Watter hoop is daar op ’n langer lewe?
“Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.”—Die woorde van Job, wat in Job 14:1 opgeteken is.
HOE dikwels is ons kort lewensduur nie al in poëtiese taal beskryf nie! Soos Job, het ’n eerste-eeuse skrywer gesê: “Julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn.”—Jakobus 4:14.
Het jy ook al opgelet dat die lewe maar pateties kort is? Ongeveer 400 jaar gelede het William Shakespeare geskryf: “Uit, uit, kort kers! Die lewe is maar net ’n lopende skaduwee.” En gedurende die vorige eeu het ’n Indiaanse hoofman gevra: “Wat is lewe?” Toe het hy geantwoord: “Dit is die flits van ’n vuurvliegie in die nag.”
Hoe lank kan mense verwag om te lewe? Die profeet Moses het die situasie in sy dag, ongeveer 3500 jaar gelede, beskryf: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”—Psalm 90:10.
Sewentig jaar—dit is net 25 567 dae. En 80 jaar bestaan uit net 29 219 dae. Dis werklik min! Kan enigiets gedoen word om menselewe te verleng?
Kan die mediese wetenskap help?
Die tydskrif Science het gesê: “Die lewensverwagting by geboorte [in die Verenigde State] het van 47 jaar in 1900 tot ongeveer 75 jaar in 1988 toegeneem.” Vanweë die laer kindersterftesyfer wat te danke is aan beter gesondheidsorg en voeding kan mense in die Verenigde State nou verwag om omtrent so lank te lewe soos Moses gesê het. Word daar nietemin enige dramatiese toename verwag in hoe lank die meeste mense lewe?
Dit is betekenisvol dat Leonard Hayflick, ’n vername gesaghebbende op die gebied van veroudering, in sy boek How and Why We Age gesê het: “Vooruitgang in biomediese navorsing en die implementering van verbeterde mediese sorg in hierdie eeu het beslis ’n uitwerking op menslike langlewendheid gehad, maar bloot deur meer mense in staat te stel om nader aan die vasgestelde bogrens van die menslike lewensduur te kom.” Hy het dus verduidelik: “Die lewensverwagting is verleng maar die lewensduur is nie; die onderskeid is uiters belangrik.”
Wat is die “vasgestelde bogrens” van die mens se lewensduur? Party sê dat daar nie met sekerheid gesê kan word dat enigiemand in onlangse tye ouer as 115 jaar geword het nie. Tog het die tydskrif Science gesê: “Van 1990 af is die oudste bevestigde ouderdom wat ’n mens bereik het net meer as 120 jaar.” En vroeg in hierdie jaar het die Franse Minister van Gesondheid, asook ’n horde verslaggewers en fotograwe, Jeanne Calment van Arles, Frankryk, besoek by geleentheid van haar 120ste verjaarsdag. Moses het ook tot die ouderdom van 120 gelewe, baie ouer as die gemiddelde ouderdom.—Deuteronomium 34:7.
Bied wetenskaplikes die hoop dat mense dalk oor die algemeen so lank of langer sal lewe? Nie volgens die meeste nie. ’n Opskrif in die Detroit News het gesê: “Navorsers sê 85 is dalk die uiterste grens van gemiddelde lewensduur.” In die artikel het ’n gesaghebbende op die gebied van veroudering, S. Jay Olshansky, gesê: “As jy eers verby die ouderdom van 85 gaan, sterf mense weens veelvoudige orgaanversaking. Hulle haal nie meer asem nie. Hulle sterf basies van ouderdom. En daar is geen genesing daarvoor nie.” Hy het voorts gesê: “Indien daar nie ’n omkering van menseveroudering op ’n molekulêre vlak is nie, is die vinnige verlenging van lewensverwagting vir eers verby.”
Die tydskrif Science het gesê dit is moontlik dat “die bogrens van langlewendheid reeds bereik is en dat verdere betekenisvolle afnames in die aantal sterftes onwaarskynlik is”. Daar word gesê dat die lewensverwagting met minder as 20 jaar verleng sal word as alle doodsoorsake wat op doodsertifikate gegee word, uitgeskakel kon word.
Baie wetenskaplikes beskou dus nie die lengte van die mens se lewensduur as iets vreemds of veranderliks nie. Waarom is dit nogtans redelik om te glo dat mense uiteindelik baie langer sal lewe?