Van ons lesers
Rockkonserte Ek kon nie anders as om te dink dat die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek rockkonserte bywoon?” (22 Desember 1995) ’n bietjie bevooroordeeld was nie. Ek het ’n rockkonsert saam met my ma bygewoon. Dit was ’n ouer groep, en die skare het hulle goed gedra. Maar die artikel het nie eens die moontlikheid van ’n ordentlike konsert genoem nie.
S. A., Verenigde State
Die artikel het wel die aandag op die moontlike gevare van rockkonserte gevestig. Ons het egter nie die bywoning van sulke geleenthede voor die voet veroordeel nie. Ons het aan lesers gesê: “As jy dit . . . oorweeg om ’n konsert by te woon, moet jy meer daaroor uitvind.” Inligting is dus gegee om jongmense en hulle ouers te help om ’n gebalanseerde besluit te neem.—RED.
Ek wil julle bedank vir die artikel. Net weke voor ek die tydskrif ontvang het, het ’n paar van ons na ’n konsert toe gegaan. Dit was wild, en baie van die mense was dronk; dit was nie ’n plek vir Christene nie. Ek het beslis my les geleer, en ek hoop die ander het ook.
M. E., Verenigde State
Costa Rica Ek wil net graag iets regstel aangaande die artikel “Costa Rica—klein landjie, groot verskeidenheid” (8 Julie 1995). Julle het gesê “byna 27 persent van die land is vir bewaring opsygesit, die grootste verhouding van enige land ter wêreld”. Maar volgens die World Almanac het Ecuador byna 40 persent van sy totale landoppervlakte vir bewaring opsygesit.
M. E., Ecuador
Dankie vir die regstelling.—RED.
Mali Ek het van vreugde gehuil toe ek die artikel “Die eerste in Mali” (22 Desember 1995) gelees het. Die gees van samewerking onder julle lede in Mali is geloofversterkend. Ek het met Jehovah se Getuies in aanraking gekom sodat hulle my die Bybel kan begin leer. Ek het besluit om God saam met julle te aanbid.
D. C. A., Nigerië
Tourette-sindroom Ek wil my dank uitspreek vir julle artikel “Die uitdaging om Tourette-sindroom te verduur” (22 Desember 1995). My simptome het teen die einde van my puberteitsjare verdwyn. Maar nie almal is so gelukkig nie. Hierdie artikel sal vir sulke mense en hulle gesinne van groot nut wees.
Y. L., Frankryk
Ek ken ’n seun wat dit het, en tot nou toe het ek hom vermy omdat ek verleë was in sy geselskap. Ek het nooit besef dat hy dalk meer verleë daaroor voel as ek nie!
P. M., Italië
Ek het hierdie steurnis al sedert ek vyf was, en dit het my baie hartseer gemaak. Ek het spier- en stembandtrekkings. Nie ek of my ouers kon verstaan waarom ek hierdie spiertrekkings kry nie; hulle het gedink dat daar dalk iets fout was met die manier waarop hulle my grootgemaak het. Ek het tot Jehovah gebid om my te help verstaan, en hy het my gebed deur hierdie artikel verhoor. Dit het my baie bemoedig om die ondervindinge te lees van ander onder Jehovah se Getuies wat dieselfde steurnis het.
Y. K., Japan
Ek verduur hierdie toestand al feitlik my hele lewe lank, maar dit is slegs sedert 1983 dat ek weet wat dit is. Toe ek ’n kind was, het ander dikwels met my gespot. Maar die broers en susters by die Koninkryksaal was altyd baie liefdevol en het dit as deel van my aanvaar. Later het ek op ’n jong Christenman verlief geraak. Hy was ten volle bewus van my probleem. Hoewel my pa gedink het dat ons huwelik nie sou slaag nie, is ek bly om te sê dat ons 30 jaar later nog steeds gelukkig getroud is. My man behandel my altyd soos goud en het nooit toegelaat dat my probleem hom hinder of verleë maak nie.
F. H., Kanada