Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 1/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Stille slagting”
  • Skadeliker as sigarette
  • Die uitwerking van geletterdheid op moeders
  • Geskokte vertroue
  • Gesinslewe gaan agteruit
  • Gevare van internasionale huweliksbemiddeling
  • Reisnaarheid
  • Lugbesoedeling in Frankryk vererger
  • Spraaksteurnisse onder kinders
  • Waardeer vroue en die werk wat hulle doen
    Ontwaak!—1998
  • Die uitdagings van moederskap
    Ontwaak!—2002
  • Kinders—Bates of laste?
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 1/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Stille slagting”

Volgens Oxfam, ’n vername liefdadigheidsorganisasie vir ontwikkeling, is die lyding van die wêreld se armes ernstig genoeg om dit ’n “stille slagting” te noem, sê die Britse koerant Guardian Weekly. In ’n verslag wat ’n vyf jaar lange veldtog gelanseer het om die wêreld se armes te help, het Oxfam bevind dat ’n vyfde van die wêreldbevolking in die 50 armste lande woon. Daardie selfde lande het gesien hoe hulle deel van die wêreldinkomste tot ’n skrale 2 persent daal. Die kloof tussen die rykes en die armes in lande neem ook toe. Mexiko het byvoorbeeld ’n ernstige finansiële krisis en wydverspreide armoede ondervind, maar het terselfdertyd die vinnigste toename in die getal multimiljoenêrs gesien. ’n Oxfam woordvoerder sê: “Dit lyk asof wêreldleiers en die VN die spoor . . . byster geraak het. Ons het ’n nuwe toekomsblik vir ’n nuwe millennium nodig.”

Skadeliker as sigarette

Dit is die slotsom waartoe ’n parlementêre komitee in Indië gekom het aangaande die bidi, wat ook die armmansigaret genoem word. Daar word geskat dat viermiljoen mans, vrouens en kinders elke dag oor die 300 miljoen bidi’s vervaardig deur tabakstof in tendu-blare toe te draai en die rolletjie met gare vas te bind. Volgens The Times of India toon ’n onlangse verslag dat die kankerwekkende potensiaal van die bidi twee en ’n half keer groter is as dié van sigarette, dat dit silikose en tuberkulose kan veroorsaak en dat dit 47 persent teer en 3,7 persent nikotien bevat vergeleke met die Indiese standaardsigaret wat 36 persent teer en 1,9 persent nikotien bevat. Nie net rokers verkeer in gevaar nie. Die miljoene mense wat die bidi’s maak, werk gewoonlik lang ure onder onhigiëniese toestande en asem die tabakstof in swak belugte hutte in. Dit is veral die kinderarbeiders wat ly.

Die uitwerking van geletterdheid op moeders

Deskundiges op die gebied van openbare gesondheid huldig al lank die mening dat kinders in ontwikkelende lande ’n beter kans op oorlewing het as hulle moeders geletterd is—maar hulle kon leesvermoë op sigself nog nooit as ’n beslissende faktor uitsonder nie. Volgens die tydskrif New Scientist is ’n studie wat in Nicaragua gedoen is “die eerste om te bewys dat die geletterdheid van vroue ’n regstreekse uitwerking op hulle kinders se gesondheid het”. Tydens die studie is ongeletterde vroue bestudeer wat tussen 1979 en 1985 as volwassenes aan Nicaragua se grootskaalse lees-en-skryf-program deelgeneem het. In die laat sewentigerjare was die sterftesyfer van die kinders van ongeletterde moeders ongeveer 110 sterftes per 1000 lewendgeborenes. Teen 1985 het die sterftesyfer van die kinders wie se moeders in die program leer lees en skryf het tot 84 per duisend gedaal. Hulle kinders is ook beter gevoed. Deskundiges is nog onseker waarom die kinders van geletterde moeders soveel beter daaraan toe is.

Geskokte vertroue

Die dorpie Chesterfield-inham in die Hudson-baai in Kanada se Noordwestelike Gebiede is geruk deur aantygings oor die wydverspreide mishandeling en molestering van skoolkinders. Volgens die tydskrif Maclean’s het ’n onafhanklike verslag wat onlangs deur die regering vrygestel is gevalle gemeld van Innuït-boorlingkinders wat in die vyftiger- en sestigerjare oor ’n tydperk van 17 jaar by die Sir Joseph Bernier- Federale Dagskool en by ’n aangrensende koshuis wat deur die Katolieke Kerk bestuur word, gemolesteer asook mishandel is. Die polisie het ’n 21 maande lange ondersoek van 236 klagte van misbruik voltooi en besluit om nie ’n aanklag in te dien nie—in sommige gevalle omdat die termyn onder die verjaringswet verstryk het; in ander gevalle omdat die vermeende skuldiges bejaard of selfs dood is; in nog ander omdat party van die voormalige leerlinge nie die oortreders met sekerheid kon identifiseer nie. Maclean’s het gesê: “Hoewel die verloop van tyd dit beslis moeiliker gemaak het om die vermeende oortreders te straf, het dit nie die slagoffers se pyn uitgewis nie.”

Gesinslewe gaan agteruit

Hoe vaar gesinslewe deesdae? Volgens die Verenigde Nasies se Departement van Openbare Inligting bring vaders wêreldwyd gemiddeld minder as ’n uur per dag alleen met hulle kinders deur—in Hongkong is dit gemiddeld net ses minute. Enkelouerskap neem toe. In 1990 was die helfte van alle geboortes in die Verenigde Koninkryk aan ongetroude moeders. Gesinsgeweld neem ook toe. Daar word geraam dat 4 persent van die kinders wat in die Verenigde State en Wes-Europa woon elke jaar ernstige geweld tuis ervaar. Bejaardes ondervind ook probleme. Die VN-berig sê: “Selfs in die sogenaamd ‘ontwikkelde’ lande van die Europese Unie leef een vyfde van die bejaardes in betreklike armoede, dikwels afgesonderd in stadsghetto’s sonder die ondersteuning van ’n uitgebreide familiestruktuur.”

Gevare van internasionale huweliksbemiddeling

Die groter vryheid om van Oos-Europa na Wes-Europa te reis, het ’n onsmaaklike neweproduk opgelewer: internasionale huweliksbemiddeling. Na raming het 15 000 vroue sedert 1991 as posbestellingsbruide van Oos-Europa na Wes-Europa gegaan. Baie vroue leef in armoede en droom van ’n beter lewe, en daarom beantwoord hulle ’n advertensie van ’n huweliksbemiddelingsburo. Alte dikwels verander die droom in ’n nagmerrie wanneer ’n vrou haar alleen in ’n vreemde land en in die mag van ’n wrede man bevind. ’n Poolse bruid is so erg deur haar man in Duitsland geslaan dat sy na die woud gevlug het en twee dae lank daar in ysige weer weggekruip het. Weens vriesbrand moes haar linkervoet en haar regterbeen afgesit word. Die Engelse koerant Guardian Weekly het gesê: “Talle van die huweliksbemiddelingsburo’s dien ook as prostituutsindikate. Hulle lok vroue vanuit die buiteland en dwing hulle dan in bordele in. Dié wat weerstand bied, word oor die algemeen doodgemaak.”

Reisnaarheid

Ondervind jy reisnaarheid? Indien wel, is jy nie die enigste een nie. Altesaam 9 uit elke 10 mense is in meerdere of mindere mate geneig tot reisnaarheid, berig die International Herald Tribune. Honde, veral jong hondjies, is ook vatbaar daarvoor. Selfs visse kan seesiek word wanneer hulle per boot op ’n onstuimige see vervoer word! Wat is die oplossing? Baie mense wend hulle tot geneesmiddels, wat by die meeste apteke gekoop kan word. Hier is ander wenke wat dalk kan help: Moenie in ’n bewegende voertuig lees nie. Sit waar die voertuig die minste skud—byvoorbeeld op die voorste sitplek of oor die vlerk van ’n vliegtuig. Hou jou oë gerig op voorwerpe in die verte, soos die horison. As jy dit nie wil doen nie, kan jy jou oë toemaak.

Lugbesoedeling in Frankryk vererger

Ten spyte van doelbewuste pogings om lugbesoedeling te bekamp, vererger dit en hou dit ernstige gesondheidsgevare in vir miljoene wat in Parys en ander Franse stede woon. Hoewel swaar industrieë in die verlede die hoofoorsaak was, is motorvoertuie vandag verantwoordelik vir 80 persent van die lugbesoedeling in stede. Sedert 1970 het die aantal voertuie in Frankryk verdubbel en van 12 miljoen tot 24 miljoen toegeneem, met 3,2 miljoen net in die omgewing van Parys. Die Paryse koerant Le Monde sê dat ’n onlangse regeringstudie getoon het dat daar vir elke toename in die gifgasvlak in die omgewing van Parys ’n ooreenstemmende toename in die aantal sterftes en in hospitalisasie weens asemhalingsiektes was. Tot dusver is daar nog nie juis daadwerklik opgetree nie. Blykbaar is die politici bang dat hulle kiesers wat motorbestuurders is ontevrede sal wees met enige maatreëls wat streng genoeg is om doeltreffend te wees.

Spraaksteurnisse onder kinders

Navorsers by die Universiteitskliniek vir Spraaksteurnisse in Mainz, Duitsland, het gevind dat elke vierde kind van voorskoolse ouderdom ’n spraaksteurnis het. “Ek kon die syfer nie glo nie”, het professor Manfred Heinemann, die direkteur van die kliniek, erken. Die mediese personeel het toetse op drie- en vierjarige kinders gedoen en gevind dat tussen 18 en 34 persent spraaksteurnisse het. In 1982 was die ooreenstemmende syfer net vier persent. Waarom die toename? “Gesinne kyk te veel TV en gesels te min”, berig die Duitse koerant Der Steigerwald-Bote. Dit lyk asof video’s, die TV en rekenaarspeletjies in baie gesinne die rol van die ouers oorneem. Navorsers het opgemerk dat party kinders wat skaars kon praat nietemin “blitsvinnig” met rekenaarspeletjies was.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel