Die geskiedkundige ontwikkeling van vryheid van spraak
DEUR die geskiedenis heen het mense geveg vir vryheid van spraak. Wette is gemaak, oorloë is gevoer en lewens is al verloor ter wille van die reg om ’n mening openlik uit te spreek.
Waarom sou so ’n oënskynlik natuurlike reg tot geskille lei, selfs tot bloedvergieting? Waarom het gemeenskappe, van die verlede en die hede, dit nodig gevind om die uitoefening van hierdie reg te beperk of selfs te verbied?
Gesindhede teenoor vryheid van spraak vir die mense het geswaai soos ’n groot pendulum aan die uurwerk van die tyd. Partykeer is vryheid van spraak as ’n voorreg beskou wat geniet kon word. Ander kere weer is dit as ’n probleem beskou waaraan regerings of godsdienste aandag moes gee.
Aangesien die geskiedenis vol verslae is van diegene wat geveg het vir die reg om ’n mening openlik uit te spreek, wat dikwels daartoe gelei het dat hulle gewelddadig vervolg of doodgemaak is, behoort ’n oorsig van sommige van hierdie gebeure ons te help om die probleem te verstaan.
Geskiedenisstudente onthou waarskynlik die Griekse filosoof Sokrates (470-399 v.G.J.), wie se beskouings en leringe as ’n verderflike invloed op die sedes van Atene se jeugdiges beskou is. Dit het groot opskudding onder die politieke en godsdiensleiers van die Griekse hiërargie veroorsaak en tot sy dood gelei. Sy pleidooi voor die jurie wat hom uiteindelik veroordeel het, is steeds een van die oortuigendste verdedigings van vryheid van spraak: “As julle aangebied het om my hierdie keer te laat gaan op voorwaarde dat ek in hierdie soeke na wysheid nie meer sê wat ek dink nie en dat ek sal sterf as ek gevang word wanneer ek dit weer doen, sal ek vir julle sê: ‘Manne van Atene, ek sal eerder aan die God gehoorsaam wees as aan julle. Terwyl ek lewe en krag het, sal ek nooit ophou om filosofie te volg en om enigeen van julle wat ek toevallig teëkom aan te spoor en te oorreed nie. Want wees daarvan verseker dat die God dit beveel . . . ’ En, Ateners, ek sal verder sê: ‘Hetsy julle my vryspreek of nie; julle moet weet dat ek nooit anders sal optree nie, selfs al moet ek talle kere daarvoor sterf.’”
Ná verloop van tyd het Rome se vroeë geskiedenis gesien hoe die pendulum na minder beperkings toe swaai, net om weer na meer beperkings terug te swaai namate die ryk uitgebrei het. Dit het die begin van die donkerste tydperk vir vryheid van spraak gekenmerk. Gedurende die bewind van Tiberius (14-37 G.J.) is mense wat hulle teen die regering of die beleide daarvan uitgespreek het, nie geduld nie. En dit was nie net Rome wat vryheid van spraak teëgestaan het nie; dit was gedurende hierdie tyd dat Joodse leiers Pontius Pilatus gedwing het om Jesus dood te maak oor sy lering en ook sy apostels beveel het om op te hou preek. Ook hulle sou eerder sterf as ophou.—Handelinge 5:28, 29.
Gedurende die meeste tydperke in die geskiedenis is burgerregte wat deur regerings toegestaan is dikwels na willekeur verander of teruggetrek, wat tot ’n voortdurende stryd om vryheid van spraak gelei het. Gedurende die Middeleeue het van die mense begin aandring op ’n geskrewe verklaring wat hulle regte uitspel, met beperkings op die regering se beheer oor daardie regte. Gevolglik het mense belangrike verklarings van regte begin opstel. Een daarvan was die Magna Carta, ’n mylpaal op die gebied van menseregte. Later het die Engelse Verklaring van Regte (1689) gevolg, asook Virginië se Verklaring van Regte (1776), die Franse Deklarasie van Menseregte (1789) en die Verenigde State se Verklaring van Regte (1791).
In die 17de, 18de en 19de eeue het hooffigure in die geskiedenis hulle ten gunste van vryheid van spraak uitgespreek. In 1644 het die Engelse digter John Milton, wat veral bekend is vir Paradise Lost, die welbekende pamflet Areopagitica as ’n argument teen beperkings van persvryheid geskryf.
Gedurende die 18de eeu is vryheid van spraak in Engeland al hoe meer toegelaat, hoewel daar steeds beperkings was. In Amerika het die kolonies aangedring op die reg van vryheid van spraak, mondeling sowel as skriftelik. Die Grondwet van die Gemenebes van Pennsilvanië, 28 September 1776, het byvoorbeeld deels gesê “dat die mense ’n reg op vryheid van spraak het en ’n reg het om hulle menings neer te skryf en te publiseer, en dus behoort persvryheid nie beperk te word nie.”
Hierdie stelling het aanleiding gegee tot die Eerste Wysiging van die Amerikaanse Grondwet in 1791, wat die stigters van die Amerikaanse Grondwet se gedagtes oor regte wat die mense na aan die hart lê, weergegee het: “Die Kongres sal geen wet maak met betrekking tot die stigting van godsdiens of die verbod op die vrye beoefening daarvan; of die beperking van vryheid van spraak of persvryheid; of die reg van die mense om vreedsaam te vergader en om die Regering te versoek om hulle griewe aan te spreek nie.”
Negentiende-eeuse Engelse filosoof John Stuart Mill het in 1859 sy verhandeling “On Liberty” uitgegee. Dit word dikwels aangehaal en daar is al daarna verwys as die allergrootste stelling ter bevordering van vryheid van spraak.
Die stryd om die reg om vryelik in die openbaar te praat, het egter nie geëindig met die aanbreek van die so genoemde verligte jare van hierdie 20ste eeu nie. As gevolg van pogings om vryheid van spraak in Amerika te beperk, het verklarings wat daardie vryheid verdedig byvoorbeeld uit geregsale weerklink, uit die laer howe sowel as uit die Appèlhof van die Verenigde State.
Regter Oliver Wendell Holmes jr. van die Amerikaanse Appèlhof het in ’n aantal hofbeslissings gesê dat hy in vryheid van spraak glo. Toe hy die maatstaf vir vryheid van spraak beskryf het, het hy gesê: “As daar enige beginsel van die Grondwet is wat meer as enige ander onderhou moet word, is dit die beginsel van vryheid van denke—nie vryheid van denke vir diegene wat met ons saamstem nie, maar vryheid vir die denke wat ons haat.”—United States v. Schwimmer, 1928.
Dit is die minagting van hierdie beginsel wat tot hofsake gelei het wat die pendulum steeds tussen vryheid en dwang laat swaai. Alte dikwels is die gevoel: “Vryheid van spraak vir my—maar nie vir jou nie.” In sy boek met hierdie naam haal Nat Hentoff gevalle aan waar ywerige verdedigers van die Eerste Wysiging na gelang van hulle beskouings saam met die pendulum van regs na links swaai. Hy haal gevalle aan waar die Amerikaanse Appèlhof van sy eie beslissings ter syde gestel het, waarvan sommige te doen het met sake rakende Jehovah se Getuies en hulle jarelange stryd om die reg om vryelik oor hulle godsdiensoortuiging te praat. Hy het aangaande hulle geskryf: “Lede van daardie godsdiens het oor die dekades grootliks daartoe bygedra om gewetensvryheid deur middel van grondwetlike hofsake uit te brei.”
Baie regsontleders en moderne geskiedskrywers het al baie geskryf oor die talle hofsake wat laat in hierdie 20ste eeu geveg is om vryheid van spraak te beskerm, nie net in Amerika nie maar ook in ander lande. Vryheid van spraak word nooit gewaarborg nie. Hoewel regerings miskien spog met die vryheid wat hulle aan hulle mense verleen, kan dit verloor word wanneer die regering of die regters verander, soos ondervinding bewys het. Jehovah se Getuies was aan die voorpunt in die stryd om hierdie kosbare vryheid.
In sy boek These Also Believe skryf professor C. S. Braden: “Hulle [Jehovah se Getuies] het ’n buitengewone diens aan demokrasie bewys deur hulle stryd om hulle burgerregte te behou, want in hulle stryd het hulle baie gedoen om daardie regte vir alle minderheidsgroepe in Amerika te waarborg. Wanneer daar op die burgerregte van enige groep inbreuk gemaak word, is geen ander groep se regte veilig nie. Daarom het hulle ’n besliste bydrae gelewer tot die behoud van sommige van die waardevolste dinge in ons demokrasie.”
Vryheidsliewende mense vind dit moeilik om te verstaan waarom sommige regerings en godsdienste hierdie vryheid van hulle mense sal weerhou. Dit is ontkenning van ’n basiese mensereg, en baie mense regoor die hele wêreld ly omdat hierdie vryheid verbied word. Sal gesindhede teenoor vryheid van spraak, selfs in lande wat hierdie basiese reg geniet, aanhou om heen en weer te swaai soos ’n pendulum? Sal die mening van vryheid van spraak gebruik word om onsedelike of onwelvoeglike taal te regverdig? Die howe sukkel reeds met die geskil.
[Prent op bladsy 3]
Sokrates het vryheid van spraak bepleit
[Erkenning]
Musei Capitolini, Roma