Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/8 bl. 11-13
  • Glimlag—Vir ’n krokodil?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glimlag—Vir ’n krokodil?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die groot seekrokodil
  • Toegewyde moeders
  • Die moeraskrokodil en die langneusgaviaal
  • Hulle plek in die ekosisteem
  • Die stryd om oorlewing—nie krokodiltrane nie
  • Onthou om te glimlag!
  • Pasop vir die ‘oë van die rivier’!
    Ontwaak!—1996
  • Krokodille van naderby beskou
    Ontwaak!—1995
  • Die Brakwaterkrokodil—koning van die reptiele
    Ontwaak!—1999
  • Die krokodil se kake
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/8 bl. 11-13

Glimlag—Vir ’n krokodil?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

SAL jy ooit daaraan dink om vir ’n krokodil te glimlag? In ’n musikale weergawe van die kinderverhaal Peter Pan verduidelik die karakter Captain Hook waarom hy sê: “Moet nooit vir ’n krokodil glimlag nie.” Die krokodil, sê hy, is “besig om te dink hoe goed jy in sy vel sal pas”!

Van die talle soorte krokodille wat wêreldwyd voorkom, is daar weliswaar sommige wat mense aanval, maar “dit gebeur so selde . . . dat krokodille nie oor die algemeen as mensvreters beskou kan word nie” (Encyclopædia Britannica). Hoewel party mense krokodille as lelike, vreesaanjaende diere beskou, vind ander hulle fassinerend. Kom ons kyk na die drie soorte wat inheems is in Indië—die seekrokodil, die moeraskrokodil en die gaviaal.

Die groot seekrokodil

Seekrokkodille, oftewel brakwaterkrokodille—die grootste reptiele op aarde—kan meer as sewe meter lank word en tot 1 000 kilogram weeg. Hulle kom slegs in soutwater voor en word aangetref in riviermondings, die see en wortelboommoerasse langs die kus vanaf Indië ooswaarts na Fidji. Hulle is karnivore en eet rotte, paddas, visse, slange, krappe, skilpaaie en wildsbokke—maar net in klein hoeveelhede; groot mannetjies eet gemiddeld net 500 tot 700 gram kos per dag. Weens hulle luilekker lewenstyl van in die son lê en bak of in die water dryf tesame met hulle doeltreffende spysverteringstelsel, het hulle nie baie energie nodig nie. ’n Groot seekrokodil sal van tyd tot tyd ’n onbehoedsame persoon aanval. Seekrokodille swem deur hulle stert van kant tot kant te beweeg terwyl hulle hele liggaam, behalwe die neusgate en oë, onder die water is, en hulle loop op hulle kort bene. Hulle kan opspring om kos te vang en dit is bekend dat hulle soms agter prooi aan hardloop. Soos alle ander krokodille is hulle reuksin, gesigsvermoë en gehoor goed. Gedurende die paartyd is die mannetjie uiters territoriaal, en die wyfie is net so gevaarlik wanneer sy haar eiers oppas.

Toegewyde moeders

Die wyfiekrokodil bou ’n nes naby die water, wat gewoonlik uit ’n hoop verrottende plantmateriaal en modder bestaan. Sy lê tot 100 harde, ovaalvormige eiers, waarna sy hulle toemaak en teen roofdiere beskerm. Dan spat sy water oor die nes om die plantmateriaal vinniger te laat verrot, wat die temperatuur laat styg en die eiers laat uitbroei.

Nou vind iets interessants plaas. Die temperatuur waarteen elke eier uitbroei, bepaal die geslag van die kleintjie. Stel jou dit voor! Wanneer die temperatuur tussen 28 en 31 grade Celsius is, broei daar binne ongeveer 100 dae wyfies uit; wanneer die temperatuur daarenteen 32,5 grade Celsius is broei daar binne 64 dae mannetjies uit. Eiers wat teen ’n temperatuur van 32,5 tot 33 grade Celsius uitbroei, kan albei geslagte oplewer. ’n Nes wat so gebou is dat die een kant langs die water is en die ander kant na die warm son wys, kan mannetjies aan die warm kant en wyfies aan die koeler kant oplewer.

Wanneer die moeder tjirpgeluide hoor, verwyder sy die nesbedekking, en soms breek sy die eiers as die kleintjies dit nie reeds met hulle spesiale eiertand gedoen het nie. Sy tel hulle baie versigtig in haar groot kake op en dra hulle in ’n sak onder haar tong na die oewer. Hulle is reeds by geboorte onafhanklik en begin onmiddellik insekte, paddas en klein vissies jag. Maar sommige beskermende moeders bly etlike maande lank naby die kleintjies en skep “kinderkamers” in die moeras waar die mannetjie ook die kleintjies kan oppas en beskerm.

Die moeraskrokodil en die langneusgaviaal

Die moeraskrokodil en die gaviaal kom slegs op die Indiese subkontinent voor. Die vier meter lange moeraskrokodil—wat in varswatermoerasse, mere en riviere oral in Indië aangetref word—is heelwat kleiner as die seekrokodil. Hy vang klein diere in sy kragtige kake, versuip hulle en ruk hulle rond om kleiner stukke vleis af te skeur.

Hoe vind moeraskrokodille mekaar om te paar? Wanneer die mannetjie na ’n maat soek, slaan hy sy kake op die water en knor. Later sal hy die wyfie help om die nes op te pas, die kleintjies help om uit die eiers te kom en ’n ruk lank by hulle bly.

Die seldsame gaviaal, wat nie ’n ware krokodil is nie, is in verskeie opsigte uniek. Hy kan maklik uitgeken word aan sy uiters lang, smal kake, wat ideaal is om vis—waaruit sy dieet hoofsaaklik bestaan—mee te vang. Hoewel die gaviaal net so lank soos die seekrokodil is, is hy nie daarvoor bekend dat hy mense aanval nie. Sy gladde, vaartbelynde liggaam stel hom in staat om vinnig in die diep, snelvloeiende riviere van Noord-Indië te beweeg. Die mannetjiegaviaal kry gedurende die paartyd ’n bolvormige knop aan die punt van sy snoet. Dit versterk die sisgeluid wat hy gewoonlik maak, sodat dit soos ’n harde gegons klink wat die wyfies lok.

Hulle plek in die ekosisteem

Hoe belangrik is krokodille vir ons omgewing? Hulle is aasvreters en verwyder dooie visse en diere uit riviere en mere asook die omliggende omgewing. Dit help om die waterstelsel skoon te hou. As roofdiere vang hulle gewoonlik swak, beseerde en sieklike diere. Hulle eet vis, soos die skadelike baber, wat lewe van karp en tilapia, belangrike kommersiële vissoorte wat vir menslike gebruik gevang word.

Die stryd om oorlewing—nie krokodiltrane nie

Het jy al ooit mense hoor sê dat iemand krokodiltrane huil? Dit beteken dat sy trane en hartseer nie opreg is nie. ’n Krokodil raak in werklikheid deur middel van sy trane van oortollige sout ontslae. Maar in die vroeë 1970’s kon opregte trane vir die krokodil gestort word. Daar was slegs ’n paar duisend krokodille in Indië oor, ongeveer 10 persent van wat daar vroeër was. Waarom? Toe mense meer en meer van hulle habitat oorgeneem het, is krokodille doodgemaak omdat hulle as ’n bedreiging vir jong en swak plaasdiere beskou is. Vir talle mense was die vleis en die eiers van die krokodil baie lekker. Krokodille se muskuskliere is gebruik om parfuum mee te maak. Toe was daar ook nog dambouprojekte en waterbesoedeling wat die krokodilbevolking kleiner laat word het. Maar wat hulle miskien tot op die randjie van uitwissing gebring het, was die vraag na hulle vel. Skoene, handsakke, tasse, belde en ander artikels wat van krokodilvel gemaak word, is pragtig, duursaam en baie begeerlik. Hierdie bedreigings bestaan nog, maar bewaringsmaatreëls was baie suksesvol!—Sien die venster hieronder.

Onthou om te glimlag!

Hoe voel jy oor die krokodil noudat jy sommige lede van die krokodilfamilie beter leer ken het? Ons hoop dat ons jou nuuskierigheid geprikkel het en dat jy nie meer ’n negatiewe beskouing oor hierdie dier het nie. Wêreldwyd sien baie diereliefhebbers uit na die tyd wanneer hulle selfs nie meer die groot seekrokodil sal hoef te vrees nie. Wanneer die Een wat reptiele geskep het, die aarde hernieu, sal ons vir alle krokodille kan glimlag.—Jesaja 11:8, 9.

[Venster/Prent op bladsy 13]

Die Madras-krokodilbank

In 1972 is ’n krokodilbewaringsprogram by die Madras-slangpark begin, nadat ’n opname getoon het dat daar baie min krokodille in sommige dele van Asië in die natuur oor was. Die Madras-krokodilbank is die oudste en grootste van die meer as 30 reptielsentrums in Indië. Dit is in 1976 deur die herpetoloog Romulus Whitaker gestig. Dit beslaan 3,5 hektaar langs die Coromandel-kus, en 150 boomsoorte kom daar voor, wat pragtige voëls en insekte lok.

Krokodille en gaviale word in aanhouding geteel en dan in moerasse en riviere vrygelaat, of hulle word na ander teel- en navorsingsentrums oorgeplaas. Die bank het ’n spesiale area waar babakrokodille, tot 2 500 op ’n slag, in poele gehou word en van opgekapte vis lewe wat daagliks deur plaaslike vissermanne voorsien word. Nette oor die poele keer dat voëls die vis steel of die swak babareptiele vang. Wanneer die kleintjies groter word, word hulle na groter poele oorgeplaas, waar hulle heel visse gevoer word totdat hulle ongeveer drie jaar oud en tussen 1,25 en 1,5 meter lank is. Dan word hulle beesafval gevoer wat van ’n groot vleisverwerkingsmaatskappy kom. Die bank het oorspronklik slegs met die 3 soorte krokodille geteel wat inheems in Indië is, maar dit het nou nog 7 spesies bygekry en beplan om uiteindelik alle bekende spesies in die wêreld aan te hou. Daar is al oorweeg om kommersieel met die reptiele te boer vir hulle vel en vleis. Whitaker het aan Ontwaak! vertel dat die reptiele se vleis smaaklik en laag in cholesterol is. Suksesvolle bewaring het hierdie merkwaardige diere wat amper uitgewis is, tot so ’n mate gehelp dat daar nou amper te veel van hulle is. Die Madras-krokodilbank, wat ’n gewilde toeristeaantreklikheid is, wil ook wanopvattings oor krokodille uit die weg ruim en hulle openbare beeld verbeter.

[Erkenning]

Romulus Whitaker, Madras Crocodile Bank

[Prent op bladsy 11]

’n Groot seekrokodil

[Prent op bladsy 12]

’n Wyfieseekrokodil dra een van haar kleintjies in haar kake

[Erkenning]

© Adam Britton, http://crocodilian.com

[Prent op bladsy 12]

Moeraskrokodil

[Erkenning]

© E. Hanumantha Rao/Photo Researchers, Inc.

[Prent op bladsy 12]

Langneusgaviaal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel