Grondboontjiebotter—op die Afrikamanier
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK
IN Westerse lande is grondboontjiebotter dikwels niks meer as iets wat op ’n sny brood gesmeer word nie. Maar in sommige Afrikalande speel dit eintlik ’n belangriker rol in die daaglikse lewe. Hoe so?
In Sentraal-Afrika word talle gewilde geregte met grondboontjiebotter voorberei. Hier, soos in ander ontwikkelende gebiede, is meel en mielieblom—bestanddele wat gebruik word om bredies en souse te verdik—dikwels moeilik bekombaar. Grondboontjiebotter word dus dikwels as ’n plaasvervanger gebruik.
Dit is egter nie net ’n geval van gou-gou winkel toe gaan om ’n bottel grondboontjiebotter te koop nie. Daar word dit per teelepel verkoop, en dit is nogal duur. Baie Afrikavroue verkies dus om hulle eie te maak. Dit is heel interessant hoe hierdie veeleisende taak verrig word. Die volgende inligting is ingewin deur met ’n hele paar Afrikavroue te gesels.
Grondboontjieverbouing
Grondboontjies is blykbaar nie ’n gewas wat veel sorg verg nie. Die moeilikste deel is om die grond voor te berei. Dit word aan die begin van die reënseisoen gedoen wanneer die grond nog droog en hard is. In April word die saad met die hand gesaai, en as die reëns vroeg kom, kan die “neute” teen die einde van Augustus of aan die begin van September geoes word.
Die grondboontjie is eintlik nie ’n neut nie, maar ’n peulvrug—’n lid van die ertjiefamilie. Grondboontjies groei nie aan bome soos ’n mens dalk sou dink nie; dit groei eerder aan lae bossies, wat die eienaardige manier het om hulle vrugte ondergronds voort te bring. Grondboontjies word dus dikwels ook aardneute genoem.
In Sentraal-Afrika is die gemiddelde grondboontjieland moontlik so 90 by 50 meter groot. Party mense het dit op ’n klein stukkie grond naby hulle huis geplant. ’n Kortsteelskoffel en ’n kapmes word gewoonlik gebruik om die land te bewerk. Dit kan uitputtende werk wees! Die gesaaides het ten minste aan die begin baie werk nodig. Die land moet opgepas word sodat knaagdiere nie die sade uitgrawe en opeet nie. En die grond moet los gehou en die onkruid moet uitgehaal word.
Die land moet veral net voor oestyd opgepas word. Dan word die kinders soms gevra om wag te hou. Een vrou het vertel dat ’n buurvrou haar grondboontjiebosse hoog in ’n nabygeleë boom gevind het. Ape het dit daarheen gedra en op haar onkoste ’n feesmaal geniet!
Die hele gesin is gewoonlik by die oeswerk betrokke. Almal gaan na die land om te help. Die plante word met die hand uitgetrek en gelaat om droog te word, waarna die grondboontjies afgebreek en na die dorp teruggeneem word in groot houers, wat die werkers op hulle kop dra.
Wat gebeur dan met die grondboontjies? Nadat dit gewas is, word dit in soutwater gekook. ’n Deel daarvan word onmiddellik deur die gesin geëet, maar die meeste word vir kookdoeleindes gehou. Dit word dus op die grond naby die huis uitgesprei en daar gelaat om heeltemal droog te word. Iemand moet ’n ogie daaroor hou om te keer dat honger bokke dit nie eet nie.
Wanneer die grondboontjies droog is, word dit gestoor in ’n huis van grasmatte en modder wat op pale gebou is. Dit hou die grondboontjies droog, en dit hou ook knaagdiere sowel as kinders weg wat dalk op soek is na iets te ete terwyl ma nog buite op die land werk.
Van grondboontjies tot grondboontjiebotter
Die neute moet uitgedop word voordat grondboontjiebotter daarvan gemaak kan word. Daarna word dit gerooster, gewoonlik in ’n wye, vlak pan oor ’n lae houtvuur op die grond. Dit gee hulle hulle neuterige geur en maak dit makliker om die velletjies te verwyder. Wanneer die grondboontjies afgekoel het, word die velletjies afgevryf. ’n Maalmasjien word daarna gebruik om die geroosterde grondboontjies tot ’n romerige botter fyn te maal. As ’n masjien nie beskikbaar is nie, sal ’n huisvrou die grondboontjies op ’n groot, plat klip uitsprei en dit met ’n bottel of ’n ronde klip fynstamp.
Die grondboontjiebotter sal eerlank goed gebruik word om souse te verdik, meestal in ’n gereg wat in een pot gemaak en met kassawe, meelpiesangs of rys bedien word. As jy wonder hoe ’n gereg smaak wat met grondboontjiebotter gegeur is, kan jy gerus probeer om self so ’n dis te maak.
Jy kan ’n standaardresep volg en ’n bredie van vleis, uie, knoffel en tamatiepasta voorberei. Kook dit totdat die vleis sag is, en voeg gekapte spinasie by as jy dit verkies. Terwyl dit kook, kan jy ’n pasta maak van ’n bietjie water en grondboontjiebotter—ongeveer een koppie vir elke kilogram vleis—en dit by die bredie roer. Laat dit tien minute of meer op ’n hoë hitte kook sodat die smaak van die grondboontjiebotter nie te sterk sal wees nie. As die sous nie so dik is as wat jy dit wil hê nie, kan jy nog grondboontjiebotter byvoeg. Voeg sout na smaak by. Indien jy van sterk kos hou, kan jy ’n paar rissies byvoeg.
Baie vind dat so ’n gereg saam met rys heerlik is! En hoewel joune dalk nie die ware Jakob is nie, sal jy darem eerstehandse ondervinding hê van die gebruik van grondboontjiebotter—op die Afrikamanier!
[Prente op bladsy 26]
Grondboontjies word geoes, dan huis toe gedra om uitgedop en fyngemaal te word