Pasop vir die ‘oë van die rivier’!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
’NAVONTUURLUSTIGE vakansieganger het in die Kakadu- Nasionale Park, die asemrowende moerasland van Australië se Noordelike Gebied, rustig in haar kano met ’n syloop van die East Alligator-rivier langs geroei. Skielik het iets wat sy gedink het ’n onskadelike stuk dryfhout was haar kano begin aanval. Dit was ’n gevreesde soutwaterkrokodil, en die toeris was op die gevaarlikste tyd van die jaar in sy besondere gebied.
Sy het vervaard na ’n plaat bome geroei. Toe sy op die eerste takke trap, het die krokodil uit die water gekom, haar ondertoe gesleep en haar drie keer omgerol. Elke keer dat die krokodil sy greep verander het, het die vrou naarstig teen die modderige rivieroewer probeer uitklim. Met haar derde probeerslag het sy daarin geslaag om teen die oewer uit te kom, en sy het haar twee kilometer ver voortgesleep tot ’n veldwagter haar benoude hulpgeroep gehoor het. Die vrou het dit ondanks verskriklike wonde oorleef.
Hierdie voorval wat amper op ’n tragedie uitgeloop het, het in 1985 plaasgevind. Twee jaar later was ’n Amerikaanse toeris nie so gelukkig nie. Sy het vriende se waarskuwings geïgnoreer en besluit om te swem in die Prince Regent-rivier, Wes-Australië, wat wemel van die krokodille. Sy is deur ’n soutwaterkrokodil aangeval en doodgemaak. Berigte dat daar jong krokodille in die water was, dui daarop dat dit heel moontlik ’n krokodilwyfie was wat haar kleintjies beskerm het.
Dodelike ‘oë van die rivier’
Al wat die visserman by die riviermonding in die maanlig sien, is die rimpeling wanneer ’n insek op die spieëlgladde water land. Nietemin is die visserman in die verre noorde van Australië altyd bewus van die onsigbare—die ‘oë van die rivier’. As hy met sy flits sou lig, sou krokodiloë wat stilletjies bo die water uitkom rooi glim. Hy is ’n indringer in die gebied van ’n oeroue roofdier.
Australië se soutwaterkrokodil, wat ook op ander plekke gevind word, is een van die grootste en gevaarlikste van die wêreld se 12 krokodilsoorte. Hy kan tot sewe meter lank word. Die niksvermoedende prooi sien die glimmende oë te laat om die skielike aanval en die bekende en dodelike roltegniek wat die prooi laat verdrink te ontvlug. Prooi so groot soos buffels, beeste en perde is al aangeval terwyl hulle hulle dors vanaf die oewer geles het.
Weeldeartikels bedreig hulle voortbestaan
Die ou mite dat ’n krokodil geveinsde trane van droefheid oor sy slagoffer stort, is na die hedendaagse kultuur oorgedra in die uitdrukking “krokodiltrane”. Maar die mens het nog maar bitter min trane oor die krokodil gestort. Hierdie waterliewende reptiel word eerder genadeloos vir sy waardevolle vel gejag.
Menige krokodil is al swierig in die vorm van gesogte leerartikels op die loopplank van modehuise vertoon, want die vel van die soutwaterkrokodil word deur sommige as die beste leer ter wêreld beskou—die sagste en duursaamste wat beskikbaar is. ’n Dameshandsak is onlangs by ’n uitverkoping in Londen tot R54 450 afgemerk. In baie wêrelddele word krokodilvel steeds as ’n statussimbool beskou.
Die verlokking van groot profyt het die voortbestaan van die soutwaterkrokodil in Australië bedreig. Tussen 1945 en 1971 is ongeveer 113 000 van hierdie reptiele in die Noordelike Gebied alleen doodgemaak. Krokodiljag is in die vroeë sewentigerjare beperk om te verhoed dat hulle uitgewis word, en gevolglik het hulle getalle in die natuur teen 1986 herstel. Die krokodil is dus nie meer ’n bedreigde spesie in Australië nie, hoewel sommige aanvoer dat sy habitat wel bedreig word.
Eeue lank het die Australiese inboorlinge die krokodilbevolking wetend of onwetend bewaar. Hoewel party stamme bedrewe krokodiljagters was, het ander stamme om godsdiensredes verbied dat hulle gejag word.
In onlangse jare het krokodilboerdery gepaard met die klem op voorligting tot die bewaring van krokodille bygedra. Toeriste stroom nou na krokodilplase, en dit verseker hulle finansiële lewensvatbaarheid terwyl teelprogramme die bewerking van krokodilvel en -vleis moontlik maak sonder dat dit hulle getalle in die natuur raak.
’n Welbekende Australiese krokodilboer meen dat mense net dinge bewaar waarvoor hulle lief is, wat hulle verstaan en waaraan hulle tyd en ruimte afstaan. Hy het gesê: “Krokodille staan dus nie juis ’n kans nie. Maar ekologies is hulle net so waardevol soos enige van die mooi dinge.”
’n Besoek aan ’n krokodilplaas is opwindend, want ’n mens kan die moeraskleurige, leeragtige reptiele van naby—maar van agter die veiligheid van ’n draadheining—beskou. Plaaswerkers bied vrees die hoof en gaan in die kampe met die krokodille in, por hulle aan om sekere dinge te doen en beloon hulle met vars hoender en ander vleis. ’n Plaaswerker het egter onlangs deur bitter ondervinding geleer dat jy ’n krokodil nooit moet onderskat nie. Die krokodil het skielik na hom gehap en sy linkerarm heeltemal afgeruk!
Daarenteen is dit nogal ’n ondervinding en baie insiggewend om ’n 12 maande oue krokodil vas te hou. Sy pensvel is besonder sag, terwyl die beenplate op sy rug, wat beenskilde genoem word, ’n hidrodinamiese pantser vorm. Nou kan ’n mens verstaan waarom hulle leer so gesog is. Maar wees versigtig vir hierdie “kleuter”. Selfs ’n 12 maande oue krokodil waarvan die kake goed vasgebind is, is sterk vir sy grootte.
Voordat klein krokodilletjies uit die eiers kom, vermaak hulle gehore wanneer hulle binnekant die dop blaf en dit skielik oopbreek met behulp van ’n tydelike uitsteeksel op die punt van hulle snoetjie. Die meeste is dit eens dat dit seker die enigste keer is dat ’n krokodil regtig oulik lyk!
Enkele lank gehuldigde mites word uit die weg geruim
Die noukeurige waarneming van die gedrag van hierdie skrikwekkende reptiele terwyl hulle op krokodilplase geteel word, het enkele lank gehuldigde mites uit die weg help ruim. Jare lank is daar gemeen dat ’n krokodil sy prooi dae of selfs weke lank geduldig volg voordat hy onverwags en blitsig tot die aanval oorgaan. Huidige waarneming het egter aan die lig gebring dat krokodille bloot aggressief is wanneer daar gedurende hulle paarseisoen, die monsoen, in hulle gebied oortree word. As prooi sy gebied gedurende hierdie tyd binnekom, sal die krokodil aggressief op hom afpeil, maar gedurende ’n ander tyd van die jaar sal die krokodil dieselfde dier moontlik sonder belangstelling net op ’n afstand lê en dophou.
Wanneer krokodille in ontspanningsgebiede opgemerk word, word hulle deur professionele krokodiljagters verwyder en elders vrygelaat. Deel van hulle tegniek is om ’n lus om die beweeglike onderkaak te sit, dit op te lig en die bo- en onderkaak vinnig saam te bind. Dit maak die krokodilkaak feitlik kragteloos, want hoewel die spiere waarmee die onderkaak toeklap uiters sterk is, is die spiere waarmee dit oopmaak swak. Maar as ’n jagter nie versigtig is nie, kan hy maklik deur die krokodil se kragtige stert onderstebo geslaan word.
Nie net wreed en gewelddadig nie
Dieselfde kake wat ’n ernstige besering kan veroorsaak, is ook tot delikate bewegings in staat. As ongebore krokodilletjies traag is om uit hulle dop te breek, sal die krokodilwyfie haar eiers sagkens rol om die kleintjies tot aksie aan te spoor.
Krokodiltande is ontwerp om vas te gryp eerder as om te kou. As die prooi klein genoeg is, word dit heel ingesluk. Andersins word dit uitmekaargeskeur en stuk vir stuk verslind. Met outopsies op dooie reptiele is daar klippe in hulle maag gevind. Of dit nou doelbewus geëet word of nie, hierdie klippe dien blykbaar as ballas wanneer die krokodil duik.
Besoekers sien krokodille dikwels op rivieroewers met hulle groot kake oop. Baie sal waarskynlik aanneem dat hierdie posisie ’n teken van aggressie is. Maar in werklikheid stel die oop kake hom in staat om aan te pas by die buitetemperatuur. Soos alle reptiele verander krokodille voortdurend hulle liggaamstemperatuur.
Dit is nogal verbasend dat ’n krokodil, hoewel hy ’n reptiel is, net soos ’n soogdier ’n hart met vier kamers het. Maar wanneer ’n krokodil duik, vind ’n verandering plaas en funksioneer die hart soos een met drie kamers.
Die soutwaterkrokodil word van die alligator onderskei deur ’n smaller snoet en deur tande in die onderkaak wat sigbaar is wanneer sy kake toe is. Egte krokodille kan van Afrika, waar die dwergkrokodil voorkom, tot by Indië en deur Asië tot by Papoea-Nieu-Guinee gevind word. Hulle kom so ver suid as Australië voor en verkies kusstreke met baie wortelbome asook tropiese moerasgebiede, want hulle bou hulle neste naby die water. Die natuurlike nadeel hiervan is dat talle krokodilembrio’s dikwels in vloedwater verdrink. As gevolg van roofdiere, soos die volwasse krokodil, die kleinvinlongvis en die nagreier, oorleef net 50 persent van klein krokodilletjies hulle eerste jaar.
Iets verbasends is dat krokodille met hulle eie kosvoorraad gebore word. Hulle word die eerste paar lewensweke deur ’n dooiersak gevoed wat binne-in hulle liggaam is. Maar sodra hulle moeder hulle versigtig in haar bek tot by die water gedra het, begin hulle hulle snoete oefen deur na enigiets binne hulle bereik te hap.
Waarom is die uitdrukking ‘oë van die rivier’ so gepas? Want selfs kort nadat die kleintjies uitgebroei het, glim hulle ogies reeds rooi in kunsmatige lig in die nag. ’n Lagie kristalle agter die retina verskerp hulle nagtelike gesigsvermoë en veroorsaak die rooi skynsel.
Ja, die krokodil is waarlik ’n interessante reptiel—maar ’n mens moet altyd op ’n veilige afstand bly. En soos enige visserman baie goed weet, is pogings om die krokodil te tem tevergeefs.
Job gee ’n gepaste, digterlike beskrywing van die krokodil: “Kan jy die krokodil met ’n hoek uittrek? En met ’n tou sy tong afdruk? Kan jy ’n tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met ’n haak deurboor? Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde? Sal hy ’n verbond met jou sluit, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem? Sal jy met hom soos met ’n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders? Sal die viskopers met hom handel drywe, hom verdeel onder die koopmans? Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met ’n vissersharpoen sy kop? Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie.”—Job 40:20-27.
Dit is wyse woorde van waarskuwing wat die onbehoedsames en die nuuskieriges maan: Pasop vir die ‘oë van die rivier’—die kragtige, skrikwekkende krokodil!
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Met vriendelike vergunning van Australian International Public Relations
[Prent op bladsy 25]
Wanneer daar snags op die water gelig word, glim krokodiloë, die ‘oë van die rivier’, rooi
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van Koorana Crocodile Farm, Rockhampton, Queensland, Australia
[Prente op bladsy 26]
Links: ’n Krokodilletjie breek skielik uit die eier
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van Koorana Crocodile Farm, Rockhampton, Queensland, Australia
Insetsel: ’n Volwasse krokodil lê en bak in die son op die modderige oewer van die Mary-rivier
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van Australian International Public Relations