Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/8 bl. 3-4
  • Wetenskapsfiksie—Hoe dit gewild geraak het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wetenskapsfiksie—Hoe dit gewild geraak het
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fiksie word werklikheid
  • ’n Kykie na hedendaagse wetenskapsfiksie
    Ontwaak!—1995
  • Wat die toekoms werklik inhou
    Ontwaak!—1995
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Die wetenskap en godsdiens word versoen
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/8 bl. 3-4

Wetenskapsfiksie—Hoe dit gewild geraak het

DIE jaar 1982 het iets nuuts in die Amerikaanse rolprentbedryf gesien. Gedurende die 1982/83-seisoen was die gewildste “speler” in ’n rolprent glad nie ’n mens nie. Volgens The Illustrated History of the Cinema was dit ET, die groteske maar tog oulike karaktertjie uit die buitenste ruimte wat die hoofrol in die rolprent ET: The Extraterrestrial gespeel het!

Hierdie merkwaardige feit is net een bewys van die oorweldigende gewildheid van wetenskapsfiksie (WF) in die laaste jare. Hoewel dit vroeër tot sensasietydskrifte beperk is en as leesstof vir alleenlopers en dromers beskou is, het wetenskapsfiksie ’n gevestigde deel van hoofstroomvermaak geword. Maar wat sit agter hierdie dramatiese toename in gewildheid?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers na die geskiedenis van wetenskapsfiksie kyk. Sedert die vroegste tye vertel die mens fantastiese verhale om ander bang te maak, te beïndruk of net te vermaak. Gedurende die 17de en 18de eeu het Europa egter ’n era van wetenskaplike en materiële vooruitgang binnegegaan. Baie het begin om tradisionele idees en gesag te bevraagteken. In hierdie atmosfeer het sommige begin spekuleer oor die uitwerking wat wetenskaplike vooruitgang in die toekoms op die mens sou hê.

Presies wié wetenskapsfiksie uitgedink het, is nie ’n uitgemaakte saak nie. Sewentiende-eeuse skrywers Francis Godwin en Cyrano de Bergerac het romans geskryf wat van ruimtereise vertel het. In 1818 het Mary Shelley se boek Frankenstein, or The Modern Prometheus ’n wetenskaplike met die vermoë om lewe te skep en die afgryslike gevolge daarvan uitgebeeld.

Party skrywers het hierdie soort fiksie gebruik om die tekortkominge van die mensegemeenskap te beklemtoon. Toe Jonathan Swift dus die spot gedryf het met die Engelse gemeenskap in die 18de eeu, het hy sy satire saamgeweef as ’n reeks denkbeeldige reise. Die resultaat was Gulliver’s Travels, ’n snydende allegorie wat al die “eerste letterkundige meesterstuk” van wetenskapsfiksie genoem is.

Maar die skrywers Jules Verne en H. G. Wells kry gewoonlik die eer dat hulle die wetenskapsfiksieroman sy moderne vorm gegee het. In 1865 het Verne From the Earth to the Moon geskryf—een van ’n string suksesvolle romans. In 1895 het H. G. Wells se gewilde boek The Time Machine verskyn.

Fiksie word werklikheid

Vroeg in die twintigste eeu was wetenskaplikes besig om party van hierdie skrywers se drome te bewaarheid. Volgens die boek Die Großen (Die grotes) het die Duitse fisikus Hermann Oberth jare lank probeer om Jules Verne se droom van bemande ruimtevaarte ’n werklikheid te maak. Oberth se berekeninge het gehelp om ’n wetenskaplike grondslag vir ruimtevaart te lê. Hy was egter nie die enigste wetenskaplike wat deur wetenskapsfiksie beïnvloed is nie. Die gewilde wetenskapsfiksieskrywer Ray Bradbury sê: “Wernher von Braun en sy kollegas in Duitsland en almal in Houston en Kaap Kennedy het as kinders H. G. Wells en Jules Verne gelees. Hulle het besluit dat hulle dit alles gaan laat waar word wanneer hulle groot is.”

Eintlik was wetenskapsfiksie die afspringplek vir nuwighede op baie gebiede. Die skrywer René Oth beweer dat daar min “uitvindings of ontdekkings is wat nie vooraf deur wetenskapsfiksie voorspel is nie”. Duikbote, robotte en bemande vuurpyle het almal in die wetenskapsfiksie bestaan lank voordat dit werklikheid geword het. Die wetenskapsfiksieskrywer Frederik Pohl hou dus vol dat “’n mens jou verstand oefen as jy wetenskapsfiksie lees”.

Alle wetenskapsfiksie handel natuurlik nie werklik oor wetenskap nie. Party van die gewildste wetenskapsfiksieboeke en -rolprente is eintlik vorme van wat party wetenskapsfantasie noem. Wetenskaplike geloofwaardigheid is dikwels die kenmerk van wetenskapsfiksie, terwyl fantasieverhale slegs beperk word deur die verbeelding van hulle skrywers. Toorkuns kan dalk selfs ’n rol speel.

Maar hoe akkuraat is wetenskapsfiksie se beskouing van die toekoms? Is alle wetenskapsfiksie die moeite werd om te lees of na te kyk? Die volgende artikels sal hierdie vrae bespreek.

[Prent op bladsy 3]

Jules Verne se roman “From the Earth to the Moon” het baie tot belangstelling in ruimtevaart bygedra

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Vuurpyl: General Research Division/The New York Public Library/Astor, Lenox and Tilden Foundations

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel