’n Kykie na hedendaagse wetenskapsfiksie
MOTORVOERTUIE, telefone, rekenaars—is dit moontlik dat enigiemand meer as 130 jaar gelede kon voorspel dat hulle uitgevind sou word? Die wetenskapsfiksieskrywer Jules Verne het! Hierdie verrassende wetenskaplike insigte is in ’n onlangs ontdekte manuskrip van ’n Jules Verne-roman getiteld Paris in the Twentieth Century gevind. In hierdie voorheen ongepubliseerde roman het Verne selfs ’n toestel beskryf wat verbasend baie na ’n moderne faksmasjien klink!a
Selfs die slimste wetenskapsfiksieskrywers skiet egter ver daaraan tekort om ware profete te wees. Jules Verne se Journey to the Center of the Earth is byvoorbeeld fassinerende leesstof, maar wetenskaplikes weet nou dat so ’n reis onmoontlik is. Dit lyk ook onwaarskynlik dat ons in die jaar 2001 bemande reise na Jupiter of ander planete sal sien, soos sommige vroeër beweer het.
Wetenskapsfiksieskrywers kon ook nie baie van die verrassende wetenskaplike ontwikkelinge wat wel plaasgevind het, voorspel nie. In ’n artikel wat in The Atlantic Monthly verskyn het, erken die wetenskapsfiksieskrywer Thomas M. Disch: “Dink aan WF [wetenskapsfiksie] se onvermoë om die kubernetiese era [rekenaarera] . . . , die kweekhuiseffek of die vernietiging van die osoonlaag of vigs te voorspel. Dink aan die nuwe geopolitiese magswanbalaans. Dink aan al hierdie dinge, en vra dan wat WF daaroor te sê gehad het. Byna niks.”
Wetenskapsfiksie—’n groot bedryf
Vir aanhangers is wetenskapsfiksie natuurlik nie feitelike wetenskap nie, maar vermaak. Nogtans is daar diegene wat die waarde daarvan in daardie opsig ook in twyfel trek. Wetenskapsfiksie se reputasie as prulliteratuur het vroeg in hierdie eeu begin met die publikasie van sensasietydskrifte wat in wetenskapsfiksie gespesialiseer het. Die eerste een, die tydskrif Amazing Stories, het in 1926 op die mark verskyn. Die stigter, Hugo Gernsback, kry die erkenning dat hy ’n woord uitgedink het wat tot die term “wetenskapsfiksie” ontwikkel het. Baie het gemeen dat hierdie sensasionele avontuurverhale min of geen literêre waarde gehad het.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het mense wetenskapsfiksie ernstiger begin opneem. Die dramatiese rol wat die wetenskap in daardie oorlog gespeel het, het nuwe aansien daaraan gegee. Die voorspellings van wetenskapsfiksieskrywers het geloofbaarder begin lyk. Wetenskapsfiksiestrokiesverhale, -tydskrifte en -slapbandboeke het dus begin vermeerder. Hardebandwetenskapsfiksieboeke het blitsverkopers geword. Maar terwyl wetenskapsfiksie sukkel om aan die eise van die massamark te voldoen, word letterkundige gehalte—en wetenskaplike akkuraatheid—dikwels ingeboet. Die wetenskapsfiksieskrywer Robert A. Heinlein betreur die feit dat “enigiets wat leesbaar en selfs redelik vermaaklik is” nou gepubliseer word, onder andere “’n groot aantal swak bespiegelingsromans”. Die skryfster Ursula K. Le Guin voeg by dat selfs “tweederangse goed” gedruk word.
Ten spyte van sulke kritiek het wetenskapsfiksie nuwe hoogtes in gewildheid bereik nadat dit aansienlike ondersteuning gekry het, nie van wetenskaplikes nie, maar van die rolprentbedryf.
Wetenskapsfiksie op die “wye doek”
Wetenskapsfiksierolprente bestaan al sedert 1902 toe George Méliès die rolprent A Trip to the Moon gemaak het. ’n Latere geslag bioskoopgangers is betower deur Flash Gordon. Maar in 1968, een jaar voordat die mens op die maan geland het, het die rolprent 2001: A Space Odyssey erkenning ontvang vir die kunstigheid daarvan en was dit ook ’n kommersiële sukses. Hollywood het nou begin om ontsaglike bedrae geld aan wetenskapsfiksierolprente toe te ken.
Teen die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare was rolprente soos Alien, Star Wars, Blade Runner en ET: The Extraterrestrial verantwoordelik vir die helfte van die Amerikaanse loketinkomste. Om die waarheid te sê, wetenskapsfiksie het gesorg vir een van die grootste rolprenttreffers van alle tye, Jurassic Park. Saam met die rolprent was daar ook ’n stortvloed van ongeveer 1 000 Jurassic Park-produkte. Dit is dus nie verbasend dat TV ook met die stroom saamgegaan het nie. Die gewilde program Star Trek het ’n aantal ander programme oor die buitenste ruimte tot gevolg gehad.
Baie meen egter dat party wetenskapsfiksieskrywers, deur die algemene aandrang te bevredig, die eienskappe prysgegee het wat aan wetenskapsfiksie ’n mate van waarde gegee het. Die Duitse skrywer Karl Michael Armer beweer dat ‘wetenskapsfiksie nou eenvoudig ’n gewilde handelsmerk is wat nie meer deur inhoud nie, maar deur bemarkingstegnieke gekenmerk word’. Ander kla dat die eintlike “sterre” van hedendaagse wetenskapsfiksierolprente nie mense is nie, maar spesiale effekte. Een resensent sê selfs dat wetenskapsfiksie “in so baie van sy vorme afskuwelik en laag” is.
Baie sogenaamde wetenskapsfiksierolprente handel byvoorbeeld glad nie oor wetenskap of die toekoms nie. ’n Futuristiese tema word partykeer net gebruik as ’n agtergrond vir siek geweld. Die skrywer Norman Spinrad sê dat daar in baie hedendaagse wetenskapsfiksieverhale iemand is wat “geskiet, gesteek, verdamp, met ’n laser geskiet, verskeur of opgeblaas” word. In baie rolprente word hierdie verminking afgryslik realisties uitgebeeld!
Nog iets wat kommer wek, is die bonatuurlike element wat in verskeie wetenskapsfantasieboeke en -rolprente uitgebeeld word. Terwyl party mense sulke verhale as niks meer as allegoriese gevegte tussen goed en kwaad beskou nie, blyk dit dat party van hierdie werke verder as allegorie gaan en spiritistiese gebruike bevorder.
Balans is nodig
Die Bybel veroordeel natuurlik nie verbeeldingryke vermaak as sodanig nie. In Jotam se gelykenis van die bome is daar plante wat met mekaar praat—hulle beraam selfs planne (Rigters 9:7-15). Die profeet Jesaja het eweneens iets verbeeldingryks gedoen toe hy beskryf het hoe nasionale heersers wat lank reeds dood was, in die graf ’n gesprek voer (Jesaja 14:9-11). Selfs sommige van Jesus se gelykenisse het elemente bevat wat nie letterlik kan wees nie (Lukas 16:23-31). Sulke verbeeldingryke beskrywings is nie net gebruik om te vermaak nie, maar om te onderrig en te leer.
Party hedendaagse skrywers gebruik miskien tereg ’n futuristiese agtergrond om te onderrig of te vermaak. Lesers wat gewetensgetroue Christene is, hou egter in gedagte dat die Bybel ons vermaan om ons aandag te vestig op dinge wat rein en opbouend is (Filippense 4:8). Dit herinner ons ook: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Party wetenskapsfiksierolprente en -boeke kan idees en filosofieë bevorder wat strydig is met die Bybel, soos evolusie, menslike onsterflikheid en reïnkarnasie. Die Bybel waarsku ons om nie slagoffers van “filosofie en leë bedrog” te word nie (Kolossense 2:8). Dit is dus goed om versigtig te wees wat wetenskapsfiksie betref, soos met alle vorme van vermaak. Ons moet selektief wees in wat ons lees of waarna ons kyk.—Efesiërs 5:10.
Soos vroeër gemeld is, is talle gewilde rolprente vol geweld. As ons na sinlose bloedvergieting kyk, ontstaan die vraag of dit Jehovah behaag, van wie daar gesê word: “Sy siel haat . . . die wat geweld liefhet” (Psalm 11:5). En aangesien spiritisme in die Skrif veroordeel word, sal Christene goeie oordeel aan die dag wil lê wat betref boeke of rolprente wat elemente soos toorkuns bevat (Deuteronomium 18:10). Ons moet ook besef dat ’n volwassene miskien sonder veel moeite tussen fantasie en werklikheid kan onderskei, maar nie alle kinders kan dit doen nie. Ouers moet dus let op die uitwerking wat die dinge wat hulle kinders lees en sien op hulle het.b
Party besluit miskien dat hulle ander vorme van leesstof of vermaak verkies. Maar dit is nie nodig dat hulle ander in hierdie verband veroordeel of ’n geskilpunt maak van kwessies van persoonlike keuse nie.—Romeine 14:4.
Aan die ander kant is dit goed as Christene wat verkies om by geleentheid verskillende vorme van fiksie as ontspanning te geniet Salomo se waarskuwing onthou: “Aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees” (Prediker 12:12). Baie mense in vandag se wêreld het beslis oorboord gegaan in hulle toewyding aan wetenskapsfiksieboeke en -rolprente. Wetenskapsfiksieklubs en -byeenkomste het toegeneem. Volgens die tydskrif Time het Star Trek-aanhangers op vyf vastelande hulle daarop toegelê om die denkbeeldige taal Klingon te leer, wat in die Star Trek-televisieprogramme en -rolprente gebruik is. Sulke verregaande gedrag stem nie ooreen met die Bybel se raad in 1 Petrus 1:13 nie: “Bly volkome nugter van verstand [“bly gebalanseerd”, voetnoot in naslaanuitgawe].”
Selfs op sy beste kan wetenskapsfiksie nie die mens se nuuskierigheid bevredig oor wat die toekoms inhou nie. Dié wat werklik wil weet wat die toekoms inhou, moet hulle tot ’n bron wend wat seker is. Ons sal dit in ons volgende artikel bespreek.
[Voetnote]
a In Verne se woorde ’n “fotografiese telegraaf [wat] die versending van die faksimilee van enige geskrif, handtekening of ontwerp oor lang afstande moontlik gemaak het”.—Newsweek, 10 Oktober 1994.
b Sien die artikel “Wat moet jou kind lees?” in die Ontwaak! van 22 Julie 1978.
[Prent op bladsy 7]
Ouers moet toesig hou oor hulle kinders se vermaak
[Prent op bladsy 7]
Christene moet selektief wees wat wetenskapsfiksie betref