Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/22 bl. 12-14
  • Die “Nuwe Wêreldorde”—’n swak begin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “Nuwe Wêreldorde”—’n swak begin
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorloë onrusbarend stabiel
  • Op die randjie van bankrotskap
  • Godsdiens, ’n stabiliserende krag?
  • Betekenisvolle herdenkings met min om te vier
  • Terwyl die nuwe wêreldorde gesukkel het, het ware teokrasie gefloreer!
  • Die mens se planne vir internasionale veiligheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Op soek na ’n nuwe wêreldorde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Geheimhouding in die naam van die here
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Russe stel godsdiensvryheid op prys
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/22 bl. 12-14

Die “Nuwe Wêreldorde”—’n swak begin

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

MET die aanbreek van 1991 was mense vol moed. Die Koue Oorlog was verby. Daar was weliswaar die probleem van Koeweit, wat die vorige Augustus deur Irak ingeneem is. Maar die Verenigde Nasies het sy mag getoon en Irak beveel om teen 15 Januarie te onttrek. Die bevel is gesteun deur ’n VN- militêre koalisie van 28 nasies, wat vinnig georganiseer is en gereed gestaan het om Irak tot onderworpenheid te dwing. Die verwagtinge was groot dat die ferm standpunt wat die wêreldgemeenskap ingeneem het die begin van ’n nuwe era aangedui het.

George Bush, destyds die president van Amerika, het gepraat oor “die moontlikheid, vir onsself en vir toekomstige geslagte, om ’n nuwe wêreldorde te smee, ’n wêreld waarin die oppergesag van die reg, en nie die reg van die sterkste nie, internasionale gedrag beheer”.

Irak het toe die sperdatum van 15 Januarie geïgnoreer, en dit het tot hewige lug- en missielaanvalle teen Irakse militêre teikens gelei. Die wêreldgemeenskap het getoon dat hulle beslis ernstig is. Minder as drie maande later, op 11 April, het die VN aangekondig dat die Golfoorlog verby is. Dit het gelyk of die belofte van ’n vreedsame, ekonomies en polities stabiele nuwe wêreldorde ’n werklikheid begin word.

Oorloë onrusbarend stabiel

In die middel van 1991 het twee republieke, Slowenië en Kroasië, hulle onafhanklikheid van die destydse Joego-Slawië bekend gemaak en ’n burgeroorlog aan die gang gesit wat uiteindelik tot die stigting van verskeie afsonderlike lande gelei het. Minder as ’n jaar later het die Franse politieke waarnemer Pierre Hassner gesê: “Soos Europa voor 1914, het George Bush se nuwe wêreldorde in Sarajevo gesterf.” Die vooruitsigte vir vrede het egter gunstiger geword toe samesprekings in November 1995 in Dayton, Ohio, VSA, begin het en ’n vredesooreenkoms op 14 Desember in Parys onderteken is. Terwyl 1995 ten einde geloop het, het hoop weer opgeflikker dat die nuwe wêreldorde miskien tog nie dood is nie.

Die republieke van die Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke was stadigaan besig om te verdeel. In 1991 was Litaue, Estland en Letland die eerstes, en hulle is vinnig deur ander gevolg. ’n Los groep wat as die Gemenebes van Onafhanklike State bekend staan, is in Desember gestig, hoewel sommige van die voormalige lede van die Sowjetunie geweier het om daarby aan te sluit. En toe, op 25 Desember, het Gorbatjof as Sowjet-president bedank.

Selfs die individuele republieke het egter verdeeld begin raak. Tjetjnia, ’n klein Moslem-enklave in die noordelike Kaukasus-gebied van Rusland, het byvoorbeeld na onafhanklikheid gestreef. Hulle pogings om teen die einde van 1994 af te stig, het tot ’n omstrede aanval deur Russiese troepe aanleiding gegee. Hoewel ongeveer 30 000 mense reeds gesterf het sedert die krisis in die vroeë negentigerjare begin het, was die oorlog in hierdie jaar nog steeds aan die gang.

Van Oktober 1995 af het daar tussen 27 en 46 konflikte—na gelang van hoe hulle geklassifiseer word—regoor die wêreld gewoed.

Op die randjie van bankrotskap

Aan die begin van die negentigerjare het dit geblyk dat die nuwe wêreldorde nie net polities nie maar ook ekonomies swak is.

In 1991 het Nicaragua die waarde van sy geld verminder, maar 70 miljoen cordobas was nog steeds net een rand werd. Intussen het Zaïre ’n inflasiekoers van 850 persent gehad, wat die inwoners gedwing het om een van die laagste lewenstandaarde ter wêreld te verduur. Die Russiese ekonomie het ook swaar gekry. In 1992 was inflasie 2200 persent per jaar, wat geld amper niks werd gemaak het nie. Hoewel dinge daarna verbeter het, was ekonomiese probleme in 1995 nog lank nie verby nie.

Die finansiële skandaal van die eeu het in 1991 plaasgevind toe die Bank of Credit & Commerce International ineengestort het; bedrog en kriminele bedrywighede het tot sy ondergang gelei. Beleggers in 62 lande het verliese gely wat miljarde rande beloop het.

Dit was nie net lande wat ekonomies swak was wat gewankel het nie; die magtige Duitsland het gebuk gegaan onder die kostes van eenwording. Werkloosheid het toegeneem terwyl werkers op langer vakansies en beter gesondheidsorg aangedring het. Hoë afwesigheidsyfers en algemene misbruik van die welsynstelsel het bykomende druk op die ekonomie geplaas.

In die Verenigde State het ’n reeks ernstige rampe ’n verwoestende uitwerking gehad op versekeringsmaatskappye, wat dit moeilik gevind het om versekeringseise te betaal. En in 1993 het die boek Bankruptcy 1995: The Coming Collapse of America and How to Stop It gewaarsku teen die gevare van staatskuld en ’n begrotingstekort wat die hoogte inskiet. Selfs die Britse versekeraar Lloyd’s van Londen se Rots-van-Gibraltar-standvastigheid is in twyfel getrek. Nadat hulle kwaai verliese gely het, moes daar aan die ondenkbare gedink word—moontlike bankrotskap.

Godsdiens, ’n stabiliserende krag?

In 1991 het die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung gesê: “Hierdie droom van ’n nuwe wêreldorde is deel van ’n ou tradisie van Amerikaanse beskouings oor die wêreld wat almal ’n godsdienstige kern gehad het en wat in Christelike terme uitgedruk is.”

’n Mens sou dink dat hierdie godsdiensagtergrond bykomende stabiliteit aan die nuwe wêreldorde sou gee. Maar in werklikheid het godsdienstige onverdraagsaamheid en onenigheid tot wydverspreide onstabiliteit gelei. Algerië en Egipte was net twee van verskeie regerings wat nie met Islamitiese fundamentaliste oor die weg gekom het nie. ’n Vlaag van godsdienstig gemotiveerde terrorisme het albei lande getref. Godsdiensonluste in Indië het in 1993 nege dae van sektariese geweld in Bombaai ingesluit, wat meer as 550 lewens geëis het.

Godsdiensverdeeldheid het ekumeniese vooruitgang in 1994 vertraag toe die Anglikaanse Kerk 32 vroue as priesters georden het. Pous Johannes-Paulus II het dit “’n groot hindernis in die weg van enige hoop op hereniging tussen die Katolieke Kerk en die Anglikaanse gemeenskap” genoem.

Op 19 April 1993 het spanning tussen die Amerikaanse regering en lede van ’n godsdienskultus, die Branch Davidians—wat reeds tot ’n konfrontasie by die kultus se kamp in Waco, Texas, en tot die dood van vier federale agente gelei het—die lewens van ten minste 75 kultuslede geëis. Twee jaar later was daar ’n ondersoek na die moontlikheid dat die terreurbomaanval by ’n federale gebou in Oklahoma City waarin 168 dood is dalk uit weerwraak vir die Waco-aanval was.

Vroeg in 1995 was die wêreld geskok toe hulle gehoor het van ’n terreuraanval met gifgas in die moltreinstelsel in Tokio. Tien mense is dood, en nog duisende het siek geword. Die wêreld was selfs meer geskok toe die apokaliptiese sekte met die naam Aoem Sjinrikio, of Aoem Opperwaarheid, die skuld daarvoor gekry het.

Betekenisvolle herdenkings met min om te vier

In 1492 het Columbus toevallig die Westelike Halfrond ontdek. Die 500ste herdenking van hierdie gebeurtenis in 1992 is deur onenigheid gekenmerk. Ongeveer 40 miljoen nakomelinge van Amerikaanse Indiane was verontwaardig oor die afleiding dat ’n Europeër lande “ontdek” het waar hulle voorouers geleef het en voorspoedig was lank voordat hy selfs gebore is. Party het die ontdekkingsreisiger “’n voorloper van uitbuitery en verowering” genoem. En Columbus se aankoms in die Westelike Halfrond was in werklikheid eerder ’n ramp as ’n seën vir die inboorlinge. Sogenaamde Christenveroweraars het hulle van hulle grond, soewereiniteit, waardigheid en lewens beroof.

In September 1995 het Israel ’n 16 maande lange viering begin om die 3000ste herdenking van koning Dawid se verowering van Jerusalem te gedenk. Maar die herdenking het tragies begin toe eerste minister Yitshak Rabin op 4 November deur ’n sluipmoordenaar se koeëls gedood is minute nadat hy ’n vredesaamtrek toegespreek het. Dit het ’n skaduwee op die Midde-Oosterse vredesproses gewerp en getoon dat daar nie net ernstige godsdiensverskille tussen Jode en Palestyne is nie, maar ook onder die Jode self.

Tussen 1991 en 1995 is verskeie 50-jarige herdenkings in verband met die Tweede Wêreldoorlog gevier—die aanval op Pearl Harbor, wat tot die Verenigde State se toetrede tot die oorlog gelei het; die Geallieerdes se inval in Europa; die bevryding van Nazi-konsentrasiekampe; die Geallieerdes se oorwinning in Europa en die eerste atoombom wat op Japan gegooi is. Met die oog op die bloed en trane wat met hierdie gebeure gepaardgegaan het, het party mense gevra of dit werklik nodig is om herdenk te word.

Dit het tot die herdenking van ’n ander betekenisvolle gebeurtenis gelei, die stigting van die Verenigde Nasies in Oktober 1945. Destyds het die hoop hoog opgeflikker dat die sleutel tot wêreldvrede uiteindelik gevind is.

Die Verenigde Nasies het, soos Boutros Boutros-Ghali, die sekretaris-generaal, onlangs ter verdediging daarvan gesê het, baie oorwinnings behaal. Maar die organisasie kon nie die doel van sy handves, naamlik “om internasionale vrede en veiligheid te bewaar”, bereik nie. Sy troepe het dikwels vrede probeer bewaar op plekke waar daar nie vrede was om te bewaar nie. Van 1995 af kon dit nie daarin slaag om lewe in ’n swak nuwe wêreldorde te blaas nie.

Terwyl die nuwe wêreldorde gesukkel het, het ware teokrasie gefloreer!

In die lig van die politieke, ekonomiese en godsdiensonstabiliteit wat veroorsaak het dat hulle droom van ’n nuwe wêreldorde voor hulle oë verbrokkel, het party mense van ’n nuwe wêreld wanorde begin praat. Hierdie ontwikkeling was verdere bewys vir Jehovah se Getuies dat slegs ’n nuwe wêreld wat deur God tot stand gebring word stabiliteit in die mensegemeenskap sal geniet.

In sommige lande het die einde van die Koue Oorlog groter vryheid vir Jehovah se Getuies beteken en hulle in staat gestel om uitstekende internasionale streekbyeenkomste in Boedapest, Kiëf, Moskou, Praag, St. Petersburg, Warskou en ander plekke te hou. Dit het die wêreldwye gemeentelike reëling van Jehovah se Getuies versterk en gehelp om hulle predikingswerk te bespoedig. Dit is dus nie verbasend dat die getal bedrywige Getuies in net een van hierdie gebiede van 49 171 in 1991 tot 153 361 in 1995 toegeneem het nie. Gedurende dieselfde vier jaar het die getal Getuies in die hele wêreld van 4278 820 tot 5199 895 toegeneem. Ware teokrasie floreer soos nog nooit tevore nie!

Ja, miljoene mense vestig nou hulle hoop vir die toekoms op Jehovah God se belofte van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin ‘geregtigheid sal woon’ (2 Petrus 3:10, 13). Hoeveel verstandiger is dit tog as om na ’n nuwe wêreldorde deur mensetoedoen te kyk wat, ná ’n swak begin, binnekort so geskud sal word dat dit glad nie meer bestaan nie!—Daniël 2:44.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel