Geheimhouding in die naam van die here
’N GIFGASAANVAL in die moltreinstelsel in Tokio, Japan, in Maart 1995 het 12 laat sterf, nog duisende siek gemaak en gehelp om ’n geheim te openbaar. ’n Godsdienssekte wat as Aoem Sjinrikio (Opperwaarheid) bekend staan, het in die geheim ’n arsenaal sariengas opgebou vir die najaging van geheimsinnige doelwitte.
’n Maand later het ’n bomontploffing ’n regeringsgebou in Oklahoma City, VSA, vernietig, en 167 het hulle lewe verloor. Die getuienis het dit laat lyk asof die aanval op die een of ander manier verband gehou het met die regering se konfrontasie met die Branch Davidian-godsdienskultus in Waco, Texas, presies twee jaar tevore. By daardie geleentheid het sowat 80 kultuslede gesterf. Die bomontploffing het ook iets geopenbaar wat vir die meeste mense ’n geheim was: Tientalle halfmilitêre burgermaggroepe is nou in die Verenigde State bedrywig, waarvan ten minste party daarvan verdink word dat hulle in die geheim antiregeringsoptrede beplan.
Later, teen die einde van 1995, is die verkoolde lyke van 16 mense in ’n bebosde gebied naby Grenoble, Frankryk, gevind. Hulle was lede van die Orde van die Sontempel, ’n klein godsdienskultus wat in Oktober 1994 in Switserland en Kanada in die nuus was toe 53 lede daarvan selfmoord gepleeg het of vermoor is. Maar die sekte het selfs ná hierdie tragedie bly funksioneer. Tot vandag toe is die beweegredes en doelwitte daarvan in geheimhouding gehul.
Die gevare van godsdiensgeheimhouding
Is dit in die lig van sulke gebeure enigsins verbasend dat baie mense godsdiensgroepe met agterdog bejeën? Niemand sal sekerlik ’n geheime organisasie—hetsy godsdienstig of niegodsdienstig—wil steun wat sy vertroue misbruik en hom doelwitte laat bevorder waarmee hy nie saamstem nie. Maar wat kan mense doen om te voorkom dat hulle in die strik val van betrokkenheid by geheime genootskappe wat twyfelagtig van aard is?
Dit sal natuurlik verstandig wees van enigiemand wat dit oorweeg om lid van ’n geheime genootskap te word om vas te stel wat die ware oogmerke daarvan is. Waak teen druk van vriende of kennisse, en besluite moet nie op emosies nie, maar op feite gebaseer wees. Hou in gedagte dat dit waarskynlik die individu self—nie ander nie—sal wees wat enige moontlike gevolge sal moet dra.
Die beste manier om weg te bly van gevaarlike groepe wat alles behalwe eerbare beweegredes het, is om Bybelbeginsels te volg (Jesaja 30:21). Dit behels dat ’n mens polities neutraal bly, liefde aan ander betoon, selfs aan vyande, “die werke van die vlees” vermy en die vrugte van God se gees aankweek. Ware Christene moet bowenal geen deel van die wêreld wees nie, net soos Jesus geen deel daarvan was nie, en hierdie weg sal betrokkenheid by wêreldse geheime genootskappe uitsluit.—Galasiërs 5:19-23; Johannes 17:14, 16; 18:36; Romeine 12:17-21; Jakobus 4:4.
Jehovah se Getuies is opregte Bybelstudente wat hulle geloof ernstig opneem en probeer openlik om daarvolgens te lewe. Hulle is wêreldwyd bekend as ’n godsdiensgroep wat “vrede soek en dit nastreef” (1 Petrus 3:11). Hulle boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk is korrek waar dit sê: “Jehovah se Getuies is in geen opsig ’n geheime vereniging nie. Hulle Bybelse oortuigings word breedvoerig verduidelik in publikasies wat vir almal beskikbaar is. Daarbenewens wend hulle spesiale pogings aan om die publiek na vergaderinge te nooi sodat hulle self kan sien en hoor wat daar gebeur.”
Ware godsdiens beoefen geensins geheimhouding nie. Aanbidders van die ware God het die opdrag ontvang om nie hulle identiteit weg te steek of om hulle doel as Jehovah se Getuies te verberg nie. Die vroeë dissipels van Jesus het Jerusalem met hulle onderrigting gevul. Hulle het geen geheim gemaak van hulle opvattings en bedrywighede nie. Dit is vandag ook waar van Jehovah se Getuies. Wanneer diktatoriale regerings verkeerdelik beperkings op vryheid van aanbidding plaas, is dit te verstane dat Christene hulle werk versigtig en moedig moet bly doen, en “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”, ’n situasie waartoe hulle gedwing word weens hulle moedige openbare getuieniswerk.—Handelinge 5:27-29; 8:1; 12:1-14; Matteus 10:16, 26, 27.
As dit al ooit by jou opgekom het dat Jehovah se Getuies dalk ’n geheime kultus of sekte is, was dit waarskynlik omdat jy te min van hulle weet. Dit moes die situasie van baie in die eerste eeu gewees het.
Handelinge hoofstuk 28 vertel ons van ’n vergadering wat die apostel Paulus in Rome met “die vernaamste manne van die Jode” gehad het. Hulle het vir hom gesê: “Ons dink dat dit gepas is om van jou te hoor wat jy dink, want waarlik, wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word” (Handelinge 28:16-22). In antwoord hierop het Paulus “die saak vir hulle verduidelik deur deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig”, en “party het die dinge wat gesê is, begin glo” (Handelinge 28:23, 24). Dit was beslis tot hulle blywende voordeel om die werklike feite omtrent die ware Christelike godsdiens te kry.
Weens hulle toegewydheid aan die openlike en openbare diens van God sal Jehovah se Getuies met graagte vir enigiemand wat wil weet die ware feite in verband met hulle bedrywighede en opvattings vertel. Waarom stel jy nie self ondersoek in nie, sodat jy behoorlik ingelig kan wees oor hulle geloof?
[Prent op bladsy 6]
Jehovah se Getuies vertel graag vir ander wie hulle is en wat hulle doen