Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wêreld staan voor “gesondheidsramp”
  • Wiegiedood word verminder
  • Bied rugpyn die hoof
  • Videospeletjies vol geweld
  • Lastige virusse
  • Gevolge van ’n giftige omgewing?
  • Jongmense pessimisties oor toekoms
  • HIV-draers nie ingelig
  • Iets nuuts by die kameelmark
  • Erosie van China se waardes
  • Nuwe spesies
  • Die Arabiese kameel—Afrika se meerdoelige vervoermiddel
    Ontwaak!—1992
  • Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • Is spelers in gevaar?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Wêreld staan voor “gesondheidsramp”

“Die wêreld se grootste doder en die grootste oorsaak van wêreldwye swak gesondheid en lyding is . . . uiterste armoede.” So sê The World Health Report 1995, uitgegee deur die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie). Volgens die verslag het die helfte van die wêreld se 5,6 miljard mense nie toegang tot noodsaaklike medisyne nie; byna een derde van die wêreld se kinders is ondervoed en een vyfde van die wêreldbevolking lewe in uiterste armoede. The Independent, ’n koerant van Londen, Engeland, haal die Direkteur-generaal van die WGO se waarskuwing aan van ’n “gesondheidsramp waarin baie van die groot prestasies . . . van die laaste dekades omgekeer sal word”.

Wiegiedood word verminder

’n Program in die Duitse staat Noord-Rynland-Wesfale voorsien aan alle ouers van pasgebore babas ’n pamflet wat hulle inlig oor faktore wat die gevaar van wiegiedood kan vergroot. Volgens die koerant Süddeutsche Zeitung het wiegiedood in die staat met 40 persent afgeneem nadat die program ingestel is. Weens soortgelyke programme het Australië, Engeland, Nederland en Noorweë na bewering verminderings van tot 60 persent in sulke sterftes gehad. Hierdie nuwe wiegiedood-bewustheidsprogram waarsku ouers daarteen om die baba op sy maag neer te lê om te slaap, om ’n groot verebed of sagte matras te gebruik, om te rook gedurende die swangerskap en om die pasgebore baba aan tabakrook bloot te stel.

Bied rugpyn die hoof

Onderrugpyn kom op een of ander tyd in hulle lewe by 90 persent van die mense oor die wêreld voor en is volgens The Medical Post van Kanada “die algemeenste toestand waardeur mense aangetas word”. Maar in die meeste gevalle is duur mediese ingryping miskien nie nodig nie. Dr. Garth Russell, ’n ortopedis, sê dat “90% van gevalle van skielike of akute inflammatoriese rugpyn (gewoonlik ná fisiese bedrywigheid) bloot die gevolg is van kwaai spierspasmas in die rug en dat dit deur twee of drie dae bedrus verlig sal word”. Daarna, stel dr. Russell voor, “kan jy met ligte oefeninge begin en jou daaglikse bedrywighede hervat”.

Videospeletjies vol geweld

Realistiese videospeletjies vol geweld is algemeen in die lewe van baie jongmense, volgens ’n berig in The Vancouver Sun van Kanada. Die koerant haal ’n studie aan wat toon dat jong spelers fisies opgewonde raak wanneer hulle sulke speletjies speel. Hulle hartklop neem aansienlik toe—in party gevalle kan dit meer as verdubbel. ’n Bron van kommer vir die navorser was die vraag: “Kan kinders die geweld in die ryk van die videospeletjie hou of gaan dit in hulle lewe oor?” Professor in opvoedkunde Charles Ungerleider van die Universiteit van Brits-Columbië glo dat sulke speletjies die boodskap uitstuur dat geweld ’n manier is om probleme op te los. Hy sê: “Dit is ’n besonderse kommentaar op die samelewing dat videospeletjies vol geweld ’n aanvaarde vorm van vermaak is.”

Lastige virusse

Volgens ’n artikel in U.S.News & World Report “is nuwe plae sowel as ou siektes buite beheer”. Waarom? ’n Aantal faktore het die mens se vatbaarheid vir siektes laat toeneem, verduidelik die Switserse koerant Neue Zürcher Zeitung. Die faktore sluit die toename in internasionale reise in, wat daartoe lei dat siektes ingevoer word in bevolkings wat geen immuniteit het nie. Daarbenewens sê die U.S.News in Atlanta, Georgia, dat die mense by die CDC (Sentrums vir Siektebeheer) ontstel word “deur die alledaagse mikrobes, wat vroeër maklik deur antibiotika hokgeslaan is en wat selfs die nuutste en sterkste medisyne begin weerstaan het”.

Gevolge van ’n giftige omgewing?

Volgens die koerant The Globe and Mail het Kanada vir die eerste keer ’n baie groter toename in nasionale sterftes ondervind as wat voorspel is. In stede van die verwagte toename van 3 persent het sterfgevalle onder Kanadese van 1992 tot 1993 met 4,3 persent toegeneem, die grootste opgetekende toename. Die syfers sluit ’n toename in kindersterftes in, die eerste in 31 jaar. Volgens die verslag is hierdie vermeerdering ongewoon en onrusbarend. Dit het een Kanadese deskundige herinner aan die dood van die kanarie, wat in die verlede gebruik is om te waarsku teen giftige gasse in myne. “Kan dit die eerste aanduiding wees dat die omgewing al hoe giftiger word?” is die vraag wat gevra is.

Jongmense pessimisties oor toekoms

Australië is altyd die “gelukkige land” genoem, maar ’n toenemende aantal Australiese jongmense sal vandag miskien nie met daardie beskrywing saamstem nie. Die koerant The Australian het, in ’n verslag oor ’n studie van jongmense tussen 15 en 19 jaar oud, bevind dat hulle “’n ‘apokaliptiese’ siening van Australië se ekonomiese toekoms” gehad het. Daar is onderhoude gevoer met leerlinge in hulle 9de, 10de en 11de jaar in staats-, Katolieke en privaat skole. “Volgens die verslag dui die bevindinge ‘heel duidelik’ aan dat die huidige geslag 15- en 16-jariges ‘nie juis na die toekoms uitsien nie’—aangesien hulle glo dat die gemeenskap meer gewelddadig word en dat daar steeds baie werkloosheid sal wees”, het die koerant gesê. Toe hulle gevra is om te beskryf hoe hulle lewe oor tien jaar sal wees, het “die meeste van dié wat geantwoord het ’n verslegtende ekonomie en ’n gemeenskap waarin mense minder beheer oor hulle ekonomiese lot het, genoem”.

HIV-draers nie ingelig

In Japan lig party dokters nie HIV-draers oor hulle besmetting in nie, en die huweliksmaats van sulke draers is besmet. Ná ’n opname by 363 van die land se hospitale en mediese inrigtings het die Departement van Gesondheid en Welsyn bekend gemaak dat slegs 43 persent van die inrigtings al hulle HIV-pasiënte oor hulle toestand inlig. Ongeveer 28 persent lig slegs party van hulle pasiënte in. Party hospitale het erken dat hulle glad nie hulle pasiënte inlig nie, terwyl ander geweier het om die vraag te beantwoord, het The Daily Yomiuri gesê. Een vername rede wat dokters gegee het waarom hulle inligting weerhou, was die “uiters onstabiele geestestoestand” van die draers.

Iets nuuts by die kameelmark

Hoewel toeriste dikwels na die buitengewone soek wanneer hulle reis, lyk hulle dalk self taamlik eienaardig vir die plaaslike inwoners. Die International Herald Tribune berig dat Westerse toeriste dalk die wêreld se grootste kameelmark ontdek het in die noordelike woestynstad Pushkar, Indië. Daar vind die kameelhandelaars hulle buitelandse besoekers amusant. Die Tribune verduidelik dat die “kameeldrywers hulle verwonder oor hierdie vreemde ras wat rooi word in die woestynson, die wêreld beskou deur swart kissies wat hulle voor hulle gesigte hou [kameras] en wat bereid is om $2 [R7] (meer as twee dae se loon vir die meeste woestynboere) te betaal vir ’n uur se ry op ’n logge kameel”. Toe hy gevra is of die groeiende aantal toeriste goed of sleg is, het een kameelhandelaar geantwoord: “Goed. Ons hou daarvan om na hulle te kyk.”

Erosie van China se waardes

“Beheptheid met rykdom bedreig die grondslag van die Chinese gemeenskap, die gesin”, berig The Wall Street Journal. “Gesinne verbrokkel, en ’n selfsugtige ‘ek-geslag’-jongmense word voortgebring. Misdaad en korrupsie is op rekordvlakke.” Kinders wat vroeër hulle ouers gerespekteer het, behandel hulle nou soos bediendes en is onwillig om op hulle oudag vir hulle te sorg, sê een navorser. Hoewel baie in China nog by tradisionele waardes hou, word hierdie waardes afgebreek namate miljoene die huis verlaat op soek na geleenthede elders. “Die najaging van geld het die doel geword. Vir geld is mense bereid om die goeie te verwaarloos, om sosiale waardes te verwaarloos”, sê die vise-minister van openbare veiligheid Bai Djingfoe.

Nuwe spesies

Britse en Brasiliaanse plantkundiges verken al meer as 20 jaar lank ’n enkele berg in die noordooste van Brasilië op soek na nuwe plantspesies. Tot dusver het hulle ’n ongelooflike 131 spesies ontdek wat vroeër onbekend was, en almal groei in ’n gebied van slegs 171 vierkante kilometer. Hierdie “tuin van Eden”, soos die koerant Folha de São Paulo die terrein noem, groei op die 1 960 meter hoë Pico das Almas in die Brasiliaanse staat Bahia. Plantkundiges het ongeveer 3 500 herbariums nagegaan om seker te maak dat al hierdie plante inderdaad nuwe ontdekkings is—en hulle is. Simon Mayo van Engeland se Koninklike Botaniese Tuin het aan die koerant gesê: “Dit is indrukwekkend om so baie plante aan die einde van die twintigste eeu te ontdek.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel