Die soeke na ’n lang lewe
DIE soeke na ’n langer lewe is byna so oud soos die lewe self. Dit is dus nie verbasend dat die eertydse sowel as die moderne geskiedenis vol stories en legendes is van mense wat na die geheim van ’n lang lewe gesoek het nie.
Volgens legende het die Spaanse ontdekkingsreisiger Juan Ponce de León byvoorbeeld na ’n fontein van jeug gesoek toe hy in die jaar 1513 van Puerto Rico af noordwaarts gereis het. Maar sy tydgenote het gesê dat hy die reis onderneem het om slawe en nuwe grondgebied te kry. Hy het nie ’n fontein ontdek om jeug te herwin nie, maar wel die gebied wat tans Florida genoem word. Die legende duur egter voort.
Die Akkadiese epos van Gilgamesj, verkry van kleitafels wat uit ’n tydperk vóór die 18de eeu v.G.J. dateer, vertel hoe vrees vir die dood ’n obsessie by Gilgamesj geword het na die dood van sy vriend Enkidu. Dit beskryf sy reise en kragtige maar vrugtelose pogings om onsterflikheid te verkry.
Korter gelede, in 1933, het James Hilton ’n denkbeeldige land genaamd Shangri-la in sy roman Lost Horizon beskryf. Die inwoners daar het ’n byna volmaakte en uiters lang lewe in ’n paradysagtige omgewing geniet.
Selfs vandag is daar persone wat toegewyd is aan die najaging van buitengewone en eksotiese planne wat ’n beter en langer lewe in die vooruitsig stel. Ander maak egter gebruik van ’n meer pragmatiese benadering. Hulle volg strawwe gesondheidsmaatreëls of streng dieet- en oefenprogramme. Hulle hoop dat dit hulle sal help om jonger te lyk en beter te voel.
Al hierdie dinge onderstreep die fundamentele begeerte van mense om ’n langer, gelukkiger lewe te lei.
Die wetenskaplike benadering
Die studie van veroudering en die probleme van bejaardes het ’n ernstige vakrigting geword. Vermaarde wetenskaplikes meen dat hulle op die drempel staan om die oorsaak van veroudering te ontdek. Sommige dink dat veroudering in die gene geprogrammeer is. Ander meen dat dit die opgeloopte gevolg van skadelike siektes en die nadelige neweprodukte van metabolisme is. Nog ander skryf veroudering aan hormone of die immuunstelsel toe. Wetenskaplikes meen dat as die oorsaak van veroudering geïsoleer kan word, dit miskien uit die weg geruim kan word.
In die strewe na onsterflikheid word dit al hoe moeiliker om tussen wetenskap en wetenskapsfiksie te onderskei. Kloning is ’n tipiese voorbeeld. Die idee is om ’n identiese liggaam van ’n individu te kloon, of te reproduseer, deur die selle en gene te manipuleer. Wanneer die liggaamsdele dan siek word of ophou funksioneer, kan ’n nuwe orgaan van die kloon geneem en oorgeplant word, amper soos ’n stukkende onderdeel in ’n motor deur ’n nuwe onderdeel vervang word. Sommige wetenskaplikes beweer dat die moontlikhede van kloning, teoreties gesproke, onbeperk is.
Die proses genaamd krionika voer sake een stap verder. Die voorstanders verduidelik dat wanneer ’n persoon sterf, die liggaam gevries kan word om dit te bewaar tot die tyd dat ’n geneesmiddel gevind word vir wat vandag ongeneeslik is. Die liggaam kan dan ontvries, verlewendig en herstel word—hopelik tot ’n langer, gelukkiger lewe.
Wat is die resultaat van al hierdie pogings en die besteding van ontelbare miljoene rande aan navorsing? Is ons enigsins nader aan bevryding van die juk van die dood as wat al daardie miljarde mense was wat voor ons geleef en gesterf het?
Wat is die vooruitsigte
Te oordeel na die optimistiese aankondigings en voorspellinge deur sommige wat sulke navorsing gedoen het, lyk dit asof ’n lang lewe, baie langer as die een wat ons nou ken, net om die draai is. Hier volg ’n paar voorbeelde wat uit die laat sestigerjare versamel is.
“Die kennis wat ons in so ’n ondersoek opdoen, sal ons voorsien van die wapens wat ons nodig het om die laaste vyand—die Dood—op sy eie bodem te beveg. Dit sal relatiewe onsterflikheid binne ons bereik plaas . . . Dit kan in ons tyd gebeur.”—Alan E. Nourse, geneesheer en skrywer.
“Ons sal die verouderingsprobleem geheel en al oplos, sodat ongelukke eintlik die enigste doodsoorsaak sal wees.”—Augustus B. Kinzel, destydse president van die Salk-Instituut vir Biologiese Studies.
“Onsterflikheid (in die sin van lewe sonder einde) is tegnies gesproke bereikbaar, nie net vir ons nakomelinge nie, maar ook vir onsself.”—Robert C. W. Ettinger in The Prospect of Immortality.
Hoewel nie alle gerontoloë en navorsers op daardie tydstip so entoesiasties was nie, was die meeste deskundiges dit blykbaar eens dat veroudering teen die begin van die 21ste eeu onder beheer en die lewe aansienlik langer sou wees.
Wat is die vooruitsig vandag, noudat ons veel nader aan die begin van die 21ste eeu is? Is langer lewe, laat staan nog onsterflikheid, binne bereik? Beskou die volgende opmerkings.
“Talle gerontoloë sal saamstem dat ons ons in baie verwarrende tye bevind. Enersyds weet ons nie wat die grondmeganisme van veroudering is nie en andersyds kan ons nie die tempo van veroudering in presiese biochemiese terme meet nie.”—Journal of Gerontology, September 1986.
“Niemand weet presies wat die verouderingsproses is of waarom dit in verskillende mense ’n verskillende loop neem nie. En niemand weet hoe om die lewensduur van die mens te verleng nie, ondanks die dikwels bedrieglike en soms gevaarlike beweringe van die “lang lewe”-smouse en ander wat munt slaan uit die vrese en kwale van bejaardes.”—FDA Consumer, die lyfblad van die Amerikaanse Voedsel- en Dwelmadministrasie, Oktober 1988.
Voorspellinge wat in die verlede gemaak is aangaande die oorwinning oor die dood en die oneindige verlenging van die lewensduur is beslis oordrewe. Onsterflikheid deur die wetenskap is steeds ’n vergesogte droom. Beteken dit dat daar niks is wat ons kan doen om ons lewe te verleng of ten minste te verbeter totdat die wetenskap of tegnologie ’n groot deurbraak gemaak het nie?
’n Langer, gelukkiger lewe tans?
Hoewel navorsers nie die geheim van ’n lang lewe ontdek het nie, het hulle heelwat aangaande die lewe en die verouderingsproses geleer. En van die informasie wat so verkry is, kan baie goed aangewend word.
Eksperimente met diere het byvoorbeeld getoon dat “beheerde ondervoeding die maksimum lewensduur met meer as 50 persent kan verleng en die voorkoms en erns van talle verouderingsprobleme kan vertraag”, berig die Times van Londen. Dit het gelei tot studies om uit te vind of dieselfde dalk vir mense geld.
Dr. Roy Walford beveel gevolglik in sy boek The 120-Year Diet ’n dieet aan wat min kalorieë en vet bevat en ’n hoë voedingswaarde het gepaard met ’n goeie oefenprogram. Hy haal die mense van Okinawa as voorbeeld aan. Hulle dieet bevat ongeveer 40 persent minder kalorieë as die dieet van die gemiddelde Japannees; tog het hulle “5 tot 40 keer meer honderdjariges as ander Japannese eilande”.
Die boorlinge van die Kaukasusgebied in die westelike Sowjetunie is nog ’n voorbeeld van langlewende mense wat dikwels aangehaal word. Sula Benet, wat tussen die Kaukasiërs gewoon het, het in haar boek How to Live to Be 100 berig dat ’n buitengewoon groot aantal van hierdie mense tot diep in die 100 gesonde en aktiewe lewens lei, en daar word beweer dat ’n hele aantal ouer as 140 geword het. Sy het gesê dat “twee faktore in die Kaukasiese dieet onveranderd bly: 1. Geen ooretery nie . . . 2. ’n Uiters hoë inname van natuurlike vitamiene in vars groente”. Boonop “verskaf hulle werk nie net aan hulle fisiese oefening nie maar ook die wete dat hulle ’n betekenisvolle bydrae tot hul gemeenskap lewer”.
Wat jy kan doen
Is dit die oplossing om te trek na Okinawa of die Kaukasus of enige ander gebied waar die boorlinge langer leef? Waarskynlik nie. Maar daar is sekere dinge wat jy kan doen. Jy kan die goeie gewoontes van daardie langlewende mense navolg en gehoor gee aan die raad van bekwame dokters, voedingkundiges en gesondheidsdeskundiges.
Hulle beveel byna eenparing ’n lewe van matigheid aan. Dit beteken dat jy nie net moet let op die hoeveelheid kos wat jy eet nie, maar dat jy ook daarop moet let om voedsame en gesonde kos te eet wat tot jou beskikking is. Die goeie uitwerking van gereelde oefening is ook welbekend. ’n Redelike mate van inspanning om hierdie beginsels toe te pas en die skadelike gewoontes van die moderne samelewing, soos rook en dwelm- en alkoholmisbruik, uit te skakel, moet jou eenvoudig beter laat voel.
Dit is logies: hoe beter ons ons liggaam behandel, hoe gesonder sal ons wees. En hoe gesonder ons is, hoe beter is ons kanse om langer te leef. Dit maak egter nie saak wat ons doen nie, die gemiddelde lewensduur bly die Bybelse 70 of 80 (Psalm 90:10). Is daar enige hoop dat hierdie lewensduur ooit verleng sal word, en indien wel, vir hoe lank?
[Venster op bladsy 5]
HOE OUD IS JY?
Of jy dit nou besef of nie, jy is baie ouer as wat jy dink. Die biologiese wetenskap deel ons mee dat ’n vrou se eierstokke alreeds by geboorte al die ova, of eiers, bevat wat sy ooit sal produseer. Dit beteken dat as jou moeder 30 jaar oud was toe jy ontvang is, die eier wat uiteindelik jy geword het alreeds 30 jaar oud was.
Dit laat jou waarskynlik nie ouer voel nie, maar jy word daagliks ouer. Of ons nou jonk of oud is, ons word almal ouer, en die meeste van ons wil daardie proses vertraag—indien nie stuit nie.