Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/22 bl. 11-15
  • God het hom deur ons laat vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God het hom deur ons laat vind
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gewaarsku teen Jehovah se Getuies
  • Ons loop een van Jehovah se Getuies raak
  • Ons word geestelik gevoed
  • Ons vorder tot geestelike rypheid
  • Hoe Steve in Moskou beland het
  • Moskou—Sy 850ste herdenking
    Ontwaak!—1997
  • ’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ‘Maar ek het Jehovah nie lief nie!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Ontwaak!—1996
g96 3/22 bl. 11-15

God het hom deur ons laat vind

TOE koning Dawid gereed was om die koningskap aan sy seun Salomo oor te dra, het hy hom hierdie raad gegee: “Ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.”—1 Kronieke 28:9.

Ons het gevind dat dit in ons geval waar was. Ons het God gesoek en ons hét hom gevind—maar eers nadat ons baie valse weë ingeslaan het. Ons glo dat Jehovah gesien het hoe kragtig ons gedagtes op hom en sy diens ingestel was, en hy het hom deur ons laat vind. Dit het soos volg gebeur.

Ons was vier broers, wat in Florida, VSA, grootgeword het. Ons pa het lang skofte as ’n kok gewerk om die gesin te onderhou, ons ma het na die huis omgesien en ons vier seuns het werkies gedoen, soos om gras te sny, koerante af te lewer—enigiets wat tot die gesin se inkomste kon bydra. Ons ma was ’n Katoliek en ons pa ’n Baptis. Ons almal het in God en die Bybel geglo, maar het niks daaromtrent gedoen nie, en ons het selde kerk toe gegaan. Dit was gedurende die vroeë sewentigerjare, toe vrede, klokbroeke, lang hare en rockmusiek op hulle gewildste was. Al hierdie dinge het ’n invloed op ons lewe gehad.

Dit was eers in 1982 dat twee van ons, Scott en Steve—24 en 17 jaar onderskeidelik—ernstig in die Bybel belang begin stel het en al hoe bekommerder oor verslegtende wêreldtoestande geraak het. Scott het sy eie bouonderneming gehad. Dit was winsgewend; dus het ons saam in ’n woonstel ingetrek. Ons het moeg geword vir dieselfde ou kroegtoneel en daardie lewenswyse en het geweet dat die gras êrens groener moet wees. Ons het na geestelike dinge begin honger. Gereelde Bybellees het die begeerte na meer kennis van en insig in God se Woord by ons laat ontstaan.

Sondae het ons na verskillende kerke begin gaan. By die kerkdienste wat ons naby ons huis in Lake Worth, Florida, bygewoon het, het 25 minute van die Sondagpreek oor geldelike bydraes gehandel. “Gee mildelik, steek julle hande diep in julle sakke”, het die predikant gesê terwyl hy halfpad oor die preekstoel geleun het. Menigmaal het hulle die kollektebord drie keer by een diens omgestuur, met die gevolg dat baie sonder ’n sent huis toe gegaan het. Ons het na baie kerke gegaan, maar ons het net nog kollekteborde en gesellighede teëgekom.

Gewaarsku teen Jehovah se Getuies

Ons is geïndoktrineer met wat ons gedink het basiese Bybelleringe is, en ons het dit aangeneem omdat professionele teoloë dit verkondig het. Een van die klasse het oor kultusse in Amerika gehandel, en bo-aan die lys was Jehovah se Getuies. Ons is gewaarsku dat hulle nie in Jesus glo nie, dat hulle hulle eie Bybel het, dat hulle nie hemel toe gaan nie en dat hulle nie aan ’n hel glo nie. Dit alles het ons natuurlik die gevolgtrekking laat maak dat die Getuies verkeerd is.

Teen hierdie tyd het ons ’n vurige ywer gehad, maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie (Romeine 10:2). Ons het wel geweet wat Jesus in Matteus 28:19, 20 gesê het—ons moet die goeie nuus verkondig en dissipels maak. Op dié tydstip het ons ’n kerk met 2000 lede bekend as Bible Town bygewoon, waar ons deel van ’n jeuggroep van ongeveer 100 lede tussen die ouderdomme van 17 en 30 was. Scott het hulle sover probeer kry om die een of ander vorm van predikingswerk te doen—maar tevergeefs.

Ons het dus ons eie predikingsveldtog begin. Scott het met die idee vorendag gekom om ’n stalletjie by die plaaslike vlooimark op te rig en traktate en Bybels te versprei. En dit is wat ons gedoen het. Ons het na ’n plaaslike “Christelike” boekwinkel gegaan en ’n hele aantal traktate en Bybels gekoop, na die vlooimark gegaan, twee saagbokke opgestel met ’n blad laaghout daarop, ons traktate en Bybels daarop gesit en probeer om ‘daders van die woord te word en nie net hoorders nie’.—Jakobus 1:22.

Met elke week wat verbygegaan het, het die so genoemde vlooimarkbediening gegroei, en ons het lektuur in Engels sowel as in Spaans aangebied. Ons het ook Bybels, 30 soorte traktate en selfs hoedspelde gehad wat gesê het: “God het jou lief.” Kort daarna het Scott ’n dekalmasjien gekoop om kort Bybelboodskappe op T-hemde te druk—gedagtes soos: “Het jy vandag jou Bybel gelees?” “Wonder jy waarom ek glimlag? Ek het Jesus in my hart”, en talle ander. Een het “Openbaring” gesê en ’n prent van die vier perderuiters gehad.

Ons het gedink dat ons ’n stille getuienis gee deur die hemde oral te dra. Elke Saterdag en Sondag, van 8 vm. tot 1 nm., was die vlooimarkbediening daar. As jy deur ’n parkeerterrein geloop en traktate op die motors gesien het—wel, ons was daar. Mense kon ’n bydrae vir die lektuur gee, maar ons het baie min geld ontvang. Een jaar het ons die jaar se uitgawes bereken en dit het meer as $10-000 (R15 000) bedra.

Ons loop een van Jehovah se Getuies raak

Toe ons eendag by ’n strand in Bonita Springs gaan swem het, het ’n ouerige man ons genader en gesê dat hy die bufferplakkers op ons vragmotor gesien en ons T-hemde opgemerk het. Hy het begin om oor die Bybel te gesels en uit die Skrif te redeneer. Hy het die gedagte in Handelinge 2:31 geopper en gevra: “As daar ’n helse vuur is en as net slegte mense soontoe gaan, waarom sê die Bybel dan dat Jesus daar was?” Hy het voortgegaan en baie ander tekste bespreek. Uiteindelik het Scott gesê: “Jy moet een van Jehovah se Getuies wees.” Hy het geantwoord: “Ja, ek is.” Toe het Scott gesê: “Julle glo nie in Jesus nie.” Die Getuie het die volgende 20 minute oor Jesus gepraat, maar om die een of ander rede het dit geen indruk op ons gemaak nie.

Ons het oor die naweke met die vlooimarkbediening voortgegaan. Ons het dit toe al byna drie jaar gedoen—en ons het die hele tyd geglo dat ons die waarheid het en die regte ding doen. Ons het nog steeds die kerke besoek, een elke Sondagaand, en was nooit tevrede met enigeen wat ons bygewoon het nie. Daar was later nie meer kerke oor om te besoek nie, en daarom het ons een aand besluit om na een van “Jehovah se Getuies se kerke”, soos ons dit genoem het, te gaan. Ons was van plan om hulle van Jesus te vertel. Ons het die adres in die telefoongids gekry en een Sondagaand soontoe gegaan. Toe ons sien dat hulle nie soos al die ander kerke ’n vergadering op ’n Sondagaand het nie, het ons die gevolgtrekking gemaak dat hulle beslis nie in Jesus glo nie. Op die kennisgewingbord wat die vergaderingtye aandui, het ons gesien dat daar Maandagaande ’n boekstudie gehou word. Ons het dus teruggekeer met ons Bybels en het van ons T-hemde gedra. Ons onthou dat ons ’n paar minute geneem het om te besluit watter T-hemp om te dra—watter een sou ’n goeie getuienis gee. Ons het ’n bietjie vroeg daar aangekom, en ’n paar broers het ons genader. Hulle was hartlik en vriendelik. Ons het dadelik ’n diep gesprek oor Openbaring begin voer. Hulle het ons genooi om vir die vergadering te bly. Hulle het ons die Verenig in aanbidding-boek gegee en ons het toe gaan sit.a ’n Broer het die studie met gebed geopen.

Ons het aandagtig geluister. Ter afsluiting het hy gesê: “In Jesus se naam. Amen.” Ons het mekaar geskok aangekyk. “Het ons hom reg gehoor? Hy het in Jesus se naam gebid!” Toe was dit asof ons oë geopen is en die dik skille afgeval het. As ons hart reg was, was dít die tyd om te luister. Die broer het almal gevra om na hoofstuk 21 van die Verenig in aanbidding-boek te gaan, wat oor Jesus handel en toon dat ons geen deel van die wêreld moet wees nie. Dit was die beste studie wat ons kon bywoon. Dit was oor Jesus se lewe en bediening, die laaste dae en neutraliteit. Ons het gehoor hoe jongmense oor baie punte kommentaar lewer waarvan ons niks geweet het nie. In die slotgebed het die broer toe weer in Jesus se naam gebid!

Ons word geestelik gevoed

Ons het by die saal ingestap met ’n dors na die waarheid, en daar was dit, nooit ver weg nie. Ons het uitgestap met die wete dat ons geestelik gevoed is, en ons het nooit weer ons voete in ’n kerk gesit nie. Die volgende aand, terwyl ons ons wasgoed by ’n wassery gaan was het, het ons ’n groot stapel Wagtoring- en Ontwaak!-tydskrifte by die koeldrankmasjien opgemerk—ten minste 150. Vantevore sou ons dit nooit gelees het nie, maar nou het ons dit met belangstelling in talle onderwerpe opgeraap.

’n Artikel het gevra: “Glo jy aan die Drie-eenheid?” ’n Ander: “Is daar werklik ’n hel?” In ’n Ontwaak! was daar ’n artikel oor beelde. Daardie aand het Steve die een oor die Drie-eenheid gelees, baie navorsing gedoen, al die tekste nageslaan en Scott om 12:30 vm. wakker gemaak om hom te vertel wat hy geleer het. Die volgende dag, Woensdag, het Steve ná werk die artikel oor die hel gelees. Dit het Johannes 11:11 bespreek, waar Jesus gesê het dat Lasarus slaap. Toe Steve Scott sien, het hy gesê: “My Bybel leer nie dat daar ’n helse vuur is nie.” Nadat ons die Ontwaak! oor beelde en die verskillende vorms van die kruis gelees het, het ons ons s’n op ’n vulliswa gegooi en toegekyk terwyl dit weggery word. Ons het na mekaar gekyk, ons koppe geknik en geglimlag. Ons het geweet dat ons iets baie besonders gevind het—die waarheid.

’n Dag later het ons twee kartondose ontvang. Daar was 5000 traktate in wat gesê het dat jy hel toe sou gaan as jy jou nie bekeer nie. Ons het nou geweet dat baie van hierdie traktate nie met Bybelleringe ooreenstem nie. Ietwat verward het ons Maandagaand weer die boekstudie bygewoon en baie van ons traktate saamgeneem. Ons het gevra: “Is hierdie een reg?” Een aand het ons almal deurgegaan. Weldra het ’n hoop traktate op die vloer gelê; nie een het met Bybelleringe ooreengestem nie. Ons het van dit alles ontslae geraak. Ons het geweet dat ons nuutgevonde geloof die lewe beteken vir ons sowel as vir diegene vir wie ons preek. Ons wou wegkom sodat ons die Bybel ongehinderd kon bestudeer.

Ons het na Alaska verhuis. By ons eerste vergadering daar het ons ’n ouer man gevra of hy elke dag met ons sou studeer. Ek dink almal daar teenwoordig het ons gehoor. Ons het goeie vordering gemaak, die Paradys op aarde-boek voltooi en wou by een van die tweedagbyeenkomste gedoop word.* Maar ons moes ’n rukkie wag. Ons doelwit was om pionierdiens te doen. Ons vader het onverwags siek geword en ons moes na Florida terugkeer om hulp te verleen.

Ons vorder tot geestelike rypheid

In Florida het ons goeie vordering gemaak, die Verenig in aanbidding-boek voltooi en ons toe in 1987 laat doop. Elf maande het verloop sedert ons begin het. Ons het daar en dan ses maande hulppionierdiens gedoen en toe gewone pioniers geword. Net ’n jaar en ’n half later is ons albei as bedieningsknegte aangestel. Twee jaar ná ons doop het ons by die Brooklynse Bethel begin dien, waar Scott vandag nog dien en al twee jaar lank Chinees leer. Steve dien nou as gewone pionier in Moskou, Rusland. Spreuke 2:1-5 se beskrywing van die waarheid en die soeke daarna het waar geblyk in ons geval: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”

Hoe Steve in Moskou beland het

Aangesien ek in New York gewoon het en dit die predikingswerk daar interessanter maak as jy nog ’n taal ken—en met die gedagte dat Jehovah dalk weldra die werk in Rusland sou open—het ek besluit om Russies te leer. Toe het ek, terwyl ek by die Brooklynse Bethel gedien het, die Russiese boekstudie begin bywoon. Daar was net een Russiese boekstudiegroep, wat Vrydae vergader het. Met verloop van tyd het ek meer betrokke begin raak by die Russiese groep. Ek het saam met hulle aan die predikingswerk deelgeneem, wat baie genotvol was weens die hartlikheid van die Russe. Ek het aan die Diensafdeling geskryf en gevra om na die Russiese groep oorgeplaas te word. Ek was bly toe hulle hiertoe ingestem het.

Eendag tydens die oggendaanbidding by Bethel het die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Milton G. Henschel, vir die gesin gesê dat daar ’n spesiale verslag is. Toe het hy aangekondig dat Jehovah se Getuies wetlike erkenning in Rusland verkry het en dat ons broers nou vryheid van aanbidding sou geniet. Ek glo nie dat enigeen wat daardie oggend in Bethel was die vreugde sal vergeet wat ons ervaar het toe ons daardie wonderlike nuus gehoor het nie. Op daardie oomblik het ek gedink dat dit ’n groot voorreg sou wees om deel te wees van daardie uitgestrekte nuwe gebied.

Ek het begin korrespondeer met ’n Russiese broer genaamd Volodeja, wat in Krasnodar, Rusland, woon. Hy het my genooi om Rusland te besoek. In Junie 1992 het ek dus my tasse gepak en was ek op pad na Moskou. Toe ek daar aankom, was ek baie bly om te sien dat broer Volodeja op die lughawe wag. Ek het by broer Stefan Lewinski gebly—hy is al 45 jaar in die waarheid. Hy was die eerste Getuie wat ek in Moskou ontmoet het en hy het baie jare in die tronk deurgebring weens die standpunt wat hy vir die waarheid ingeneem het. Die broers se gasvryheid was werklik wonderlik.

Daar was ek toe in Moskou, en ek het nie veel van die taal geweet nie. Daar was destyds net vier gemeentes en ons het as ’t ware al die broers geken. Sedertdien het ek met ’n gesukkel daarin geslaag om my visums verleng te kry. Ek kan nou en dan werk om my uitgawes te dek. Die grootste struikelblok wat ek gehad het, was om genoeg Russies te leer om te kan kommunikeer en by die vergaderinge geestelik gevoed te word. Dit het maar stadig gegaan en ek lê my natuurlik steeds daarop toe.

Ek het die voorreg geniet om baie streekbyeenkomste by te woon en om die verbasende groei asook doopgeleenthede met rekordgetalle dopelinge te sien. Om die intense ywer van ons broers hier te aanskou, is ’n uiters geloofversterkende ervaring. Ek sal dit vir niks verruil nie. Baie van die broers en susters wat ek ontmoet het toe hulle net begin studeer het of wat net gedoop is toe ek gekom het, dien nou as voltydse pioniers of bedieningsknegte of as Betheliete by Solnetsjnoje, naby St. Petersburg, Rusland.

Die gemeente waarin ek is, het elke Sondag ’n opkoms van 530, en ons het elke maand gemiddeld 12 nuwe ongedoopte verkondigers. Ons jongste syfer was 380 verkondigers, 3 ouer manne en 7 bedieningsknegte. Ons gemeente rapporteer meer as 486 tuisbybelstudies. In Februarie 1995 het ek die voorreg gehad om ons 29 boekstudiegroepe te besoek om ’n dienstoespraak daar te hou. Ek het vier groepe per week besoek. Ons is ook voor elke byeenkoms baie besig met die vrae vir doopkandidate. In Mei 1995 het ons ’n spesiale byeenkomsdag gehad waar 30 van ons gemeente gedoop is. Daar is altesaam 607 gedoop en ongeveer 10 000 het dit bygewoon. By die streekbyeenkoms verlede somer was daar 24 van ons gemeente onder die 877 wat gedoop is! Ons het 13 pioniers in ons gemeente en 3 spesiale pioniers. Hulle rapporteer altesaam nagenoeg 110 studies! Ons het tans 132 ongedoopte verkondigers.

Ons Gedenkmaal in 1995 is deur 1012 bygewoon! Die Genootskap het so pas ’n Poolse broer, Mateisj, na ons gemeente gestuur. Hy het die Bedieningsopleidingskool bygewoon en sal ’n groot hulp wees. Ons het nou drie ouer manne. Nog ’n gemeente sal dus gevorm word en ons gebied—met ’n bevolking van bykans ’n miljoen—sal in die helfte gedeel word. Elk van die twee gemeentes sal ongeveer 200 verkondigers hê. Een gemeente sal twee ouer manne hê en die ander gemeente een ouer man. Ons volgende byeenkoms kom nader en daarom hersien ons nou die vrae met die 44 wat dan gedoop wil word. Dit klink ongelooflik! Inderdaad ’n geestelike paradys! Dit is verstommend! Jehovah se hand kan waarlik hierin gesien word. Dit is asof sy strydwa gedurende hierdie tyd deur Rusland spoed. In Oktober 1995 was daar sowat 40 gemeentes in Moskou. As daar genoeg ouer manne was, sou dit maklik kon verdubbel het.

Die dae van ons vlooimarkbediening is lank reeds verby. Scott is in die Brooklynse Bethel, Steve dien as ouer man in een van die Moskou-gemeentes—ons albei is so dankbaar dat God hom deur ons laat vind het. Ons bede is dat nog miljoene na hom sal soek en dat God hom deur hulle sal laat vind.—Soos vertel deur Scott en Steve Davis.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 12]

Scott

[Prent op bladsy 13]

Steve

[Prent op bladsy 14]

Meer as 530 woon elke Sondag die vergadering van een van die Moskou-gemeentes by

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel