Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 8/8 bl. 16-17
  • ’n Kykie in die baarmoeder

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kykie in die baarmoeder
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Onaanraakbares” in die baarmoeder?
  • Wat sê die Bybel oor aborsie?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Aborsie se tragiese slagoffers
    Ontwaak!—1993
  • Aborsie—Is dit die oplossing?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 8/8 bl. 16-17

’n Kykie in die baarmoeder

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

GEVORDERDE voorgeboortelike toetse stel dokters deesdae in staat om baie van die gebreke, liggaamlik of verstandelik, wat ’n ongebore kind dalk het met toenemende akkuraatheid te diagnoseer. Ultraklank en amniosentese is van die gewilder metodes wat gebruik word.

Ultraklank is ’n invalsvrye prosedure wat van onhoorbare klankgolwe met ’n hoë frekwensie gebruik maak om ’n rekenaarbeeld van die baba in die baarmoeder te vorm. Amniosentese behels die gebruik van ’n spuitnaald om ’n monster te neem van die vrugwater, die vloeistof waarin die baba in die baarmoeder ronddryf, en dit te toets vir die chemiese merkers van fetusgebreke, soos Down-sindroom.

Hierdie soort mediese tegnologie, tesame met selektiewe aborsie, wat in die gemeenskap soos ’n rots in ’n visdammetjie beland het, veroorsaak groot beroeringe in die mediese etiek.a Ongelukkig voorsien hierdie wêreld se waardesisteem nie ’n bestendige grondslag waarop sedelike en etiese geskille opgelos kan word nie en is dit meer soos koerslose vlotte wat op onstuimige golwe ronddobber.

Selektiewe aborsie, wat deur die tegnologie bevorder word, loop wetswysiging in sommige lande vooruit. In 13 opnames wat in ’n onlangse periode van 15 jaar in die Verenigde State gemaak is, het ’n konstante 75 tot 78 persent van die respondente gemeen dat ’n swanger vrou die wetlike reg moet hê om ’n baba te laat afdryf as daar sterk aanduidings van ernstige gebreke is. In party lande is “voorspelde gebreke” op sigself genoeg rede om ’n aborsie toe te laat.

In Australië het ’n moeder haar dokter onlangs met welslae om skadevergoeding gedagvaar omdat hy nagelaat het om rubella (Duitse masels) vroeg in haar swangerskap te diagnoseer. Wanneer hierdie siekte vroeg in die swangerskap opgedoen word, kan dit tot ernstige misvormdheid in die ongeborene lei. Die moeder het beweer dat haar dokter se versuim haar die geleentheid ontneem het om haar baba te laat afdryf.

Regsnavorser Jennifer Fitzgerald het in ’n artikel in die Queensland Law Society Journal vir April 1995 oor die wetlike en etiese gevolge van hierdie geval kommentaar gelewer en gesê: “Sy [die swanger vrou] moet nie net besluit: ‘Wil ek ’n kind hê?’ nie, sy moet ook besluit: ‘Watter soort kind wil ek hê?’” Maar watter gebrek, vra Jennifer Fitzgerald, gee genoeg gronde vir ’n wettige aborsie? “’n Haaslippie, ’n gesplete verhemelte, ’n skeel oog, Down-sindroom, spina bifida?” In sommige wêrelddele is dit die geslag van die kind, veral as dit vroulik is!

“Onaanraakbares” in die baarmoeder?

Hoe sal die ongeborenes vaar namate die genoom van die mens voor wetenskaplikes ontvou en die venster op die baarmoeder in werklikheid ’n mikroskoop vir die baarmoeder word? Sal dié met minder ernstige gebreke vir uitwissing uitgesonder word? Trouens, in onlangse dekades is die neiging in die rigting van meer aborsies, nie minder nie. Aangesien dokters voor hierdie geweldige deinings en die skuimspoor van regsgedinge wat daarop volg te staan kom—soos die geval wat vroeër genoem is—is hulle bekommerd. Begryplikerwyse kan dit hulle dryf tot ’n selfs meer verdedigende benadering van geneeskunde, soos om aan te dring op sekere toetse, nie soseer ter wille van die moeder en die baba nie, maar om hulleself te beskerm. Jennifer Fitzgerald skryf dat die gevolg sal wees dat “die aantal voorgeboortelike toetse heel waarskynlik sal toeneem en dus ook die aantal selektiewe aborsies”. Sy voeg by dat dit “’n kwasi-kastestelsel [sal inlui] waarin die ‘onaanraakbares’ die ‘wegdoenbares’ word”.

En sê nou ’n moeder gee geboorte aan ’n gestremde kind nadat sy telkens die geleentheid gegee is—en dalk selfs aangemoedig is—om dit te laat afdryf? “Miskien sal ’n tyd kom”, sê Jennifer Fitzgerald, “wanneer daar vir ouers gesê sal word dat hulle nie steun kan verwag om in die behoeftes van hulle kinders met gebreke te voorsien nie, aangesien hulle gekies het om die kind te hê terwyl hulle dit kon laat afdryf het.”

Die boodskap wat selektiewe aborsie aan gestremdes in ons gemeenskappe oordra, moet ook nie oor die hoof gesien word nie. Sal dit nie gestremdes soos ’n selfs groter las vir ander laat voel as ’n gemeenskap van die ongeborenes ontslae raak vanweë hulle gebreke nie? Sal dit nie vir hulle moeiliker wees om die negatiewe beeld wat hulle moontlik reeds van hulleself het die hoof te bied nie?

Die feit dat die hedendaagse gemeenskap ongebore kinders sou weggooi, soos werkers op ’n produksiebaan foutiewe onderdele weggooi, pas by die beskrywing wat die Bybel gee van die persoonlikheid van mense wat in “die laaste dae” van hierdie goddelose wêreld lewe. Dit het voorspel dat mense oor die algemeen ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” sal hê (2 Timoteus 3:1-5). Die Griekse woord aʹstor·goi, wat vertaal is met “sonder natuurlike geneentheid”, verwys na die natuurlike band wat tussen gesinslede bestaan, soos die liefde wat ’n moeder vir haar kinders het.

Die koerslose mense van hierdie wêreld, wat “rondgeslinger word soos deur golwe en herwaarts en derwaarts gevoer word deur elke wind van lering”, vorm beslis ’n sterk teenstelling met diegene wat die betroubare Woord van God volg (Efesiërs 4:14). Soos ’n anker vir die siel hou die Bybel ons sedelik onwankelbaar en koersvas in ’n stormagtige see. (Vergelyk Hebreërs 6:19.) Hoewel Christene dus besef dat ’n vrou se liggaam ’n erg misvormde embrio of fetus dalk spontaan sal verwerp, vind hulle die blote gedagte daaraan om in die baarmoeder in te kyk om te sien of die baba gesond genoeg is om hom te hou uiters afstootlik.b—Vergelyk Exodus 21:22, 23.

God se belofte van ’n tyd wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”, versterk ’n Christen in sy voorneme om onkreukbaarheid te handhaaf (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Ja, ten spyte van die moeilikhede waarmee die gestremdes vandag te kampe het en die opofferings wat diegene maak wat vir hulle sorg, ‘sal dit goed gaan met die wat God vrees’.—Prediker 8:12.

[Voetnote]

a Selektiewe aborsie is die gebruik om ’n baba af te dryf omdat dit nie die eienskappe besit wat die ouer (of ouers) wil hê nie.

b Dit beteken natuurlik nie dat dit verkeerd sal wees vir ’n Christen om toetse te ondergaan om die gesondheid van ’n ongebore baba vas te stel nie. Daar is miskien verskeie mediese redes wat skriftuurlik aanvaarbaar is waarom ’n geneesheer so iets aanbeveel. Maar party toetse kan gevare vir die baba inhou, en daarom sal dit wys wees om met die dokter hieroor te gesels. As daar ná sulke toetse bevind word dat die kind ernstige gebreke het, kan Christenouers in sommige lande aan druk blootgestel word om die baba te laat afdryf. Dit sal wys wees om daarop voorbereid te wees om by Bybelbeginsels te bly.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel