Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 5/8 bl. 23-25
  • ’n Dodelike virus tref Zaïre

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Dodelike virus tref Zaïre
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Dodelike siekte
  • Die siekte word gestuit
  • Soektog na die oorsprong
  • Die epidemie neem af
  • Wat jy kan doen wanneer ’n virus uitbreek
    Nog onderwerpe
  • Wat is die oplossing?
    Ontwaak!—1996
  • ‘Pessiektes op verskillende plekke’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Griep—Wat ons nou weet
    Ontwaak!—2005
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 5/8 bl. 23-25

’n Dodelike virus tref Zaïre

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AFRIKA

KIKWIT, Zaïre, is ’n uitgestrekte dorp aan die rand van ’n tropiese reënwoud. Die 42-jarige Gaspard Menga Kitambala, wat buite die stad gewoon het, was die enigste Getuie van Jehovah in sy gesin. Menga het houtskool verkoop. Hy het sy houtskool diep in die woud voorberei, dit in bondels opgebind en op sy kop na Kikwit gedra.

Op 6 Januarie 1995 het hy siek gevoel. Op pad huis toe van die woud af het hy twee keer geval. Toe hy by sy huis kom, het hy gesê dat hy ’n hoofpyn en koors het.

Gedurende die volgende paar dae het sy toestand versleg. Op 12 Januarie het sy gesin hom na die Kikwit- Algemene Hospitaal geneem. Die Getuies in Menga se gemeente het die gesin gehelp om hom by die hospitaal te versorg. Ongelukkig het sy toestand versleg. Hy het bloed begin opbring. Bloed het onbeheersd uit sy neus en ore gevloei. Op 15 Januarie het hy gesterf.

Ander in Menga se gesin wat aan sy liggaam geraak het, het kort daarna begin siek word. Vroeg in Maart het 12 mense wat na aan Menga verwant was reeds gesterf, onder meer sy vrou en twee van hulle ses kinders.

Teen die middel van April het hospitaalpersoneel en ander op ’n soortgelyke wyse as Menga en sy gesin begin siek word en gesterf. Die siekte het gou na twee ander dorpe in die omgewing versprei. Hulp van buite was ongetwyfeld nodig.

Professor Muyembe, Zaïre se beste viroloog, het op 1 Mei na Kikwit toe gegaan. Hy het later vir Ontwaak! gesê: “Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar twee epidemies in Kikwit woed: die een was diarree wat deur bakterieë veroorsaak word en die ander was ’n ernstige hemorragiese koors wat deur ’n virus veroorsaak word. Ons moes natuurlik hierdie diagnose bevestig. Daarom het ons bloed van die pasiënte geneem en dit na die Sentrums vir Siektebeheer (CDC) in Atlanta, VSA, gestuur om getoets te word.”

Die CDC het bevestig wat Muyembe en ander dokters in Zaïre reeds vermoed het. Die siekte was Ebola.

’n Dodelike siekte

Die Ebola-virus is wreed. Dit kan vinnig doodmaak. Daar is geen entstof daarteen nie en daar is geen bekende behandeling vir die slagoffers daarvan nie.

Ebola is in 1976 ontdek. Die siekte, wat na ’n rivier in Zaïre vernoem is, het in suidelike Soedan toegeslaan en ’n rukkie later in noordelike Zaïre. Dit het weer in 1979 op klein skaal in Soedan uitgebreek. Daarna het die siekte jare lank verdwyn, afgesien van ’n paar alleenstaande gevalle van mense wat sterf met simptome soortgelyk aan dié van Ebola.

Die Ebola-virus is so dodelik dat wetenskaplikes wat dit in Atlanta bestudeer dit in ’n maksimumveiligheidslaboratorium doen wat gebou is met ’n ventilasiestelsel wat verhoed dat enige lugverspreide mikrobe kan ontsnap. Voordat wetenskaplikes die laboratorium binnegaan, trek hulle beskermende “ruimtepakke” aan. Hulle stort in ontsmettingsmiddels wanneer hulle uitkom. Die spanne dokters wat na Kikwit toe gekom het, het beskermingsklere saamgebring—weggooibare handskoene en musse, skermbrille en spesiale oorpakke wat nie deur die virus binnegedring kan word nie.

In teenstelling hiermee het die meeste inwoners van Kikwit nie die kennis en die toerusting gehad om hulleself te beskerm nie. Ander het bewustelik hulle lewe gewaag of verloor om vir siek geliefdes te sorg. Vriende en familie het die siekes en die dooies sonder enige beskerming op hulle rug of skouers gedra. Die gevolg was ’n verskriklike verlies van lewens; die virus het hele gesinne uitgewis.

Die siekte word gestuit

Die internasionale gemeenskap het op Kikwit se hulpkreet gereageer deur geld en mediese toerusting te skenk. Navorsingspanne het per vliegtuig van Europa, Suid-Afrika en die Verenigde State af aangekom. Die doel van hulle koms was tweevoudig: eerstens, om die siekte te help stuit; en tweedens, om uit te vind waar die virus tussen epidemies woon.

Om die epidemie te help stuit, het gesondheidswerkers van straat tot straat gesoek na enigiemand wat simptome van die siekte vertoon het. Die siekes is na die hospitaal geneem waar hulle onder kwarantyn geplaas en veilig versorg kon word. Diegene wat gesterf het, is in groot stukke plastiek toegedraai en vinnig begrawe.

’n Intensiewe kampanje is van stapel gestuur om akkurate inligting oor die siekte aan gesondheidswerkers en die algemene publiek te voorsien. Deel van die boodskap het streng gewaarsku teen tradisionele begrafnisgebruike, waartydens gesinne die lyk tradisioneel hanteer en was.

Soektog na die oorsprong

Wetenskaplikes wou uitvind waar die virus vandaan gekom het. Dit weet hulle wel: Virusse is nie onafhanklike organismes wat op hulle eie kan eet, drink en voortplant nie. Om te bly leef en voort te plant, moet hulle die ingewikkelde samestelling van lewende selle binnedring en uitbuit.

Wanneer ’n virus ’n dier besmet, ontstaan daar dikwels ’n verhouding van wedersydse samebestaan—die dier maak nie die virus dood nie en die virus maak nie die dier dood nie. Maar wanneer ’n mens met die besmette dier in kontak kom en die virus op die een of ander manier aan die mens oorgedra word, kan die virus dodelik raak.

Aangesien die Ebola-virus mense en ape so vinnig doodmaak, neem wetenskaplikes aan dat die virus in ’n ander organisme moet leef. As gesondheidsbeamptes uitvind in watter soort organisme die virus voorkom, sal hulle miskien doeltreffender beheer- en voorkomingsmaatreëls kan tref om te keer dat dit weer in die toekoms uitbreek. Die onbeantwoorde vraag oor Ebola is: Waar woon die virus tussen menslike epidemies?

Om die vraag te beantwoord, moet navorsers die virus tot by sy oorsprong naspoor. Pogings om die dierlike gasheer ná die vorige epidemies op te spoor, was onsuksesvol. Maar die Kikwit-epidemie het ’n nuwe geleentheid gebied.

Wetenskaplikes het gemeen dat Gaspard Menga die eerste slagoffer van die Kikwit-epidemie was. Maar hoe is hy besmet? As dit deur ’n dier was, watter soort dier was dit? Dit is logies dat die antwoord dalk gevind sal word in die woud waar Menga gewerk het. Versamelspanne het 350 strikke gestel in plekke waar Menga gewerk het om sy houtskool voor te berei. Hulle het knaagdiere, skeerbekmuise, paddas, akkedisse, slange, muskiete, sandvliegies, bosluise, weeluise, luise, sandvlooie en vlooie gevang—altesaam 2200 klein diertjies en 15000 insekte. Wetenskaplikes, geklee in beskermingsklere, het die diere met verdowende gas doodgemaak. Daarna het hulle weefselmonsters na die Verenigde State gestuur, waar dit vir die virus getoets kon word.

Aangesien die moontlike wegkruipplekke vir ’n virus feitlik onbeperk is, is daar geen versekering dat die oorsprong gevind sal word nie. Dr. C. J. Peters, hoof van die CDC se tak vir spesiale patogene, het gesê: “Ek dink nie dat ons kanse om hierdie keer die gasheer van die Ebola-virus te vind meer as 50-50 is nie.”

Die epidemie neem af

Op 25 Augustus was die epidemie amptelik verby, aangesien daar 42 dae lank, twee maal die maksimumontkiemingstyd, geen nuwe gevalle was nie. Waarom het die siekte nie wyd versprei nie? Een faktor was die internasionale mediese pogings om die epidemie te stuit. Nog ’n faktor wat die epidemie verkort het, was die felheid van die siekte self. Omdat dit so vinnig verskyn en doodgemaak het en slegs deur noue kontak oorgedra is, het dit nie na groot getalle mense versprei nie.

Amptelike verslae toon dat 315 mense die siekte opgedoen het en dat 244 van hulle gesterf het—’n sterftesyfer van 77 persent. Ebola is voorlopig stil. In Jehovah se nuwe wêreld sal dit vir altyd stil wees. (Sien Jesaja 33:24.) Intussen wonder mense: ‘Sal Ebola weer verskyn om dood te maak?’ Waarskynlik. Maar niemand weet waar of wanneer nie.

[Venster op bladsy 25]

Die epidemie in perspektief

Ebola is ’n moordenaar; tog lê daar vir mense in Afrika ’n groter gevaar in minder indrukwekkende siektes. Gedurende die epidemie het ander siektes stil-stil hulle tol geëis. Daar is berig dat 250 mense onlangs ’n paar honderd kilometers oos van Kikwit deur polio getref is. Na die noordweste toe het ’n dodelike soort cholera in Mali gewoed. Na die suide toe, in Angola, is 30 000 mense deur slaapsiekte getref. Oor ’n groot deel van Wes-Afrika het duisende in ’n meningitisepidemie gesterf. The New York Times het gesê: “Vir mense in Afrika ontstaan die moeilike vraag oor waarom [Afrika se] daaglikse, dodelike konfrontasies met siektes wat meestal voorkom kan word, beswaarlik enige uitwerking op die wêreld se gewete het.”

[Prent op bladsy 24]

Wetenskaplikes soek na die oorsprong van die dodelike virus

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel