Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/22 bl. 13-18
  • Moskou—Sy 850ste herdenking

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moskou—Sy 850ste herdenking
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In vroeë jare behoue gebly
  • Dit verduur ’n unieke krisis
  • Moskou verrys uit die as
  • Sy voortbestaan en vooruitgang
  • Die stad word ’n nuwe voorkoms gegee
  • Hoe werk lof verwerf in Moskou
    Ontwaak!—2001
  • ’n Lang regstryd eindig in ’n oorwinning!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Moskou se skitterende ondergrondse paleise
    Ontwaak!—1994
  • “Die stad wat ware fondamente het”
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/22 bl. 13-18

Moskou—Sy 850ste herdenking

’n Stad wat behoue gebly het

“KOM na my toe, broer, na Moskou.” Hierdie uitnodiging deur Joeri Dolgoroeki aan ’n medeprins in 1147 is blykbaar die eerste vermelding van Moskou in die geskiedenisboeke. Die jaartal—850 jaar gelede—is aanvaar as die stigting van Moskou, die hoofstad van Rusland, hoewel argeologiese getuienis toon dat ’n nedersetting lank voor daardie tyd daar bestaan het.

Ter voorbereiding van Moskou se 850ste herdenking is honderde van die stad se fasiliteite opgeknap en herstel—stadions, teaters, kerke, spoorwegstasies, parke en openbare geboue. Wat ’n wonderlike transformasie! “Hele blokke geboue”, het ’n inwoner van Moskou gesê, “het onherkenbaar verander.”

Tydens ’n besoek aan Moskou in Junie het ons oral om die stadskern, naby die Rooi Plein, spanne aan herstelprojekte sien werk. Die werk het onafgebroke voortgeduur, 24 uur per dag. En daar was oral herinneringe aan die 850ste herdenking—in winkelvensters, in die metro, op lamppale, op handelsartikels—selfs ’n vertoning van die Moskou-sirkus wat ons bygewoon het, het verwysings daarna ingesluit.

Teen September, toe duisende besoekers van regoor die wêreld teenwoordig was vir spesiale feesvierings van die 850ste herdenking, was die verbetering aan Moskou se voorkoms skouspelagtig. Ja, ondanks die feit dat Moskou dwarsdeur sy geskiedenis verskriklike tydperke van teëspoed deurgemaak het, het dit behoue gebly en gefloreer.

’n Bybelkenner het blykbaar so ’n tydperk in Moskou se geskiedenis in gedagte gehad toe hy, gedurende die vroeë deel van die vorige eeu, kommentaar gelewer het oor die “oorlog” wat met “Armageddon” in die Bybel vereenselwig word (Openbaring 16:14, 16, AB). Hy het gesê dat party beweer het dat Armageddon in Moskou sou plaasvind, hoewel hy nie self daardie beskouing gehuldig het nie.a

Waarom het sommige daardie bewering gemaak? Wel, kom ons kyk na Moskou se fassinerende en dikwels tragiese geskiedenis.

In vroeë jare behoue gebly

Moskou is by ’n strategiese kruising naby groot riviere (die Oka, die Wolga, die Don en die Dnieper) sowel as belangrike landroetes geleë. Prins Dolgoroeki “het die fondament van die dorp Moskou gelê”, berig ’n kroniek van 1156, wat klaarblyklik beteken dat hy die eerste vestings gebou het wat bestaan het uit grondwalle waarop daar houtmure was. Hierdie kremlin, of sitadel, was geleë op ’n driehoekige stuk land tussen die Moskwarivier en die Neglinnaja, ’n klein takrivier.

Ongelukkig het die prins van die nabygeleë Riazan slegs 21 jaar later “Moskou aangeval en die hele dorp afgebrand”. Moskou is herbou, maar in Desember 1237 het die Mongole onder Batoe Khan, kleinseun van die beroemde Djengis Khan, Moskou ingeneem en weer afgebrand. Die Mongole het die stad ook in 1293 geplunder.

Is dit vir jou merkwaardig dat Moskou ná elke verpletterende slag behoue gebly het? Die stad het ook in 1326 Rusland se godsdienssentrum geword toe die prins van Moskou, Iwan Kalita, die hoof van die Russies-Ortodokse Kerk oorreed het om in Moskou te woon.

Teen die tyd van Iwan die Grote se heerskappy (van 1462 tot 1505) het Moskou uiteindelik onafhanklikheid van die Mongole verkry. In 1453 is die stad Konstantinopel (nou Istanboel) deur die Ottomaanse Turke verower, wat die heersers van Rusland die enigste oorblywende Ortodokse vorste in die wêreld gemaak het. As gevolg hiervan is Moskou as die “Derde Rome” bestempel en is Russiese heersers tsaars, of keisers, genoem.

Teen die einde van Iwan die Grote se heerskappy—toe Christophorus Columbus seereise na die Amerikas onderneem het—is die Kremlin vergroot, en baksteenmure en -torings is gebou wat vandag nog bestaan en byna onveranderd is. Die mure is ruim 2 kilometer lank, tot 6 meter dik en 18 meter hoog, en hulle omsluit die Kremlin-gebied, wat bykans 30 hektaar beslaan.

Dit sal jou moontlik verbaas om te weet dat daar teen die middel van die sestiende eeu gesê is dat Moskou groter as Londen is. Toe, op 21 Junie 1547, het rampspoed die stad getref toe ’n vernietigende brand daarin uitgebreek het, wat feitlik die hele bevolking dakloos gelaat het. Weer eens het die vindingryke mense van Moskou die stad herbou. St. Basilius se Katedraal is ook in hierdie tyd gebou, ter viering van militêre oorwinnings oor die Tartare, of Mongole, in Kazan. Hierdie boukundige meesterstuk op die Rooi Plein (wat teen 1561 voltooi is) word selfs vandag algemeen beskou as ’n simbool van Moskou.

Ongeveer tien jaar later, in 1571, het die Krim-Mongole ’n inval gedoen, Moskou ingeneem en ongelooflike verwoesting aangerig. Hulle het feitlik alles behalwe die Kremlin verbrand. Verslae toon dat slegs 30 000 van die stad se 200 000 inwoners die inval oorleef het. “Die Moskourivier was so verstop met liggame dat sy loop weggekeer is, en die water was rooi vir myle verder stroomaf”, berig die redakteurs van Time-Life-boeke in Rise of Russia.

Weer eens moes Moskou herbou word. En dit ís herbou! Mettertyd het die stad weer uitgebrei met die Kremlin as middelpunt, met opeenvolgende mure wat dele omsluit het wat Kitai Gorod, Wit Stad en Houtstad genoem is. Moskou het vandag nog steeds ’n soortgelyke sirkelvormige uitleg, met kringpaaie in plaas van mure wat die Kremlin omsluit.

Gedurende hierdie tyd was die mense van Moskou baie ongelukkig met die tirannieke bewind van Iwan die Verskriklike, kleinseun van Iwan die Grote. Toe, in 1598, het Iwan die Verskriklike se seun en opvolger, Fjodor, sonder ’n erfgenaam gesterf. Dit het die “Tyd van Moeilikhede” begin, wat Rise of Russia “die woesste en verwarrendste tydperk in die hele Russiese geskiedenis” noem. Dit het ongeveer 15 jaar geduur.

Dit verduur ’n unieke krisis

Kort nadat Boris Godoenof, Fjodor se swaer, die troon bestyg het, is Moskou deur ’n verskriklike droogte en hongersnood geteister. Gedurende ’n tydperk van sewe maande in 1602 het 50 000 na bewering gesterf. Altesaam meer as 120 000 het tussen 1601 en 1603 in die stad omgekom.

Op die hakke van hierdie tragedie het ’n man wat beweer het dat hy prins Dmitri, ’n seun van Iwan die Verskriklike, is, Rusland met die hulp van Poolse soldate binnegeval. Getuienis dui in werklikheid daarop dat die ware Dmitri in 1591 doodgemaak is. Toe Godoenof onverwags in 1605 gesterf het, het die so genoemde Vals Dmitri Moskou binnegegaan en is hy as tsaar gekroon. Nadat hy slegs 13 maande geheers het, is hy deur teenstanders tereggestel.

Ander aanspraakmakers op die troon het gevolg, onder andere ’n tweede Vals Dmitri, wat ook deur Pole bygestaan is. Intrige, burgeroorlog en moord het algemeen geword. Koning Sigismund III Vasa, van Pole, het Rusland in 1609 binnegeval, en mettertyd is ’n verdrag onderteken wat sy seun Wladislaf IV Vasa as die Russiese tsaar erken het. Toe die Pole Moskou in 1610 ingeneem het, het die stad onder Poolse beheer gekom. Maar die Russe het kort voor lank teen die Pole saamgetrek en hulle teen die einde van 1612 uit Moskou verdryf.

Hierdie verskriklike tye van beroering het Moskou in ‘’n woesteny verander wat toegegroei was met distels en onkruid wat myle ver gestrek het waar daar voorheen strate was’. Die muur van die Houtstad is afgebrand, en die Kremlin-geboue was vervalle. ’n Besoekende Sweedse gesant het tot die slotsom gekom: “Dit was die verskriklike en rampspoedige einde van die beroemde stad Moskou.” Maar hy het dit mis gehad.

’n Russiese tsaar van die Romanof-familie is in 1613 verkies, en hierdie nuwe dinastie van Romanof-tsaars het meer as 300 jaar bestaan. Hoewel die jong, nuwe tsaar, Michail, volgens berig “nêrens gehad het om te woon nie” as gevolg van die verwoesting, is Moskou herbou en het dit weer een van die wêreld se vername stede geword.

In 1712 het die tsaar Pieter die Grote, Michail se kleinseun, Rusland se hoofstad verskuif van Moskou na St. Petersburg, wat hy langs die Oossee gebou het. Maar Moskou het die geliefde “hart” van Rusland gebly. Trouens, met die oog op die verowering van Rusland het die Franse keiser Napoleon Bonaparte volgens berig gesê: ‘As ek Petersburg inneem, sal ek Rusland by die kop vat, en as ek Moskou inneem, sal ek sy hart vernietig.’

Napoleon het Moskou wel ingeneem, maar soos die geskiedenis toon, was dit sy hart wat gebreek is, nie Moskou nie. Wat in Moskou gebeur het, was so verskriklik dat sommige klaarblyklik as gevolg hiervan die stad met Armageddon vereenselwig het.

Moskou verrys uit die as

In die noordelike lente van 1812 het Napoleon Rusland met ’n leërmag van ongeveer 600-000 ingeval. Die Russe, wat ’n “afbrandbeleid” aangeneem het, het teruggetrek en niks vir die vyand laat oorbly nie. Uiteindelik het hulle besluit om ’n verlate Moskou vir die Franse agter te laat!

Baie kenners sê dat Moskou se inwoners eerder hulle stad aan die brand gesteek het as om toe te laat dat die Franse dit kry. “’n Stormsterkte wind het die brand in ’n ware hel verander”, sê ’n Russiese geskiedenisbron. Die Franse is sonder voedsel of voer gelaat, soos hierdie geskiedenisbron verduidelik: “Die Russiese volk het nie ’n enkele sak meel of ’n karvrag hooi aan die Franse leër gegee nie.” Omdat die Franse geen alternatief gehad het nie, het hulle Moskou minder as ses weke nadat hulle dit binnegegaan het, verlaat en feitlik hulle hele leër tydens hulle terugtog verloor.

Die moed van die inwoners van Moskou het hulle beroemde stad gered, en met verbete vasbeslotenheid het hulle dit uit die as uit opgebou. Aleksander Poesjkin, wat algemeen beskou word as Rusland se grootste digter, was 13 toe Napoleon Moskou, Poesjkin se geliefde geboortestad, ingeval het. Oor Moskou het hy geskryf: “O die gedagtes wat opwel in elke trouhartige Rus by die aanhoor van daardie woord! Hoe diep ’n eggo bring dit tog voort!”

Sy voortbestaan en vooruitgang

Baie wat vandag lewe, onthou of het in rolprente gesien watter uiters moeilike tye Moskou deurgemaak het gedurende die Russiese revolusie wat in 1917 begin het. Tog het die stad nie net voortbestaan nie—dit het ook vooruitgegaan. ’n Metro is gebou, sowel as die Moskou-Wolga-kanaal om die stad van water te voorsien. Ongeletterdheid is in wese uit die weg geruim, en teen die laat dertigerjare het Moskou meer as duisend biblioteke gehad.

In 1937 het ’n voormalige burgemeester van Manchester, Engeland, in die boek Moscow in the Making geskryf: “As ’n groot oorlog nie uitbreek nie, . . . sal Moskou teen die einde van die tienjaarplan, wat gesondheid, gerief en lewensgenietinge vir al sy burgers betref, na my mening feitlik die bes beplande groot stad wees wat die wêreld nog geken het.”

Maar in Junie 1941 het Duitsland sonder enige aanleiding ’n aanval geloods teen Rusland, ’n bondgenoot met wie hulle minder as twee jaar tevore ’n nieaanvalsverdrag onderteken het. Teen Oktober het Duitse soldate tot 40 kilometer van die Kremlin gekom. Moskou se val het onafwendbaar gelyk. Byna die helfte van Moskou se 4,5 miljoen inwoners het uit die stad padgegee. Sowat 500 fabrieke het hulle masjinerie opgepak en dit na nuwe persele in die ooste van Rusland gestuur. Maar Moskou het geweier om te val. Die stad het hom letterlik ingegrawe, hom verskans, en die Duitsers teruggedryf.

Moskou het swaar deurgeloop, asook baie ander Russiese stede. “Moskou het in een eeu soveel deurgemaak”, het ’n Amerikaanse verslaggewer geskryf wat in die dertiger- en veertigerjare daar gewoon het, “dat ek my verwonder dat dit voortbestaan het.” Dit is werklik merkwaardig dat Moskou behoue gebly het en een van die grootste en belangrikste stede van die moderne wêreld geword het.

Moskou het vandag ’n bevolking van meer as negemiljoen mense en beslaan ’n oppervlak van ongeveer 1000 vierkante kilometer, wat dit groter en digter bevolk maak as die stad New York. ’n Klomp kringpaaie loop om die Kremlin, en die Moskou-kringpad, wat byna 100 kilometer lank is, vorm min of meer die buitenste grens van Moskou. Daar is breë boulevards wat, soos die speke van ’n wiel, van die stadskern af uitwaarts loop.

Die meeste inwoners van Moskou ry egter met die stad se merkwaardige metro, wat uitgebrei het sodat dit nege roetes en ongeveer 150 stasies insluit en alle dele van die stad bedien. Die World Book Encyclopedia noem Moskou se metrostasies “die spoggerigste ter wêreld”. Sommige stasies lyk soos paleise en is versier met kroonkandelaars, standbeelde, kleurglas en ’n oorvloed marmer. Trouens, die eerste 14 stasies wat gebou is, het meer as 70 000 vierkante meter marmer bevat, meer as in al die paleise wat oor ’n tydperk van 300 jaar deur die Romanofs gebou is!

Die stad word ’n nuwe voorkoms gegee

Tydens ons besoek vroeër vanjaar het ons die metro geneem om na een van die grootste vernuwingsprojekte te gaan kyk—die kolossale Lenin-stadion met 103 000 sitplekke, wat in die vyftigerjare in die suide van Moskou gebou is. Hulle was besig om nuwe sitplekke in te sit toe ons daar aankom, en ons het ons die skuifdak voorgestel wat dit moontlik sou maak om die stadion die hele jaar deur te gebruik.

Die vooraansig van die beroemde GUM-afdelingswinkel, oorkant die Rooi Plein teenoor die Kremlin, het ’n pragtige nuwe voorkoms gehad. Aan ’n ander kant van die Kremlin, waar die Neglinnaja gevloei het voordat dit gedurende die vorige eeu weggekeer is sodat dit ondergronds vloei, sluit die tuinaanleg ’n stroom in om die rivier wat voorheen daar gevloei het na te maak. Reg oorkant die stroom was ’n reusagtige, ondergrondse multiverdiepingwinkelsentrum in aanbou, wat ook restaurante en ander fasiliteite sou hê. ’n Skrywer van Moskou het dit “Europa se grootste winkelsentrum” genoem, maar het bygevoeg, “of dit is wat hulle by die Burgemeesterskantoor dink”.

In ’n ander gebied nie ver van die Kremlin af nie het dit gelyk of daar oral boukrane was, en mense was druk besig om te bou. Argeologiese skatte is gevind op sekere plekke waar uitgrawings gedoen is. Op een plek is daar byvoorbeeld ’n geheime voorraad van meer as 95 000 Russiese en Wes-Europese muntstukke gevind wat uit die 15de tot 17de eeu dateer.

Hulle was besig om kerke op te knap en party te herbou. Die Katedraal van Ons Liewe Vrou van Kazan, op die Rooi Plein, wat in 1936 vernietig en deur ’n openbare toilet vervang is, was reeds voltooi. Die enorme Katedraal van Christus die Redder, wat gebou is om die oorwinning oor Napoleon te vier, is in 1931 gedurende die Kommunistiese antigodsdienskampanje opgeblaas. Tydens ons besoek was dit byna heeltemal herbou op sy vroeëre ligging, waar daar jare lank ’n groot, verhitte opelugswembad was.

Dit was fassinerend om boupersele te besigtig, veral wanneer ons gedink het aan die nuwe voorkoms wat Moskou teen die einde van die jaar sou hê. Maar wat Moskou by ons bemind gemaak het, was sy mense. “Die besoeker word oorweldig deur al die vriendskap waartoe Moskou se inwoners van nature in staat is”, het ’n korrespondent in Moskou eenkeer gesê. Ons het gevind dat dit waar is, veral wanneer ons almal om ’n kombuistafeltjie gesit en die liefdevolle hartlikheid en gasvryheid van ’n Russiese gesin geniet het.

Ons was ook bly om te vind dat baie van Moskou se inwoners geleer het wat die ware betekenis van Armageddon is, ’n oorlog waarin ons Skepper die hele aarde sal skoonmaak. Dit sal ’n tyd inlei wanneer almal wat hom waarlik liefhet saam kan woon, nie met vooroordeel en agterdog nie, maar met begrip en vertroue, as kinders van God, wat mekaar liefhet en God in eenheid dien (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 2:17; Openbaring 21:3, 4).—Bygedra.

[Voetnoot]

a Commentary on the Holy Bible, deur Adam Clarke, enkelbundeluitgawe, bladsy 1349.

[Prent op bladsy 13]

St. Basilius se Katedraal en die Kremlin se mure, wat algemeen beskou word as simbole van Moskou

[Prent op bladsy 15]

Daar is oral herinneringe aan die 850ste herdenking

[Prent op bladsy 16]

Die beroemde GUM-afdelingswinkel, met sy nuwe voorkoms

[Prent op bladsy 16, 17]

Baie metrostasies lyk soos paleise

[Erkenning]

Tass/Sovfoto

[Prent op bladsy 16, 17]

Opknapping van die Lenin-stadion

[Prent op bladsy 17]

Nuwe tuinaanleg buite die Kremlin

[Prente op bladsy 18]

Dit het gelyk of daar oral boukrane was, en mense was druk besig om te bou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel