Die wêreld se eensaamste voël
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
AS JY meen dat die gespikkelde uil en die witkoparend bedreig word, het jy nog nie van die Spix-makao gehoor nie. Hierdie Brasiliaanse voël gee die begrip “bedreigde spesie” ’n heeltemal nuwe betekenis. Maar om vir jou die hele prentjie van die wêreld se eensaamste voël te skilder, sal ons in die 17de eeu begin.
Destyds het George Marc Grav, ’n Hollandse nedersetter wat in Brasilië gewoon het, vir die eerste keer die bestaan en ’n beskrywing van hierdie voël opgeteken. Kort voor lank het die plaaslike bevolking dit ararinha azul, of klein blou makao, genoem—’n eenvoudige dog gepaste naam. Die voël is in blou en ’n bietjie grys geklee. Hy is 55 sentimeter lank, met inbegrip van sy 35 sentimeter lange stert, en is ook die kleinste van Brasilië se blou makao’s.
“Later, in 1819”, vertel bioloog Carlos Yamashita, Brasilië se vernaamste deskundige op die gebied van papegaaie, “het wetenskaplikes vorendag gekom met die voël se amptelike naam: Cyanopsitta spixii.” Cyano beteken “blou” en psitta beteken “papegaai”. En spixii? Die bioloog verduidelik dat daardie toevoeging erkenning verleen aan die Duitse natuurkenner Johann Baptist Spix. Hy was die eerste een wat hierdie spesie in sy natuurlike habitat, ’n paar rivierlope met bome daarlangs in noordoostelike Brasilië, bestudeer het.
Die aftelling begin
Swerms Spix-makao’s het weliswaar nog nooit die lug verduister nie. Selfs in Spix se dae was daar na raming net 180, maar sedertdien het hulle situasie geleidelik versleg. Nedersetters het so baie van die bosland uitgeroei waar die voëls geleef het dat daar teen die middel-sewentigerjare minder as 60 makao’s oor was. Dit was erg, maar die aftelling het bloot begin.
Wat die nedersetters in drie eeue nie kon uitrig nie, het voëlvangers in ’n paar jaar reggekry—hulle het feitlik die hele Spix-makao-bevolking uitgewis. In 1984 was net 4 van die 60 voëls nog in die natuur oor, maar teen daardie tyd was voëlboere bereid om “laaste-van-’n-soort-pryse” te betaal—tot R181 500 vir een. Dit is geen wonder dat die tydskrif Animal Kingdom in Mei 1989 gemeld het dat ’n jaar verloop het sedert navorsers die laaste van die voëls in die natuur gesien het nie. ’n Paar maande later is daar berig dat voëlvangers al die oorblywende voëls gevang het. Die Spix-makao is die “doodslag” toegedien, het Animal Kingdom gesê.
Verrassing en hoop
Maar bioloë het nog skaars die hoofstuk oor die Spix-makao gesluit of mense wat naby die voëls se habitat woon, sê dat hulle ’n ararinha azul gesien het. Verdere berigte dat die voël gesien is, het gevolg. Was daar steeds ’n oorlewende voël? Ten einde dit uit te vind, het vyf navorsers in 1990 hulle kampeertoerusting, verkykers en aantekeningboeke gepak en koers gekies na die gebied van die Spix-makao.
Nadat hulle die gebied twee maande lank sonder sukses gefynkam het, het die navorsers ’n swerm groenkleurige papagaios maracanas, of Illinger-makao’s, gesien, maar iets ongewoons opgemerk. Een van die voëls in die swerm was anders—hy was groter en blou. Dit was die laaste van die wilde Spix-makao’s! Hulle het hom ’n week lank dopgehou en uitgevind dat die Spix, wat van nature ’n sosiale wese is, by die Illingers aangesluit het om sy eensaamheid te bowe te kom en om ’n maat te soek. Die groen voëls het nou wel nie omgegee om hierdie volhardende blou kêrel as ’n vriend aan te neem nie—maar om met hom te paar? Daar is darem perke in die gemeenskap van die hoflike Illinger-makao’s!
Aangesien hy dus die neewoord gekry het, het die Spix-makao sy maats elke dag met sononder verlaat en na die boom gevlieg waar hy en sy voormalige Spix-makao-maat jare lank saam ’n slaapplekkie gehad het—dit was tot 1988, die jaar toe voëlvangers sy lewenslange maat gevang en haar in gevangenskap verkoop het. Sedertdien slaap hy alleen daar—’n klein, eensame bondeltjie blou vere wat op ’n hoë, dor tak sit. Tensy ’n wonderwerk gebeur, is dit nou net ’n kwessie van tyd voordat die laaste Spix-makao met die kennis van hoe om in die natuur aan die lewe te bly dieselfde lot as die dodo sal hê—tensy iemand vir hom ’n maat vind. Daardie gedagte het ingang gevind, en in 1991 is die Projeto Ararinha-Azul (Spix-makao-projek) van stapel gestuur. Die oogmerk daarvan? Om die oorlewende voëlmannetjie te beskerm, vir hom ’n maat te vind, hulle bymekaar te bring en te hoop dat hulle die gebied weer sal bevolk. Behaal dit enige sukses?
Daar is al vordering gemaak. Die Brasiliaanse Poskantoor het die lot van die planeet se mees bedreigde voël op die voorgrond gebring deur ’n seël ter ere daarvan uit te reik. Bioloë het terselfdertyd daarin geslaag om die 8000 inwoners van Curaçá, ’n dorp naby die voël se habitat in noordelike Baia, oor te haal om hulle aan die kant van die oorlewende Spix-makao te skaar. Met die dorpsmense wat “hulle” voël bewaak, waaraan hulle die bynaam Severino gegee het, loop voëlvangers nou die gevaar om op heterdaad betrap te word. Hierdie strategie werk. Severino vlieg steeds rond. Die volgende struikelblok is ook al aangepak—om telers te oortuig om afstand te doen van een van die ses gevange voëls wat nog in Brasilië is. (Sien venster.) Een eienaar het ingestem, en in Augustus 1994 is ’n jong voëlwyfie, wat as ’n neskuiken deur voëlvangers gevang is, na Curaçá gevlieg om vrygelaat te word en weer in haar natuurlike habitat te woon.
Sy pas aan en hulle maak kontak
Hierdie makaowyfie is in ’n groot voëlhok reg in die voëlmannetjie se habitat geplaas en is weer op ’n natuurlike dieet gesit. Sodat sy in die natuur aan die lewe kon bly, het haar versorgers haar nie meer sonneblomsaad—haar gewone voedsel in gevangenskap—gegee nie, maar haar dennepitte en die plaaslike doringrige veldvrugte gevoer. Haar maag het goed aangepas.
Daaglikse oefeninge het ook deel gevorm van die opleidingsprogram—en met goeie rede. Om te verwag dat ’n voël wat in ’n hok grootgemaak is eensklaps moet byhou by ’n maat wat daarvan hou om sowat 50 kilometer per dag te vlieg, is soos om iemand wat heeldag televisie sit en kyk te vra om ’n marathon te hardloop. Die bioloë wat na die gevange voël omgesien het, het haar dus aangemoedig om soveel moontlik in die voëlhok rond te vlieg om haar spiere te versterk.
Dit het Severino nie lank geneem om die voëlhok te ontdek nie. Nadat hy die wyfie gesien het, het hy gekrys, haar geroep en binne 30 meter van die voëlhok gekom. “Die wyfie”, sê Marcos Da-Ré, ’n bioloog wat met die projek werksaam is, het gereageer en “was baie opgewonde” toe sy haar manlike besoeker opmerk. Haar opgewondenheid, sê hy, “het ons met hoop vervul”.
Onderrigter en vader . . .
Uiteindelik het die groot dag aangebreek: die deur van die voëlhok het oopgeswaai. Nadat sy ’n halfuur gehuiwer het, het die wyfie uitgevlieg en in ’n boom sowat 300 meter van die voëlhok af gaan sit. Maar waar was Severino? Hy was 30 kilometer daarvandaan waar hy weer agter die Illinger-makao’s aan gevlieg het. Waarom het hy weggegaan? Wel, nadat hy maande lank daar gewag het, en toe die broeiseisoen uiteindelik aanbreek, was sy voornemende maat nog agter tralies. Hy moes gedink het dat “’n vry maracana meer werd is as ’n gevange ararinha”, het bioloog Da-Ré grappenderwys gesê. Hierdie keer is Severino se volharding beloon. ’n Illinger-makao-wyfie het toegegee en hom as maat aanvaar.
Wetenskaplikes hoop egter dat Severino ná die paartyd sy hofmakery sal beëindig, na sy eie habitat sal terugkeer, die bevryde Spix-makao sal ontdek en haar as sy maat sal neem. Dan sal daar van hom verwag word om ’n dubbele rol te vervul—dié van onderrigter en vader. Aangesien hy die enigste Spix-makao in die wêreld is wat weet hoe om in die natuur aan die lewe te bly, moet hy sy maat leer hoe om kos en skuiling te vind en in een van Brasilië se dorste streke aan die lewe te bly.
. . . en geskiedenismaker
Wanneer die broeiseisoen dus weer begin, sal die bioloë van die Spix-makao-projek hoop dat Severino sal ophou om die Illinger-makao’s te volg en hom daarop sal toelê om ’n hol boom te vind wat as ’n nes vir sy maat kan dien. As alles goed gaan, sal die Spix-makao-wyfie twee eiertjies lê, en ’n paar maande later sal Severino oorlewingstegnieke aan ’n klas van drie moet leer. Sal dit so ver vorder?
“Dit sal ’n ruk duur voor ons daardie antwoord weet”, sê bioloog Yamashita, “maar hierdie projek is moontlik die enigste manier om te voorkom dat die wilde Spix-makao nog ’n omgeblaaide bladsy in die geskiedenis word.” Dit berus nou by Severino om van die geleentheid gebruik te maak en ’n nuwe hoofstuk te skryf. As hierdie verbintenis werk, sal natuurliefhebbers—en Illinger-makao’s—’n sug van verligting slaak.
[Venster op bladsy 24]
Voëls agter tralies
’n Geraamde 30 Spix-makao’s leef in gevangenskap. ’n Stuk of 12 van hierdie Brasiliaanse voëls is deur ’n voëlboer in die Filippyne geteel en leef nog in daardie Asiatiese land. Die ander gevange voëls is in Brasilië, Spanje en Switserland. Maar al hierdie voëls wat agter tralies is, kom ’n eienskap kort wat net Severino besit—die kennis van hoe om in die natuur aan die lewe te bly.
[Prent op bladsy 25]
Bewaar—ten minste op ’n seël
[Erkenning]
Empresa Brasileira de Correios e Telégrafos