Disleksie het my nie teruggehou nie
Soos vertel deur Michael Henborg
Ek het ’n leergestremdheid—disleksie. Hierdie toestand, waaraan my pa, my ma en my drie jonger broers ook ly, het dit vir my moeilik gemaak om my moedertaal, Deens, te lees, en skool was ook baie moeilik. Ek het nietemin baie hulp en aanmoediging ontvang, veral van my gesin.
ONS familie is al vier geslagte lank Jehovah se Getuies, en om te lees, veral die Bybel en Bybelstudiehulpe, was nog altyd ’n belangrike deel van ons lewe. Ek en my jonger broer Flemming het ook gereeld saam met my pa aan die Christelike bediening deelgeneem, wat dit by ons tuisgebring het hoe belangrik dit is om goed te kan lees en skryf.
As kind het ek elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! gelees, en dit het my tot 15 uur geneem om een tydskrif te lees! Boonop het ek die hele Bybel begin lees. Ek het ook by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit, wat in gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld gehou word. Hierdie skool lei studente op om goed te lees en te praat en om toesprake voor ’n gehoor te lewer. Al hierdie voorsienings het my oneindig baie gehelp in my stryd met disleksie. Min het ek egter geweet dat ek voor nog baie uitdagings te staan sou kom. Laat ek verduidelik.
Ek leer Engels
In 1988, toe ek 24 jaar oud was, het ek begin dien as ’n pionier, ’n voltydse bedienaar van die goeie nuus. Aangesien daar baie immigrante in Denemarke is, wou ek Bybelwaarhede aan hulle meedeel. Maar om dit doeltreffend te doen, moes ek Engels leer—’n projek wat ek baie moeilik gevind het. Nietemin het ek deur volharding en privaat lesse stadig maar seker verbeter, en ná verloop van tyd was ek in staat om die goeie nuus van God se Koninkryk aan Engelssprekende buitelanders in my tuisstad, Kopenhagen, bekend te maak. Ja, ek het baie taalfoute gemaak, maar ek het nie toegelaat dat dit my keer nie.
’n Begrip van Engels het my ook in staat gestel om as ’n vrywillige werker aan bouprojekte van Jehovah se Getuies in verskeie lande deel te neem. Ek is eers na Griekeland gestuur, en later het ek gehelp met die bou van die takkantoor in Madrid, Spanje.
Omdat ek ’n groter aandeel aan die predikingswerk wou hê, het ek aansoek gedoen om die Bedieningsopleidingskool by te woon, wat deur Jehovah se Getuies georganiseer word. Hierdie skool voorsien agt weke van gespesialiseerde opleiding aan ongetroude Christenmans wat bereid is om toewysings te aanvaar op plekke wat bedienaars van die goeie nuus nodig het (Markus 13:10). Ek is genooi om ’n Engelse klas by te woon wat in Swede gehou sou word.
Die klas het op 1 September 1994 begin. Omdat ek goed voorbereid wou wees, het ek omtrent agt maande lank vier uur per dag Engels bestudeer, en ek het by ’n Engelse gemeente aangesluit. En toe die skool begin, het ek geweier om toe te laat dat my gestremdheid my vordering belemmer. Wanneer die instrukteurs byvoorbeeld vrae gevra het, het ek dikwels my hand opgesteek om te antwoord, selfs al was ek nie altyd seker wat die regte woorde is om te gebruik nie. Nadat ek gegradueer het, is ek na Kopenhagen gestuur om daar as ’n pionier te dien. Dit was ’n groot uitdaging om Engels te leer, maar ’n selfs groter uitdaging het op my gewag.
Ek pak Tamil aan
In Desember 1995 is ek na ’n Tamil-gemeente in die Deense dorp Herning gestuur. Ek het gedink dat Tamil sekerlik een van die moeilikste tale ter wêreld is. Dit het 31 letters, asook kombinasies van konsonante en vokale om saamgestelde letters te vorm, altesaam byna 250 karakters!
Aanvanklik het ek my toesprake in die gemeente in Deens gelewer, en dit is in Tamil getolk. Ek twyfel of enigiemand my verstaan het toe ek uiteindelik na Tamil oorgeslaan het. Tog het die gehoor respekvol geluister, hoewel baie ietwat geamuseerd gelyk het. Om vinniger te leer, het ek besluit om na ’n land te gaan waar miljoene mense Tamil praat—Sri Lanka.
Toe ek in Oktober 1996 in Sri Lanka aangekom het, was die land in ’n burgeroorlog gewikkel. Ek het ’n tyd lank in die dorpie Vavuniya, op die grens tussen die twee strydende partye, gewoon. Die plaaslike Getuies het materieel min gehad, maar hulle liefde en gasvryheid was oorweldigend, en hulle het hard probeer om my Tamil te leer. Mense wat nie Getuies was nie, was beïndruk dat ek, die enigste Westerling in die gebied, in hulle taal met hulle probeer praat het. Hulle dankbare, nederige gesindheid het dit vir my makliker gemaak om met hulle oor die Bybel te praat.
In Januarie 1997 moes ek na Denemarke terugkeer, en die volgende jaar het ek met Camilla, ’n pionier, getrou. Sri Lanka het my teruggelok; gevolglik het ek in Desember 1999 teruggekeer, hierdie keer natuurlik saam met my vrou. Kort voor lank het ons Bybelstudies met ’n aantal gesinne en individue gehou, en ons het saam met die plaaslike Getuies na hulle Bybelstudies gegaan. Ons was heeltemal verdiep in die bediening en die taal.
In Maart 2000 moes ons na Denemarke terugkeer. Dit was baie moeilik om afskeid te neem van ons mede-Getuies en Bybelstudente, want ons het hulle baie liefgekry. Maar nog werk het vir ons voorgelê, insluitende die uitdaging om weer ’n nuwe taal aan te leer!
Van Tamil na Letties
Ek en Camilla het in Mei 2002, toe ons vier jaar getroud was, ’n uitnodiging ontvang om as sendelinge te dien in Letland, ’n Europese land oos van Denemarke. Camilla het gou Letties aangeleer en kon ná net ses weke kommunikeer! Maar ek het nie so goed gevaar nie. Om die waarheid te sê, ek voel vandag nog dat ek min vooruitgang gemaak het, ondanks al die hulp wat ek ontvang het. Ek is nietemin vasbeslote om aan te hou probeer.a
Camilla is nog steeds ’n groot hulp, en ons geniet albei ons sendingdiens. Ja, ons het die Bybel met talle waarderende mense gestudeer. Wanneer ek woorde vergeet of swak grammatika gebruik, probeer die plaaslike mense geduldig om my te verstaan en te help. Dít gee my meer selfvertroue wanneer ek aan die openbare bediening deelneem, asook wanneer ek toesprake by Christelike vergaderinge lewer.
Waarom het ek die uitdaging aanvaar om ander tale aan te leer wanneer dit vir my so ’n stryd is? Kortom, liefde—nie soseer vir tale nie, maar vir mense. Dit is ’n wonderlike voorreg om iemand te help om die ware God, Jehovah, te leer ken en nader aan hom te kom. En soos baie sendelinge al keer op keer gesien het, word hierdie taak baie doeltreffender uitgevoer wanneer ’n mens met ander in hulle moedertaal, die taal van hulle hart, praat.
Deur die jare heen kon ek en my vrou ’n hele aantal mense help om tot ’n juiste kennis van Bybelwaarheid te kom. Maar ons verdien nie die eer hiervoor nie. Ons dank Jehovah eerder vir die goeie resultate wat ons gesien het. Ons plant immers net die saad van Bybelwaarheid en gooi dit net nat; God laat dit groei.—1 Korintiërs 3:6.
Wanneer ’n hindernis ’n hulp kan wees
Hoewel disleksie vir my ’n hindernis was, was dit ook ’n voordeel. Hoe so? Wanneer ek toesprake in die gemeente lewer, is ek minder geneig om op geskrewe aantekeninge staat te maak en het ek gevolglik beter oogkontak met my gehoor. En ek gebruik sover moontlik illustrasies, wat redelik maklik is om te onthou. My toestand het my dus in sekere opsigte gehelp om my onderrigvermoë te ontwikkel.
Die Christenapostel Paulus het geskryf: “God het die swak dinge van die wêreld uitgekies, sodat hy die sterk dinge kan beskaam” (1 Korintiërs 1:27). My gestremdheid het my beslis in sekere opsigte ’n ‘swak ding’ gemaak. Maar soos ek en baie ander uitgevind het, kan Jehovah ruimskoots vergoed waar ons te kort skiet. Ons moet net redelike doelwitte stel, beskeie verwagtings hê, vir God se heilige gees bid en dan uitgaan en ons bes doen.
[Voetnoot]
a Nadat die Henborgs ses jaar in Letland gedien het, is hulle onlangs na Ghana gestuur.
[Venster op bladsy 22]
FEITE OOR DISLEKSIE
Wat is disleksie? Die woord “disleksie” kom uit Grieks en beteken “swak spraak”. Disleksie is ’n lewenslange toestand en verwys na ’n groep taalverwante versteurings, veral in verband met lees. Mense met disleksie sukkel dikwels om die verband te sien tussen letters en die klanke wat dié letters voorstel. Spesifieke simptome kan egter van persoon tot persoon verskil.
Wat veroorsaak disleksie? Die presiese oorsake is nog onduidelik, hoewel oorerflikheid ’n faktor is. Ondanks die feit dat studies dui op abnormale breinontwikkeling en -werking, word disleksie nie verbind met algemene intelligensie of ’n gebrek aan die begeerte om te leer nie. Om die waarheid te sê, lyers is dikwels begaaf op gebiede wat nie groot taalvaardighede vereis nie.
Hoe word disleksie behandel? Dit is belangrik om die toestand vroeg te identifiseer. Doeltreffende opleiding in taalvaardighede behels die gebruik van verskeie sintuie, veral die gehoor-, gesig- en tassin. Baie leerders het individuele hulp nodig sodat hulle teen hulle eie tempo kan vorder. Hulle het dalk ook hulp nodig met emosionele kwessies as gevolg van probleme by die skool. Met goeie onderrig en harde werk kan leerders met disleksie leer om goed te lees en te skryf.b
[Voetnoot]
b Die bostaande is gebaseer op inligting wat deur die Internasionale Disleksievereniging verskaf is. Sien ook die artikel “Hulp vir kinders met leergestremdhede” in die Ontwaak! vir Januarie 2009.
[Prent op bladsy 23]
Saam met ’n mede-Getuie in Sri Lanka
[Prent op bladsy 23]
Saam met Camilla in Letland