Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 2/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Britse kerkdiefstalle
  • Meer aborsies in Kanada
  • Babas met vigs
  • Gewelddadige vroue neem toe
  • Priesters en die huwelik
  • “Geduldige doders”
  • Brugselfmoorde
  • Verkeersverwante sterfgevalle
  • Kinders wat rook
  • Mondhigiëne vir die bejaardes
  • Onsterflikheid te koop?
  • Geenterapie onder skoot
  • Waarom jy “jy” is
    Ontwaak!—1995
  • Waar het die instruksies vandaan gekom?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Jou selle​—⁠Lewende biblioteke!
    Ontwaak!—2015
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 2/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Britse kerkdiefstalle

“Plekke van aanbidding word nie meer as hoogheilig beskou nie”, berig The Sunday Times van Londen. Kandelare, biskoppe se stoele, koperlessenaars, Middeleeuse skinkkanne en antieke doopbakke word uit Engeland se kerke gesteel en as tuinornamente verkoop. Hierdie onwettige handel is internasionaal, met kunsvoorwerpe wat na bestelling gesteel word. Een vermiste kleurglasvenster het in ’n restaurant in Tokio te voorskyn gekom. Die jaarlikse verlies vir die kerke beloop byna R25 miljoen. Nou word gevorderde waarnemingsapparate geïnstalleer en veiligheidsmaatskappye gebruik om kerkpersele te bewaak.

Meer aborsies in Kanada

’n Rekordgetal van 104 403 aborsies is in 1993 in Kanada uitgevoer, wat ’n vermeerdering van 2,3 persent oor die vorige jaar is. Volgens The Toronto Star “kom dit neer op 26,9 aborsies per 100 lewendige geboortes”. Waarom die toename? Hoewel party dit aan die toenemende aantal privaat aborsieklinieke in die land toeskryf, wys beamptes by Kanada se Federasie vir Gesinsbeplanning op ekonomiese druk as “die belangrikste rede waarom aborsies ondergaan word”. Anna Desilets, die besturende direkteur van die Vereniging vir Lewe, ’n groep wat lewe voorstaan, meen dat “maklike toegang tot aborsie daartoe lei dat mense dit as voorbehoedmiddel gebruik, op die belastingbetaler se onkoste”.

Babas met vigs

Die aantal Venezolaanse babas met vigs neem onrusbarend vinnig toe, berig El Universal van Caracas. “Voorheen is tussen twee en ses gevalle van kinders met vigs jaarliks aangemeld”, verduidelik een deskundige, “maar nou het ons twee tot ses gevalle per week.” Die persentasie besmette vrouens, wat op hulle beurt die virus aan hulle babas oordra, neem daagliks toe. “Dit is belangrik om te onthou”, sluit die koerantberig af, “dat die statistiek waarmee die Departement van Gesondheid te doen het net die puntjie van die ysberg weerspieël.”

Gewelddadige vroue neem toe

“Vroue is meer dikwels by geweld betrokke as in die verlede”, sê die kriminoloog Tom Gabor van die Universiteit van Ottawa. “Die geweld”, berig die koerant The Globe and Mail, “word al hoe meer deur vroue gepleeg wat die leiding neem en nie net die ondergeskikte rol speel nie. Hulle is nie dienaresse van ’n manlike bose genie nie.” Aanklagte van gewelddadige misdaad teen volwasse vroue het van 6370 in 1983 tot 14 706 in 1993 gestyg. Mans is egter nog vir die meeste gewelddadige misdade verantwoordelik. Volgens die Globe “was 88,6 persent van die volwassenes en 76,3 persent van die jeugdiges wat in 1993 weens gewelddadige misdade aangekla is manlik”.

Priesters en die huwelik

Die Australiese koerant The Sydney Morning Herald het berig dat al hoe meer invloedryke Katolieke aanvoer dat “die beëindiging van die verpligte selibaat sal help om die verlies van priesters te stuit”. Die selibaat word beskou as ’n hoofafskrikmiddel wat jong mans daarvan weerhou om priesters te word. Die Herald het die aandag op die probleem gevestig en ’n paar insiggewende syfers verstrek. Nieu-Suid-Wallis se vernaamste priesteropleidingsentrum het van 1955 tot 1965 gemiddeld tot 60 nuwelinge per jaar gehad. Maar tussen 1988 en 1994 was die ooreenstemmende syfer net nege nuwelinge per jaar. Die adjunk-direkteur van ’n ander priesteropleidingskollege in Sydney het gesê dat dit na sy mening moontlik ’n “kitsoplossing” sal wees as geestelikes toegelaat word om te trou, maar dat dit nie ’n langtermynoplossing vir die nypende tekort aan priesters in Australië is nie.

“Geduldige doders”

Die Verenigde Nasies probeer R272 miljoen insamel om met die verwydering van omtrent 110 miljoen landmyne in 64 lande te begin, berig die International Herald Tribune. Dit kos net ongeveer R11 om ’n antipersoneelmyn (AP-myn) te vervaardig wat niks groter as ’n pakkie sigarette is nie. Maar om so ’n myn op te spoor en uit die grond te verwyder, kos tussen R1100 en R3600. Die verwydering van die myne word deur ’n ander probleem bemoeilik. ’n Woordvoerder van die Verenigde Nasies het gesê: “Elke jaar word 2 miljoen nuwe AP-myne gelê buiten die meer as 100 miljoen wat daar reeds bestaan.” Deskundiges is dit eens dat dit dekades sal duur voordat die wêreld ontslae sal wees van wat ’n Kambodjaanse generaal beskryf het as “geduldige doders wat nooit misluk nie”.

Brugselfmoorde

Meer as eenduisend mense het al selfmoord gepleeg deur van San Francisco se beroemde Golden Gate-brug af te spring sedert dit in 1937 geopen is. “Daar is iets romanties, ’n bekoring, daaromtrent om jouself om die lewe te bring deur van die Golden Gate-brug af te spring. Dis so pragtig daar. Daar is ’n besondere fantasie daaraan verbonde”, het die selfmoorddeskundige Richard Seiden gesê. Min van die springers oorleef dit, wat nie verbasend is nie, aangesien hulle die water teen 120 kilometer per uur tref en van hulle inwendige organe gewoonlik bars. ’n Studie onder 500 mense wat oorreed is om nie te spring nie, het getoon dat minder as 5 persent hulleself later om die lewe gebring het.

Verkeersverwante sterfgevalle

Met 26 sterfgevalle vir elke 100 000 inwoners het Argentinië nou die meeste verkeersverwante sterftes ter wêreld, sê die Argentynse koerant Clarín. Gedurende 1993 was daar 8116 van hierdie sterfgevalle in die land. Die getal het in 1994 tot 9120 gestyg. Maar gedurende die eerste ses maande van 1995 was daar alreeds meer as 5000 verkeersverwante sterfgevalle. In 1994 was ongeveer 25 persent van die slagoffers voetgangers. Net in die provinsie Buenos Aires het sterfgevalle in verkeersongelukke met 79 persent toegeneem. ’n Groot persentasie van die ongelukke het plaasgevind omdat bestuurders nie goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle ander voertuie verbysteek nie.

Kinders wat rook

’n Verslag van 1993/94 toon dat meer kinders in Brittanje rook. Die aantal rokers wat 11 tot 15 jaar oud is, het van 10 persent tot 12 persent toegeneem. Hierdie toename is dubbel wat regeringsgesondheidsamptenare vir 1994 verwag het, sê die koerant Independent. Hoewel daar ’n afname was in die aantal volwassenes wat rook, rook ongeveer 29 persent van die Britse mans en 27 persent van die vrouens nog. “’n Merkbaarder afname in die aantal volwassenes wat rook, word moontlik vereis voordat tieners se gesindheid noemenswaardig beïnvloed sal word”, is die gevolgtrekking wat die verslag maak.

Mondhigiëne vir die bejaardes

“Mondhigiëne kan vir bejaardes ’n saak van lewe of dood wees”, sê die Asahi Evening News. Japannese wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat “bejaardes die risiko van longontsteking kan verminder deur eenvoudig hulle tande te borsel”. In ’n studie onder 46 bejaardes is een groep van 21 se tande daagliks ná middagete deeglik deur verpleegsters geborsel. Hulle het ook twee of drie keer per week tandhigiëne-ondersoeke gekry. Ná drie maande is bevind dat die 21 tien dae minder koors gehad het as die 25 wat nie die roetine gevolg het nie. Beter gesondheid is toegeskryf aan die afwesigheid van mondbakterieë. ’n Vorige studie het tot die slotsom gekom dat “speeksel of kosdeeltjies wat per ongeluk in die longe ingeasem word dikwels longontsteking veroorsaak”, het die koerant gesê.

Onsterflikheid te koop?

“Vir $35 [R125] kan jy onsterflikheid verkry”, beweer die Register-Guard van Eugene, Oregon, VSA. Die mikrobioloog James Bicknell bied aan om jou DNS te bewaar sodat, soos die koerant dit stel, “’n liefdevolle afstammeling in die een of ander toekomstige eeu die biologiese inligting in die DNS kan gebruik om ’n kopie van jou te maak”. Dr. Bicknell bemark ’n DNS-stelletjie wat uit twee stukkies steriele gaas en ’n houertjie met vloeistof bestaan. “Jy vryf die gaas aan die binnekant van jou wange”, sê hy, “sit die gaas in die vloeistof en stuur dit aan my terug.” Hy onttrek dan die DNS aan die selle wat aan die gaas vassit en sit die DNS op ’n stukkie filtreerpapier. Die papier word dan bewaar in ’n buisie in ’n aluminiumdosie met jou naam daarop gegraveer sodat jy dit kan vertoon soos jy wil. Die Guard sê: “Hy reken dat mense die as van die dooies, haarlokke en vingernaelknipsels bewaar. ’n Dosie DNS is iets wat jy aan jou kleinkinders kan oordra.”

Geenterapie onder skoot

Hoë verwagtinge is ses jaar gelede gekoester toe geenterapie in mense aanvanklik begin het. Wetenskaplikes het verwag dat hulle mettertyd aangebore genetiese siektes sou kon genees deur korrektiewe gene in hulle pasiënte in te spuit. Hulle wou ook genetiese materiaal inspuit wat sou veroorsaak dat skadelike selle, soos kankerselle, hulleself vernietig. Maar ná heelwat entoesiastiese navorsing kom die terapie onder skoot. Die International Herald Tribune sê: “Ten spyte van die groot ophef is daar nog nie ’n enkele gepubliseerde verslag van ’n pasiënt wat deur geenterapie gehelp is nie.” Vername wetenskaplikes vrees dat die navorsing te veel deur handels- en persoonlike belange aangejaag word en nie deur besorgdheid oor pasiënte nie. Een probleem is dat die liggaam se immuunstelsel moontlik die selle wat met geenterapie behandel is as iets vreemds sal beskou en dit gevolglik sal aanval en vernietig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel