Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 24-26
  • ’n Ou Indiaanse tradisie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Ou Indiaanse tradisie
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek aan ’n Indianereservaat
  • Die bestanddele word bymekaargemaak
  • Die proses
  • ’n Unieke bakproses
  • Een van Madagaskar se spesiale kunsvorme
    Ontwaak!—1991
  • Ontwaak! help om ’n ongebore kind te red
    Ontwaak!—2010
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Verbly julle in die hoop
    Ontwaak!—2006
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 24-26

’n Ou Indiaanse tradisie

WAAR jy ook al in die wêreld gaan, sal jy vind dat elke plek sy eie tradisionele kunsvorme het. Skilderye, beeldjies, houtsnywerk, erdewerk of ander voorwerpe kan gewoonlik in geskenk- en kuriowinkels gevind word. Het jy al ooit so iets gekoop om jou huis te versier? Indien wel, kyk gerus waar die artikel eintlik gemaak is. Moenie verbaas wees as jy vind dat dit in ’n ander land vervaardig is nie.

Handwerkers het eeue lank hulle voorletters aan die onderkant van hulle ware ingekerf om te wys wie dit gemaak het. Maar deesdae sal jy heel waarskynlik ’n plakkertjie of ’n stempel vind wat aandui dat die artikel in massa geproduseer is en nie handgemaak is nie. Hierdie massa-artikels wat almal eenders lyk, word al hoe gewilder, en tradisionele handgemaakte kunswerk is moeiliker om te vind. Maar kan die tradisionele, plaaslik vervaardigde artikels nog gevind word?

’n Besoek aan ’n Indianereservaat

Ja, hulle kan, het ons uitgevind toe ons van ons Indiaanse vriende gaan besoek het wat nog steeds hulle eie tradisionele kunswerk doen. Hulle behoort tot die Indiaanse Pueblostam van Santa Clara, wat veral bekend is vir hulle gepoleerde swart erdewerk—van die mooiste erdewerk in die wêreld. Hulle tradisionele ware verskil grootliks van die massa-artikels wat in baie winkels in die suidwestelike Verenigde State aangetref word.

Ons vriende, Joe en Anita, maak al baie jare lank erdewerk op die tradisionele manier. Anita het op sesjarige ouderdom pottebakkerswerk saam met haar moeder begin doen. Een van Anita se artikels is in die Smithsonian-instituut in Washington, DC, in die uitstalling van Indiaanse kunswerk.

Ons het by Joe en Anita se huis aangekom net toe hulle gereedmaak om met ’n nuwe baksel pottebakkerswerk te begin. Ons kon dus nou persoonlik sien hoe dit gedoen word. Ons het self al in die verlede ’n bietjie pottebakkerswerk gedoen. Maar ons het dit op die moderne manier met vorms, slib en ’n oond gedoen. Ons sou nou sien hoe dit op die ou manier gedoen word, wat van geslag tot geslag oorgedra is. Geen moderne tegnologie word in hierdie proses gebruik nie. Absoluut alles word self gedoen.

Die bestanddele word bymekaargemaak

Joe en Anita moes eerstens die bestanddele bymekaarmaak. Ons het met hulle bakkie na ’n heuwel gery waar hulle die klei kry. Hierdie klei, wat in die reservaat gevind word, is net beskikbaar vir stamlede, waarvan daar ongeveer 2400 in die Santa Clara-Pueblostam is. Die meeste van hulle maak hulle erdeware op die tradisionele manier wat min of meer uit die 1500’s dateer. Toe ons by die heuwel stilhou, het Joe sy pik gevat en na ’n kleigroef gestap.

Die groef lê horisontaal aan die voet van die heuwel. Joe moes op sy sy lê en met sy pik in die groef kap, en hy het stukke klei omtrent so groot soos bakstene uitgehaal. Dit kan gevaarlik wees, want hoe dieper jy grawe, hoe groter is die kanse dat die grond kan insak. Nadat Joe tussen 60 en 70 kilogram klei gekry het, wat volgens hom van ’n baie goeie gehalte was, was ons gereed om te vertrek. Maar ek kon nie anders as om te vra waarom hulle nie ’n paar honderd kilogram van die klei op ’n slag gaan haal en hulle ’n paar ritte spaar nie. Anita het gesê: “Dit is nie die Indiane se manier van doen nie.” Hulle neem net uit die grond wat hulle op daardie tydstip sal gebruik. Baie klei kan gemors word as dit daar sou rondlê en hard word.

Daarna het ons na ’n ander heuwel gery om wit sand te kry. Dit was baie makliker—bloot ’n geval van een of twee emmers vol wat geskep moes word. Toe het ons na hulle huis teruggekeer.

Die proses

Die klei word eers ’n paar dae in water geweek. Dan word dit drie of vier keer gesif. Die sand word ook verskeie kere gesif. Daarna meng Joe die twee saam tot presies die regte digtheid bereik word. Nie een van die twee word afgemeet nie. Ondervinding is hier van belang. Daar moet ’n sekere hoeveelheid sand in die klei wees om te help dat die erdeware hulle vorm behou wanneer hulle gebak word. Te veel of te min sal die pot laat kraak of splinter. Anita het vir ons vertel dat sy, toe sy begin het om pottebakkerswerk op haar eie te doen, die klei na haar moeder toe gevat het sodat sý dit kon voel en vir haar kon sê of daar genoeg sand in is. Sy het weldra geleer om dit self te bepaal.

Joe het die klei en sand met sy kaal voete saamgeknie totdat dit net reg gevoel het. Toe was hulle gereed om die erdeware te maak. Geen vorms is gebruik nie. Elke stuk is uniek en met die hand gevorm. Anita bestee baie ure daaraan om haar voorwerp te vorm voordat sy dit eenkant sit om droog te word. Wanneer dit halfdroog is en effens verstewig het sodat dit leerhard is, kan patrone en lyne met die hand daarop gekerf word. Dan word dit gelos om heeltemal droog te word, wat tot ’n week kan duur, na gelang van die lugvogtigheid. Nou is dit reg om geskuur te word. Dit maak die klei glad en gereed vir polering.

Die polering word met die hand met behulp van ’n gladde rivierklip gedoen. Dit moet presies reg gedoen word. As dit te veel of te min gepoleer word, sal die voorwerp nie blink nadat dit gebak is nie. Dit word glad nie geverf nie. Die poleerproses gee dit die pragtige glans.

’n Unieke bakproses

Nou volg die finale stap: die erdewerk word gebak. Om dit te doen, pak hulle ’n groot vuur in hulle werf aan. Geen pottebakkersoonde word hier gebruik nie! ’n Oond word gebou deur stukke vuurmaakhout regop te pak en nog hout bo-oor die regop stukke te plaas sodat dit ’n oond vorm waarvan die een kant oop is om die kleivoorwerpe in te sit. Dit word dan aan die brand gesteek. Uit ondervinding weet hulle wanneer die vuur presies die regte temperatuur is om die kleivoorwerpe in te sit.

Terwyl die erdewerk gebak word, is die natuurlike kleur rooi. Dan, op die regte oomblik, doen Joe iets vreemds. Hy sit ’n klomp perdemis op die vuur! Dit laat die erdewerk swart word. Wanneer die suurstof verminder word, verander die rooi ysteroksied in die klei chemies in swart ysteroksied. As gevolg van die reuk weet ’n mens natuurlik altyd wanneer iemand in die omgewing swart erdewerk bak!

Die voltooide produk is iets om op trots te wees, en baie mense regoor die wêreld geniet die prag daarvan. Sulke erdewerk is aanvanklik vir praktiese doeleindes gebruik, soos die berging van verskillende huishoudelike voorrade. In party wêrelddele word dit nog steeds hiervoor gebruik. Maar een pragtige pottebakkersartikel gaan gebruik word om ons huis te versier en om met trots aan te dui dat ons die Santa Clara-Pueblostam besoek het waar die ou Indiaanse tradisies nog bewaar word.—Bygedra.

[Prente op bladsy 25]

Stukke klei so groot soos bakstene word uitgegrawe

Die klei word met die hand gevorm

Die erdewerk word in ’n tradisionele oond gebak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel