Die Bybelse beskouing
Wat om te doen wanneer jy ander te na kom
IETS is fout. Jy weet dit net. Jou Christenbroer vermy jou doelbewus. Hy sê nie wat dit is wat hom pla nie, maar hy sê skaars hallo—en dan net as jy hom eerste groet! Moet jy hom nader om uit te vind wat fout is?
‘Dis sy probleem’, dink jy dalk. ‘As hy iets teen my het, moet hy met my daaroor kom praat.’ Trouens, die Bybel moedig iemand wat te na gekom is aan om die eerste stap te doen om vrede met sy broer te maak. (Vergelyk Matteus 18:15-17.) Maar wat van die een wat hom te na gekom het? Watter verantwoordelikheid het hy, indien enige?
In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). Let daarop dat Jesus se woorde gemik is op die persoon wat iemand te na gekom het. Watter verantwoordelikheid het hy om die saak op te los? Om die antwoord te kry, kom ons kyk wat Jesus se woorde vir sy eerste-eeuse Joodse luisteraars beteken het.
‘As jy jou gawe na die altaar bring’
Jesus skilder hier ’n baie duidelike prentjie: ’n Joodse aanbidder het na Jerusalem gekom vir een van die jaarlikse feeste. Hy het ’n offergawe—waarskynlik ’n dier—om aan Jehovah te offer.a ’n Offer was allesbehalwe ’n betekenislose ritueel. Die boek Judaism—Practice and Belief verduidelik: “Wanneer jy vet, smetlose slagoffers gekies het, gesien het hoe hulle deur deskundiges ondersoek word, saam met hulle tot ’n paar voet [meter] van die brandende altaar af geloop het, hulle oorhandig het, jou hande op hulle hoof gelê het, onreinheid of skuld bely het, of die dier andersins toegewy het, sy keel afgesny het of dit selfs net vasgehou het—dit alles het die betekenis en ontsagwekkendheid van die oomblik gewaarborg. . . . Niemand wat geglo het dat God die hele diens beveel het . . . kon dit deurmaak sonder om daardeur meegevoer te raak nie.”
Jesus se woorde in Matteus 5:23, 24 voer sy luisteraars dus weg na ’n oomblik wat vir die Joodse aanbidder met betekenis en ontsag vervul is. Een Bybelkenner beskryf die toneel soos volg: “Die aanbidder het reeds die Tempel binnegegaan; hy het deur die reeks voorhowe gegaan, die Voorhof van die Heidene, die Voorhof van die Vroue, die Voorhof van die Manne. Aan die ander kant daarvan was die Voorhof van die Priesters waarin die gewone mense nie kon ingaan nie. Die aanbidder staan by die reling, gereed om sy slagoffer aan die priester te oorhandig; sy hande is op [die dier se kop] om te bely.”
Op daardie kritieke oomblik onthou die aanbidder dat sy broer iets teen hom het. Dit kan wees dat sy gewete dit vir hom sê, of dit kan wees dat hy as gevolg van sy broer se gesindheid teenoor hom agtergekom het dat daar ’n gevoel van ergernis is. Wat staan hom te doen?
“Laat staan jou gawe . . . en gaan weg”
“Laat staan jou gawe daar voor die altaar”, verduidelik Jesus, “en gaan weg.” Waarom? Wat kan op daardie oomblik belangriker wees as om ’n offer aan Jehovah te bring? “Maak eers vrede met jou broer”, verduidelik Jesus verder, “en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.” Die aanbidder los dus sy offergawe lewend by die brandofferaltaar en gaan soek na sy broer wat hy te na gekom het.
Aangesien dit ’n fees is, is die broer wat te na gekom is ongetwyfeld onder die pelgrims wat na Jerusalem gestroom het. Met nou straatjies en huise wat styf teen mekaar ingeryg staan, het Jerusalem ’n aansienlike bevolking. Maar dit is ’n feestyd en die stad is stampvol besoekers.b
Selfs as mense van dieselfde dorp saam gereis en gebly het, sou dit taamlike moeite kos om in die stampvol stad na iemand te soek. Gedurende die Huttefees het besoekers byvoorbeeld hutte oral in die stad en in die strate en tuine rondom Jerusalem gebou (Levitikus 23:34, 42, 43). Die Joodse aanbidder moet nogtans na sy broer wat te na gekom is, soek totdat hy hom vind. Wat dan?
‘Maak vrede met jou broer’, sê Jesus. Die Griekse uitdrukking wat met “maak vrede” weergegee word, kom van ’n werkwoord (di·al·lasʹso) wat beteken “‘om ’n verandering te bewerkstellig, om te verruil’ en gevolglik ‘te versoen’”. Nadat hy aansienlike moeite gedoen het om sy broer wat hy te na gekom het te vind, probeer die Joodse aanbidder om met hom vrede te maak. Dan, sê Jesus, kan hy terugkeer na die tempel en sy offer bring, want God sal dit nou aanneem.
Ons leer dus ’n baie belangrike les uit Jesus se woorde in Matteus 5:23, 24: Versoening, of vrede, is van groter belang as offers. Die manier waarop ons ons medeaanbidders behandel, het ’n direkte invloed op ons verhouding met God.—1 Johannes 4:20.
Wat om te doen wanneer jy ander te na kom
Sê nou jy bevind jou in ’n situasie soos die een wat aan die begin van hierdie artikel genoem is—jy voel aan dat jy ’n medeaanbidder te na gekom het? Wat moet jy doen?
Pas Jesus se raad toe, en neem die inisiatief om jou broer te nader. Met watter doel? Om hom te oortuig dat hy geen rede het om te voel dat hy te na gekom is nie? Hoegenaamd nie! Die probleem kan groter as ’n blote misverstand wees. ‘Maak vrede’, sê Jesus. Verwyder, indien moontlik, kwade gevoelens uit sy hart (Romeine 14:19). Met dié doel sal jy miskien sy gekrenkte gevoelens moet erken, nie ontken nie. Jy sal miskien ook moet vra: “Wat kan ek doen om te vergoed?” Om opreg om verskoning te vra, is dikwels al wat nodig is. Maar in sommige gevalle sal die persoon wat te na gekom is dalk tyd nodig hê om sy gevoelens te verwerk.
Maar sê nou jy kan, ten spyte van herhaalde pogings, nie ’n versoening bewerkstellig nie? Romeine 12:18 sê: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.” Jy kan dus vol vertroue wees dat Jehovah jou aanbidding met genoeë sal aanvaar as jy jou bes gedoen het om vrede te maak.
[Voetnote]
a Die gebruiklike tye wanneer offerandes gebring is, was gedurende die drie seisoensfeeste—die Pasga, die Pinksterfees en die Huttefees.—Deuteronomium 16:16, 17.
b Skattings oor die aantal pelgrims wat na eertydse Jerusalem gestroom het, verskil. Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus het geskat dat nagenoeg driemiljoen Jode by die Pasga teenwoordig was.—The Jewish War, II, 280 (xiv, 3); VI, 425 (ix, 3).