Die uitdagings van moederskap
Moederskap is ’n ingewikkelde en wonderlike ondervinding. Moeders geniet kosbare oomblikke wat hulle vir niks ter wêreld sal verruil nie. Tog voel party soms dat hulle op die randjie van ’n ineenstorting is. Helen vergelyk haar lewe as ’n moeder met ’n hinderniswedloop. En dit lyk of die hindernisse met verloop van tyd meer en hoër word.
Moeders offer moontlik vrye tyd en ’n groot deel van hulle sosiale lewe op om seker te maak dat hulle kinders goed versorg word. “Ek moet altyd beskikbaar wees”, sê Esther, ’n moeder van vyf. “Ek het ’n ontspannende bad vir ’n vinnige stort verruil, en romantiese etes vir disse wat in die mikrogolfoond gesteek kan word. Daar is reise wat ek nie onderneem het nie, plekke wat ek nie gesien het nie en dinge wat ek nie gedoen het nie. Maar die wasgoed is gewas en opgevou!”
Die meeste moeders sal natuurlik ook praat van die unieke oomblikke van vreugde wat hulle ondervind terwyl hulle hulle kinders grootmaak. Esther sê: “Die glimlag wat jy nou en dan kry, die oulike ‘Dankie Mammie’ en die hartlike drukkies—dit is wat ’n mens aan die gang hou.”a
Moeders betree die arbeidsmark
’n Groot uitdaging wat moederskap moeilik maak, is die feit dat baie vrouens tradisionele gesinsverantwoordelikhede nakom terwyl hulle ook moet werk om die gesin geldelik te help onderhou. Baie van hierdie moeders wil nie graag weg van die huis af werk nie, maar hulle moet. Hulle weet dat hulle gesin, en veral hulle kinders, baie dinge ontsê sou word as hulle by die huis bly. Hulle salarisse—wat dikwels laer is as dié van mans wat soortgelyke werk doen—is baie belangrik.
In Sao Paulo, Brasilië, is 42 persent van die werkers byvoorbeeld vrouens. ’n Koerant daar het moeders wat voltyds kinders grootmaak, ’n “bedreigde spesie” genoem. In die plattelandse gebiede van Afrika is dit iets alledaags om ’n moeder te sien met ’n bondel brandhout op haar kop en ’n kind wat op haar rug vasgemaak is.
Die veeleisende werksplek
Die arbeidsmark dra tot die uitdagings by deur dalk te vereis dat moeders lang ure werk. En dit is moontlik nie al wat vereis word nie. Toe Maria, wat in Griekeland woon, in diens geneem is, het haar werkgewer haar gevra om ’n dokument te onderteken waarin sy belowe het dat sy drie jaar lank nie swanger sou raak nie. As sy swanger sou raak, sou sy vergoeding moes betaal. Maria het die dokument onderteken. Maar sowat een en ’n half jaar later het sy swanger geraak. Maria se werkgewer het toe die dokument vir haar gewys, waarop sy ’n hofsaak gemaak het om haar maatskappy se beleid te betwis, en sy wag nou vir die beslissing.
In minder ernstige gevalle oefen werkgewers dalk druk op moeders uit om so gou moontlik ná die geboorte terug te gaan werk toe. Gewoonlik word werksure nie verminder nadat hulle teruggegaan het nie. Die feit dat hulle nou verantwoordelikhede teenoor ’n klein babatjie het, word dus glad nie in ag geneem nie. Hulle kan nie baie verlof neem sonder om in geldelike moeilikheid te beland nie. Moeders het moontlik ook te kampe met swak kindersorgfasiliteite en ontoereikende staatshulp.
Aan die ander kant werk party moeders nie omdat hulle die geld nodig het nie, maar omdat dit hulle bevrediging verskaf. Sandra het besluit om ná die geboorte van elkeen van haar twee kinders terug te gaan werk toe. Sy vertel dat sy, wanneer sy skielik alleen by die huis was met ’n baba, “soms by die venster gestaan en uitstaar het en gewonder het wat die res van die wêreld doen”. En party moeders probeer die spanning van die gesinslewe ontvlug deur te gaan werk. Brittanje se Daily Telegraph het berig: “Party ouers wil bykomende ure in die betreklike kalmte van die werk deurbring. Dit lei tot ’n bose kringloop, omdat hulle nog minder tyd deurbring saam met kinders wat al hoe onverskilliger en aggressiewer word en hulle aan afwykender gedrag skuldig maak.”
’n Ewewigstoertjie
Dit is nie maklik om jou werk en huis in ewewig te hou nie. ’n Moeder in Nederland het die gevoelens van baie uitgespreek toe sy gesê het: “Moeg, moeg, moeg. Ek word selfs moeg wakker. Wanneer ek van die werk af by die huis kom, oorweldig die moegheid my. Die kinders sê reeds: ‘Ma is altyd moeg’, en dit laat my skuldig voel. Ek wil nie van die werk af wegbly nie, maar ek wil ook die gesellige moeder wees wat alles kan doen. Maar ek is nie die volmaakte voorbeeld wat ek graag wil wees nie.”
Sy is een van die miljoene werkende moeders wat die beskouing aanvaar het dat ‘kwaliteitstyd’ saam met die kinders gedeeltelik vir gereelde afwesigheid kan vergoed—en wat gevind het dat dit nie waar is nie. Baie moeders van vandag sê dat hulle oorwerk, oorspanne en onderbetaal is terwyl hulle die druk van die werk met die huislike verantwoordelikhede in ewewig probeer hou.
Wanneer vrouens lang ure weg van hulle kinders af deurbring, kry die kinders nie wat hulle die nodigste het nie—hulle moeder se tyd en aandag. Fernanda A. Lima, ’n kindersielkundige van Brasilië, sê dat niemand ’n moeder se rol so goed soos ’n moeder kan vervul nie. “Die eerste twee jaar in ’n kind se lewe is die belangrikste”, sê sy. “Die kind is nog te jonk om te verstaan waarom die moeder nie daar is nie.” ’n Plaasvervanger kan gedeeltelik in ’n kind se behoefte aan sy moeder voorsien, maar kan nie haar plek inneem nie. “Die baba voel aan dat hy nie sy moeder se liefdevolle sorg kry nie”, sê Lima.
Kathy, ’n moeder wat voltyds werk en ’n klein dogtertjie het, het gesê: ‘Ek het so vreeslik skuldig gevoel, asof ek haar in die steek laat wanneer ek haar [by die bewaarskool] aflaai. Dis nie lekker om te weet dat jy die geleentheid laat verbygaan om te sien hoe jou kind groei en ontwikkel nie, en dis baie vreemd om te dink dat sy gehegter is aan die bewaarskool as aan jou.’ ’n Lugwaardin in Mexiko het gesê: “Na verloop van tyd erken jou kind nie jou gesag nie, hy respekteer jou nie, bloot omdat jy hom nie grootmaak nie. Hulle weet dat jy hulle moeder is, maar skielik verkies hulle om by die vrou te wees wat na hulle kyk.”
Aan die ander kant sê voltydse moeders wat by die huis bly om na hulle kinders te kyk, dat daar op hulle neergesien word deur ’n samelewing wat betaalde werk verheerlik. In party gemeenskappe word dit nie meer as ’n eervolle werk beskou om ’n huisvrou te wees nie, en daarom word druk op vrouens uitgeoefen om hulle eie loopbaan te hê, selfs as die ekstra inkomste nie nodig is nie.
Sy swoeg alleen
Nog iets wat tot die uitdagings van moederskap bydra, is hierdie feit: ’n Moeder kom by die huis, moeg ná ’n volle dag se werk, en sy kan nie gaan rus nie, maar moet nog die daaglikse huiswerk doen. Hetsy moeders sekulêre werk doen of nie, hulle word dikwels nog steeds gesien as dié wat hoofsaaklik vir die huishouding en die kinders verantwoordelik is.
Hoewel al hoe meer moeders langer ure werk, vergoed vaders nie altyd daarvoor nie. The Sunday Times van Londen het geskryf: “Brittanje is ’n nasie met vaders wat nie daar is nie, volgens nuwe navorsing wat toon dat mans maar net 15 minute per dag saam met hulle kinders deurbring. . . . Baie mans geniet dit nie juis om tyd saam met hulle gesin deur te bring nie. . . . In vergelyking daarmee sal die Britse werkende moeder 90 minute per dag saam met haar kinders deurbring.”
Party mans kla dat dit vir hulle vrou moeilik is om werk aan iemand anders oor te laat, omdat sy alles gedoen wil hê soos sy daaraan gewoond is. “Anders doen jy dit verkeerd”, sê die mans. As ’n moeë huisvrou natuurlik graag haar man se samewerking wil hê, sal sy dalk bereid moet wees om toegewings te maak wanneer dit kom by die manier waarop sekere huishoudelike takies verrig moet word. Aan die ander kant moet die man nie dié argument gebruik as ’n verskoning om niks te doen nie.
Nog uitdagings
Diepgewortelde tradisies kan ook tot die uitdagings bydra. In Japan word daar van moeders verwag om hulle kinders groot te maak soos ander in dieselfde ouderdomsgroep grootgemaak word. As ander kinders klavier- of skilderlesse neem, voel ’n moeder verplig om haar kinders dieselfde te laat doen. Skole oefen druk op ouers uit om hulle kinders aan dieselfde buitemuurse bedrywighede as die ander kinders te laat deelneem. Dié wat nie die stroom volg nie, word moontlik deur kinders, onderwysers, ander ouers en familielede bespot. Dit is ook in ander lande die geval.
Die advertensie- en verbruikerswese kan kinders veeleisend maak. In ontwikkelde lande dink moeders dalk dat hulle die kinders moet gee wat hulle wil hê, omdat hulle sien dat ander moeders dit doen. As hulle nie kan nie, voel hulle moontlik dat hulle misluk het.
Hierdie bespreking van hedendaagse moederskap moenie die sukses versluier van miljoene hardwerkende, selfopofferende moeders wat hulle bes doen om een van die edelste strewes te volbring nie—die strewe om die toekomstige geslagte van die mensdom groot te maak. Dit is ’n voorreg. Die Bybel sê: “Kinders is ’n seën en ’n geskenk van die HERE” (Psalm 127:3, Contemporary English Version). Miriam, ’n moeder van twee, druk die gevoelens van hierdie moeders goed uit wanneer sy sê: “Ondanks die uitdagings het moederskap ongeëwenaarde vreugdes. Dit verskaf ons as moeders bevrediging wanneer ons sien dat ons kinders gehoor gee aan die opleiding en dissipline wat hulle ontvang en verantwoordelike lede van die samelewing word.”
Wat kan moeders help om hulle geskenk meer te geniet? Die volgende artikel sal ’n paar praktiese wenke gee.
[Voetnoot]
a In hierdie artikels is getroude moeders onder bespreking. In die toekoms sal die Ontwaak! die uitdagings van enkel- en ongetroude moeders bespreek.
[Venster op bladsy 6]
“Moedersdag”
Nypende armoede, ’n gebrek aan skoolopleiding, onverantwoordelike manlike maats, gereelde mishandeling en die vigs-epidemie teister moeders in Suider-Afrika. Op ’n onlangse Moedersdag het ’n Suid-Afrikaanse koerant, The Citizen, berig: “Duisende vroue sal op Moedersdag deur hulle maat mishandel word, en party sal hulle lewe verloor.” Hierdie probleme lei daartoe dat duisende Suid-Afrikaanse moeders elke jaar hulle babas weggooi. In ’n onlangse tydperk van twee jaar was daar ’n vermeerdering van 25 persent in die aantal babas wat weggegooi word. ’n Groter probleem is die toenemende aantal vroue wat selfmoord pleeg. ’n Ruk gelede het ’n vrou uit ’n armoedige gebied haar drie kinders teen haar bors vasgedruk terwyl sy voor ’n aankomende trein gestaan het. Al vier is dood. Party moeders wend hulle tot prostitusie en verkoop dwelms of spoor hulle dogters aan om dit te doen sodat hulle die pot aan die kook kan hou.
Uit Hongkong word berig dat “party jong moeders hulle baba doodmaak wanneer hulle geboorte gee of die baba in ’n asblik gooi, aangesien hulle nie die spanning kan verwerk nie”. Volgens die South China Morning Post verkeer party jonger getroude vrouens in Hongkong “nou onder soveel spanning [dat] hulle geestesgesondheid in so ’n mate kan agteruitgaan dat hulle selfmoord pleeg”.
[Venster op bladsy 7]
Moederskap in verskillende lande
So min tyd
❖ ’n Opname in Hongkong het aan die lig gebring dat 60 persent van die werkende moeders meen dat hulle nie genoeg tyd aan hulle kinders afstaan nie. En 20 persent van die kinders van drie jaar en jonger wie se ouers werk, woon gedurende die werkweek weg van hulle huis af, gewoonlik by grootouers.
❖ Vrouens in Mexiko bestee ongeveer 13 jaar van hulle lewe daaraan om vir minstens een kind jonger as vyf jaar te sorg.
Moeders en werk
❖ In Ierland bly 60 persent van die vrouens by die huis om na die kinders om te sien. In Griekeland, Italië en Spanje doen nagenoeg 40 persent van die vrouens dieselfde.
Hulp met huishoudelike takies
❖ In Japan het 80 persent van die huisvrouens gesê dat hulle wens ’n gesinslid wil hulle met huishoudelike takies help, veral wanneer hulle siek is.
❖ In Nederland bring mans ongeveer 2 uur per dag saam met die kinders deur en bestee 0,7 uur aan huishoudelike takies. Vrouens bring ongeveer 3 uur saam met die kinders deur en bestee 1,7 uur aan huishoudelike takies.
Gespanne moeders
❖ In Duitsland voel meer as 70 persent van die moeders gespanne. Sowat 51 persent het probleme met hulle ruggraat en tussenwerwelskywe. Meer as ’n derde is heeltyd moeg en neerslagtig. Bykans 30 persent ly aan hoofpyn of migraine.
Mishandelde moeders
❖ In Hongkong het 4 persent van die vrouens onder wie ’n opname gedoen is, gesê dat hulle tydens hulle swangerskap mishandel is.
❖ Volgens ’n opname deur die tydskrif Focus in Duitsland het bykans 1 moeder uit 6 erken dat haar kind haar al minstens een keer fisies aangeval het.
[Prente op bladsy 7]
Moederskap kan ’n groot uitdaging wees, aangesien talle vrouens hulle werk en gesinslewe in ewewig moet hou