Die Godgegewe gawe van balans
“DIS net seebene”, het my vriende vir my gesê, “en dit kan ’n paar dae duur.” Dit was Oktober 1990 en ek het so pas van ’n plesierboot af op droë grond geklim ná ’n reis van sewe dae op die Karibiese See. Wat ek gedink het net ’n paar dae sou duur, hou egter nou al baie maande lank aan. Dit was asof ek nooit van daardie skip afgeklim het nie. Iets het fout gegaan met my vestibulêre stelsel, die ingewikkelde balansstelsel van die binneoor met sy sentrale verbindings in die brein.
Wat is dit? Hoe werk dit?
Die koördineringsentrum vir jou balans word gevind in die basis van jou brein wat die breinstam genoem word. Wanneer jy gesond is, hou jy jou balans omdat ontelbare impulse van jou oë, jou spiere en jou vestibulêre stelsel ontvang word.
Jou oë voorsien die breinstam van voortdurende sensoriese inligting oor jou omgewing. Sensoriese reseptors in jou spiere, wat proprioseptors genoem word, stuur inligting na jou brein oor die soort oppervlak waarop jy loop of waaraan jy raak. Maar dit is jou vestibulêre stelsel wat as ’n interne leidingstelsel dien wat vir jou brein vertel waar jou liggaam in die ruimte is met betrekking tot die aarde en die swaartekrag daarvan.
Die vestibulêre stelsel bestaan uit vyf dele wat met balans te doen het: drie halfsirkelvormige kanale en twee sakkies. Die halfsirkelvormige kanale word die boonste kanaal, die horisontale (sydelingse) kanaal en die onderste (agterste) kanaal genoem. Die twee sakkies word die utrikulus en die sacculus genoem.
Die halfsirkelvormige kanale lê in loodregte vlakke teenoor mekaar, soos die mure en vloer van ’n kamer wat in ’n hoek bymekaarkom. Die kanale is gange wat ’n labirint uitmaak en versteek is in die harde been van die skedel wat die slaapbeen genoem word. Binne-in hierdie benige labirint is ’n ander doolhof, wat die membraanlabirint genoem word. Aan die punt van elke vliesagtige halfsirkelvormige buis is daar iets wat soos ’n knop lyk, wat die ampulla genoem word. Aan die binnekant van die membraanlabirint is ’n spesiale vloeistof genaamd endolimf. Aan die buitekant van die vlies is daar ’n ander vloeistof wat weer ’n ander chemiese samestelling het en perilimf genoem word.
Hierdie opgeswelde deel van die buis wat die ampulla genoem word, bevat spesiale haarselle in die vorm van bondels wat vas is in ’n jellieagtige massa, die kupula. Wanneer jy jou kop in enige rigting beweeg, is die endolimf ’n bietjie stadiger as die beweging van die kanale self; gevolglik buig die vloeistof die kupula en die haarbondels daarin. Die beweging van die haarbondels veroorsaak veranderinge in die elektriese eienskappe van die haarsel, en dié dra op sy beurt weer boodskappe via senuweeselle na jou brein oor. Boodskappe word nie net van hierdie individuele haarselle na die brein gelei deur middel van afferente senuwees nie, maar ook weer terug van die brein af na elke haarsel deur efferente senuwees om balanserende inligting aan die haarsel te gee wanneer dit nodig is.
Die halfsirkelvormige kanale is sensitief vir buig- of draaibewegings van jou kop in enige rigting, soos om dit vorentoe of agtertoe, na die een of die ander kant toe te buig of om dit na links of regs te draai.
Daarteenoor is die utrikulus en die sacculus sensitief vir lineêre versnelling; daarom word hulle die swaartesensors genoem. Hulle bevat ook haarselle in wat die makula genoem word. Die sacculus stuur byvoorbeeld inligting na jou brein wat jou die sensasie van opwaartse versnelling sal gee wanneer jy met ’n hysbak opgaan. Die utrikulus is die vernaamste reseptor wat reageer wanneer jy in ’n motor ry en skielik versnel. Dit stuur inligting na jou brein wat jou die sensasie gee dat jy vorentoe of agtertoe gedruk word. Jou brein kombineer dan hierdie inligting met ander impulse en neem besluite, soos hoe om jou oë en ledemate te beweeg om op jou klaarblyklike beweging te reageer. Dit help jou om jou oriëntasie te behou.
Dit is ’n wonderlike stelsel wat die Ontwerper daarvan, Jehovah God, vereer. Selfs navorsingswetenskaplikes kan nie anders as om deur die ontwerp daarvan beïndruk te wees nie. A. J. Hudspeth, ’n professor in biologie en fisiologie, het in die tydskrif Scientific American geskryf: “Verdere werk kan egter net ons verwondering versterk oor die sensitiwiteit en ingewikkeldheid van hierdie piepklein stukkie biologiese toerusting.”
Wanfunksie van die vestibulêre stelsel
In my geval is my binneoorprobleem as otosklerose gediagnoseer. Dit is ’n toestand waar die been waarin jou vestibulêre stelsel is sag en sponserig word. Gewoonlik bly hierdie been baie hard, selfs harder as die bene in die res van jou liggaam. Wanneer dit sag word, word daar glo ’n ensiem vrygestel wat in die vloeistof van die binneoor insypel en ’n chemiese versteuring veroorsaak of die vloeistof in werklikheid vergiftig. Dít kan die vreemde sensasie van aanhoudende beweging veroorsaak selfs al staan of lê jy stil.
Dit het my laat voel asof die sypaadjie onder my voete ’n golfbeweging van soms tot 30 sentimeter maak. Wanneer ek plat gelê het, het dit gevoel asof ek in ’n roeibootjie lê op ’n see met golwe van ’n meter hoog. Die sensasie het nie gekom en gegaan soos party gevalle van duiseligheid nie, maar dit het gekom en was maande lank 24 uur per dag met my. Die enigste verligting wat ek gekry het, was wanneer ek geslaap het.
Oorsake en behandelings
Die oorsaak van otosklerose is nog onbekend, hoewel daar dalk ’n verband met die erflikheidsfaktor kan wees. Dit is baie moeilik vir die mediese wetenskap om die toestand te bestudeer, want dit kom net by mense voor. Dit kom selde indien ooit by diere voor. Otosklerose kan tinnitus (oorsuising), ’n “dik” gevoel in die kop, lighoofdigheid, ’n gevoel asof jy van balans af is of verskeie ander vorme van duiseligheid veroorsaak. Dieselfde toestand kan ’n verstywing van die stiebeuel in die middeloor veroorsaak en geleidingsdoofheid tot gevolg hê. As otosklerose die koglea bereik, kan dit ook gevoelsenuweedoofheid veroorsaak deur die senuwerking te vernietig.
Daar is behandelings vir hierdie toestand. Party behels ’n operasie (sien die Ontwaak! van 8 Julie 1988, bladsy 19); ander probeer die agteruitgang van die been keer deur kalsium- en fluoriedaanvullings. Suikervrye diëte word soms voorgestel, want die binneoor het baie bloedsuiker nodig. Trouens, die binneoor het drie maal soveel suiker vir energie nodig as ’n stukkie van die brein van dieselfde grootte. ’n Gesonde oor hanteer die normale wisselings in bloedsuiker redelik goed; maar as die oor eers beskadig is, kan hierdie wisselings jou kop laat draai. Kafeïen en alkohol is blykbaar ook nadelig as jou binneoor nie reg funksioneer nie. Hoewel die plesierbootrit, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, nie werklik die probleem veroorsaak het nie, het die veranderinge in temperatuur, vogtigheid en eetgewoontes waarskynlik tot die ewewigsverlies aanleiding gegee.
Jou binneoor hoor nie net nie. Op ’n verbasende en wonderlike manier help dit jou om jou balans te behou. Die ontwerp daarvan moet ons verbaas laat staan oor die handewerk van ons Maker en dit moet ons waardering vir hom as Skepper verdiep.—Bygedra.
[Diagramme/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Jou verbasende vestibulêre stelsel
Buiteaansig
BOONSTE KANAAL
OVALE VENSTER
KOGLEA
RONDE VENSTER
ONDERSTE KANAAL
HORISONTALE KANAAL
Binneaansig
SLAAPBEEN
MEMBRAANLABIRINT
AMPULLA
SACCULUS
Reseptor vir vertikale beweging
KOGLEA
Gehoororgaan
MAKULA
UTRIKULUS
KRISTA
Reseptor vir horisontale beweging
Meet buigbewegings