Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 9/22 bl. 21-24
  • Jou gehoor—’n kosbare gawe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou gehoor—’n kosbare gawe
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jou belangrike buiteoor
  • Jou middeloor—’n meganiese wonder
  • Jou verbasende binneoor
  • Jou brein en gehoor
  • ’n Kosbare gawe
  • Jou oor—die groot mededeler
    Ontwaak!—1990
  • Beskerm jou gehoor!
    Ontwaak!—2002
  • Waardeer jou spesiale gawes
    Ontwaak!—2011
  • Die Godgegewe gawe van balans
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 9/22 bl. 21-24

Jou gehoor—’n kosbare gawe

’N STIL aand op die platteland, weg van die stadsgeraas, bied ’n mens die geleentheid om die sagte klanke van die nag te geniet. ’n Ligte bries laat die blare saggies ritsel. Insekte, voëls en ander diere kan in die verte gehoor word. Wat ’n wonderlike gewaarwording om sulke sagte geluide te hoor! Kan jy dit hoor?

Die potensiaal van die menslike gehoorstelsel is eenvoudig verbasend. As jy ’n halfuur deurbring in ’n eggolose kamer—’n kamer wat akoesties afgesonder is met oppervlaktes wat ontwerp is om alle klank te absorbeer—sal jou gehoor stadigaan genoeg verskerp het sodat jy die onbekende klanke wat uit jou eie liggaam kom begin hoor. Die akoestikus F. Alton Everest beskryf die ondervinding in The Master Handbook of Acoustics. Eerstens word jou eie hartklop duidelik hoorbaar. Ná ongeveer ’n uur in die kamer hoor jy hoe jou bloed deur jou bloedvate vloei. Uiteindelik, as jou gehoor baie goed is, “word jou geduld beloon met ’n vreemde sissende geluid tussen die slae van die hart en die gedruis van bloed. Wat is dit? Dit is die geluid van lugdeeltjies wat jou oortromme tref”, verduidelik Everest. “Die beweging van die oortrom wat voortspruit uit hierdie sissende geluid is ongelooflik klein—net 1/100 van ’n miljoenste van ’n sentimeter!” Dit is “die gehoordrempel”, die onderste grens van jou vermoë om klank waar te neem. Groter sensitiwiteit sou vir jou van geen nut wees nie, aangesien sagter geluide gesmoor sou word deur die geraas wat die beweging van lugdeeltjies veroorsaak.

Gehoor word moontlik gemaak deur die samewerking van die buite-, middel- en binneoor tesame met die verwerkings- en waarnemingsvermoëns van ons senustelsel en brein. Klank beweeg deur die lug as golwe van drukwisseling. Hierdie golwe beweeg ons oortromme heen en weer, en hierdie beweging word weer deur die middeloor na die binneoor oorgedra. Daar word die beweging in senu-impulse omgesit, wat die brein as klank interpreteer.a

Jou belangrike buiteoor

Die buigsame, gekronkelde buitenste deel van jou oor word die oorskulp genoem. Die oorskulp versamel klank, maar dit doen baie meer as net dit. Het jy al ooit gewonder waarom jou oor al daardie klein voutjies het? Klankgolwe wat van die verskillende oppervlaktes van die oorskulp af reflekteer, word baie effens gewysig volgens die aankomshoek daarvan. Die brein kan hierdie geringe verskille ontsyfer en die posisie van die klank se oorsprong bepaal. Daarbenewens vergelyk die brein ook die tyd en intensiteit van ’n geluid wanneer dit elkeen van jou ore binnegaan.

Om dit te demonstreer, kan jy jou vingers klap terwyl jy jou hand op en af beweeg direk voor iemand wie se oë toe is. Hoewel jou vingers dieselfde afstand van elkeen van sy ore af bly, sal hy nog steeds kan sê of die geluid van bo, onder of êrens tussenin kom. Trouens, selfs iemand met net een goeie oor kan heel goed bepaal waar klanke vandaan kom.

Jou middeloor—’n meganiese wonder

Die hooffunksie van jou middeloor is om die beweging van jou oortrom oor te dra na die vloeistof wat jou binneoor vul. Daardie vloeistof is baie swaarder as lug. Soos dit dus die geval is met ’n fietsryer wat teen ’n steil bult opgaan, word ’n geskikte ‘ratverhouding’ vereis om die energie so doeltreffend moontlik oor te dra. In die middeloor word die energie oorgedra deur drie piepklein beentjies, wat weens hulle vorm gewoonlik die hamer, die aambeeld en die stiebeuel genoem word. Hierdie baie klein meganiese skakeling bring ’n ‘ratverhouding’ teweeg wat byna volmaak is vir die binneoor. Daarsonder sou 97 persent van die klankenergie na berekening verlore gaan!

Daar is twee delikate spiere wat aan die skakeling in jou middeloor geheg is. Binne ’n honderdste van ’n sekonde nadat jou oor aan ’n harde laefrekwensieklank blootgestel is, trek hierdie spiere outomaties saam, wat die beweging van die skakeling grootliks beperk en sodoende enige moontlik skade voorkom. Hierdie refleks is vinnig genoeg om jou teen feitlik al die harde geluide wat in die natuur voorkom te beskerm, maar nie teen al dié wat deur meganiese en elektroniese toerusting voortgebring word nie. Daarbenewens kan die klein spiere hierdie beskermende posisie net tot tien minute lank behou. Maar dit gee jou die geleentheid om van die hinderlike klank af weg te kom. Interessant genoeg, wanneer jy praat, stuur jou brein seine aan hierdie spiere om jou gehoorsensitiwiteit te verminder sodat jou eie stem nie vir jou te hard is nie.

Jou verbasende binneoor

Die deel van jou binneoor wat by gehoor betrokke is, is binne-in die koglea, wat so genoem word omdat dit soos die skulp van ’n slak lyk. Die omhulsel wat die delikate meganisme daarvan beskerm, is jou liggaam se hardste been. In sy gangetjies word die basilêre membraan aangetref, een van die etlike weefsels wat die lengte van die koglea in kanale verdeel. Al met die basilêre membraan langs lê die orgaan van Corti, en dit ondersteun duisende haarselle—senuselle met haaragtige punte wat tot in die vloeistof strek wat die koglea vul.

Wanneer die beweging van die beentjies van die middeloor die ovale venster van die koglea vibreer, veroorsaak dit golwe in die vloeistof. Hierdie golwe beweeg die membrane, net soos golfies op ’n dammetjie drywende blare op en af beweeg. Die golwe buig die basilêre membraan op plekke wat met spesifieke frekwensies ooreenstem. Haarselle op daardie plekke raak dan aan die tektoriale membraan wat bo dit lê. Hierdie kontak stel die haarselle in werking, en hulle wek weer impulse op en stuur dit na jou brein. Hoe intenser die klank, hoe meer haarselle word gestimuleer en hoe vinniger word hulle gestimuleer. Die brein neem dus ’n harder klank waar.

Jou brein en gehoor

Jou brein is die belangrikste deel van jou gehoorstelsel. Dit het die ontsagwekkende vermoë om die groot hoeveelheid data wat dit in die vorm van senu-impulse ontvang in die verstandelike waarneming van klank om te sit. Hierdie groot rol wat dit speel, wys op die spesiale skakel tussen denke en gehoor, ’n verband wat nagevors word in die veld wat as psigoakoestiek bekend staan. Jou brein stel jou byvoorbeeld in staat om een uit baie gesprekke in ’n stampvol vertrek te hoor. ’n Mikrofoon het nie hierdie vermoë nie, en daarom sal ’n bandopname wat in dieselfde vertrek gemaak is moontlik byna onverstaanbaar wees.

Die irritasie wat deur ongewenste geluide veroorsaak word, wys op nog ’n aspek van hierdie skakel. Ongeag hoe laag die intensiteit van ’n klank is, as jy dit enigsins kan hoor wanneer jy nie wil nie, kan dit irriterend wees. Die intensiteit van ’n geluid wat deur ’n druppende kraan gemaak word, is byvoorbeeld baie laag. Maar jy sal dit dalk uiters steurend vind as dit jou in die middel van die nag wakker hou!

Ons emosies hou inderdaad ten nouste verband met ons gehoorsin. Dink net aan die aansteeklike uitwerking van hartlike gelag of aan die warm gevoel wat ’n woordjie van liefde of lof meebring. Net so is ’n groot deel van dit wat ons in ons verstand inneem die dinge wat ons hoor.

’n Kosbare gawe

Baie van die fassinerende geheime van ons gehoor moet nog ontsluit word. Maar die wetenskaplike begrip wat reeds verkry is, verdiep ons waardering vir die intelligensie en liefde wat daarin geopenbaar word. “Wanneer ’n mens die menslike gehoorstelsel deeglik ondersoek”, skryf die akoestieknavorser F. Alton Everest, “is dit moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat die ingewikkelde funksies en strukture daarvan op die een of ander weldadige hand in die ontwerp daarvan dui nie.”

Koning Dawid van eertydse Israel het nie die hedendaagse wetenskaplike kennis van die inwendige werking van ons gehoor gehad nie. En tog het hy oor sy eie liggaam en die baie gawes daarvan gedink en tot sy Maker gesing: “Ek [is] op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak . . . U werke is wonderbaar” (Psalm 139:14, NW). Wetenskaplike navorsing oor die wonders en raaisels van die liggaam, waaronder die gehoor, lewer verdere bewys dat Dawid reg was—ons is wonderbaar ontwerp deur ’n wyse en liefdevolle Skepper!

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Januarie 1990, bladsye 18-21.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Hulp vir diegene wie se gehoor beskadig is

Langdurige blootstelling aan harde klanke veroorsaak permanente gehoorbeskadiging. Blootstelling aan uitermate harde musiek of om sonder beskerming naby lawaaierige toerusting te werk, is so ’n verlies net nie werd nie. Gehoortoestelle kan ’n mate van hulp verleen aan diegene wat swak hoor, selfs aan party wat doof gebore is. Vir baie bring sulke toestelle ’n hele wêreld van ondervindinge terug. Nadat ’n vrou vir die eerste keer gehoortoestelle gekry het, het sy van ’n vreemde geluid buite haar kombuisvenster bewus geword. “Dit was die voëls!” roep sy uit. “Ek het die voëls jare laas gehoor!”

Selfs sonder ernstige skade, verswak ouderdom gewoonlik ons vermoë om klanke met ’n hoë toon te hoor. Ongelukkig sluit dit die frekwensies in van die konsonante—die klanke wat dikwels die noodsaaklikste is om spraak te verstaan. Gevolglik sal ouer mense dalk vind dat mondelinge kommunikasie bemoeilik kan word deur gewone huishoudelike klanke, soos dié wat veroorsaak word deur lopende water of papier wat opgefrommel word, aangesien dit hoë frekwensies het wat die konsonante versteur. Gehoortoestelle kan gedeeltelike verligting bring, maar hulle het ook hulle eie nadele. Ten eerste kan goeie gehoortoestelle baie duur wees—geheel en al buite die bereik van die gemiddelde persoon in baie lande. En geen gehoortoestel kan jou in elk geval weer heeltemal normaal laat hoor nie. Wat kan dus gedoen word?

Dit help baie om bedagsaamheid te betoon. Voordat jy met iemand praat wat gehoorverlies het, moet jy seker wees hy weet dat jy iets gaan sê. Probeer om vir die persoon te kyk. Dit stel hom in staat om jou liggaams- en lipbewegings te sien en om die volle sterkte van die konsonante in jou woorde te hoor. Beweeg, indien moontlik, nader aan die persoon, en praat stadig en duidelik; moenie skreeu nie. Harde klanke is eintlik pynlik vir talle hardhorende mense. As ’n stelling nie verstaan word nie, moet jy dit eerder anders probeer stel as om dit te herhaal. As jou gehoor eweneens nie meer so goed is nie, kan jy dit vir ander makliker maak om met jou te kommunikeer deur nader te beweeg aan die een wat praat en deur geduldig te wees. Hierdie ekstra pogings kan beter verhoudinge tot gevolg hê en kan jou help om bewus te bly van wat om jou aangaan.

[Prent]

Wanneer jy ’n persoon met gehoorverlies aanspreek, moet jy vir hom kyk en stadig en duidelik praat

[Diagramme op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Jou oor

Oorskulp

Gehoorsenu

Oortrom

Hamer (malleus)

Aambeeld (inkus)

Stiebeuel (stapes)

Ronde venster

Ovale venster

Koglea

Gehoorgang

Orgaan van Corti

Gehoorsenu

Haar- selle

Tektoriale membraan

Senuvesels

Basilêre membraan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel