Die Mormoonse Kerk—’n Herstelling van alle dinge?
DIE Mormoonse Tempel in Salt Lake City, Utah, is vir die LDS (Heiliges van die Laaste Dae) ’n trotse simbool van hulle geloof. Vlyt, gesinswaardes en finansiële selfvoorsiening is Mormoonse wagwoorde. Mormoonse sendelinge, met hulle lapelnaamkaartjies, is ’n bekende gesig regoor die wêreld. Maar sommige interne sake wat vir die Mormone heilig is, word vir buitestanders verberg. Die kerk bly dus ’n teiken van sensasionele gerugte. ’n Billike beoordeling moet egter nie lasterlike stories as grondslag hê nie, maar feite. Wat kan ons leer omtrent hierdie godsdiens wat al so baie beswadder is?
Joseph Smith se hedendaagse kerk
Die Mormone glo dat hulle godsdiens die herstelling is van die ware kerk met sy priesterdom en verordeninge. Vandaar sy amptelike naam: die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae. In die Mormoonse Kerk bestaan daar nie ’n skeiding tussen die geestelikes en die lekedom nie. Inteendeel, elke waardige manlike lid kan van 12-jarige ouderdom af by verskeie pligte van die kerk betrokke raak en kan teen 16 priesterskap verwerf.
Die meeste kerkampte is onbesoldig, en LDS-gesinne neem deel aan die talle programme wat deur die plaaslike gemeente gereël word. Op ’n gemeentelike vlak hou ouderlinge, biskoppe en streekpresidente toesig oor die goed georganiseerde aangeleenthede van die kerk. ’n Raad van 12 apostels in Salt Lake City het wêreldwye jurisdiksie. Laastens maak die president van die kerk—wat as profeet, siener en openbaarder vereer word—en twee raadgewers die kerk se presiderende gesag uit, wat die Kworum van die Presidentskap, of die Eerste Presidentskap, genoem word.
Verskeie kerklike gebruike beïnvloed die lewe van vroom Mormone. Doop, wat ’n aanduiding van bekering en gehoorsaamheid is, kan op agtjarige ouderdom ondergaan word. Deur wassery en salwing word die gelowige gereinig en ingewy. Die tempelskenkingseremonie behels ’n reeks verbonde, of beloftes, en ’n spesiale tempelonderkleed wat daarna altyd gedra moet word as beskerming teen die bose en ’n herinnering aan die geheimhoudingsgeloftes wat afgelê is. En ’n Mormoonse paartjie kan hulle huwelik “vir nou en vir ewig” in ’n tempel verseël sodat hulle gesin in die hemel ’n eenheid bly, waar die egpaar kan voortgaan om kinders voort te bring.
Die Mormoonse Kerk het lof verwerf weens sy welsynsprogram, wat begin is met die doel om “die vloek van ledigheid uit die weg te ruim”. Dit word deur plaaslike lidmate gefinansier wat twee maaltye per maand opoffer en die waarde daarvan aan die kerk skenk. Boonop word daar streng by die heffing van ’n tiende op hulle inkomste gehou. Familie en vriende voorsien die fondse om Mormoonse sendelinge te onderhou. Hulle is oor die algemeen jong manne en vroue, wat ongeveer twee jaar aan die diens bestee.
Selfopoffering, hegte gesinne en burgerlike verantwoordelikheid is kenmerke van die Mormoonse leefwyse. Maar wat van die opvattings van die Mormone?
Die Mormone en die Bybel
“Ons glo dat die Bybel die woord van God is in sover dit juis vertaal is”, sê die agtste artikel van die Mormoonse Geloofsartikels. Maar dit voeg by: “Ons glo ook dat die Boek van Mormon die woord van God is.” Baie wonder egter: Waarom is ander geskrifte nodig?
Ouderling Bruce R. McConkie het aangevoer: “Daar is geen ander mense op aarde wat die Bybel so hoogag soos [die Mormone] nie. . . . Maar ons glo nie dat . . . die Bybel alles bevat wat nodig is vir redding nie.” President Gordon B. Hinckley het in die pamflet Wat van die Mormone? geskryf dat die talle verskillende sektes en kerke “bewys lewer van die ontoereikendheid van die Bybel”.
LDS-skrywers spreek diepgaande bedenkinge uit oor die Bybel se betroubaarheid weens beweerde weglatings en vertaalfoute. Die Mormoonse apostel James E. Talmage spoor mense in sy boek A Study of the Articles of Faith aan: “Laat die Bybel dan met eerbied en biddende sorgsaamheid gelees word, terwyl die leser voortdurend die lig van die Gees soek sodat hy kan onderskei tussen waarheid en die foute van mense.” Orson Pratt, ’n vroeë Mormoonse apostel, het verder gegaan: “Wie weet of daar selfs een vers in die hele Bybel is wat nie geskend is nie?”
Maar wat hierdie geskil betref, lyk dit asof die Mormone nie van al die feite bewus is nie. Die teks van die Bybel is weliswaar deur die jare heen herhaaldelik oorgeskryf en vertaal. En tog is die bewyse dat dit wesenlik suiwer is oorweldigend. Duisende vroeë Hebreeuse en Griekse manuskripte is noukeurig ondersoek en vergelyk met meer onlangse afskrifte van die Bybel. Die Dooie See-rol van Jesaja, wat uit die tweede eeu v.G.J. dateer, is byvoorbeeld vergelyk met ’n manuskrip wat dateer uit ’n tyd meer as duisend jaar later. Het ernstige onsuiwerhede ingesluip? Inteendeel, een geleerde se ontleding het getoon dat die paar verskille wat gevind is “hoofsaaklik bestaan het uit klaarblyklike skryffoute en veranderinge in spelling”.a
Ná ’n leeftyd van intense studie het die voormalige direkteur van die Britse Museum, sir Frederic Kenyon, verklaar: “Die Christen kan die hele Bybel in sy hand neem en sonder vrees of aarseling sê dat hy die ware Woord van God vashou, wat sonder noemenswaardige verlies deur die eeue heen van geslag tot geslag oorgelewer is.” Die psalmis se woorde is vandag dus steeds waar: “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal” (Psalm 12:7). Het ons werklik méér nodig?
“Jou dwaas”, berispe Die Boek van Mormon in 2 Nefi 29:6, “wat sal sê: ’n Bybel, ons het ’n Bybel, en ons het nie nog ’n Bybel nodig nie.” Baie Mormone het egter nagedink oor die apostel Paulus se streng woorde in die Bybel in Galasiërs 1:8: “Selfs al sou ons of ’n engel uit die hemel aan julle iets as goeie nuus bekend maak benewens dit wat ons aan julle as goeie nuus bekend gemaak het, laat hom vervloek wees.”
LDS-geleerdes verduidelik dat die nuwe geskrif nie verder gaan as dit wat in die Bybel bekend gemaak word nie, maar dat dit net ’n opheldering en komplement daarvan is. “Daar is geen spanning tussen die twee nie”, skryf Rex E. Lee, president van die Brigham Young-universiteit. “Beide die Bybel en die Boek van Mormon verkondig dieselfde reddingsplan.” Stem hierdie boeke ooreen? Beskou die Mormoonse reddingsplan.
“Die mens kan word soos God nou is”
“Hoewel ons dit nie onthou nie”, verduidelik Lee, “het ons voor hierdie lewe as geeste bestaan.” Volgens hierdie LDS-opvatting van ewigdurende vooruitgang kan ’n mens deur streng gehoorsaamheid ’n god word—’n skepper soos God. “God self was eens soos ons nou is en is ’n verhewe Man en sit op sy troon daar in die hemele”, het Joseph Smith gesê. “Julle moet leer hoe om self Gode te wees, . . . net soos alle Gode voor julle gedoen het.” Die Mormoonse profeet Lorenzo Snow het gesê: “God was eens soos die mens nou is; en die mens kan word soos God nou is.”
Word so ’n toekoms deur die Bybel voorgehou? Die enigste aanbod wat ooit daarin opgeteken is dat iemand ’n god kan word, was die leë belofte van Satan die Duiwel in die tuin van Eden (Genesis 3:5). Die Bybel toon dat God Adam en Eva geskep het om op aarde te lewe en hulle beveel het om ’n volmaakte mensegesin voort te bring wat vir ewig hier in geluk sou lewe (Genesis 1:28; 3:22; Psalm 37:29; Jesaja 65:21-25). Adam se moedswillige ongehoorsaamheid het sonde en die dood in die wêreld ingebring.—Romeine 5:12.
Die Boek van Mormon sê dat die voormalige geeste Adam en Eva kinderloos, vreugdeloos en alleen in die Paradys sou gewees het as hulle nie gesondig het nie. Dit beweer dus dat die sonde van die eerste egpaar geslagsomgang en die voortbring van kinders ingesluit het. “Adam het tot ’n val gekom sodat daar mense kan wees; en mense bestaan sodat hulle vreugde kan hê” (2 Nefi 2:22, 23, 25). Daar word gevolglik gesê dat geeste in die hemel wag vir ’n geleentheid om op ’n sondige aarde te lewe—’n noodsaaklike stap om volmaaktheid en godheid te verwerf. Die LDS-tydskrif Ensign sê: “Ons beskou wat Adam en Eva gedoen het eerder met groot waardering as met veragting.”
“Hierdie leerstelling [dat die mens in die geesteskepping bestaan het]”, sê Joseph Fielding Smith, die agterkleinneef van Joseph Smith, “word slegs deur ’n mis of waas in die Bybel onderskei . . . , want baie duidelike en kosbare dinge is al uit die Bybel weggeneem.” Hy sê verder: “Hierdie opvatting is op ’n openbaring gegrond wat op 6 Mei 1833 aan die Kerk gegee is.” Hoewel hulle die Bybel se gesag aanvaar, word daar dus in die geval van ’n verskil volgens LDS-leerstelling groter waarde aan die woorde van hulle profete geheg.
Die Boek van Mormon —hoeksteen van die godsdiens
Joseph Smith het Die Boek van Mormon geprys as “die boek wat juister as enige ander boek op aarde is, en die hoeksteen van ons godsdiens”. Een stel goue tafels was glo die bron van sy geskrifte. Elf Mormone het getuig dat hulle die tafels gesien het. Maar toe die geskrif voltooi is, het Smith gesê dat die tafels na die hemel geneem is. Gevolglik is hulle nie vir teksontleding beskikbaar nie.
The Pearl of Great Price (sien venster, bladsy 20) vertel van ’n professor Charles Anthon aan wie ’n afskrif gewys is van party van die inskripsies en wat verklaar het dat hulle eg en die vertaling juis is. Maar volgens die verslag het hy sy bevinding teruggetrek toe hy vertel is wat die tafels se oorsprong is. Dit lyk egter of hierdie verhaal strydig is met Smith se bewering dat net hy die gawe besit het om die taal van die tafels, “waarvan die kennis vir die wêreld verlore is”, te vertaal. Kon professor Anthon die juistheid van ’n teks bevestig wat hy nie kon lees nie en gevolglik nie kon vertaal nie?
Die Boek van Mormon haal dikwels uit die King James Version aan, met sy Shakespeariaanse Engels wat reeds in Joseph Smith se dae as verouderd beskou is. Dit het sommige lesers gepla dat Die Boek van Mormon, wat “juister” as enige ander boek is, ten minste 27 000 woorde regstreeks uit ’n Bybelvertaling oorgeneem het wat na bewering vol foute is en wat Smith later onderneem het om te hersien.—Sien venster, bladsy 20.
’n Vergelyking van die eerste uitgawe van Die Boek van Mormon met huidige uitgawes daarvan bring vir baie Mormone ’n verbasende feit aan die lig—dat die boek wat glo “vertaal is . . . met die gawe en krag van God” self reeds talryke veranderinge in grammatika, spelling en inhoud ondergaan het. Daar is byvoorbeeld duidelike verwarring oor die identiteit van “die Ewige Vader”. Volgens die eerste uitgawe sê 1 Nefi 13:40: “Die Lam van God is die Ewige Vader.” Maar latere uitgawes sê: “Die Lam van God is die Seun van die Ewige Vader.” (Ons kursiveer.) Die twee oorspronklike manuskripte van 1830 van Die Boek van Mormon bestaan nog. Op een van die twee oorspronklikes, wat deur die Gereorganiseerde Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste dae bewaar word, is die woorde “die Seun” tussen die reëls ingevoeg.
Wat die Mormoonse geskrif Doctrine and Covenants betref, verduidelik die voorwoord van die boek The Revelations of the Prophet Joseph Smith, deur die LDS-geleerde Lyndon W. Cook: “Aangesien party van die openbaringe hersien is deur dié komitees wat aangestel is om hulle vir publikasie te rangskik, is daar betekenisvolle tekstoevoegings en -weglatings.” So ’n wysiging word in die Book of Commandments 4:2 gevind, wat van Smith gesê het: “Hy het ’n gawe om die boek te vertaal . . . Ek sal hom geen ander gawe gee nie.” Maar toe die openbaring in 1835 in Doctrine and Covenants herdruk is, het dit gesê: “Want ek sal jou geen ander gawe gee totdat dit voltooi is nie.”—5:4.
Geskiedkundige raaisels
Party vind dit moeilik om te begryp hoe omtrent 20 Jode wat glo in 600 v.G.J. uit Jerusalem na Amerika getrek het in minder as 30 jaar dermate kon vermeerder het dat hulle in twee nasies kon verdeel! (2 Nefi 5:28). Binne 19 jaar ná hulle aankoms het hierdie groepie kwansuis ’n tempel gebou “soortgelyk aan die tempel van Salomo . . . , en die vakmanskap daarvan was buitengewoon goed”—inderdaad ’n ontsaglike taak! Salomo se tempel in Jerusalem wat in sewe jaar gebou is, het bykans 200 000 arbeiders, vakmanne en opsigters geverg.—2 Nefi 5:16; vergelyk 1 Konings 5, 6.
Noukeurige lesers van Die Boek van Mormon het gewonder oor sekere gebeure wat blykbaar nie in behoorlike chronologiese volgorde is nie. Handelinge 11:26 sê byvoorbeeld: “Dit was in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer . . . Christene genoem is.” Maar volgens Alma 46:15, wat na bewering gebeure in 73 v.G.J. beskryf, was daar Christene in Amerika nog voordat Christus aarde toe gekom het.
Dit wil voorkom of Die Boek van Mormon eerder ’n geskiedkundige vertelling is as ’n leerstellige verhandeling. Die frase “en dit het gebeur” kom ongeveer 1 200 keer in die huidige uitgawe voor—ongeveer 2 000 keer in die uitgawe van 1830. Baie van die plekke wat in die Bybel genoem word, bestaan nog steeds, maar die ligging van feitlik al die plekke wat in Die Boek van Mormon genoem word, soos Gimgimno en Zeezrom, is onbekend.
Die Mormoon-verhaal meld groot nedersettings dwarsdeur die kontinent van Noord-Amerika. Helaman 3:8 sê: “En dit het gebeur dat hulle vermeerder en versprei het . . . om die hele aarde te oordek.” Volgens Mormon 1:7 was die land “oortrek met geboue”. Talle mense wonder waar die oorblyfsels van hierdie uitgestrekte beskawings is. Waar is die Nefitiese artefakte, soos goue munte, swaarde, skilde of borsplate?—Alma 11:4; 43:18-20.
In die lig van sulke vrae sal dit vir lidmate van die Mormoonse godsdiens verstandig wees om ernstig na te dink oor die woorde van die Mormoon Rex E. Lee: “Die betroubaarheid van Mormonisme staan of val met die boek wat aan die Kerk sy bynaam besorg het.” Geloof wat op gegronde Skriftuurlike kennis berus eerder as net op ’n emosionele gebedsondervinding bied ’n uitdaging aan opregte Mormone—asook aan almal wat beweer dat hulle Christene is.
Die grondslag vir herstelling
Dit was die geestelike chaos om Joseph Smith wat veroorsaak het dat hy die strydende sektes van sy dag verwerp het. Voor, gedurende en sedert sy tyd het godvresende manne daarna gestreef om tot die ware godsdiens terug te keer.
Watter patroon volg die ware Christelike godsdiens? Is dit nie Christus wat “’n voorbeeld gelaat het sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” nie? (1 Petrus 2:21). Die lewe van Jesus Christus vorm ’n sterk teenstelling met LDS-teologie. Hoewel Jesus geensins ’n askeet was nie, was sy eenvoudige leefwyse ontbloot van enige ambisie om rykdom, roem of politieke mag te verwerf. Hy is vervolg omdat hy “geen deel van die wêreld” was nie (Johannes 17:16). Die hoofdoel van Christus se bediening was om sy Vader, Jehovah, te verheerlik en Sy naam te heilig. Dit is ook die geval met Jesus se ware dissipels. Hulle beskou hulle eie redding as minder belangrik.
Jesus het mense die Woord van God geleer, vryelik daaruit aangehaal en daarvolgens gelewe. Brigham Young het aangaande die Bybel gesê: “Ons beskou hierdie boek as ons gids, as ons gedragsreël; ons beskou dit as die grondslag van ons geloof. Dit dui die weg na redding aan” (Journal of Discourses, Deel XIII, bladsy 236). Gevolglik het hy ander aangespoor: “Neem die Bybel, vergelyk die godsdiens van die Heiliges van die Laaste Dae daarmee, en kyk of dit die toets sal deurstaan” (Discourses of Brigham Young). Nie net die Mormoonse godsdiens nie, maar alle godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is, moet hulle aan hierdie toets onderwerp, want Jesus het gesê dat “die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid”.—Johannes 4:23.
[Voetnoot]
a Vir verdere inligting sien Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Venster op bladsy 20]
Mormoonse heilige geskrifte
BENEWENS die Bybel en Die Boek van Mormon erken die Heiliges van die Laaste Dae ’n aantal ander geskrifte.
Doctrine and Covenants: Dit is hoofsaaklik ’n versameling openbaringe wat volgens Joseph Smith van God af gekom het. Dit is met tye hersien wanneer leerstellige en geskiedkundige verwikkelinge dit genoodsaak het.
The Pearl of Great Price: Hierdie boek bevat Joseph Smith se hersienings van die Bybelboek Genesis, Matteus hoofstuk 24 en Smith se persoonlike geskiedenis. Dit bevat ook Smith se vertaling van ’n papirus wat hy in 1835 gekoop het. Hy het gesê dat dit deur Abraham self geskryf is, wat vertel het hoe ’n engel hom gered het toe ’n priester hom op ’n altaar probeer offer het. Die papirus is weer in 1967 gevind en deur ’n aantal Egiptoloë bestudeer. Volgens een verslag het hulle bevind dat “nie ’n enkele woord van Joseph Smith se sogenaamde vertaling enigsins met die inhoud van hierdie dokument ooreenstem nie”. Dit blyk toe dat dit die Book of Breathings is, ’n Egiptiese begrafnisgeskrif wat saam met die dooies begrawe is. Smith se oorspronklike manuskrip toon dat hy 136 verskillende Engelse woorde gebruik het om die Egiptiese hiëroglief vir “meer” te vertaal.
Joseph Smith se vertaling van die Bybel: In 1830 het Smith begin met ’n hersiening van die King James Version, wat hy nooit voltooi het nie. Hy het ongeveer 3400 verse hersien en baie gegewens bygevoeg, onder andere ’n profesie aan die einde van Genesis oor sy eie koms as “’n voortreflike siener”. Aangesien die manuskrip in die besit gebly het van Smith se weduwee, wat nie vir Brigham Young nagevolg het nie, haal die Salt Lake-kerk selde daaruit aan, hoewel dit as juis aanvaar word.
Ander “geïnspireerde” leerstellings: Dit kan te eniger tyd deur die kerk se lewende profeet oorgedra word en is net so gesaghebbend as die Heilige Bybel. Een voorbeeld is die King Follet-toespraak wat in 1844 gehou is. Smith het hierdie begrafnispreek vir ouderling King Follet gehou waarin hy die leerstelling van die vergoddeliking van die mens en die vermensliking van God verduidelik het. Dit verskyn in die Journal of Discourses, ’n versameling lesings deur Smith, Young en ander 19de-eeuse Mormoonse gesaghebbendes.
[Venster op bladsy 21]
Die Mormoonse familie van gode
God: Vader van alle Gode; hy het ’n liggaam van vlees en been.—Doctrine and Covenants 130:22.
Elohim: Word soms na verwys as ’n individu. Ook beskryf as ’n raad van Gode wat die aarde georganiseer het.—Doctrine and Covenants 121:32; The Pearl of Great Price, Abraham 4:1; Journal of Discourses, Deel I, bladsy 51.
Jesus: God en Skepper van die hele aarde, die Saligmaker.—3 Nefi 9:15; 11:14.
Jehovah: Naam vir Jesus in die Ou Testament.—Vergelyk Mormon 3:22; Moroni 10:34; en Boek van Mormon se inhoudsopgawe.
Drie-eenheid: Die Godheid van drie afsonderlike, onderskeie geespersone, Vader en Seun, van vlees en been, en die Heilige Gees.—Alma 11:44; 3 Nefi 11:27.
Adam: Jesus se helper met die skepping. Brigham Young het gesê: “Ons vader Adam het in die tuin van Eden ingekom . . . en het Eva, een van sy vrouens, gebring. . . . Hy is ons Vader en ons God” (Journal of Discourses, Deel I, bladsy 50, 1854-uitgawe). Ná sy sondeval het Adam die aarde se eerste Christen geword (The Pearl of Great Price, Moses 6:64-66; Ensign, Januarie 1994, bladsy 11). Hy is “die Oue van dae” (Doctrine and Covenants 116) en is die letterlike, fisiese Vader van Jesus.—Journal of Discourses, Deel I, bladsy 51.
Migael: ’n Ander naam vir Adam, die aartsengel.—Doctrine and Covenants 107:54.
[Venster op bladsy 23]
Die Mormone, nasionalisme en die politiek
JOSEPH SMITH—profeet, siener en openbaarder volgens Mormoonse oortuiging—was ook burgemeester, tesourier, luitenant-generaal en ’n kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap. In navolging van hom is baie Mormone bedrywige politieke aktiviste. Die kerk is trots op sy Amerikaanse erfenis en beweer dat God die opstel van die Amerikaanse grondwet gerig het. Brigham Young het gesê: “Wanneer . . . die Koninkryk van God begin heers, sal die vlag van die Verenigde State trots en vlekloos aan die vlagpaal van Vryheid en gelyke regte wapper, sonder ’n klad.”
Artikel 12 van die Geloofsartikels sê: “Ons glo daaraan om ons aan konings, presidente, heersers en magistrate te onderwerp, om die wet te gehoorsaam, te eer en te onderhou.” Hoe ver strek hierdie onderworpenheid? Toe die Verenigde State tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree het, het ouderling Stephen L. Richards verklaar: “Niemand is lojaler aan die regering van die Verenigde State as die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae nie.” “Wanneer ons veg, sal ons deur God se krag oorwin”, het ’n ander ouderling gesê.
Artikel 12 het ook aan die ander kant van die slagveld gegeld. Professor Christine E. King van die Universiteit van Staffordshire het geskryf: “Duitse Mormone is aangemoedig om die wapen vir hulle land op te neem en vir sy oorwinning te bid.” Die kerk het gesê dat hulle nie teen Britse of Amerikaanse Mormoonse broeders veg nie, maar teen regeringsverteenwoordigers. “So ’n onderskeid, hoewel deursigtig, het die morele en godsdienstwyfelinge van die Duitse Mormone gestil.”
Toe Hitler die bewind oorgeneem het, het die Mormoonse beleid van heelhartige ondersteuning voortgeduur. “Die Nazi’s het geen teenkanting of kritiek van die Mormoonse kerk gekry nie”, het dr. King geskryf. Die klem wat die Mormone op rassuiwerheid en patriotisme gelê het, het die kerk tot voordeel gestrek, en vir baie Mormone “was die verbintenis tussen hulle godsdiens en die politiek van die Derde Ryk duidelik”. Toe etlike Mormone dit gewaag het om hulle teen Hitler te verset, het hulle geen steun van die Mormoonse amptenare ontvang nie. “Die kerk was patrioties en lojaal en het enige aanval op die Nazi-regering veroordeel.” Die kerk het selfs een andersdenkende wat deur die Nazi’s tereggestel is ná sy dood geëkskommunikeer.b
Hoe verskil dit tog van diegene wat in Die Boek van Mormon in Alma 26:32 geprys word: “Hulle sal eerder hulle lewe opoffer as om selfs die lewe van hulle vyand te neem; en hulle het hulle oorlogswapens diep in die aarde begrawe, weens hulle liefde vir hulle broeders.”
Jesus het met Pilatus geredeneer: “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie” (Johannes 18:36). Sy dissipels mag nie die wapen opgeneem het om God se eie Seun te verdedig nie, wat nog te sê van in ’n oorlog tussen regerings. Hulle moes selfs hulle vyande liefhê.—Matteus 5:44; 2 Korintiërs 10:3, 4.
Daar is vandag ware Christene wat as individue en as ’n groep streng neutraal bly. Die boek Mothers in the Fatherland het gesê: “Jehovah se Getuies het sedert hulle grondvesting met vasberadenheid afgeskeie van enige staat gebly.” Derhalwe het hulle gedurende Hitler se skrikbewind “feitlik tot die laaste man onomwonde geweier om enige vorm van gehoorsaamheid aan die Nazi-staat te betoon”.
Hoewel duisende van hulle ’n marteldood gesterf het, het Jehovah se Getuies Jesus se woorde ter harte geneem: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
[Voetnoot]
b Helmut Hübener is in 1948 herstel.
[Venster op bladsy 24]
Die Bybel en Mormoonse geskrifte—die skerp teenstellings
Bybel: Hoewel die presiese ligging onbekend is, was die tuin van Eden waarskynlik in die Mesopotamiese gebied by die Eufraatrivier geleë.—Genesis 2:11-14.
Doctrine and Covenants: Tuin van Eden was in die Jackson-distrik, Missouri, VSA.—Doctrine and Covenants 57, soos verduidelik deur president J. F. Smith.
Bybel: Die siel sterf.—Esegiël 18:4; Handelinge 3:23.
Die Boek van Mormon: “Die siel kan nooit sterf nie.”—Alma 42:9.
Bybel: Jesus is in Betlehem gebore.—Matteus 2:1-6.
Die Boek van Mormon: Jesus sou in Jerusalem gebore word.—Alma 7:10.
Bybel: Jesus is deur heilige gees verwek.—Matteus 1:20.
Journal of Discourses: Jesus is nie deur heilige gees verwek nie. Hy is in die vlees verwek deur Adam wat geslagsomgang met Maria gehad het.—Journal of Discourses, Deel I, bladsye 50-1.
Bybel: Nuwe Jerusalem sal in die hemel wees.—Openbaring 21:2.
Die Boek van Mormon: Nuwe Jerusalem sal op aarde wees en deur manne in Missouri, VSA, gebou word.—3 Nefi 21:23, 24; Doctrine and Covenants 84:3, 4.
Bybel: Bybelskrywers is geïnspireer om God se gedagtes neer te skryf.—2 Petrus 1:20, 21.
Die Boek van Mormon: Die boek se profete het glo geskryf volgens hulle eie kennis.—1 Nefi 1:2, 3; Jakob 7:26.
Bybel: Mosaïese Wet, met inbegrip van die tiendeheffing, het geëindig met Jesus se dood. Bydraes moet vrywillig gegee word, nie onder dwang nie.—2 Korintiërs 9:7; Galasiërs 3:10-13, 24, 25; Efesiërs 2:15.
Doctrine and Covenants: “Dit is voorwaar . . . ’n dag vir my volk om tiendes te gee; want hy teen wie ’n tiende gehef word, sal nie (met sy [die Here se] koms) verbrand word nie.”—Doctrine and Covenants 64:23.
[Prent op bladsy 25]
Standbeeld van Moroni bo-op die Mormoonse Tempel in Salt Lake City