Jongmense vra . . .
Waarom kan ek nie leer nie?
“Ek wou nie huis toe kom”, onthou Jessica, “waar ek my ouers in die oë moes kyk nie. Ek het al weer ’n paar vakke gedruip.”a Jessica is 15, intelligent en mooi. Maar soos baie jongmense sukkel sy vreeslik om goeie punte te behaal.
SWAK prestasie op skool is dikwels die gevolg van onverskilligheid teenoor opvoeding en teenoor jou onderwyser. Maar in Jessica se geval is dit anders. Vir haar is dit bloot ontsettend moeilik om abstrakte begrippe te verstaan. Dit is natuurlik waarom Jessica met wiskunde gesukkel het. En ’n leesprobleem het dit vir haar moeilik gemaak om in ander vakke goed te vaar.
Maria, aan die ander kant, kan nie reg spel nie. Sy steek altyd die aantekeninge weg wat sy by die Christelike vergaderinge gemaak het omdat sy skaam is oor haar spelfoute. Maar nóg Jessica nóg Maria is dom. Jessica het so ’n goeie verhouding met mense dat die skool haar aangestel het om as bemiddelaar, of vredemaker, op te tree wanneer daar onmin tussen haar skoolmaats ontstaan. En op akademiese gebied is Maria een van die toppresteerders in haar klas.
Die probleem: Jessica en Maria het leerprobleme. Deskundiges meen dat sowat 3 tot 10 persent van alle kinders dalk ’n soortgelyke probleem het wat leer betref. Tania, wat nou in haar vroeë twintigerjare is, ly aan so genoemde aandagtekortsteurnis met hiperaktiwiteit (ATSH).b Sy sê: “Ek vind Christelike vergaderinge, persoonlike studie en gebed baie moeilik weens my onvermoë om aandag te skenk of selfs om stil te sit. My bediening word hierdeur geraak omdat ek so vinnig van een onderwerp na die ander oorgaan dat niemand kan byhou nie.”
Wanneer die steurnis nie met hiperaktiwiteit gepaardgaan nie, word dit aandagtekortsteurnis (ATS) genoem. Daar word dikwels gesê dat mense met hierdie steurnis dagdromers is. Neuroloog dr. Bruce Roseman het oor diegene met ATS gesê: “Hulle sal 45 minute lank voor ’n boek sit sonder dat enigiets gebeur.” Om die een of ander rede sukkel hulle om te konsentreer.
Mediese navorsers meen dat hulle onlangs begin verstaan het wat die oorsaak van hierdie probleme is. Maar daar is steeds baie dinge wat hulle nie weet nie. En die grense tussen verskillende steurnisse en gebreke wat die leerproses beïnvloed, is nie altyd duidelik nie. Ongeag die presiese oorsaak of die naam wat aan ’n sekere steurnis gegee word—of dit ’n probleem met lees, onthou, aandag skenk of hiperaktiwiteit is—die steurnis kan ’n nadelige uitwerking op ’n mens se opvoeding hê en kan baie ellende veroorsaak. Hoe kan jy, as jy ’n leerprobleem het, dit die hoof bied?
Die uitdaging om dit die hoof te bied
Dink aan Jessica, wat aan die begin genoem is. Sy was vasbeslote om haar leesprobleem te bowe te kom en het voortdurend probeer om verskillende boeke te lees. Die keerpunt het gekom toe sy ’n digbundel gekry het wat haar geboei het. Sy het ’n soortgelyke boek verkry, wat sy ook geniet het om te lees. Later het sy in ’n reeks storieboeke begin belangstel, en lees het geleidelik ’n kleiner probleem geword. Die les wat ’n mens hieruit leer, is dat volharding resultate oplewer. Jy kan ook ’n leerprobleem oorkom of jy kan ten minste goeie vordering op daardie gebied maak deur nie op te gee nie.—Vergelyk Galasiërs 6:9.
Hoe sal ’n mens die probleem met ’n korttermyngeheue oorkom? ’n Belangrike sleutel tot die oplossing van die probleem lê in ’n Engelse gesegde wat lui: “Herhaling is die moeder van onthouvermoë.” Nicky het gevind dat dit hom gehelp het om dinge te onthou as hy hardop herhaal wat hy gehoor of gelees het. Probeer dit gerus. Dit kan jou ook help. Dit is interessant dat mense in Bybeltye gewoonlik die woorde hardop gelees het, selfs wanneer hulle alleen was. Jehovah het die Bybelskrywer Josua dus beveel: “Jy moet dag en nag met ’n gedempte stem [in God se Wet] lees” (Josua 1:8, NW; Psalm 1:2, NW). Waarom was dit so belangrik om die woorde hardop te uiter? Omdat dit van twee sintuie—gehoor en sig—gebruik gemaak het en gehelp het om ’n dieper indruk op die leser se verstand te laat.
Vir Jessica was dit ook ’n ontsaglike taak om wiskunde te leer. Sy het egter wiskundereëls probeer leer deur dit te herhaal—soms het sy tot ’n halfuur aan een reël bestee. Haar pogings was uiteindelik suksesvol. Jy moet dus herhaal, herhaal, herhaal! Dit is ’n goeie gewoonte om papier en ’n potlood byderhand te hê wanneer jy in die klas luister of lees sodat jy aantekeninge kan maak.
Dit is noodsaaklik dat jy jou op leer toelê. Maak dit ’n gewoonte om ná skool te bly en om met jou onderwysers te praat. Leer hulle ken. Sê vir hulle dat jy ’n leerprobleem het, maar dat jy vasbeslote is om dit te oorkom. Die meeste onderwysers sal gretig wees om te help. Vra hulle dus om hulp. Jessica het dit gedoen en sy het die bystand wat sy so dringend nodig gehad het van ’n simpatieke onderwyser ontvang.
Leer om te konsentreer
Dit help ook om vir jou ’n stelsel van doelwitte en belonings te kry. As jy ’n spesifieke doelwit stel—soos om ’n deel van jou huiswerk klaar te doen—voordat jy die televisie of jou gunstelingmusiek aanskakel, kan dit jou aanspoor om te konsentreer. Sorg dat die doelwitte wat jy stel redelik is.—Vergelyk Filippense 4:5.
Partykeer help dit as jy positiewe veranderinge in jou omgewing aanbring. Nicky het gereël dat hy voor in die klas naby die onderwyser sit sodat hy beter kon konsentreer. Jessica het dit voordelig gevind om huiswerk saam met ’n vlytige vriendin te doen. Jy sal dit dalk nuttig vind om jou kamer net lekker gesellig en gemaklik te maak.
Verminder rusteloosheid
As jy geneig is om hiperaktief te wees, kan leer ’n swaar beproewing wees. Maar sommige deskundiges sê dat liggaamlike oefening hiperaktiwiteit kan absorbeer. “Daar is toenemende bewys”, sê U.S.News & World Report, “dat elke mens se vermoë om nuwe inligting onder die knie te kry en ou inligting te onthou, verbeter word deur biologiese veranderinge in die brein wat deur aërobiese kondisionering teweeggebring word.” Oefeninge—swem, hardloop, balspel, fietsry, skaats, ensovoorts—wat met matigheid gedoen word, kan dus vir beide liggaam en verstand nuttig wees.—1 Timoteus 4:8.
Geneesmiddels word oor die algemeen vir leerprobleme voorgeskryf. Daar word beweer dat sowat 70 persent van die kinders met ATSH vir wie stimulante gegee is daarop gereageer het. Jy en jou ouers moet besluit of jy behandeling met geneesmiddels sal aanvaar nadat julle die erns van die probleem, moontlike newe-effekte en ander faktore in aanmerking geneem het.
Behou jou selfrespek
Hoewel ’n leerprobleem nie as ’n emosionele probleem beskou word nie, kan dit emosionele gevolge hê. Die kombinasie van voortdurende afkeuring en kritiek van ouers en onderwysers, swak of gemiddelde eksamenpunte en ’n gebrek aan intieme vriende kan maklik tot ’n lae selfbeeld lei. Sommige jongmense verberg hierdie gevoel agter ’n kwaai en dreigende houding.
Maar jy hoef nie jou gevoel van eiewaarde weens leerprobleme te verloor nie.c “My oogmerk”, sê ’n deskundige wat werk met jongmense wat leerprobleme het, “is om hulle gesindheid teenoor die lewe te verander—van ‘ek is dom en ek kan niks reg doen nie’ . . . na ‘ek oorkom ’n probleem en ek kan baie meer doen as wat ek ooit gedink het ek kon’.”
Hoewel jy nie veel aan ander se gesindhede kan doen nie, kan jy jou eie verander. Jessica het dit gedoen. Sy sê: “Toe ek my geoordeel het volgens wat die kinders by die skool gesê het en die name wat hulle my genoem het, wou ek die skool verlaat. Maar nou probeer ek ignoreer wat hulle sê, en ek hou aan om my bes te doen. Dit is moeilik en ek moet my voortdurend daaraan herinner, maar dit werk.”
Jessica moes nog ’n werklikheid onder die oë sien. Haar ouer broer het in al sy vakke onderskeidings behaal. “Dít het gewoonlik my selfbeeld vernietig”, sê Jessica, “totdat ek opgehou het om my met hom te vergelyk.” Moet jou dus nie met jou broers of susters vergelyk nie.—Vergelyk Galasiërs 6:4.
As jy met ’n vertroude vriend gesels, kan dit jou ook help om dinge in die regte perspektief te sien. ’n Ware vriend sal jou getrou bystaan terwyl jy probeer verbeter (Spreuke 17:17, NW). Daarteenoor sal ’n valse vriend jou óf afbreek óf jou ’n ongepaste verhewe beskouing van jouself gee. Daarom moet jy jou vriende versigtig kies.
As jy ’n leerprobleem het, ontvang jy waarskynlik meer teregwysing as ander jongmense. Maar moenie toelaat dat dit jou ’n negatiewe beskouing van jouself gee nie. Beskou dissipline soos God dit beskou, as iets baie waardevols. Onthou dat die dissipline wat jou ouers jou gee ’n bewys is dat hulle jou liefhet en die beste vir jou wil hê.—Spreuke 1:8, 9; 3:11, 12; Hebreërs 12:5-9.
Nee, jou leerprobleme hoef jou nie te ontmoedig nie. Jy kan iets daaromtrent doen en ’n produktiewe lewe lei. Maar daar is selfs groter rede tot hoop. God het beloof om ’n nuwe wêreld van regverdigheid tot stand te bring waarin kennis oorvloedig sal wees en waar elke steurnis van verstand en liggaam reggestel sal word (Jesaja 11:9; Openbaring 21:1-4). Wees dus vasbeslote om meer aangaande Jehovah God en sy voornemens te leer, en tree in ooreenstemming met daardie kennis op.—Johannes 17:3.
[Voetnote]
a Party van die name is verander.
b Sien gerus die reeks “Hoe om moeilike kinders te verstaan” in die Ontwaak! van 22 November 1994 en die artikel “Het jou kind leerprobleme?” in die nommer van 22 Augustus 1983.
c Sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my selfrespek opbou?” in die Ontwaak! van 8 Augustus 1983.
[Prent op bladsy 13]
Lê jou daarop toe om te leer