Wat is die oplossing?
“DIE opvatting dat die mens se welsyn, en dalk nog ons oorlewing as ’n spesie, sal afhang van ons vermoë om nuwe siektes te identifiseer, is aan die toeneem. . . . Waar sou ons vandag gewees het as HIV ’n lugverspreide patogeen geword het? En watter waarborg is daar dat dit nie in die toekoms met ’n soortgelyke infeksie sal gebeur nie?” het D. A. Henderson—wat ’n hoofrol in die uitroeiing van pokke gespeel het—aan ’n groep wetenskaplikes in 1993 in Genève, Switserland, gesê.
Hoe kan nuwe siektes bespeur word? ’n Wêreldwye netwerk van 35 laboratoriums wat aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verslag doen, is ’n vroeë waarskuwingstelsel vir tropiese siekte-epidemies. Maar ’n ondersoek van hierdie laboratoriums het aan die lig gebring dat minder as die helfte van hulle toegerus was om Japannese ensefalitis, hantavirusse en Sinkdalkoors te identifiseer—almal dodelike siektes. Net 56 persent kon geelkoors bespeur, ’n virus wat deur muskiete oorgedra word en vomering, lewerversaking en inwendige bloeding veroorsaak. In 1992 het ten minste 28 mense in Kenia aan geelkoors gesterf voor dokters die oorsaak ontdek het. Hulle het ses maande lank gedink dat hulle malaria bestry.
Nog ’n swakheid van waakprogramme is dat hulle nie die verskyning van sluipende virussiektes kan bespeur nie. HIV kan byvoorbeeld in ’n persoon skuil, na ander versprei en dan tot tien jaar later eers as vigs te voorskyn kom. Die huidige vigs-pandemie het byna gelyktydig op drie vastelande verskyn en 20 verskillende nasies vinnig binnegedring. Daar was klaarblyklik geen vroeë waarskuwing daarteen nie!
Ten spyte van die probleme gaan baie wetenskaplikes steeds die toekoms met vertroue tegemoet en praat hulle met optimisme oor groot ontdekkings en deurbrake wat ongetwyfeld in toekomstige jare sal kom. Die International Herald Tribune berig: “Volgens baie wetenskaplikes is biotegnologie, die manipulering van oorerflike stowwe in lewende selle, die beste hoop vir ware deurbrake. Wetenskaplikes by biotegniese firmas hoop om selle te skep wat kiemdodende stowwe kan vervaardig, dit wil sê ’n nuwe geslag geneties gemanipuleerde antibiotika.”
Dié saak het egter ’n duister kant. Genetiese manipulering het dit moontlik gemaak om gene in ’n onskadelike virus in te plant sodat die virus die gene aan mense kan oordra. Hierdie tegnologie kan voordelig wees en dit dalk selfs moontlik maak om so genoemde geneties gemanipuleerde antibiotika te vervaardig. Maar hierdie tegnologie kan ook vir bose doeleindes aangewend word.
Gestel byvoorbeeld dat gene van Ebola per ongeluk of opsetlik in ’n virus, soos dié van griep of masels, ingeplant word. Dan kan daardie dodelike virus moontlik deur ’n hoes of ’n nies versprei word. Dr. Karl Johnson, wat sy lewe lank al virusse soos Machupo en Ebola bestudeer, het gesê dat die dag binnekort kan aanbreek wanneer “enige gek met toerusting van ’n paar duisend dollar en ’n universiteitsopleiding in biologie agter sy naam kieme sal kan skep wat Ebola soos ’n wandeling in die park sal laat lyk”. Ander bioloë is ook bekommerd hieroor.
Die oplossing
Die probleme wat met aansteeklike siektes gepaardgaan, kan nie opgelos word deur bloot nuwe geneesmiddels te ontwikkel nie. Dit sluit die oplossing van probleme in wat met siekte verband hou, naamlik armoede, oorlog, vlugtelinge, dwelmmisbruik, die oorbevolking van stede, ongesonde lewenswyses, besoedeling en die vernietiging van die omgewing. Wees eerlik teenoor jouself. Dink jy dat die mens die vermoë het om hierdie ingewikkelde probleme op te los?
God se Woord maan: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Op wie moet ons dan vertrou? Die teks sê verder: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God, wat hemel en aarde gemaak het.” Slegs Jehovah, die mens se Skepper, kan die dilemmas oplos waarvoor die mens te staan gekom het.—Psalm 146:3-6.
Met die optekening van Jesus se groot profesie aangaande “die teken . . . van die voleinding van die stelsel van dinge” het Jehovah se geïnspireerde Woord, die Bybel, die mediese ellendes voorspel wat ons geslag teister. Jesus het gesê: “Daar sal . . . op die een plek na die ander peste . . . wees.”—Matteus 24:3-8; Lukas 21:10, 11.
Die Bybel wys egter ook op ’n toekomstige tyd op die aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24; Matteus 6:9, 10). Diegene wat op Jehovah vertrou, het dus kragtige redes om te glo dat die gehoorsame mensdom weldra nie net vir altyd van die dodelike siektes verlos sal wees wat mense teister nie, maar ook van die probleme wat tot siektes bydra. Ware Christene waardeer die pogings van die mediese gemeenskap in die moeilike stryd teen dodelike mikrobes. Tog besef hulle dat die blywende oplossing vir siekte en die dood by God berus, die een “wat al jou krankhede genees”.—Psalm 103:1-3; Openbaring 21:1-5; 22:1, 2.
[Prent op bladsy 10]
Die Bybel beloof ’n tyd wanneer niemand sal sê: “Ek is siek” nie