Indiane en die Bybel
VANDAT Europeërs die Amerikas ingeneem het, het baie die Indiane die Bybel probeer leer.
Sedert die 17de eeu is die volledige Bybel in ses Noord-Amerikaanse Indianetale vertaal. Die eerste een was John Eliot se Bybel, wat in 1663 gedruk is vir die Massachuset-Indiane naby Boston en Roxbury, Massachusetts. Harvey Markowitz skryf in die Encyclopedia of North American Indians: “Hoewel baie geskiedkundiges nou die opregtheid bevraagteken waarmee die meeste van die koloniste [’n ] ooreenkoms aangegaan het [dit wil sê “om die Nuwe Wêreld se ‘barbare’ ‘beskaafd te maak’”], getuig die vyftien jaar wat Eliot geswoeg het om Massachuset aan te leer en ’n skryfwyse te ontwikkel om die Bybel oor te skryf van die erns van sy toewyding. Eliot het hierdie moeilike projek beskou as ‘’n heilige taak, wat met vrees, sorg en eerbied aangepak moet word’.”
Alhoewel dele van die Bybel in ander Indianetale vertaal is, het dit tweehonderd jaar geduur voordat die volgende volledige Bybel uitgegee is, ’n weergawe in Wes-Cree (1862) deur medewerkers van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap. Ander vertalings het gou gevolg: Oos-arktiese Innuït (1871); Dakota, oftewel Oos-Sioux (1880), en Gwich’in, ’n subarktiese Amerikaanse taal (1898).
Die nuutste volledige Bybel is die Navaho-vertaling, wat in 1985 uitgegee is ná 41 jaar van voorbereiding en samewerking tussen twee Bybelgenootskappe. Dele van die Hebreeuse en Griekse Geskrifte bestaan nou in ten minste 46 Indianetale.
Wie het die voortou geneem?
Markowitz sê: “Dit is opvallend . . . dat die werk van Bybelvertaling hoofsaaklik deur Protestante aangepak is.” Dieselfde skrywer sê voorts dat die Katolieke Kerk voor die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962) “die verspreiding van Bybels onder leke ontmoedig het omdat hulle gemeen het dat leke nie die behoorlike . . . opleiding gehad het om Bybeltekste reg te verstaan nie”.
Verskillende Bybelgenootskappe is op die oomblik betrokke by ten minste 20 vertaalprojekte in tale van die Noord-Amerikaanse Indiane, waaronder Cheyenne, Havasupai, Micmac en Zuni. ’n Nuwe weergawe van die Griekse Geskrifte word nou vir die Navaho-volk voorberei. Ander vertalings word vir die Indiane van Sentraal- en Suid-Amerika voorberei.
Jehovah se Getuies is nie by enige Protestantse organisasies geaffilieer nie. Hulle is egter bedrywig onder al die Indiane, en gevolglik reageer baie Indiane gunstig op die Bybel se waarhede oor die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, waarin regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13). Die Getuies gebruik die Bybels wat tans in die Indianetale beskikbaar is. Hulle gebruik ook Bybellektuur wat deur die Wagtoringgenootskap in etlike Indianetale vertaal is, waaronder Aymara, Cree, Dakota, Guarani, Inuktitut, Irokees, Navaho, Quechua en nege ander tale.—Sien die Ontwaak! van 8 September 1996.
[Prent op bladsy 25]
“Jehovah” verskyn in Psalm 68:4 in die Navaho-Bybel