Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 9/8 bl. 7-12
  • Hoe hulle hulle wêreld verloor het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe hulle hulle wêreld verloor het
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Harmonie wat tot tweedrag gelei het
  • “’n Kloof van misverstande”
  • Die ergste doder
  • Wat het van die verdrae geword?
  • Die “Lang Voetreis” en die Pad van Trane
  • Wat hou die toekoms vir hulle in?
    Ontwaak!—1996
  • Indiane en die Bybel
    Ontwaak!—1999
  • Indiane—Die einde van ’n era
    Ontwaak!—1996
  • God se naam het my lewe verander!
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 9/8 bl. 7-12

Hoe hulle hulle wêreld verloor het

BAIE jare lank is die verhaal van die Verenigde State opgesom met die uitdrukking: “Hoe die Weste verower is.” Hollywood se rolprente het wit nedersetters uitgebeeld wat oor die Amerikaanse vlaktes en berge getrek het, met John Wayne-tipe soldate, cowboys en nedersetters wat teen die woeste, barbaarse, tomahawk-swaaiende Indiane geveg het. Terwyl die wit man na grond en goud gesoek het, het party van die Christendom se priesters en predikers glo siele gered.

Hoe word daardie geskiedenis deur die oorspronklike inwoners, die inboorlingvolke van Amerika, beskou? Met die koms van die Blankes “moes [Indiane] hulle noodgedwonge handhaaf teen die instroming in hulle omgewing van die roofsugtigste vyand waarvoor hulle al ooit te staan gekom het: wit Europese indringers”, sê die boek The Native Americans—An Illustrated History.

Harmonie wat tot tweedrag gelei het

Baie van die Blankes wat eerste in die noordooste van Amerika aangekom het, is aanvanklik met vriendelikheid en tegemoetkomendheid deur die inboorlinge behandel. Een verslag sê: “Sonder die bystand van die Powhatan sou die Britse nedersetting by Jamestown, Virginië, die eerste permanente Engelse kolonie in die Nuwe Wêreld, nie sy eerste verskriklike winter van 1607-08 oorleef het nie. Die Pelgrim-kolonie by Plymouth, Massachusetts, sou eweneens dalk misluk het as dit nie was vir hulp van die Wampanoag nie.” Sommige inboorlinge het die immigrante gewys hoe om die grond te bemes en gewasse te kweek. En hoe suksesvol sou Lewis en Clark se ekspedisie van 1804-06 gewees het—om ’n praktiese vervoeraansluiting tussen die Louisiana-gebied en die so genoemde Oregon-landstreek te vind—sonder die Shoshone-vrou Sacagawea se hulp en tussenkoms? Sy was hulle “vredesteken” toe hulle die Indiane van aangesig tot aangesig ontmoet het.

Maar weens die manier waarop die Blankes die grond gebruik het en weens die beperkte voedselvoorraad het die grootskaalse immigrasie na Noord-Amerika spanning tussen die intrekkers en die inboorlinge veroorsaak. Die Kanadese geskiedkundige Ian K. Steele verduidelik dat daar in die 17de eeu 30 000 Narragansett-Indiane in Massachusetts was. Hulle hoofman Miantonomo het “besef dat gevaar dreig, . . . en hy het sy bondgenootskap met die Mohawk probeer versterk om ’n algemene Amerindiaanse versetbeweging tot stand te bring”. Hy het volgens berig in 1642 aan die Montauk gesê: “Ons [moet] een wees soos hulle [die Engelse], anders gaan ons almal binnekort verdwyn, want julle weet dat ons vaders baie herte en velle gehad het, dat ons laagtes vol herte was, so ook ons woude, en vol [kalkoene], en ons inhamme was vol visse en voëls. Maar hierdie Engelse wat ons land geneem het, hulle het die gras met sense afgesny en die bome met byle afgekap; hulle koeie en perde eet die gras en hulle varke verniel ons mosselbanke, en ons sal almal verhonger.”—Warpaths—Invasions of North America.

Miantonomo se pogings om ’n verenigde Indiaanse front te vorm, het op niks uitgeloop nie. In ’n stamoorlog in 1643 is hy deur hoofman Uncas van die Mohegan-stam gevange geneem, wat hom as ’n rebel aan die Engelse oorgelewer het. Die Engelse kon Miantonomo nie wetlik skuldig verklaar en teregstel nie. Hulle het ’n gerieflike oplossing uitgedink. Steele sê voorts: “Omdat hulle nie by magte was om [Miantonomo], wat buite die jurisdiksie van al van die kolonies was, tereg te stel nie, het die kommissarisse hom deur hoofman Uncas laat doodmaak, met Engelse getuies om te bewys dat dit gedoen is.”

Dit lig nie net die aanhoudende konflikte tussen die intrekkende nedersetters en die inboorlingbevolking toe nie, maar ook die onderlinge wedywering en verraad onder die stamme, wat al bestaan het selfs voordat die wit man nog na Noord-Amerika gekom het. Die Britte het, in hulle oorloë teen die Franse vir die koloniale oorheersing van Noord-Amerika, party van die stamme aan hulle kant gehad, terwyl ander die Franse gesteun het. Ongeag watter kant verloor het, al die betrokke stamme het groot skade gely.

“’n Kloof van misverstande”

Dit is een beskouing van die Blankes se instroming: “Wat die leiers van die Indianevolke nie verstaan het nie, en dikwels eers as dit te laat was, was hoe die Blankes die Indiane beskou het. Hulle was nie wit of Christene nie. Baie het hulle as barbare—wild en wreed—beskou, ’n gevaarlike en ongevoelige handelsproduk vir die slawemarkte.” Hierdie meerderwaardige houding het verwoestende gevolge vir die stamme meegebring.

Die Blankes se beskouing was vir die Indiane onbegryplik. Daar was, soos die Navaho-raadsman Philmer Bluehouse dit in ’n onlangse onderhoud met Ontwaak! genoem het, “’n kloof van misverstande”. Die inboorlinge het hulle beskawing nie as minderwaardig beskou nie, maar eerder as verskillend, met heeltemal verskillende waardes. Die verkoop van grond was byvoorbeeld heeltemal vreemd vir die Indiane. Kon jy die lug, die wind, die water besit en verkoop? Waarom dan die grond? Dit was daar vir almal om te gebruik. Die Indiane was dus nie daarvoor bekend dat hulle grond omhein het nie.

Met die koms van die Britte, die Spanjaarde en die Franse het iets plaasgevind wat al beskryf is as ’n “rampspoedige ontmoeting tussen twee vreemde kulture”. Die inheemse bevolking was mense wat honderde jare lank in harmonie met die grond en met die natuur geleef het en wat geweet het hoe om aan die lewe te bly sonder om die omgewingsbalans te versteur. Nogtans het die Blanke die inboorlinge weldra as laer, wrede wesens begin beskou—en gerieflikheidshalwe vergeet van sy eie barbaarsheid om hulle te onderdruk! In 1831 het die Franse geskiedkundige Alexis de Tocqueville die wit mense se algemene beskouing van die Indiane opgesom: “God het hulle nie gemaak om beskaafd te word nie; hulle moet sterf.”

Die ergste doder

Namate die nuwe nedersetters weswaarts deur Noord-Amerika getrek het, is geweld deur geweld verwek. Hetsy dit dus die Indiane of die intrekkende Blankes was wat eerste aangeval het, albei groepe het wandade gepleeg. Die Indiane is gevrees vanweë hulle reputasie dat hulle mense skalpeer, ’n gebruik wat sommige meen hulle van Blankes geleer het wat belonings vir kopvelle uitgeloof het. Maar die Indiane het geen kans gehad om teen die oormag—wat getalle en wapens betref—te wen nie. In die meeste gevalle moes die stamme op die ou end die grond van hulle voorouers verlaat of sterf. Dikwels was dit beide—hulle het hulle grond verlaat en is dan doodgemaak of het aan siektes en verhongering gesterf.

Maar dit was nie gevegte wat die getalle van die inboorlingstamme die meeste uitgedun het nie. Ian K. Steele skryf: “Die kragtigste wapen in die verowering van Noord-Amerika was nie die geweer, die perd, die Bybel of die Blankes se ‘beskawing’ nie. Dit was besmetlike siektes.” Patrica Nelson Limerick, ’n professor in geskiedenis, het oor die uitwerking van siektes van die Ou Wêreld op die Amerikas geskryf: “Toe hierdie selfde siektes [waarteen Blankes oor die eeue immuun geword het]—waterpokkies, masels, griep, malaria, geelkoors, tifus, tering en bowenal pokke—na die Nuwe Wêreld oorgedra is, het dit min weerstand ondervind. Sterftesyfers in die een dorpie na die ander was tot 80 of 90 persent hoog.”

Russell Freedman beskryf ’n pokke-epidemie wat in 1837 gewoed het. “Die Mandane is die eerste wat daardeur geteister is, en kort daarna die Hidatsas, die Assiniboine, die Arikaras, die Sioux en die Swartvoete.” Die Mandane is byna heeltemal uitgewis. Hulle bevolkingsyfer het van sowat 1600 in 1834 tot 130 in 1837 gedaal.

Wat het van die verdrae geword?

Stamleiers kan tot vandag toe die datums van die verdrae aframmel wat die Amerikaanse regering in die 19de eeu met hulle voorvaders gesluit het. Maar waarvoor het daardie verdrae eintlik gesorg? Gewoonlik vir die ongunstige verruiling van goeie grond vir ’n dor reservaat en regeringsonderhoud.

’n Voorbeeld van die minagting waarmee die inboorlingstamme behandel is, is die geval van die Irokese volke (van die ooste na die weste: Mohawk, Oneida, Onondaga, Cayuga en Seneca) nadat die Britte deur die Amerikaanse koloniste verslaan is in die vryheidsoorlog, wat in 1783 geëindig het. Die Irokese het die Britte se kant gekies, en volgens Alvin Josephy jr. was al wat hulle in ruil daarvoor gekry het teleurstelling en beledigings. Die Britte het die Irokese “geïgnoreer en gesag oor hulle gebiede aan die Verenigde State oorgedra”. Hy voeg by dat selfs dié Irokese wat vir die koloniste teen die Britte party gekies het “deur gierige grondmaatskappye en spekulante en deur die Amerikaanse regering self verdryf is”.

Toe ’n verdragsvergadering in 1784 belê is, het James Duane, ’n voormalige verteenwoordiger van die Kontinentale Kongres se Komitee oor Indianesake, die regeringsagente aangespoor “om die bietjie selfvertroue wat die Irokese dalk nog oorgehad het te ondermyn deur hulle opsetlik as ondergeskiktes te behandel”.

Sy verwaande voorstelle is uitgevoer. Van die Irokese is as gyselaars aangehou, en “onderhandelings” is met doodsdreigemente gedoen. Hoewel die Irokese hulleself as onoorwonne in oorlog beskou het, moes hulle van al hulle grond wes van New York en Pennsilvanië afstand doen en ’n veel kleiner reservaat in die staat New York aanvaar.

Soortgelyke metodes is teen die meeste van die inboorlingstamme gebruik. Josephy sê ook dat Amerikaanse agente “omkopery, dreigemente, alkohol en die manipulasies van ongemagtigde verteenwoordigers gebruik het om grond van die Delaware, Wyandot, Ottawa, Chippewa [of Ojibwa], Shawnee en ander volke van Ohio te probeer afneem”. Dit is geen wonder dat die Indiane weldra die wit man en sy leë beloftes begin wantrou het nie.

Die “Lang Voetreis” en die Pad van Trane

Toe die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-65) uitgebreek het, is die soldate uit die Navaho se gebied in die Suidweste onttrek. Die Navaho het van hierdie kans gebruik gemaak om Amerikaanse en Mexikaanse nedersettings in die Rio Grandevallei in die grondgebied van Nieu-Mexiko aan te val. Die regering het kolonel Kit Carson en sy Nieu-Mexiko-vrywilligers gestuur om die Navaho te onderwerp en hulle na ’n reservaat te verskuif op ’n dor landstrook wat Bosque Redondo genoem is. Carson het ’n afbrandbeleid gevolg om die Navaho te laat verhonger en hulle uit die asemrowende Canyon de Chelly, in die noordooste van Arizona, te verdryf. Hy het selfs meer as 5000 perskebome vernietig.

Carson het sowat 8000 van die Navaho versamel en hulle gedwing om die “Lang Voetreis” van omtrent 500 kilometer te onderneem na die Bosque Redondo-gevangenekamp by Fort Sumner, Nieu-Mexiko. ’n Berig lui: “Die weer was bitterlik koud, en baie van die dungeklede, ondervoede ballinge het langs die pad beswyk.” Die toestande by die reservaat was haglik. Die Navaho moes gate in die grond grawe in ’n poging om skuiling te vind. In 1868, nadat die regering besef het dat hulle ’n growwe flater begaan het, het hulle die Navaho 1,4 miljoen hektaar van hulle voorouerlike tuisland in Arizona en Nieu-Mexiko toegestaan. Hulle het teruggegaan, maar wat ’n prys moes hulle tog betaal!

Tussen 1820 en 1845 is tienduisende van die Choctaw, Cherokee, Chickasaw, Creek en Seminole van hulle grond in die Suidooste af verdryf en gedwing om weswaarts, tot anderkant die Mississippirivier, te stap na wat nou Oklahoma is, honderde kilometers daarvandaan. Baie het in die strawwe wintertoestande gesterf. Die gedwonge voetreis weswaarts het as die berugte Pad van Trane bekend geword.

Die ongeregtighede wat teen die Indiane gepleeg is, word verder bevestig deur die woorde van die Amerikaanse generaal George Crook, wat die Sioux en die Cheyenne in die noorde vasgekeer het. Hy het gesê: “Die Indiane se kant van die saak word selde of ooit gehoor. . . . Wanneer die [Indiaanse] opstand dan rugbaar word, word die publiek se aandag op die Indiane gevestig, slegs húlle misdade en wandade word veroordeel, terwyl die mense wie se onregverdigheid hulle tot hierdie optrede gedryf het skotvry daarvan afkom . . . Niemand ken hierdie feit beter as die Indiaan nie, en daarom kan hy verskoon word as hy geen geregtigheid in ’n regering sien wat hóm alleen straf, terwyl dit die wit man toelaat om hom te beroof net soos hy wil nie.”—Bury My Heart at Wounded Knee.

Hoe vaar die Indiane vandag ná meer as honderd jaar van oorheersing deur Blankes? Loop hulle gevaar om as gevolg van assimilasie te verdwyn? Watter hoop het hulle vir die toekoms? Die volgende artikel sal hierdie en ander vrae ondersoek.

[Venster op bladsy 9]

’n Swaar lewe vir die vrouens

Terwyl die mans in die meeste stamme die jagters en die krygers was, het die vrouens eindelose take gehad, onder meer om die kinders groot te maak, graan te plant en te oes en dit tot meel te stamp. Colin Taylor verduidelik: “Die vernaamste rol van die Prêrie-vrouens . . . was om die gevestigde huishouding in stand te hou, kinders te baar en die kos voor te berei. In die gemeenskappe wat tuine aangelê het, het hulle ook na die landerye omgesien, . . . terwyl hulle in die geval van die nomadiese westerse stamme wat buffels gejag het, die dier help slag het, die vleis in die kamp gebring het en daarna die vleis en velle vir toekomstige gebruik voorberei het.”—The Plains Indians.

’n Ander bron sê aangaande die Apache-volk: “Landbou was die vrouens se werk en dit was geensins vernederend of gering nie. Die mans het hand bygesit, maar die vrouens het die boerderybedryf ernstiger opgeneem as die mans. . . . Die vrouens het altyd geweet hoe om die landbourituele uit te voer. . . . Die meeste vrouens het gebid terwyl hulle die landerye natgelei het.”—The Native Americans—An Illustrated History.

Vrouens het ook die tydelike wonings gemaak wat tipi’s genoem is, wat gewoonlik ongeveer twee jaar lank gehou het. Hulle het dit opgerig en afgebreek wanneer die stam moes trek. Die vrouens het ongetwyfeld ’n swaar lewe gelei. Maar so ook die mans wat bewakers van die stam was. Die vrouens is gerespekteer en het baie regte gehad. In party stamme, soos die Hopi, besit die vrouens selfs vandag nog eiendom.

[Venster/Prent op bladsy 10]

’n Dier wat hulle wêreld verander het

Die Blankes het ’n dier in Noord-Amerika ingebring wat die lewenswyse van baie stamme verander het—die perd. In die 17de eeu was die Spanjaarde die eerstes om perde na die vasteland te bring. Die Indiane het uitstekende blootsryers geword, soos die intrekkende Blankes gou uitgevind het. Met perde kon die inboorlinge die bisons baie makliker jag. En die nomadiese stamme kon hulle buurstamme wat in gevestigde dorpies gewoon het makliker beroof en ook die buit, vrouens en slawe oplaai.

[Kaart/Prent op bladsy 7]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die gebiede van sommige van die stamme in Noord-Amerika in die 17de eeu

Kutenai

Spokan

Nez Perce

Shoshone

Klamath

Noordelike Paiute

Miwok

Yokuts

Serrano

Mohave

Papago

Swartvoete

Platkoppe

Crow

Ute

Hopi

Navaho

Jicarilla

Apache

Mescalero

Lipan

Prêrie-Cree

Assiniboin

Hidatsa

Mandan

Arikara

Teton

Cheyenne

Sioux

Yankton

Pawnee

Arapaho

Oto

Kansas

Kiowa

Comanche

Wichita

Tonkawa

Atakapa

Yanktonai

Santee

Iowa

Missouri

Osage

Quapaw

Caddo

Choctaw

Ojibwa

Sauk

Fox

Kickapoo

Miami

Illinois

Chickasaw

Alabama

Ottawa

Potawatomi

Erie

Shawnee

Cherokee

Catawba

Creek

Timucua

Algonkin

Huron

Irokees

Susquehanna

Delaware

Powhatan

Tuscarora

Micmac

Malecite

Abnaki

Sokoki

Massachuset

Wampanoag

Narragansett

Mohegan

Montauk

[Erkennings]

Indiaan: Kunswerk gegrond op foto deur Edward S. Curtis; Noord-Amerika: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.

[Prente op bladsy 8]

Kunstige Navaho-weefwerk en -juwele

[Prent op bladsy 11]

Canyon de Chelly, waar die “Lang Voetreis” begin het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel