Ons beskou die wêreld
Argeologiese vonds
Argeoloë het lank gemeen dat geen groot ontdekkings meer in Egipte se Vallei van die Konings gedoen sou word nadat hulle in 1922 koning Toetankamen se grafkelder vol skatte gevind het nie. Maar ’n nuwe grafkelder het aan die lig gekom wat dalk die grootste en ingewikkeldste in die vallei is. Dit is blykbaar deur Ramses II as ’n begraafplaas vir sy seuns gebou en het ten minste 67 kamers en vermoedelik ’n laer vlak wat die totale aantal kamers op meer as 100 te staan kan bring. Ramses II het in die 13de eeu v.G.J. 66 jaar lank geheers en het meer as 100 kinders gehad, wat 52 seuns ingesluit het. Grafkelders vir twee van die seuns is voorheen reeds gevind. Daar word gemeen dat die res in hierdie nuutgevonde grafkelder begrawe is, waar die name van vier seuns, waaronder sy eersgeborene, Amen-hir-kopsjef, ontdek is. Dit het godsdiensgeleerdes se belangstelling geprikkel omdat party gespekuleer het dat Ramses II ten tye van Israel se Uittog Egipte se farao was. Ander geleerdes reken egter dat die Uittog in 1513 v.G.J. plaasgevind het.
“Gevaarlike bedryf”
“Mynbou is weens die aard daarvan ’n gevaarlike bedryf”, sê Johannesburg se WeekendStar, “en ’n bedryf wat noodsaaklik is vir die land se ekonomie.” Presies hoe gevaarlik dit is, is in Mei beklemtoon toe ’n ondergrondse lokomotief van 12 ton in een van Suid-Afrika se goudmyne “deur minstens drie veiligheidstoestelle geploeg het voordat dit in ’n skag van 2103m afgestort en die hyser platgedruk het”, waarin daar 104 myners was. Daar was geen oorlewendes nie. “Ongelukkig is sulke tragedies al lank ’n kenmerk van die lewe in Suid-Afrika”, sê die WeekendStar. “Gedurende die eerste 93 jaar van hierdie eeu is daar meer as 69 000 werkers op ons myne dood en meer as ’n miljoen beseer.”
Tydvak van oorlog en onrus
“Party geskiedkundiges meen dat die 20ste eeu as ’n tyd van ongeëwenaarde barbaarsheid gesien sal word”, sê The New York Times. “Die tydperk van 75 jaar van 1914 tot 1989, wat twee wêreldoorloë en die koue oorlog insluit, word al hoe meer deur geskiedkundiges as ’n enkele, afsonderlike tydvak gesien, ’n aparte tyd waarin ’n groot deel van die wêreld oorlog gevoer het, van oorlog herstel het of vir oorlog voorberei het.” ’n Artikel in The Washington Post stem saam: “Ons 20ste-eeuse oorloë was ‘totale oorloë’ teen soldate sowel as burgerlikes”, sê dit. “Die sterfgevalle, waaronder die volksmoord van die Jode, tel tienmiljoene. In vergelyking daarmee was die barbaarse oorloë van vorige eeue straatgevegte.” Burgerlike opstande het tot die slagting bygedra. Hoeveel mense het gesterf? “Die ‘megasterftes’ sedert 1914 was, volgens ’n raming van Zbigniew Brzezinski, altesaam 197 miljoen, ‘die ekwivalent van meer as een uit tien van die totale wêreldbevolking in 1900’”, sê die Post. Dit voeg by dat dit ’n “onbetwisbare feit [is] dat terrorisme en onverantwoordelike slagting diep in die kultuur van hierdie eeu ingegrif is” en dat “geen politieke of ekonomiese stelsel tot dusver in hierdie eeu die rustelose miljoene tot bedaring gebring of bevredig het nie”.
Wêreldgesondheidsopname
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê in sy eerste jaarlikse opname van wêreldwye gesondheid dat ongeveer 40 persent van die wêreld se bevolking—meer as tweemiljard mense—op enige gegewe tydstip siek is. Baie van die siektes en ongesteldhede is onnodig en voorkombaar, sê hulle. Armoede is die grootste onderliggende oorsaak, aangesien meer as die helfte van die wêreld se 5,6 miljard mense nie die noodsaaklikste medisyne kan bekom nie, ’n derde van die wêreld se kinders ondervoed is en meer as ’n vyfde van die mense in die wêreld min of geen middele het om hulle siektes te voorkom of te behandel. Die dodelikste siektes—hartsiekte, beroertes, longsiekte, tering, malaria en asemhalingsinfeksies, asook diarree in kinders onder vyf—veroorsaak elke jaar die dood van miljoene. Maar die verslag sê dat die lewensverwagting gedurende die afgelope 25 jaar van 61 tot 65 jaar gestyg het. “Vir baie miljoene mense vir wie oorlewing ’n daaglikse stryd is, lyk die vooruitsig om langer te lewe dalk meer na ’n straf as ’n beloning”, het dr. Hirosji Nakadjima, Direkteur-generaal van die WGO, gesê.
Beskouings oor Armageddon
Godsdienste in Japan is aangespoor om hulle beskouings oor Armageddon uit te spreek nadat die Aoem Sjinrikio-godsdiens onder die publiek se aandag gekom het in verband met die noodlottige sariengasaanval in Tokio se ondergrondse spoorweë in Maart. “Jare lank al voorspel die kultusleier Sjoko Asahara . . . dat die wêreld Armageddon sal sien”, berig The Daily Yomiuri. Hoewel Aoem in naam Boeddhisties is, het twee Boeddhistiese organisasies gesê dat “die Armageddon-begrip vir Boeddhisme onbekend is”, berig die Mainichi Daily News. “Albei die vernaamste Christengroepe onder wie ’n opname gedoen is . . . , het AOEM se oortuiging verwerp dat Armageddon op hande is. Die Katolieke groep het gesê dat die oortuiging nie vir Katolieke bekend is nie, terwyl die Protestantse organisasie gesê het dat die kultus nie die woord ‘Armageddon’ moes gebruik het nie omdat ‘’n Bybelse woord uit verband geruk is’. Die Geünieerde Kerk het gesê dat ‘godsdiensbevorderingsmetodes wat algemene vrees inboesem ongewens is’, en Sjinjoen het gesê dat mense bedreig voel as ’n sekere beskouing te ver gedryf word.” Aoem se stigter het blykbaar sy eie profesie betwyfel. Een van die kultus se hoofleiers het volgens ’n aanhaling gesê: “Ek reken dat die sarienprojek aan die gang gesit is sodat die ghoeroe se profesie bewaarheid kon word.”
Godsdiens en genesing
’n Studie onder 232 bejaarde pasiënte wat ’n opehartoperasie ondergaan het, het getoon dat die pasiënte “wat krag en vertroosting uit hulle godsdiensopvatting kon put ’n oorlewingsyfer gehad het wat drie keer hoër was as dié van pasiënte wat geen troos uit geloof geput het nie”, sê die International Herald Tribune van Parys. Hoewel vorige navorsing getoon het dat dit voordelig vir die gesondheid is om hegte verhoudings met en ondersteuning van vriende en familie te hê, was dit die eerste studie “wat bewys het dat geloof so ’n groot gesondheidsvoordeel inhou vir pasiënte wat ernstig siek is”, het die Tribune gesê. Die hoof van die studie, dr. Thomas Oxman, het gesê: “Dit lyk asof dit op mediese gebied nuttig is as ’n mens aan ’n onseker, lewensgevaarlike situasie kan sin gee—as ’n mens glo dat daar die een of ander groter betekenis of krag aan die werk is.”
Stadige pos
Almal wat al ooit rede gehad het om oor die ondoeltreffendheid van die posdiens te kla, kan hulle troos met die geval van ’n egpaar van Vicenza, Italië. Terwyl ’n Italiaanse man in 1944 in ’n Nazi-konsentrasiekamp in noordelike Europa was, het hy vir sy vrou geskryf: “Moenie bekommerd wees as nuus van my af lank neem om deur te kom nie.” “Byna ’n voorteken”, sê die koerant La Repubblica, aangesien die boodskap 51 jaar later sy bestemming bereik het. Die egpaar, wat nou in die tagtig is, was aangenaam verras deur die aankoms van die brief en het ’n klein samekoms van hulle vriende gereël om die geleentheid te vier. Die roete wat die brief gevolg het voordat dit uiteindelik sy bestemming bereik het, bly ’n raaisel.
Uitwerking van nagemaakte werklikheid
Nagemaakte werklikheid (NW) “kan teen die einde van die eeu tot een derde van die mark vir tuisvideospeletjies oorneem”, sê ’n berig in die koerant The Globe and Mail van Kanada. In sulke speletjies dra spelers ’n helm met oorfone en ’n vertoonskerm voor elke oog. Handskoene wat bedraad is, stel die speler in staat om bewegingseine oor te dra en aksies in die rekenaargegenereerde wêreld uit te voer. Maar saam met die oortuigende beelde van sulke speletjies is daar ook berigte van “kubersiekte”, moontlik weens die tydsvertraging wanneer beelde wat deur die rekenaar geskep is op liggaamsbewegings reageer. Gevolge daarvan sluit disoriëntering, naarheid, hoofpyne, oogspanning, koördinasieprobleme en terugflitse in. “Waarnemers voorspel dat dit weens die hoë voorkomssyfer van kubersiekte net ’n kwessie van tyd is voordat iemand seerkry en NW voor die hof gesleep word”, sê The Globe. Die berig doen aan die hand dat “minder oortuigende beelde, minder beweging, minder meevoerende simulasies en tydsbeperkings op masjiene kan help” totdat simulasies bespoedig kan word om by mense se reaksies by te hou.
Muntoutomaat vir godsdiensbeelde
In tradisioneel Katolieke lande is godsdiensbeelde een van die sigbaarste tekens van “volkstoegewydheid aan die beskermheiliges en beskermhere van heilige plekke”, sê die Italiaanse dagblad La Repubblica. Tegnologie is nou in die florerende bedryf van hierdie godsdiensartikels ingebring. ’n Muntoutomaat vir ikone, wat ’n “icomatic” genoem word, stoot godsdiensbeelde uit wanneer dit spesiale tekengeld gevoer word. “Die selfbedieningstelsel sal ’n eie keuse waarborg, sal toue uitskakel en sal ’n godsdiensbeeld vir almal verseker”, sê die koerant.