Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/8 bl. 20-21
  • Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probeer ’n bietjie ngunza
  • Wat van ’n bietjie ngukassa of kanda?
  • Kom ons eet kassawe!
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1994
  • Grondboontjiebotter—op die Afrikamanier
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/8 bl. 20-21

Kassaweblare—daaglikse voedsel vir miljoene

DEUR ONTWAAK-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

DIT het alles omstreeks die jaar 1600 begin, toe die Portugese kassawe, of maniok, van Suid-Amerika na Afrika gebring het. Kassawe is glo inheems aan Brasilië omdat die woord “maniok” by die Tupaiana-stamme van Brasilië in die Amasone-vallei ontstaan het.

Die wortels is baie waardevol vir die mense van Afrika, maar wat van die donkergroen blare? Party gebruik dit as ’n geneesmiddel op oop wonde of om waterpokkies te behandel. Maar vir miljoene in die Sentraal-Afrikaanse Republiek en verskeie ander Afrikalande is die blare daaglikse voedsel, aangesien jy dit in ’n heerlike maaltyd kan omskep. Trouens, een van die eerste woorde wat nuwe sendelinge van die Wagtoringgenootskap daar leer, is ngunza. Dit is ’n heerlike bredie wat van kassaweblare gemaak word en is die nasionale dis van die Sentraal-Afrikaanse Republiek—’n dis wat ’n besoeker aan Sentraal-Afrika beslis moet probeer.

Die meeste witmense wat in Afrika bly, sal nooit hulle mond aan ’n maaltyd sit wat van hierdie blare gemaak is nie, aangesien hulle dit beskou as kos vir die inboorlinge en nie vir uitlanders nie. Maar wat toon die feite? In lande soos die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Sierra Leone en Zaïre is hierdie blare ’n daaglikse stapelvoedsel vir baie gesinne.

Wanneer ’n mens oor die Sentraal-Afrikaanse Republiek vlieg of daardeur reis, sien jy ’n pragtige groen land—bome, bosse, grasvelde en, tussenin, klein landerye vol kassawe met hulle eienaardige donkergroen blare. Elke dorpie is omring deur kassawelande. Mense kweek dit langs hulle huis, en selfs in die hoofstad, Bangui, sal jy kassawe op baie klein stukke of stroke grond langsaan ’n huis of die hoofpad sien. Dit is ongetwyfeld ’n belangrike voedselsoort in hierdie deel van die wêreld.

Probeer ’n bietjie ngunza

Wanneer nuwe sendelinge aankom, word hulle weldra deur hulle vriende oorgenooi vir ’n bietjie ngunza. Dit is ’n maaltyd wat die gesogte dis insluit wat van kassaweblare gemaak word. Inboorlingvroue weet hoe om dit op ’n smaaklike manier voor te berei. Dit lyk asof elke vrou haar eie resep het. Een van die eerste dinge wat dogtertjies by hulle moeders omtrent kook leer, is hoe om ngunza voor te berei.

Hulle is trots daarop om te verduidelik wat dit is en hoe hulle dit voorberei. Die vroue is bly as jy belangstelling toon in hierdie inheemse dis. Eerstens sal hulle jou vertel dat die kassaweblare goedkoop en in oorvloed beskikbaar is en dat jy dit in beide die reënseisoen en die droë seisoen kan pluk. In tye van ekonomiese krisisse en inflasie speel kassaweblare ’n belangrike rol daarin om ’n gesin te voed. En hou asseblief in gedagte dat gesinne in Afrika dikwels groot is. Daar is baie monde om te voed en baie mae om vol te maak. Die voorbereiding van ngunza neem etlike ure. Die blare moet eers hulle bitter smaak verloor voordat hulle geëet word. Hulle word ontgif deur tradisionele voorbereiding, wat behels dat hulle gemaal en aanhoudend gekook word.

Die olie wat Afrikavroue in die voorbereiding van ngunza verkies, is palmolie. Die donkerrooi olie wat plaaslik gemaak word, is ’n moet. Ngunza met ’n bietjie grondboontjiebotter en dalk ’n bietjie uie en knoffel is ’n daaglikse maaltyd vir ’n gesin. Maar sê nou jy verwag gaste? Dan moet die ngunza iets spesiaals wees, iets wat hulle sal onthou. Die gasvrou sal dus haar gunstelingbestanddeel byvoeg—gerookte vis of gerookte stukke beesvleis—asook baie knoffel en uie tesame met ’n groot hoeveelheid vars, tuisgemaakte grondboontjiebotter. Dit word alles in ’n groot pot gesit. Verder is geduld en ’n lang kooktyd nodig.

Vandag sal ons gasvrou ngunza met rys bedien. ’n Skeppie rys met een of twee lepels warm ngunza daaroor is heerlik vir Afrikane en ook vir baie uitlanders. Voeg ’n bietjie rissies by, en nou weet jy wat ngunza is. ’n Glas rooiwyn wat saam met die maaltyd geniet word, sal die geur heeltemal na vore bring.

Wat van ’n bietjie ngukassa of kanda?

Wanneer jy van oos na wes in die land reis, sal jy vind dat mense ngunza op verskillende maniere voorberei. En wat van ngukassa? Op ’n koue, reënerige dag sal ngukassa, ’n sop of bredie wat bestaan uit alles wat in die tuin of op die land groei, dalk net die regte ding vir jou wees. Palmolie, meelpiesangs, grondboontjies, patats, mielies en natuurlik kassaweblare word alles saamgekook, maar geen sout word bygevoeg nie—nie eers ’n enkele soutkorreltjie nie. Dít is die geheim! Die eindproduk is smaaklik en voedsaam. En as jy op ’n lang reis gaan, kan jy ’n bietjie kanda saamneem. Dit word van kassaweblare gemaak wat saam met gerookte vis of vleis gestamp is. Kanda word voorberei deur hierdie mengsel in blare toe te draai en dit ’n paar uur lank oor ’n vuur te rook totdat dit hard en droog is. Dit hou dae lank en kan met ’n stukkie brood geniet word. Dit is ideaal vir reisigers.

As jy Afrika eendag besoek, kan jy gerus vir kassawe vra. Probeer dit en word deel van die miljoene wat dit geniet!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel