Die mens se planne vir internasionale veiligheid
“Wanneer dit alles verby is, wil ons die genesers wees. Ons wil doen wat ons kan om dit te help bevorder wat ek optimisties ’n nuwe wêreldorde kan noem.”—Amerikaanse president George Bush, Januarie 1991, kort na die begin van die oorlog met Irak.
“President Bush se konsep van ’n Nuwe Wêreldorde beklemtoon die belangrikheid van die oppergesag van die gereg en die opvatting dat nasies ’n gemeenskaplike verantwoordelikheid ten opsigte van vrede en geregtigheid het. Noudat die Koue Oorlog beëindig is, breek daar ’n nuwe era aan.”—Amerikaanse ambassadeur in Australië, Augustus 1991.
“Vanaand, terwyl ek die drama van demokrasie oor die hele aardbol sien ontwikkel, is ons miskien—miskien nader as ooit tevore aan daardie nuwe wêreld.”—Amerikaanse president George Bush, September 1991.
BAIE wêreldleiers praat, soos president Bush, optimisties oor die toekoms. Is hulle optimisme geregverdig? Gee gebeurtenisse sedert die Tweede Wêreldoorlog grond vir sulke optimisme? Dink jy dat politici internasionale veiligheid kan bewerkstellig?
Die mens se groot plan
“Gedurende die laaste twee jaar van die tweede wêreldoorlog”, het die dokumentêre televisieprogram Goodbye War verduidelik, “is meer as eenmiljoen mense elke maand doodgemaak.” Die nasies het in daardie stadium gevoel dat daar ’n dringende behoefte is aan ’n plan wat sal keer dat daar weer so ’n oorlog sal wees. Terwyl die oorlog nog gewoed het, het die verteenwoordigers van 50 nasies die grootste plan vir internasionale veiligheid voorgelê wat ooit deur die mens opgestel is: Die Handves van die Verenigde Nasies. Die aanhef van die Handves het gesê dat dit hulle vaste voorneme is “om die toekomstige geslagte die euwel van oorlog te spaar”. Toekomstige lede van die Verenigde Nasies moes hulle “kragte verenig om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf”.
Een-en-veertig dae later het ’n vliegtuig ’n atoombom op Hirosjima, Japan, laat val. Dit het oor die sentrale gedeelte van die stad ontplof, en meer as 70 000 mense het gesterf. Daardie ontploffing, en die bom wat drie dae later op Nagasaki geval het, het die oorlog met Japan beëindig. Aangesien Japan se bondgenoot Duitsland op 7 Mei 1945 oorgegee het, is die Tweede Wêreldoorlog dus beëindig. Maar was dit die einde van alle oorloë?
Nee. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die mens meer as 150 kleiner oorloë gesien wat meer as 19 miljoen lewens geëis het. Dit is duidelik dat die VN-plan nog nie internasionale veiligheid bewerkstellig het nie. Wat het verkeerd geloop?
Die Koue Oorlog
Die VN-plannemakers het nie die wedywering verwag wat gou tussen gewese bondgenote van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het nie. Baie State het kant gekies in hierdie magstryd, wat later as die Koue Oorlog bekend geword het en wat deels ’n stryd tussen Kommunisme en kapitalisme was. Pleks van hulle mag te verenig om oorlog te beëindig, het die twee blokke van nasies teen mekaar kant gekies in streekkonflikte en só in Asië, Afrika en die Amerikas teen mekaar geveg.
Die Koue Oorlog het teen die einde van die sestigerjare begin afneem. Die afname het sy klimaks in 1975 bereik toe 35 State die sogenoemde Verdrag van Helsinki onderteken het. Die Sowjetunie en die Verenigde State, sowel as hulle onderskeie Europese bondgenote, was onder diegene wat dit onderteken het. Almal het belowe om hulle vir “vrede en veiligheid” te beywer en “om hulle daarvan te weerhou om . . . die onskendbaarheid van gebied of die politieke onafhanklikheid van enige Staat met geweld te dreig of geweld daarteen te gebruik of om op enige ander manier strydig met die doelwitte van die Verenigde Nasies op te tree”.
Maar hierdie idees het nie vrugte afgewerp nie. Teen die begin van die tagtigerjare het die stryd tussen die supermoondhede weer begin opvlam. Dinge het so versleg dat die pas verkose sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, dr. Javier Pérez de Cuéllar, in 1982 die onvermoë van sy organisasie erken het en gewaarsku het teen ’n “nuwe internasionale anargie”.
Tog is die sekretaris-generaal van die VN en ander leiers vandag optimisties. Nuusberigte praat van “die era ná die Koue Oorlog”. Hoe het hierdie verandering plaasgevind?
“Die era ná die Koue Oorlog”
’n Noemenswaardige faktor was die Konferensie oor Veiligheid en Samewerking in Europa wat deur 35 nasies bygewoon is. In September 1986 het hulle die sogenoemde Stockholm-dokument onderteken wat hulle gebondenheid aan die Verdrag van Helsinki van 1975 herbevestig het.a Die Stockholm-dokument bevat baie reëls waarvolgens militêre aktiwiteite gekontroleer word. “Die resultate van die afgelope drie jaar is bemoedigend en daar is al meer bereik as wat die skriftelike verpligtinge van die Stockholm-dokument vereis”, het SIPRI (Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut) in sy Yearbook 1990 gesê.
Toe, in 1987, het die supermoondhede ’n merkwaardige ooreenkoms bereik wat vereis het dat hulle al hulle grondgelanseerde missiele met ’n trefafstand van tussen 500 en 5 500 kilometer vernietig. “Die fisiese vernietiging van missiele en lanseerders verloop volgens plan en elke kant kom die voorwaardes van die ooreenkomste behoorlik na”, sê SIPRI.
Nog maatreëls is getref om die gevaar van ’n kernoorlog te verminder. Byvoorbeeld, in 1988 het die supermoondhede ’n ooreenkoms onderteken in verband met “interkontinentale ballistiese missiele en duikbootgelanseerde ballistiese missiele”. Voordat sulke wapens gelanseer word, moet elke kant die ander kant “minstens vier-en-twintig uur voor die tyd [in kennis stel] van die beoogde datum, die lanseergebied en die teikengebied”. Volgens SIPRI sluit sulke ooreenkomste “die moontlikheid dat plaaslike insidente op ’n wêreldwye kernoorlog kan uitloop feitlik heeltemal uit”.
Intussen het planne om internasionale veiligheid te verbeter vaart gekry. In Mei 1990, tydens ’n spitsberaad van die supermoondhede in Washington, DC, het die destydse Sowjetpresident Mikhail Gorbatsjof voorgestel dat die twee blokke van Europese nasies ’n vredesverdrag onderteken. In Julie het die 16 Westerse nasies van NAVO (Noord Atlantiese Verdragsorganisasie) in Londen bymekaargekom. Hulle reaksie op Mikhail Gorbatsjof se voorstel was dat albei kante ’n “gesamentlike verklaring” moes onderteken “waarin ons plegtig verklaar dat ons nie meer vyande is nie en waarin ons ons voorneme bevestig om nie meer met geweld te dreig of dit te gebruik nie”. Die voorblad van ’n koerant in Afrika het dit beskryf as “’n Reusestap op die weg na wêreldvrede”.
Toe, op die vooraand van ’n spitsberaad van die supermoondhede in Helsinki, Finland, het ’n woordvoerder vir die Amerikaanse regering gesê dat “die moontlikheid van oorlog [in die Midde-Ooste] die weg baan vir ’n nuwe groepplan vir wêreldvrede”. Vrede het ’n terugslag gekry toe Irak Koeweit binnegeval het en dit het gelyk of die Midde-Ooste die gevaar loop om in vlamme op te gaan. Maar met magtiging van die Verenigde Nasies het ’n internasionale mag onder leiding van die Verenigde State die invallende magte na hulle eie land teruggedryf. Die internasionale eensgesindheid wat in daardie oorlog geheers het, het sommige laat hoop dat ’n nuwe era van samewerking aangebreek het.
Wêreldgebeure het sedertdien verder ontwikkel. Dit is veral wat eers die Sowjetunie was wat in wese dramaties verander het. Die Baltiese State is toegelaat om hulle onafhanklikheid te verklaar, en ander republieke in die Sowjetunie het hulle voorbeeld gevolg. Gewelddadige etniese wedywering het kop uitgesteek in lande wat onder die gesentraliseerde Kommunistiese beheer oënskynlik monolities was. Teen die einde van 1991 het die Sowjetunie amptelik opgehou bestaan.
Hierdie radikale veranderinge op die wêreld se politieke toneel het die deur van geleentheid vir die Verenigde Nasies geopen. In hierdie verband het The New York Times gesê: “Die vermindering van wêreldwye spanning en die nuwe gees van samewerking tussen die Verenigde State en die Sowjetunie kan ’n nuwe, kragtiger rol in internasionale aangeleenthede vir die wêreldorganisasie beteken.”
Is dit eindelik tyd vir die 47 jaar oue organisasie om sy regmatige plek in te neem? Betree ons werklik wat die Verenigde State “’n nuwe eeu, en ’n nuwe millennium, van vrede, vryheid en voorspoed” noem?
[Voetnoot]
a Hierdie ooreenkoms is die eerste en die belangrikste van ’n reeks verdrae wat in Helsinki deur Kanada, die Verenigde State, die Sowjetunie en 32 ander lande onderteken is. Die vernaamste ooreenkoms word amptelik die Laaste Wet van die Konferensie oor Veiligheid en Samewerking in Europa genoem. Die hoofdoel daarvan was om die internasionale spanning tussen die Ooste en die Weste te verminder.—World Book Encyclopedia.