe ek die probleem vir ’n kollega wys, was ek verstom toe hy vir my sê dat dit heel moontlik nie ’n vergissing is nie, maar ’n doelbewuste wanvoorstelling.” Quebec was blykbaar nooit tevrede met ’n besluit in 1927 oor die grensbepaling tussen Labrador en Quebec nie, en die kaart het derhalwe nie hierdie ongewenste werklikheid weergegee nie.
Die kollega van die argivaris het hom ander voorbeelde gewys van kaarte wat doelbewus misleidend is. Die argivaris het later ’n artikel in Canadian Geographic geskryf met die titel “Kaarte wat misleidend is”, wat beklemtoon het dat “kartografie maklik gemanipuleer kan word om ’n sekere beskouing te steun”. Hy het geskryf: “Ek is nog altyd geleer dat kaarte ’n getroue weergawe van die werklikheid is, en tog is daar kaarte wat vol leuens is!”
In 1991 het The Globe and Mail, van Toronto, berig dat “’n afvaardiging Japannese amptenare, wie se regering daarop aanspraak maak dat hulle die Sowjet-beheerde Koerile-eilande besit, die [National Geographic Society] gevra het om die omstrede gebied in ’n ander kleur aan te dui”. Waarom wou hulle hê dat die kleur moes verander? National Geographic se hoofkartograaf, John Garver jr., het verduidelik: “Hulle wou hê dat die kleur na groen verander word omdat Japan op die kaart groen is.”
Kleure op kaarte kan dus gebruik word om sekere assosiasies te maak of om die aandag op ’n sekere kenmerk te vestig. In 1897, toe goud langs ’n syrivier van die Klondikerivier ontdek is, was kaarte byvoorbeeld veral nuttig om die stormloop van ’n geraamde 100 000 goudsoekers aan te moedig. Kaartvervaardigers het Alaska en die Yukon goudgeel ingekleur om groot potensiaal vir sukses aan te dui.
Ander gesindhede kan die voorkoms van ’n kaart op ’n baie dramatieser manier raak. In 1982 is ’n “Omgekeerde kaart” byvoorbeeld gemaak, wat die Suidelike Halfrond bo gesit het. Waarom? Omdat daar gemeen is dat superioriteit en waardigheid geïmpliseer word deur bo te wees en dat so ’n kaart ’n positiewe uitwerking sou hê op armer lande van die wêreld wat in die Suidelike Halfrond geleë is.
’n Uitdaging vir kartograwe
Selfs wanneer ’n kartograaf die werklikheid wil weergee, skep dit ’n probleem wanneer ’n kaart op ’n plat oppervlak geteken word. Dit is omdat dit vervorming tot gevolg het as ’n mens die oppervlak van ’n sfeer op ’n plat vlak teken. Dit is soos om ’n hele lemoenskil te probeer platdruk. Die vorm van die vastelande is dalk akkuraat, maar die groottes is buite verhouding. John Garver jr. het derhalwe gesê: “Die enigste akkurate kaart is ’n aardbol.” Maar aangesien dit moeilik is om ’n aardbol rond te dra, word ’n plat, kleurvolle wêreldkaart waardeer en is dit nuttig.
In 1988 het National Geographic ’n nuwe wêreldkaart vrygestel. Time het oor hierdie gebeurtenis berig gelewer en die probleem verduidelik waarmee kartograwe te kampe het: “Wat ons op kaarte sien, gee dikwels nie die werklike vorm en relatiewe grootte van vastelande en oseane weer nie.” Jy kan hierdie feit maklik agterkom as jy die wêreldkaart wat in 1988 deur die National Geographic Society uitgegee is met wêreldkaarte vergelyk wat in vroeëre jare deur hierdie selfde genootskap gemaak is.
Time het die wesenlike verskille in sulke kaarte bespreek en gesê: “Op die nuwe wêreldkaart wat die [National Geographic Society] aan sy 11 miljoen lede stuur, het die Sowjetunie 18 miljoen vk. m. [47 miljoen vk. km] verloor—meer as twee derdes van die gebied wat dit skynbaar op die National Geographic se kaart vir die afgelope halfeeu beslaan het.”
Sedert die tyd van Ptolemeus het kartograwe geworstel met die probleem om die relatiewe grootte van gebiede van die wêreld uit te beeld. In ’n projeksie wat National Geographic 66 jaar lank gebruik het, is Alaska byvoorbeeld vyf keer groter as sy werklike grootte! Sulke probleme met vervorming kan jou help om te verstaan waarom Arthur Robinson, wat deur baie as ’n hoog aangeskrewe Amerikaanse kartograaf beskou word, gesê het: “Kartografie is nie net ’n wetenskap nie maar ook ’n kunsvorm.” Die kaart wat in 1988 deur die National Geographic Society aangeneem is, is volgens Garver “die beste balans wat tussen aardrykskunde en die estetika beskikbaar is”.
Wat hou die toekoms in?
Dit is duidelik dat daar baie meer by kartografie betrokke is as wat baie mense besef. Hoe meer kennis daar oor die aarde is, hoe akkurater kan kaarte wees. Maar daardie kennis is moontlik nie geredelik beskikbaar nie. Dit is dus soos die skrywer Lloyd A. Brown baie jare gelede gesê het: “Totdat alle mense sonder vrees na ’n buurland se kus toe kan seil, en deur ’n ander land kan reis of daaroor kan vlieg sonder dat daar op hulle geskiet word of hulle gestop word, moet die groot wêreldkaart waarvan die mens eeue lank al droom maar wag. Eendag sal dit dalk voltooi word.”
Gelukkig sal die hele aarde, volgens Bybelprofesieë, uiteindelik onder die heerskappy van God se aangestelde Koning, Jesus Christus, verenig wees. Van hom sê ’n Bybelprofesie: “Hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde” (Psalm 72:8). Wanneer geskille oor gebiedsgrense en politieke mededinging uiteindelik uit die weg geruim word en strydende nasionale soewereiniteite nie meer bestaan nie, sal ’n volmaakte kaart van die wêreld dan gemaak kan word.
[Prent op bladsy 16, 17]
Ptolemeus en sy wêreldkaart
Gerardus Mercator
[Erkenning]
Ptolemeus en Mercator: Culver Pictures; Ptolemeus se wêreldkaart: Gianni Dagli Orti/Corbis; aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.; agtergrond op bladsye 16-19: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck