Jongmense vra . . .
Rooklose tabak—Is dit onskadelik?
‘TOE die 13-jarige Cord na die midde-westelike Verenigde State verhuis het, het hy gou besef dat hy iets kortkom wat byna elke seun in standerd ses gehad het: ’n blikkie snuif, ’n soort rooklose tabak. Die meeste van sy nuwe vriende was “dippers”, en Cord wou deur hulle aanvaar word. Toe een van die seuns hom dus ’n pakkie snuif aangebied het, het hy dit geneem en met die nonchalantheid van ’n ervare gebruiker ’n bietjie snuif tussen sy onderlip en tandvleis geplaas.’—Die tydskrif Listen.
Die jong Cord is beslis geen uitsondering nie. Dr. Christopher A. Squier, ’n professor in mondpatologie, sê dat al hoe meer tienerseuns hulle eerste snuifknippie neem. Hoewel die verkope van rooklose tabak in die laat tagtigerjare afgeneem het, “is die gebruik van klam snuif”, volgens dr. Squier, “weer aan die toeneem”.a Navorsers berig byvoorbeeld dat 1 uit elke 5 hoërskoolseuns in die Verenigde State en 1 uit elke 3 seuns in Swede—miljoene jongmense—nou rooklose tabak gebruik. Waarom gebeur dit?
“Dit is veiliger as om te rook.” “Daar is geen bewyse dat dit gevaarlik is nie.” “My vriende gebruik dit. Dit doen hulle geen kwaad nie.” “’n Bietjie nou en dan sal my nie kwaad doen nie.” “Niemand is al ooit daarvan dood nie.” Volgens die Amerikaanse Kankervereniging is dít van die redes wat jongmense dikwels verstrek waarom hulle hulle tot rooklose tabak wend.
Wat laat jongmense dink dat dipping veiliger is as om te rook? Is dit werklik die geval?
Die boodskap dring deur
Die invloedryke tabakbedryf het jeugdiges jare lank gebombardeer met advertensies wat voorgee dat rooklose tabak omtrent so onskadelik is soos om kougom te kou en so noodsaaklik is soos ’n paar tekkies met die regte handelsmerk. Slagspreuke soos “Neem ’n pakkie snuif in plaas van ’n sigaret”, “Ek kry ware tabakgenot sonder om ’n sigaret aan te steek” en “’n Knippie is al wat nodig is”, het op vindingryke wyse sosiale status geïmpliseer.
Nadat sulke slagspreuke oor die TV en radio in die Verenigde State verbied is, het die tabakbedryf voortgegaan om sy boodskap deur middel van tydskrifadvertensies te verskerp. Glansfoto’s van geharde manne wat jag, rotsklim en witwaterry besonder geniet—’n blikkie tabak kan duidelik agter in hulle broeksak gesien word—dra ’n luide en duidelike boodskap oor: “Rooklose tabak is wonderlik, natuurlik en ’n weg tot manlikheid!”
Die 1994-verslag van die Amerikaanse geneesheer-generaal, met die titel Preventing Tobacco Use Among Young People, sê dat baie jongmense nou glo dat “rooklosetabakprodukte veilig en sosiaal aanvaarbaar is”. ’n Studie onder hoërskoolleerlinge het getoon dat “ongeveer 60 persent van die juniorleerlinge en 40 persent van die seniorleerlinge wat rooklose tabak gebruik, meen dat dit geen risiko of net ’n geringe risiko inhou as dit gereeld gebruik word”. En selfs die hoërskoolgebruikers wat erken dat rooklose tabak skadelik kan wees, “dink dat die risiko nie groot is nie”. Die advertensies bereik hulle doel. Maar is die advertensies betroubaar?
’n Bybelspreuk sê: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” Of soos ’n ander spreuk dit stel: “Elke skrandere handel met kennis.” (Spreuke 13:16; 14:15, ons kursiveer.) Wat toon die feite dan oor rooklose tabak?
Die slegte nuus
Hoewel advertensies dalk die indruk skep dat die gebruik van rooklose tabak jou beeld sal verbeter en dat dit veilig vir jou liggaam is, toon die feite presies die teenoorgestelde. Om maar een ding te noem, die gebruik van rooklose tabak sal jou geensins beter laat lyk nie. As jy dit nie glo nie, steek net jou tong in jou kies en kyk dan in die spieël. “Cool”? Beslis nie. En dit is net wat dit aan jou uiterlike doen! Wat dit aan jou innerlike doen, is veel erger.
Diegene wat gereeld dip, kan byvoorbeeld gebarste lippe, gevlekte tande, slegte asem en seer tandvleis kry—niks om oor te glimlag nie. Op die koop toe neem hulle vermoë om te proe en te ruik af terwyl hulle hartklop versnel en hulle bloeddruk styg—inderdaad slegte nuus. Die slegste nuus is egter dat studies wat in Europa, Indië en die Verenigde State gedoen is, toon dat rooklose tabak kanker in die wange, tandvleis en keel veroorsaak. Hierdie bevindings verbaas deskundiges nie. Een studie het gesê: “Van al die produkte wat in die liggaam ingeneem word, bevat snuif die meeste kankerverwekkende middels.” Dit is geen wonder nie dat “die kanse van diegene wat al geruime tyd snuif gebruik 50% groter is om mondkanker te ontwikkel as dié wat dit nie gebruik nie”.
Wanneer mondkanker begin, is die gevolge baie ernstig. Dit is nie net die gebruiker se gesondheid wat verwoes word nie, maar sy lewe word ook dikwels daardeur verkort. ’n Publikasie van die Amerikaanse Kankervereniging vertel hierdie hartseer verhaal: ‘Sean het rooklose tabak begin gebruik toe hy 13 was. Hy het gereken dat dit veiliger as rook is. Nadat hy vyf jaar lank elke dag een of meer blikkies snuif gebruik het, het hy ’n seer op sy tong gekry. Dit was mondkanker. Dokters het ’n deel van sy tong verwyder, maar die kanker het na sy nek versprei. Nog operasies is uitgevoer wat hom verder vermink het, maar dit was tevergeefs—hy het op 19-jarige ouderdom gesterf. Voor sy dood het Sean ’n eenvoudige boodskap op ’n stukkie papier geskryf: “Moenie snuif dip nie.”’
Verslaaf!
Nadat die jong Cord, wat vroeër genoem is, hierdie skokkende verslag oor Sean gelees het, het hy uiteindelik die gevaar besef. Hy het besluit om die gewoonte af te leer. Maar om dit te probeer afleer, was moeilik. “Dit voel asof ek dit net móét gebruik”, het Cord die tydskrif Listen meegedeel. “Selfs nou nog, etlike maande nadat ek amptelik opgehou het, voel ek in my sakke na my tabaksakkie. Ek kou baie kougom. Dit help, maar dit neem nie die lus daarvoor weg nie.”
Dit word bevestig deur Ca-A Cancer Journal for Clinicians: “Studies het bevind dat slegs ’n klein persentasie van die tienderjariges wat probeer het om op te hou om rooklose tabak te gebruik daarin geslaag het.” Maar waarom is dit so moeilik om op te hou om rooklose tabak te gebruik? Dieselfde dwelm wat dit so moeilik maak om rook op te gee: nikotien.
Nikotien, ’n dwelm wat in sigarette sowel as in rooklose tabak voorkom, is ’n kragtige gifstof wat die gebruiker ‘hoog’ laat voel. Elke 30 minute of wat moet die gebruiker nog ’n snuifknippie neem om te voorkom dat daardie gevoel ophou. Nikotien is verslawend. Sommige gebruikers raak so verslaaf dat hulle dag en nag ’n knippie snuif in hulle mond hou—selfs terwyl hulle slaap.
In teenstelling met wat baie jongmense dalk dink, neem jy nie minder nikotien in as jy snuif gebruik nie. Een blikkie rooklose tabak per dag gee net soveel nikotien af as 60 sigarette! “Die gebruikers van rooklose tabak”, sê Preventing Tobacco Use Among Young People, ‘neem op die minste net soveel nikotien in as rokers—dalk tot twee keer soveel.’ (Ons kursiveer.) Benewens nikotien bevat rooklose tabak tien keer meer nitrosamiene (kragtige kankerverwekkende stowwe) as sigarette.
Wees wys
“Daar bestaan geen twyfel dat hierdie produkte skadelik is nie”, het dr. Roy Sessions, ’n kop-en-nek-chirurg, gesê. “Dit veroorsaak ’n toestand van afhanklikheid wat volgens die meeste mense veel moeiliker is om te bowe te kom as die rookgewoonte.” Dr. Oscar Guerra, ’n mondkankerspesialis, het tot dié slotsom gekom: “Die liggaam hou net mooi niks van die goed nie.” Deskundiges regoor die wêreld stem saam: Dipping bring meer as ’n knippie moeilikheid mee. Dit kan jou lewe kortknip!
Jong Christene het selfs ’n dwingender rede om tabakprodukte te vermy as besorgdheid oor gesondheid—hulle begeerte om Jehovah God te behaag. Sy Woord beveel ons: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en in die vrees van God heiligheid vervolmaak.”—2 Korintiërs 7:1.
Die tydskrif Aviation, Space, and Environmental Medicine som die saak mooi op deur te sê: “Tabak is ’n walglike plant wat net deur twee wesens gebruik word—’n klein groen wurmpie en die mens. Die klein groen wurmpie weet nie van beter nie.”
Maar jy weet van beter. Wees dus wys—moenie begin nie.
[Voetnoot]
a Twee soorte rooklose tabak word algemeen gebruik: snuif en pruimtabak. Daar is droë en klam snuif. Onder jeugdiges is klam snuif—fyngekerfde tabak wat met versoeters, smaakmiddels en geure behandel word en in ’n blikkie of pakkie verkoop word—die gewildste soort rooklose tabak. Die Engelse woord “dipping” verwys na wanneer ’n dip—die hoeveelheid tabak wat tussen die duim en die voorvinger opgetel word—tussen die lip of wang en die tandvleis geplaas word.
[Lokteks op bladsy 27]
‘Voor sy dood het Sean ’n eenvoudige boodskap geskryf: “Moenie snuif dip nie”’
[Prente op bladsy 26]
Om tabak te kou, word nou al hoe gewilder onder jeugdiges. Moet jy dit probeer?