Bied die frustrasie van disleksie die hoof
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
“WAT is jou telefoonnommer?” vra Julie. Die oproeper antwoord. Maar die syfers wat Julie neerskryf, kom nouliks ooreen met die nommer wat gegee word.
‘My onderwyseres het die prentjie opgeskeur wat ek geverf het’, kla Vanessa, en sy voeg by: ‘Ek kon nooit onthou wat sy sê nie.’
David, wat in sy sewentigerjare is, sukkel om eenvoudige woorde te lees wat hy meer as ses dekades tevore geken het.
Julie, Vanessa en David het ’n leerprobleem—een wat frustrerend is. Dit is disleksie. Wat is die oorsake van hierdie toestand? Hoe kan disleksielyers die frustrasie wat dit veroorsaak die hoof bied?
Wat is disleksie?
Een woordeboek omskryf disleksie as “’n versteuring van die leesvermoë”. Hoewel dit dikwels as ’n leesprobleem beskou word, kan disleksie baie meer behels.a
Die Afrikaanse woord kom van die Griekse dys, wat “probleem met” beteken, en lexis, “woord”. Disleksie sluit probleme met woorde of taal in. Dit behels ook die moeite wat ondervind word om dinge in hulle regte volgorde te plaas, soos die dae van die week of die letters in ’n woord. Disleksie is volgens dr. H. T. Chasty van Brittanje se Instituut vir Disleksie “’n onvermoë om te organiseer wat die korttermyngeheue, waarnemingsvermoë en handvaardighede aantas”. Dit is geen wonder dat diegene met disleksie dit frustrerend vind nie!
Neem die geval van David. Hoe het dit gebeur dat hierdie eens ywerige en vloeiende leser sy vrou se hulp nodig gehad het om weer van voor af te leer lees? ’n Beroerte het ’n deel van David se brein beskadig wat met taalgebruik verbind word, en dit het sy vordering wat lees betref pynlik stadig gemaak. Tog was langer woorde nie vir hom so ’n groot probleem soos korter woorde nie. Ten spyte van sy verworwe disleksie het David se vermoë om gesprekke te voer en sy skerp verstand nooit daaronder gely nie. Die mensebrein is so ingewikkeld dat navorsers nog nie verstaan wat alles betrokke is by die verwerking van die geluide en gesigseine wat dit ontvang nie.
Daarenteen het Julie en Vanessa ontwikkelingsdisleksie gehad, wat duidelik geword het namate hulle grootgeword het. Navorsers aanvaar oor die algemeen dat kinders wat teen die ouderdom van sewe of agt normale intelligensie toon, maar dit ongewoon moeilik vind om te leer lees, skryf en spel dislekties kan wees. Dislektiese kinders skryf dikwels die spieëlbeeld van die letter wat hulle probeer naskryf. Stel jou net Julie en Vanessa se frustrasie voor toe skoolonderwysers hulle verkeerdelik as dom, stadig en lui bestempel het!
In Brittanje ly 1 uit 10 mense aan disleksie. Wanneer ander nie verstaan met watter probleme hulle te kampe het nie, vererger dit eenvoudig hulle frustrasie.—Sien die venster op bladsy 14.
Wat is die oorsake van disleksie?
Swak sig het dikwels leerprobleme tot gevolg. Korrigeer die gesigsdefek, en die disleksie verdwyn. ’n Klein persentasie van diegene wat sukkel om te leer lees, vind dat hulle die woorde beter in fokus kry wanneer hulle ’n dun velletjie gekleurde plastiek oor die geskrewe stuk plaas. Ander vind dat dit glad nie help nie.
Sommige, wat sê dat die toestand oorerflik is, gee ’n genetiese verduideliking. Trouens, die tydskrif New Scientist het onlangs gemeld dat navorsing “die bekende verband ondersoek tussen die gene wat by selfbestande siektes soos skeelhoofpyn en asma betrokke is en dié wat vir disleksie verantwoordelik is”. Omdat disleksielyers en hulle familielede meer daartoe geneig is om aan selfbestande siektes te ly, meen wetenskaplikes dat die gene vir disleksie in die omgewing van die genoom voorkom wat hierdie siekte-gene huisves. Maar soos gedragswetenskaplike Robert Plomin sê, het navorsers “net ’n chromosoomgebied geïdentifiseer, nie ’n geen vir leesonvermoë nie”.
Die deel van die brein wat postuur, balans en koördinasie beheer, word die serebellum genoem. Sommige wetenskaplikes beweer dat dit ook ’n rol speel in die vorming van ons denke en taal. Interessant genoeg, navorsers by die Universiteit van Sheffield in Engeland het ’n disleksietoets ontwikkel wat balans en koördinasie behels. Hulle voer aan dat defekte in die serebellum gesonde dele van die brein daarvoor laat vergoed. Kinders vind dit gewoonlik nie moeilik om hulle balans te behou wanneer hulle gevra word om stil te staan met een voet voor die ander en arms uitgestrek nie. Maar blinddoek hulle, en die dislektiese kinders sal baie meer waggel, aangesien hulle grootliks op hulle gesig staatmaak om hulle met balans te help.
Ander navorsers wys weer daarop dat die brein van dislektiese kinders anatomiese verskille toon. Die agterste deel aan die brein se linkerkant is normaalweg effens groter as die ooreenstemmende deel aan die regterkant, maar dit lyk asof die linker- en regterhelftes van ’n disleksielyer se brein dieselfde ontwikkel is. Dan beweer ander dat hulle ’n afwyking in die rangskikking van senuselle gevind het in die dele van die brein wat met taal verband hou.
Maar hoe kan diegene wat die probleem het, ongeag die fisiese oorsaak van hulle disleksie, op die bes moontlike manier gehelp word?
Hulp van ouers
Party ouers met ’n dislektiese kind voel skuldig en blameer hulleself vir hulle nakomeling se toestand. As jy so voel, moet jy die swaarmoedigheid afskud deur in gedagte te hou dat nie een van ons volmaak is nie en dat ons almal verskil. Begin deur te erken dat jou dislektiese kind, soos in die geval van ’n kind wat kleurblind is, hulp nodig het om met sy gebrek saam te leef. Jy as ’n ouer het ’n definitiewe rol om in die opvoeding van jou kind te speel.
Hoewel disleksie tans nie voorkom of genees kan word nie, kan dit verlig word. Hoe? Professor T. R. Miles, die skrywer van Understanding Dyslexia, raai ouers aan om eerstens vas te stel presies waarmee die dislektiese kind sukkel. Dan sal hulle in staat wees om realisties te bepaal wat hulle kind se beperkings is en wat van hom verwag kan word. “Die kind moet gevra word om sy bes te doen”, raai Reading and the Dyslexic Child aan, “maar niks meer as dit nie.” Deur simpatiek en aanmoedigend te wees en veral deur reëlings vir geskikte onderrig te tref, kan ouers die gevolge van disleksie verminder en terselfdertyd die druk op die dislektiese kind laat afneem.
Hulp van onderwysers
Onthou dat disleksie ’n leerprobleem is. Onderwysers moet dus tyd saam met die dislektiese kinders in hulle klas deurbring en ’n poging aanwend om hulle te help. Beperk die kinders se frustrasie deur realisties te wees in wat jy van hulle verwag. Dit is heel moontlik dat ’n dislektiese kind op die ou end ’n volwassene word wat steeds sukkel om hardop te lees.
Moenie iemand word wat maklik tou opgooi nie. Prys die kinders eerder vir enige vordering wat hulle maak—en beslis vir al hulle inspanning. Dan moet jy hulle ook nie blindweg prys nie. Professor Miles doen aan die hand dat onderwysers, wanneer hulle ’n mate van vordering sien, aan die dislektiese leerling moet sê: “Ja, ek stem saam dat jy ’n paar foute gemaak het. Maar ek dink steeds dat jy goed gedoen het; dit is beter as verlede week, en aangesien jy ’n probleem het, het jy goed genoeg gevaar.” Maar wanneer daar geen verbetering is nie, beveel hy aan dat jy moet sê: “Ja, jy sukkel nog steeds met dit-en-dat; kom ons kyk of ons iets anders kan probeer om jou te help.”
Pasop dat jy nie neerhalende opmerkings oor die kind se leesvermoë maak nie. Probeer om boeke en lees vir hom iets aangenaams te maak. Hoe? Ouers sowel as onderwysers kan voorstel dat die kind ’n merker, miskien ’n liniaaltjie, onder die reël hou wat hy lees, aangesien ’n baie stadige leser se aandag dikwels afdwaal. As die probleem opduik dat hy die letters van ’n woord in die verkeerde volgorde lees, kan jy hom vriendelik vra: “Wat is die eerste letter?”
Stel jou voor hoe ontmoedigend dit vir die dislektiese kind is as sy wiskunde-onderwyser gedurig vir hom sê dat sy antwoorde verkeerd is. Dit sal soveel beter wees om hom somme te gee wat effens makliker is sodat die frustrasie wat met mislukking gepaardgaan, vervang kan word met die tevredenheid dat hy hulle reg uitgewerk het.
“Die oplossing vir disleksielyers”, sê ’n onderwyseres met vakkundige opleiding, “is om al die sintuie te gebruik om te leer.” Kombineer gesig, gehoor en gevoel om die kind te help om woorde reg te lees en spel. “Die leerling moet mooi kyk, mooi luister, op die bewegings van sy hand let terwyl hy skryf en op die bewegings van sy mond let terwyl hy praat”, verduidelik professor Miles. Deur dit te doen, sal die dislektiese kind die geskrewe vorm van ’n letter in verband bring met die klank daarvan sowel as met die handbewegings wat hy maak om dit te skryf. Om die kind te help onderskei tussen letters wat hom verwar, moet jy hom leer om elkeen van die letters by ’n verskillende punt van die letter te begin skryf. “Ideaal gesien behoort elke [dislektiese] kind ’n uur per dag op ’n een-onderwyser-een-leerling-grondslag onderrig te word”, doen Reading and the Dyslexic Child aan die hand. Ongelukkig laat omstandighede dit selde toe. Nietemin kan disleksielyers hulleself help.
Eiehulp
As jy disleksie het, moet jy jou dit ten doel stel om die meeste van jou leeswerk te doen wanneer jy op jou varsste is. Navorsers het opgemerk dat dislektiese studente goed vaar as hulle ongeveer ’n uur en ’n half lank lees, maar dat hulle werk daarna verswak. “Gereelde maar beperkte studieperiodes elke dag sal waarskynlik nuttiger wees as om nou en dan dae van intense studie te hê”, sê Dyslexia at College. Dit sal jou weliswaar langer neem om goed te lees en spel. Maar volhard daarin.
Maak gebruik van ’n draagbare tikmasjien of, nog beter, van ’n woordverwerker met ’n program waarmee jy jou spelling kan nagaan nadat jy getik het. Tesame hiermee moet jy leer hoe om inligting te organiseer en goed te gebruik.—Sien die venster op bladsy 13.
Geniet boeke deur na dié wat op band opgeneem is te luister. Trouens, hierdie tydskrif en sy medetydskrif, Die Wagtoring, word tans gereeld in baie tale op kassette uitgegee, en selfs die hele Bybel is op kasset verkrygbaar.
As jy meen dat jy dislekties is nadat jy die venster gelees het, moet jy nie die probleem wegsteek nie. Aanvaar dit en neem dit in ag. Byvoorbeeld, jy berei jou dalk voor vir ’n onderhoud om ’n betrekking. Soos talle mense vind jy miskien dat jy weens die druk van die situasie sukkel om jou duidelik en presies uit te spreek. Oefen gerus ’n paar onderhoude vooraf.
Die probleme wat deur disleksie veroorsaak word, word nie maklik reggestel nie. Maar omdat die brein so ’n wonderlike orgaan is, vergoed dit vir die probleem. Permanente ongelukkigheid is dus onwaarskynlik. Julie, Vanessa en David het almal hard daaraan gewerk om hulle frustrasie die hoof te bied. Jy kan ook. Onthou dat jou spesifieke probleem jou nie hoef te verhinder om te leer nie. Volhard daarin om behoorlik te probeer lees, skryf en spel. As jy dit doen, sal dit jou help om die frustrasie van disleksie die hoof te bied.
[Voetnoot]
a Party kenners gebruik die term “disgrafie” om leerprobleme wat met skryf gepaardgaan te beskryf en “rekenonvermoë” vir dié wat met rekenkunde verband hou.
[Venster op bladsy 13]
Wenke vir persoonlike organisasie
Maak gebruik van die volgende:
• ’n persoonlike kennisgewingbord
• ’n kalender met ruimte vir aantekeninge
• ’n mandjie vir inkomende werkstukke
• ’n persoonlike lêer
• ’n dagboek
• ’n adresboek
[Venster op bladsy 14]
Hoe om vas te stel of kinders disleksie het
As jy ja antwoord op drie of vier van die vrae hier onder vir elke ouderdomsgroep, is dit moontlik dat die betrokke kinders in sekere mate dislekties is.
Kinders van 8 jaar of jonger:
Het hulle eers laat begin praat?
Het hulle steeds ’n besondere probleem met lees of spel? Verbaas dit jou?
Kry jy die indruk dat hulle wakker en intelligent is in dinge wat nie met lees of spel verband hou nie?
Skryf hulle letters of syfers agterstevoor?
Het hulle, toe hulle syfers moes optel, die hulp van blokkies, hulle vingers of strepies op papier langer nodig gehad as ander kinders van dieselfde ouderdom? Is dit vir hulle besonder moeilik om tafels van vermenigvuldiging te onthou?
Sukkel hulle om links van regs te onderskei?
Is hulle besonder onhandig? (Nie alle dislektiese kinders is onhandig nie.)
Kinders van 8 tot 12 jaar:
Maak hulle ongewone spelfoute? Laat hulle soms letters uit ’n woord of skryf hulle dit in die verkeerde volgorde?
Maak hulle skynbaar onnodige foute wanneer hulle lees?
Lyk dit asof hulle leesbegrip stadiger is as wat verwag word van kinders hulle ouderdom?
Sukkel hulle om van die skoolbord af te skryf?
Slaan hulle woorde of ’n hele reël oor of lees hulle dieselfde reël twee keer wanneer hulle hardop lees? Hou hulle niks daarvan om hardop te lees nie?
Sukkel hulle nog steeds om tafels van vermenigvuldiging te onthou?
Is hulle rigtinggevoel swak sodat hulle links met regs verwar?
Het hulle ’n gebrek aan selfvertroue en ’n lae selfbeeld?
[Erkenning]
—Awareness Information, uitgegee deur die Britse Vereniging vir Disleksie, en Dyslexia, vervaardig deur Broadcasting Support Services, Channel 4 Television, Londen, Engeland.
[Prent op bladsy 12]
Plaas ’n merker onder die reël wat gelees moet word om jou te help om daarop te konsentreer