Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 14 bl. 168-178
  • Die mens—’n wonder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die mens—’n wonder
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Iets wat “verwondering wek”
  • Ons veel groter vermoë
  • Taal kom net by mense voor
  • Dinge wat slegs deur skepping verklaar kan word
  • Waardeer hierdie wonder
  • Jou brein—Hoe werk dit?
    Ontwaak!—1999
  • Hoe uniek is jy tog!
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Jou brein—’n ingewikkelde wonder
    Ontwaak!—1999
  • ’n Breinnavorser verduidelik waarom hy aan God glo
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 14 bl. 168-178

Hoofstuk 14

Die mens—’n wonder

1. Watter feit omtrent die brein skep oënskynlik ’n groot probleem daarvoor?

VAN al die wonderlike dinge op die aarde is daar nie een wat verstommender as die mensebrein is nie. Elke sekonde bombardeer die verskillende sintuie die brein byvoorbeeld met om en by 100 miljoen brokkies informasie. Maar hoe voorkom die brein dat hy heeltemal deur hierdie groot hoeveelheid informasie oorweldig word? As ons net aan een ding op ’n slag kan dink, hoe is dit dan vir die verstand moontlik om hierdie miljoene gelyktydige boodskappe te verwerk? Dit is duidelik dat die verstand nie net hierdie bombardement oorleef nie, maar dit met gemak verwerk.

2, 3. Op watter twee maniere hanteer die brein hierdie probleem?

2 Die wyse waarop dit dit doen, is slegs een van die talle wonders van die mensebrein. Twee faktore is by die saak betrokke. Eerstens, in die harsingstam is daar ’n senuweenetwerk so groot soos jou pinkie. Hierdie netwerk word die retikulêre formasie genoem. Dit is ’n soort verkeersentrale wat die miljoene boodskappe wat die brein binnekom, kontroleer, die onbenullige uitsif en die noodsaaklike kies vir aandag deur die harsingskors. Hierdie klein senuweenetwerk sorg dat hoogstens ’n paar honderd boodskappe die bewuste verstand per sekonde binnegaan.

3 Tweedens, die konsentrasie van ons aandag word skynbaar verder verbeter deur golwe wat die brein 8 tot 12 keer per sekonde aftas. Hierdie golwe veroorsaak tydperke van hoë sensitiwiteit, waartydens die brein die sterker seine waarneem en daarop reageer. Daar word gemeen dat die brein homself met behulp van hierdie golwe aftas en sodoende op die noodsaaklike fokusseer. Daar is dus elke sekonde ’n verbasende drukte in ons kop!

Iets wat “verwondering wek”

4. Wat bly steeds waar, ondanks intensiewe wetenskaplike navorsing om die brein te verstaan?

4 In die laaste jare het wetenskaplikes geweldige vooruitgang gemaak in hulle studie van die brein. Maar selfs dan is die bietjie wat hulle geleer het onbeduidend in vergelyking met wat steeds onbekend is. Een navorser het gesê dat ons brein, na duisende jare van bespiegeling en onlangse dekades van intensiewe wetenskaplike navorsing, net soos die heelal “wesenlik raaiselagtig”⁠1 bly. Die mensebrein is maklik die geheimsinnigste deel van die wonder wat “mens” genoem word—waar “wonder” iets beteken wat “verwondering wek”.

5. Watter feit omtrent die ontwikkeling van die mensebrein in ’n groeiende baba toon die kloof tussen die mensebrein en die brein van diere?

5 Die wonder begin in die baarmoeder. Drie weke na bevrugting begin breinselle om vorm aan te neem. Hulle groei in vlae, soms tot 250 000 selle per minuut. Na geboorte hou die brein aan om te groei en sy netwerk van verbindings te vorm. Die kloof tussen die mensebrein en dié van enige dier is gou duidelik: “Anders as in die geval van enige ander dier, word ’n baba se brein gedurende sy eerste jaar drie keer groter”, sê die boek The Universe Within.⁠2 Mettertyd bestaan ’n mensebrein uit ongeveer 100 miljard senuselle genaamd neurone, sowel as ander soorte selle, hoewel dit slegs 2 persent van die liggaam se gewig uitmaak!

6. Hoe vloei senu-impulse van neuron tot neuron?

6 Die vernaamste breinselle—die neurone—raak in werklikheid nie aan mekaar nie. Hulle word geskei deur sinapse, klein ruimtes met ’n deursnee van minder as een veertigduisendste van ’n millimeter. Hierdie gapings word oorbrug deur chemikalieë genaamd neurohormone, waarvan 30 bekend is, hoewel die brein dalk veel meer bevat. Hierdie chemiese prikkels word aan die een punt van die neuron by ’n magdom uitsteekseltjies genaamd dendriete waargeneem. Die prikkels word dan by die ander punt van die neuron oorgedra deur ’n senuvesel genaamd ’n akson. In die neurone is die impulse elektries, maar oor die gapings is hulle chemies. Die vervoer van senu-impulse is gevolglik elektrochemies van aard. Al die impulse is ewe sterk, maar die intensiteit van die prikkel hang af van die frekwensie van die impulse, wat tot eenduisend per sekonde kan wees.

7. Oor watter aspek van die brein het die Bybel kommentaar gelewer, en wat het wetenskaplikes geleer wat hiermee ooreenstem?

7 Dit is nie duidelik presies watter fisiologiese veranderinge in die brein plaasvind wanneer ons leer nie. Maar eksperimentele getuienis dui daarop dat wanneer ons leer, veral terwyl ons jonk is, beter verbindinge gevorm word, en meer van die chemikalieë wat die gapings tussen neurone oorbrug, afgeskei word. Voortdurende gebruik versterk die verbindings, met die gevolg dat die leervermoë verbeter. “Weë wat dikwels saam geaktiveer word, word op die een of ander wyse versterk”, berig Scientific American.⁠3 In hierdie verband is dit interessant om te sien dat die Bybel sê dat dieper sake makliker verstaan word deur volwasse persone “wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen” (Hebreërs 5:14). Navorsing het getoon dat ongebruikte geestesvermoëns kwyn. Net soos ’n spier word die brein dus deur gebruik versterk en deur onbruik verswak.

8. Wat is een van die groot onuitgemaakte sake rakende die brein?

8 Die ontsaglike getal mikroskopiese senuvesels wat hierdie verbindings in die brein maak, word dikwels sy “bedrading” genoem. Hulle is sekuur geplaas in ’n netwerk wat verstommend ingewikkeld is. Maar hoe hulle geplaas word op die presiese plekke wat deur die “bedradingsdiagramme” vereis word, is ’n raaisel. “Die belangrikste onopgeloste kwessie rakende die ontwikkeling van die brein”, het een wetenskaplike gesê, “is ongetwyfeld hoe neurone spesifieke verbindingspatrone vorm. . . . Die meeste van die verbindings is skynbaar op ’n vroeë ontwikkelingstadium akkuraat bepaal.”⁠4 ’n Ander navorser voeg by dat hierdie spesifiek uitgewerkte gebiede van die brein “deur die hele senustelsel voorkom, en hoe hierdie presiese bedrading aangebring word, een van die groot onopgeloste probleme is”.⁠5

9. Hoeveel verbindings skat wetenskaplikes bestaan daar in die brein, en wat sê een deskundige oor die vermoë daarvan?

9 Die getal van hierdie verbindings is astronomies! Elke neuron kan duisende verbindings met ander neurone hê. Daar is nie alleen verbindings tussen neurone nie, maar daar is ook mikrostroombane regstreeks tussen die dendriete. “Hierdie ‘mikrostroombane’”, sê een neuroloog, “voeg ’n heeltemal nuwe dimensie by ons reeds verstommende begrip van hoe die brein werk.”⁠6 Sommige navorsers meen dat die “miljarde der miljarde senuweeselle in die mensebrein moontlik tot eenduisendbiljoen verbindings maak”.⁠7 Met watter vermoë? Carl Sagan sê dat die brein informasie kan berg wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul, soveel as wat daar in die wêreld se grootste biblioteke is”.⁠8

10. (a) Hoe verskil die mens se harsingskors van dié van diere, en watter voordele hou dit vir die mens in? (b) Wat het een navorser hieromtrent gesê?

10 Dit is die brein se harsingskors wat ’n groot kloof tussen die mens en enige dier vorm. Dit is minder as ses millimeter dik, is vol groewe en lê knus teenaan die skedel. As dit oopgesprei word, sal die skors ’n kwart vierkante meter beslaan, met om en by eenduisend kilometer verbindingsvesels per kubieke sentimeter. Die mens se harsingskors is nie alleen veel groter as dié van enige dier nie, maar dit het ook ’n veel groter onverbonde gebied. Dit wil sê, dit is nie verbind tot die hantering van die fisiese funksies van die liggaam nie, maar kan gebruik word vir die hoër geestesprosesse wat mense van diere skei. “Ons is nie net slimmer ape nie”, het een navorser gesê. Ons verstande “maak ons kwalitatief anders as alle ander lewensvorme”.⁠9

Ons veel groter vermoë

11. Hoe gee die mensebrein die mens leermoontlikhede wat diere nie het nie?

11 “Dit is die mensebrein se vermoë om ’n verskeidenheid meer gespesialiseerde bedrywighede te leer wat hom onderskei”,⁠10 het ’n wetenskaplike gesê. Die rekenaarwetenskap gebruik die uitdrukking “hardbedraad” om ingeboude eienskappe te beskryf wat op vaste baanwerk berus, in teenstelling met funksies wat deur ’n programmeerder in ’n rekenaar ingevoer kan word. “By mense”, skryf een deskundige, “sien hardbedrading op aangebore vermoëns of, ten minste, neigings.”⁠11 Mense het talle ingeboude leervermoëns, maar nie die kennis self nie. Diere, daarenteen, is “hardbedraad” met instinktiewe wysheid, maar het beperkte vermoëns om nuwe dinge te leer.

12. Met watter vermoë is die mensebrein voorgeprogrammeer, in teenstelling met diere, en watter vryheid bied dit mense?

12 The Universe Within meld dat die intelligentste dier “nooit ’n verstand soos dié van ’n mens ontwikkel nie. Want dit het nie wat ons het nie: voorprogrammering van ons senutoerusting wat ons in staat stel om begrippe te vorm uit die dinge wat ons sien, taal uit die dinge wat ons hoor, en gedagtes uit ons ondervindinge.” Maar ons moet die brein programmeer deur dinge uit ons omgewing daarin te voer, anders sal, soos die boek sê, “niks wat met die mensebrein ooreenkom, ontwikkel nie . . . Sonder daardie geweldige invoering van ondervinding sal daar nouliks ’n spoor van intellek verskyn.”⁠12 Dit is dus die ingeboude vermoë van die mensebrein wat ons in staat stel om die menslike intellek op te bou. En anders as diere het ons die vrye wil om ons intellek te programmeer soos ons wil, gebaseer op ons eie kennis, waardes, geleenthede en doelwitte.

Taal kom net by mense voor

13, 14. (a) Watter voorbeeld van voorprogrammering bied mense baie moontlikhede om hulle intellek te programmeer soos hulle wil? (b) Wat het een bekende taalkundige in die lig hiervan oor diere en taal gesê?

13 ’n Besondere voorbeeld van “hardbedrade” vermoëns met groot programmeringsmoontlikhede is taal. Vakkundiges stem saam dat “die mensebrein geneties vir taalontwikkeling geprogrammeer is”,⁠13 en dat spraak “alleenlik verklaar kan word op grond van ’n aangebore taalverwerkende vermoë in ons brein”.⁠14 Anders as die onbuigsaamheid wat geopenbaar word in die instinktiewe gedrag van diere, bestaan daar geweldige moontlikhede in ’n mens se gebruik van hierdie aangebore vermoë om ’n taal te leer.

14 ’n Spesifieke taal is nie in ons brein ingeskape nie, maar ons is voorgeprogrammeer met die vermoë om tale te leer. Wanneer twee tale in die huis gepraat word, kan ’n kind albei leer. As hy aan ’n derde blootgestel word, kan die kind dit ook leer. Een meisie is van kleintyd af aan verskeie tale blootgestel. Toe sy vyf jaar oud was, kon sy agt vlot praat. In die lig van sulke aangebore vermoëns verbaas dit ons nie dat ’n taalkundige gesê het dat vingertaaleksperimente met sjimpansees “in werklikheid bewys dat sjimpansees nie eens die eenvoudigste vorme van menslike taal kon baasraak nie”.⁠15

15. Wat toon die wetenskap oor die oudste tale?

15 Kon so ’n verbasende vermoë uit die grom- en knorgeluide van diere geëvolueer het? Studies van die oudste tale skakel enige sodanige evolusie van taal uit. Een deskundige het gesê dat “daar geen primitiewe tale is nie”.⁠16 Antropoloog Ashley Montagu het saamgestem dat sogenaamde primitiewe tale “dikwels baie ingewikkelder en doeltreffender is as die tale van die sogenaamde hoër beskawings”.⁠17

16. Wat sê sommige navorsers oor die oorsprong van taal, maar vir wie is dit geen raaisel nie?

16 Een neuroloog het die gevolgtrekking gemaak: “Hoe meer ons probeer om uit te vind hoe taal werk, des te raaiselagtiger word die proses.”⁠18 ’n Ander navorser sê: “Op die oomblik is die oorsprong van sintaktiese spraak ’n raaisel.”⁠19 En ’n derde sê: “Die spraakvermoë, wat mense en nasies soos geen ander krag beweeg nie, onderskei mense van diere op unieke wyse. Tog bly die oorsprong van taal een van die brein se verbysterendste raaisels.”⁠20 Dit is egter geen raaisel vir diegene wat daarin die hand van ’n Skepper sien wat gebiede in die brein “hardbedraad” het vir taalvermoëns nie.

Dinge wat slegs deur skepping verklaar kan word

17. (a) Watter feit omtrent die brein skep vir evolusie ’n onverklaarbare probleem? (b) Wat sou dit logies maak dat die mens so ’n geweldige breinvermoë het?

17 Die Encyclopædia Britannica sê dat die mens se brein “begaaf is met ’n baie groter potensiaal as wat in die loop van een persoon se lewe verwesenlik kan word”.⁠21 Daar is ook gesê dat die mensebrein enige leer- en geheuelading kan dra wat daarop gelaai word, en ’n miljard keer meer! Maar waarom sou evolusie so ’n oormaat produseer? “Dit is trouens die enigste bestaande voorbeeld van waar ’n spesie met ’n orgaan toegerus is wat hy nog nie geleer het om te gebruik nie”, het een wetenskaplike erken. Hy het toe gevra: “Hoe kan dit versoen word met evolusie se mees fundamentele tese: Natuurlike teeltkeuse vind plaas in klein stappies, waarvan elk die besitter ’n klein, maar nietemin meetbare, voordeel moet bied?” Hy het bygevoeg dat die ontwikkeling van die mensebrein “die onverklaarbaarste aspek van evolusie bly”.⁠22 Is dit nie, met die oog op die feit dat die evolusieproses nie so ’n oormatige, ongebruikte breinvermoë sou voortbring en oordra nie, redeliker om die gevolgtrekking te maak dat die mens, met sy oneindige leervermoë, gemaak was om vir ewig te lewe nie?

18. Hoe het een wetenskaplike die mensebrein opgesom, en wat toon watter vermoëns dit het?

18 Carl Sagan, wat verbaas was dat die mens se brein informasie kan bevat wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul”, het gesê: “Die brein is ’n baie groot plek in ’n baie klein ruimte.”⁠23 En die prosesse in hierdie klein ruimte gaan menslike begrip te bowe. Stel jou byvoorbeeld voor wat plaasvind in die brein van ’n pianis wat ’n moeilike musiekkomposisie speel terwyl al sy vingers oor die klawers vlieg. Watter verbasende bewegingsin moet sy brein tog hê om die vingers te beveel om die regte klawers op die regte tyd met die regte krag te druk sodat dit met die note in sy kop ooreenkom! En as hy ’n verkeerde klawer druk, laat die brein hom dadelik daarvan weet! Hierdie hele ongelooflik ingewikkelde werking is deur jare van oefen in sy brein geprogrammeer. Maar dit is slegs moontlik omdat musiekvermoë van geboorte af in die mensebrein voorgeprogrammeer is.

19. Wat verklaar die intellektuele hoedanighede en ander wonderlike vermoëns van die mensebrein?

19 Geen dierebrein het ooit sulke dinge bedink nie, laat staan nog gedóén. En geen evolusieteorie bied ’n verklaring nie. Is dit nie duidelik dat die mens se intellektuele hoedanighede dié van ’n Opperintellek weerspieël nie? Dit strook metGenesis 1:27 wat sê: “God het die mens geskape na sy beeld.” Die diere is nie na God se beeld geskape nie. Dit is waarom hulle nie die vermoëns het wat die mens besit nie. Hoewel diere verbasende dinge kan doen as gevolg van voorafbepaalde, onbuigsame instinkte, steek hulle ver af by mense met hulle oneindige moontlikhede wat denke en dade betref en hulle vermoë om voortdurend op vorige kennis te bou.

20. In watter opsig strook die mens se altruïsme nie met evolusie nie?

20 Die menslike vermoë om altruïsties te wees—om onselfsugtig te gee—skep nog ’n probleem vir evolusie. Een evolusionis het gesê: “Enigiets wat deur natuurlike teeltkeuse geëvolueer het, behoort selfsugtig te wees.” En baie mense is natuurlik selfsugtig. Maar soos hy later erken het: “Nog ’n unieke eienskap van die mens is moontlik opregte, onbaatsugtige, ware altruïsme.”⁠24 ’n Ander wetenskaplike het bygevoeg: “Altruïsme is in ons ingebou.”⁠25 Slegs mense beoefen dit met ’n bewustheid van die prys, of opoffering, wat daarby betrokke kan wees.

Waardeer hierdie wonder

21. Watter vermoëns en hoedanighede van die mens skep ’n groot kloof tussen hom en enige dier?

21 Dink ’n bietjie: Die mens bring abstrakte gedagtes voort, stel bewus doelwitte, beraam planne om hulle te bereik, doen stappe om hulle te verwesenlik en put genot uit die verwesenliking daarvan. Omdat die mens geskape is met ’n oog vir skoonheid, ’n oor vir musiek, ’n aanleg vir kuns, ’n drang om te leer, ’n onversadigbare weetgierigheid, en ’n verbeelding wat uitdink en skep, put hy vreugde en genoegdoening uit die beoefening van hierdie gawes. Probleme bied ’n uitdaging, en hy geniet dit om sy geestes- en liggaamsvermoëns te gebruik om hulle op te los. Die mens het ook ’n morele sin om te bepaal wat reg en verkeerd is en ’n gewete om hom te kwel wanneer hy afdwaal. Dit maak hom gelukkig wanneer hy gee, en dit maak hom bly wanneer hy liefde bewys en ontvang. Al hierdie dinge vergroot sy lewensvreugde en maak sy lewe doelgerig en sinvol.

22. Watter bepeinsinge maak die mens bewus van sy nietigheid en laat hom na begrip tas?

22 ’n Mens kan peins oor die plante en diere, die prag van die berge en oseane om hom, die onmeetlikheid van die sterbesaaide hemele bokant hom, en bewus wees van sy nietigheid. Hy is bewus van tyd en die ewigheid, wonder hoe hy hier gekom het en waarheen hy gaan, en probeer verstaan wat die doel van alles is. Geen dier koester sulke gedagtes nie. Maar die mens wil die hoekom en die waarom van dinge weet. Al hierdie dinge is omrede hy begaaf is met ’n ontsagwekkende brein en omrede hy die “beeld” van sy Skepper dra.

23. Aan wie het Dawid die eer vir sy oorsprong gegee, en wat het hy oor sy vorming in die baarmoeder gesê?

23 Met verbasende insig het die eertydse psalmis Dawid die eer gegee aan die Een wat die brein gemaak het en aan wie hy die wonder van menslike geboorte toegeskryf het. Hy het gesê: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp [“embrio”, NW] gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe.”—Psalm 139:14-16.

24. Watter wetenskaplike ontdekkings het Dawid se woorde nog verbasender gemaak?

24 Daar kan waarlik gesê word dat al die dele van die groeiende menseliggaam in die bevrugte eier in die moederskoot “opgeskrywe” is. Die hart, die longe, die niere, die oë en ore, die arms en bene, en die ontsagwekkende brein—hierdie en al die ander dele van die liggaam is in die genetiese kode van die bevrugte eier in die moederskoot “opgeskrywe”. Hierdie kode bevat inwendige roosters vir die verskyning van hierdie dele, elkeen in sy regte orde. Hierdie feit is in die Bybel opgeteken byna drieduisend jaar voordat die hedendaagse wetenskap die genetiese kode ontdek het!

25. Op watter gevolgtrekking dui al hierdie dinge?

25 Is die bestaan van die mens met sy verbasende brein nie inderdaad ’n wonderwerk, ’n bron van verwondering nie? Is dit nie ook duidelik dat slegs die skepping, nie evolusie nie, so ’n wonderwerk kan verklaar nie?

[Lokteks op bladsy 168]

Hoe kan die brein die 100 miljoen boodskappe wat dit elke sekonde ontvang, verwerk?

[Lokteks op bladsy 169]

Die brein tas homself ongeveer elke tiende van ’n sekonde af om op die noodsaaklike te fokusseer

[Lokteks op bladsy 169]

Ons brein bly “wesenlik raaiselagtig”

[Lokteks op bladsy 173]

“Ons is nie net slimmer ape nie.” Ons verstande “maak ons kwalitatief anders as alle ander lewensvorme”

[Lokteks op bladsy 175]

‘Die oorsprong van taal bly een van die brein se verbysterendste raaisels’

[Lokteks op bladsy 175]

Die ontwikkeling van die mensebrein “bly die onverklaarbaarste aspek van evolusie”

[Lokteks op bladsy 177]

Die mens se ontsagwekkende brein dra die “beeld” van die Een wat hom gemaak het

[Venster/Prent op bladsy 171]

DIE MENSEBREIN—’n ‘Onopgeloste raaisel’?

“Die mensebrein is die wonderlikste en raaiselagtigste voorwerp in die ganse heelal.”—Antropoloog Henry F. Osborn⁠a

“Hoe bring die brein gedagtes voort? Dit is die belangrike vraag, en ons het nog geen antwoord daarop nie.”—Fisioloog Charles Sherrington⁠b

“Ondanks die gestadige akkumulasie van gedetailleerde kennis is die wyse waarop die mensebrein funksioneer nog steeds ’n groot verborgenheid.”—Bioloog Francis Crick⁠c

“Enigiemand wat ’n rekenaar ’n ‘elektroniese brein’ noem, het nog nooit ’n brein gesien nie.”—Wetenskapredakteur dr. Irving S. Bengelsdorf⁠d

“Ons aktiewe geheue bevat etlike miljarde keer meer informasie as ’n groot hedendaagse navorsingsrekenaar.”—Wetenskapskrywer Morton Hunt⁠e

“Aangesien die brein anders en oneindig ingewikkelder as enigiets anders in die bekende heelal is, sal ons dalk van die idees waaraan ons die vurigste glo, moet verander voordat ons die brein se raaiselagtige struk tuur kan verstaan.”—Neuroloog Richard M. Restak⁠f

Aangaande die geweldige kloof tussen mense en diere het Alfred R. Wallace, die ‘medeontdekker van evolusie’, aan Darwin geskryf: “Natuurlike teeltkeuse kon die barbaar slegs begaaf het met ’n brein wat effens beter is as dié van die aap. Hy besit egter ’n brein wat net effens minderwaardig is aan dié van ’n gemiddelde lid van ons geleerde gemeenskap.” Darwin, wat ontsteld was oor hierdie erkentenis, het geantwoord: “Ek hoop nie jy het my en jou kind heeltemal vermoor nie.”⁠g

Dit druis teen die rede en die feite in om te sê dat die mensebrein uit dié van enige dier geëvolueer het. Die volgende gevolgtrekking is veel logieser: “Ek het geen keuse nie as om die bestaan van ’n Hoër Intellek te erken wat verantwoordelik is vir die ontwerp en ontwikkeling van die ongelooflike verhouding tussen die brein en die verstand—iets wat die mens se begrip ver te bowe gaan. . . . Ek móét glo dat dit ’n intelligente begin gehad het, dat Iemand dit in aansyn geroep het.”—Neurochirurg dr. Robert J. White⁠h

[Diagram op bladsy 170]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Net soos ’n spier word die brein deur gebruik versterk en deur onbruik verswak

Dendriete

Neuron

Akson

Sinaps

Neuron

Akson

[Prent op bladsy 172]

Die brein kan informasie bevat wat “sowat twintigmiljoen boeke sal vul”

[Prent op bladsy 174]

’n Kind se brein is vooraf geprogrammeer om gou ingewikkelde tale te leer, maar ‘sjimpansees kan nie eens die eenvoudigste vorme van menslike taal baasraak nie’

[Prent op bladsy 176]

Mense het vermoëns wat dié van diere ver oortref

[Prent op bladsy 178]

“In u boek is hulle almal opgeskrywe”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel